Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 9/8 bl. 16-19
  • Die Kelte—Hulle invloed word steeds ondervind

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Kelte—Hulle invloed word steeds ondervind
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hulle opkoms en ondergang
  • Invoerders van nuwighede op die kunsgebied
  • ’n Bestaan wat deur godsdiens bepaal is
  • Die waarheid oor gewilde vierings
    Ontwaak!—2001
  • Moet ons vakansiedae vier?
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Die Feite Oor Kersfees, Paasfees en Allerheiligeaand
    Ontwaak!—1993
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 9/8 bl. 16-19

Die Kelte—Hulle invloed word steeds ondervind

Deur Ontwaak!-medewerker in Italië

HOEWEL ’n mens vandag min van hulle hoor, het hulle onuitwisbare spore op die Westerse wêreld gelaat. Hulle het meer as 2500 jaar gelede op die toneel verskyn. Hulle het die Europese geskiedenis, kuns en godsdiensgebruike beïnvloed. En hoe vreemd dit ook al klink, hulle het ons daaglikse lewe ook beïnvloed. Hulle was van Indo-Europese afkoms, en tydens die hoogtepunt van hulle roem het hulle ’n groot deel van die antieke wêreld oorheers, van die Atlantiese Oseaan af tot by Klein-Asië, van Noord-Europa af tot by die Middellandse See-kus. Wie was hulle? Die Kelte.

Ons sien elke dag sonder om dit te besef spore wat die Kelte nagelaat het. Hulle het byvoorbeeld die gebruik om broeke te dra in die Westerse wêreld laat versprei; dit was ook hulle wat vate uitgevind het. Daar is ander duideliker bewyse van hulle bestaan in die geskiedenis. Jy kan steeds honderde verskanste heuwels, of heuwelforte, en grafheuwels, of terpe, wat antieke grafte bedek in gebiede in Europa sien—en die Kelte het dit alles agtergelaat. Baie stede of streke het vandag name van Keltiese oorsprong, byvoorbeeld, Lyon en Boheme. Indien dit die gebruik in jou gemeenskap is om teen die einde van Oktober of aan die begin van November ’n fees ter nagedagtenis van die afgestorwenes te hou, kan jy seker wees dat die Kelte dit eeue gelede ook gedoen het. As jy die verhale van Engeland se koning Arthur of welbekende sprokies soos Rooikappie en Aspoestertjie ken, ken jy ook dinge wat min of meer direk van daardie Keltiese beskawing geërf is.

Soos oor baie ander volke was daar mettertyd verskillende beskouings oor die Kelte na gelang van wie hulle beskryf het. Plato (Grieks, vierde eeu v.G.J.) het hulle beskryf as ’n volk wat lief was vir drank en as oorlogopstokers. Wat Aristoteles (Grieks, vierde eeu v.G.J.) betref, was hulle ’n volk wat gevaar getrotseer het. Volgens die Grieks-Egiptiese aardrykskundige Ptolemeus (tweede eeu G.J.) het die Kelte slegs een ding gevrees—dat die hemel op hulle sou val! Hulle vyande het hulle gewoonlik as wrede, onbeskaafde barbare uitgebeeld. Danksy die vordering wat in Keltiese studies gemaak is, “kan ons die Kelte [vandag] in ’n heel ander lig sien as slegs twintig jaar gelede”, sê Venceslas Kruta, een van die gesaghebbendste geleerdes op hierdie gebied.

Hulle opkoms en ondergang

Die Kelte was eintlik ’n versameling stamme wat bymekaar gehou is “deur ’n gemeenskaplike taal en vaardigheidstyl, militêre struktuur en godsdienstige opvattings wat eenders genoeg was om herken te word” (Byvoegsel by I Celti, La Stampa, 23 Maart 1991). Dit is dus akkurater om van die Keltiese beskawing as van ’n etniese groep te praat. Die name van sommige stamme wat bewoners was van wat ons nou as Frankryk, Spanje, Oostenryk en Noord-Italië ken, was die Galliërs, Iberiese Kelte, Senones, Cenomani, Insubres en die Boii. Ander het hulle mettertyd in die kolonies van die Britse Eilande gevestig.

Die oorspronklike kern van die Kelte het blykbaar van Sentraal-Europa af versprei. Hulle word glad nie voor die sesde eeu v.G.J. in historiese geskrifte gemeld nie. Die Griekse geskiedskrywer Herodotus was onder die eerstes wat hulle gemeld het, en hy het hulle as “die mees afgeleë bewoners van Wes-Europa” beskryf. Eertydse geskiedskrywers vertel veral van hulle militêre prestasies. Verskeie Keltiese stamme het teen die Etruskers in Noord-Italië en toe aan die begin van die vierde eeu v.G.J. teen Rome opgetrek en dit verower. Volgens Latynse kroniekskrywers soos Livy het die Kelte eers vertrek nadat ’n geskikte losprys betaal is en Brennus, die Keltiese leier, die woorde vae victis, “wee die wat verslaan is”, uitgespreek het. Selfs in hedendaagse tye word die Kelte onthou deur diegene wat die avonture van die fiktiewe Galliese krygsmanne Asterix en Obelix lees, wat in strokiesverhale in baie tale verskyn.

Ongeveer 280 v.G.J. het Griekeland ’n kans gehad om die Kelte te ontmoet toe ’n ander Keltiese Brennus die deure van die beroemde heiligdom van Delphi bereik het, maar hy kon dit nie inneem nie. Gedurende daardie selfde tydperk het party Keltiese stamme, wat die Grieke Galatai genoem het, die Bosporus oorgesteek en in die noordelike dele van Klein-Asië gaan woon, in die streek wat later Galasië genoem is. Sommige vroeë Christene het in 50-52 G.J. in daardie gebied gewoon.—Galasiërs 1:1, 2.

Die Kelte was in die ou tyd bekend as dapper krygsmanne wat met baie fisiese krag begaaf was. Hulle het nie net ’n indrukwekkende liggaamsbou gehad nie, maar om hulle vyande met skrik te vervul, het hulle hulle hare met ’n mengsel van kryt en water natgemaak wat hulle besonder wreed laat lyk het wanneer dit droog was. En dit is presies hoe antieke beelde hulle voorgestel het, met “gepleisterde hare”. Hulle liggaamsbou, hulle geesdrif gedurende ’n geveg, hulle wapens, die manier waarop hulle hulle hare gedra het en hulle kenmerkende lang snor het alles gehelp om daardie indruk van Galliese woede te skep waarvoor hulle teenstanders so bang was en wat in die Asterix-legendes uitgebeeld word. Dit is waarskynlik waarom baie destydse leërs, onder andere die een wat deur die Kartaagse kommandant Hannibal aangevoer is, Keltiese huursoldate gewerf het.

Maar teen die einde van die eerste eeu v.G.J. is daar begin om die Keltiese mag onverbiddelik te onderdruk. Die Romeinse veldtog teen Gallië, onder leiding van Julius Caesar en ander kommandante, het die Keltiese militêre organisasie op sy knieë gebring.

Invoerders van nuwighede op die kunsgebied

Die regstreekse getuienis wat hierdie mense vir ons agtergelaat het, bestaan om verskeie redes feitlik uitsluitlik uit vervaardigde goedere wat veral in hulle talryke grafte gevind is. Daar is op groot skaal met naburige volke handel gedryf met ornamente, verskeie soorte houers, wapens, muntstukke, en so meer, wat volgens die deskundiges ‘onmiskenbaar en oorspronklik’ is. Verskeie goue voorwerpe is onlangs in Norfolk, Engeland, ontdek; onder hulle is ’n paar gevlegte halsbande, die kenmerkende, stywe halskettings. Soos uit die foto’s op hierdie bladsye gesien kan word, het Keltiese goudsmede buitengewone vernuf gehad. “Metaal was blykbaar by uitstek die grondstof van die Keltiese kuns”, bevestig ’n geleerde. Hulle het smeltoonde gebruik wat baie gevorderd vir daardie tyd was om die metaal beter te fatsoeneer.

Interessant genoeg, anders as die destydse Grieks-Romeinse kuns wat die werklikheid probeer naboots het, was die Keltiese kuns hoofsaaklik versierend. Lewensvorme is dikwels gestileer en sinnebeeldige faktore was volop, baie keer met ’n magiese en godsdienstige doel. Argeoloog Sabatino Moscati sê: “Ons het hier voor ons ongetwyfeld die oudste, die beste en die insiggewendste sierkunsvorm wat Europa nóg gehad het.”

’n Bestaan wat deur godsdiens bepaal is

Die Keltiese stamme het oor die algemeen ’n baie eenvoudige lewe gelei, selfs in die oppida, hulle kenmerkende vestingstede. Die aristokrasie het oor die stamme geheers en die burgers is as onbelangrik beskou. Weens die onaangename klimaat van die streke waarin hulle gewoon het, was die lewe nie maklik nie. Die soektog na aangenamer weer, en nie slegs na ekonomiese voordele nie, was moontlik ’n belangrike rede waarom hulle na die suide toe getrek het.

Godsdiens het die daaglikse lewe van die Kelte grootliks beïnvloed. “Die Galliërs is ’n baie godsdienstige volk”, het Julius Caesar geskryf. “Hulle geloof in die hiernamaals en die onsterflikheid van die siel was van so ’n aard”, het die geleerde Carlo Carena gesê, waar hy ’n Latynse geskiedskrywer aanhaal, “dat hulle heel geredelik geld aan ander geleen het en aanvaar het dat dit ook in die hel terugbetaal sal word.” Trouens, in baie grafte is daar langs die lyke voedsel en drank gekry wat klaarblyklik vir die veronderstelde reis na die ander wêreld voorsien is.

’n Algemene kenmerk van al die Keltiese stamme was ’n priesterlike stand wat in ten minste drie kategorieë verdeel is: sangers, vates en Druïdes. Terwyl die eerste twee groepe ’n minder belangrike funksie verrig het, moes die Druïdes—die woord beteken moontlik “baie wys”—sorg dat hulle heilige sowel as praktiese kennis verskaf. Die geleerde Jan de Vries verduidelik dat so ’n “priesterdom, met ’n hoofdruïde as leier aan wie se beslissings almal hulle moes onderwerp, baie magtig was”. Die Druïdes het ook op vasgestelde tye mistel op rituele wyse in die “heilige” woud gaan afsny.

Dit was glad nie maklik om ’n Druïde te word nie. Dit het die nuweling ongeveer 20 jaar gekos om die godsdienstige en tegniese kennis van die Druïdestand uit die hoof te leer. Die Druïdes het nooit enigiets omtrent godsdienssake neergeskryf nie. Hulle tradisies is mondeling oorgedra, en daarom weet ons so min van die Kelte. Maar waarom het die Druïdes skrywery verbied? Jan de Vries wys daarop dat “mondeling oorgedraagde tradisies met elke geslag hernieu word: Die oorspronklike inhoud bly onveranderd en kan terselfdertyd gedurig gewysig word om by veranderende omstandighede te pas. Juis daarom kon die Druïdes op die hoogte van hulle toenemende kennis bly.” Die skrywer Sergio Quinzio verduidelik: “Die priesterdom het, as die enigste bewaarder van heilige kennis, sy gesag grootliks uitgebrei.” Die Druïdes was dus altyd in beheer.

Ons weet nie veel van die Keltiese gode nie. Ten spyte van die feit dat baie van hulle beelde en portrette gevind is, was byna almal naamloos, en dit is derhalwe moeilik om te sê watter god of godin elke kunsvoorwerp voorstel. Daar is blykbaar portrette van sommige van hierdie gode in die beroemde Gundestrup-ketel wat in Denemarke aangetref word. Name soos Lugh, Esus, Cernunnos, Epona, Rosmerta, Teutates en Sucellus beteken vandag vir ons maar min; tog het hierdie gode die daaglikse lewe van die antieke Kelte grootliks beïnvloed. Dit was niks ongewoons vir die Kelte om mense (dikwels vyande wat tydens ’n geveg verslaan is) ter ere van die gode te offer nie. Partykeer is die koppe van slagoffers as makabere versiersels gedra, en ander kere is mense geoffer met die uitsluitlike doel om voortekens te verkry uit die manier waarop die slagoffers gesterf het.

’n Treffende kenmerk van die Keltiese godsdienswêreld was die goddelike triade. Volgens die Encyclopedia of Religion “is die belangrikste faktor in die Keltiese godsdienssimboliek waarskynlik die syfer drie; daar is bewyse van die geheimsinnige belangrikheid van die drieheidsbegrip in die meeste dele van die wêreld, maar die Kelte was blykbaar voortdurend baie bewus daarvan”.

Sommige geleerdes sê die idee dat ’n godheid drie-enig is of drie gesigte het, is dieselfde as om dit as alsiende, alwetend, te beskou. Beelde met drie gesigte is by die kruispaaie van belangrike roetes geplaas, moontlik om oor die ruilhandel “toesig te hou”. Soms het die triades die indruk van “die eenheid in drie persone” gegee, bevestig sekere geleerdes. Die kerke van die Christendom stel die Drie-eenheid vandag in presies dieselfde streke waar beeldhouwerke van Keltiese, drie-enige gode ontdek is steeds op dieselfde manier voor. Die Heilige Skrif leer egter nie dat God en Jesus gelyk is en deel van ’n Drie-eenheid uitmaak nie.—Johannes 14:28; 1 Korinthiërs 11:3.

Ja, die Kelte beïnvloed baie mense se huidige, daaglikse lewe en gedagtes—miskien meer as wat ons dink.

[Diagram/Kaart op bladsy 18]

Keltiese uitbreiding

La Tène

Rome 390 v.G.J.

Delphi 279 v.G.J.

Galasië 276 v.G.J.

Noord- see

Middellandse See

Swart See

[Prente op bladsy 16, 17]

1. Ambiorix, die Eburones-leier;

2. Gundestrup-ketel;

3. Ysterhelm;

4. Helms van koper, yster en goud;

5. Koperarmband;

6. Gestileerde kop van klip;

7. Let op die driekoppige god op die terracotta blompot;

8. Goue, gevlegte halsband;

9. Goue versiersel;

10. Goue, gevlegte halsband;

11. Wildevark uit brons as helmversiersel

[Erkennings]

Photos 2-6, 8-11 Courtesy of Palazzo Grassi, Venice; 7 Bibliothèque Nationale, Paris

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel