Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 9/8 bl. 20-22
  • My soektog na ’n beter wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • My soektog na ’n beter wêreld
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My doelwit—’n Pistool om mee dood te maak
  • Godsdienslewe—verwagtinge teenoor werklikhede
  • My politieke bedrywigheid
  • My persoonlike lewe—die grootste ontnugtering
  • ’n Keerpunt
  • Die nuwe Christelike persoonlikheid verdring geweld
  • Hoe my geestelike dors geles is
    Ontwaak!—2003
  • My ouers het my verlaat, maar God het my lief
    Ontwaak!—2001
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Bybelwaarhede bevry ’n non in Bolivia
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 9/8 bl. 20-22

My soektog na ’n beter wêreld

Soos vertel deur ’n gewese Katolieke non

’NBETER wêreld—was dit moontlik? Toe God die wêreld geskep het, het hy tog seker nie ’n wêreld vol haat, geweld, selfsug, korrupsie, ongeregtigheid en lyding in gedagte gehad nie. Daar moet ’n beter wêreld wees. As so iets moontlik was, dan sou ek beslis help om dit tot stand te bring.

Ek is in die provinsie Corrientes, Argentinië, ’n plek wat vir sy verering van die Maagd van Itatí bekend is, gebore en het daar grootgeword. Die mense is Katolieke, is uiters godsdienstig en onderneem elke jaar baie pelgrimstogte om daardie maagd te vereer. Ek was een van hulle. Ek wou sedert my kinderjare graag hierdie God ken van wie daar so baie gepraat word, maar my pa het my belet om katkisasieklasse by te woon. My pa het later, tydens my adolessensie, weens sy verkeerde vriende ’n dronkaard geword. Ons almal het gely, maar veral my ma, wat al sy beledigings en liggaamlike mishandeling moes verduur, het swaar gekry. As gevolg daarvan het ek die ander geslag begin haat en alle mans as gemeen en verdorwe beskou.

My doelwit—’n Pistool om mee dood te maak

Maar skool het die beste in my na vore laat kom. Ek het met toewyding en volharding gestudeer en diplomas vir kleremakery en handelsvakke verwerf, en ek het my later met die hoogste punte as ’n onderwyseres bekwaam. My innigste begeertes het in vervulling begin gaan: die verwerwing van titels en diplomas wat my van my pa se juk sou bevry. Ek het terselfdertyd besluit om hard te werk sodat ek my ma se situasie kon verbeter en dan—’n pistool kon koop om my pa mee te skiet!

Dit het my natuurlik geen vreugde verskaf nie, en nog minder vrede en geluk. Ek het eerder soos ’n ingehokte dier gevoel. Ek was 20 jaar oud en het nie geweet hoe om uit my situasie te kom nie.

Godsdienslewe—verwagtinge teenoor werklikhede

Ek het ongeveer hierdie tyd met nonne asook met Kommuniste begin assosieer. Al twee kante het hulle opvattings aan my probeer opdwing. Maar die gedagte om die armes in verafgeleë lande soos Afrika en Asië te help, het my die klooster laat kies.

Ek het 14 jaar lank in ’n klooster gewoon. My lewe in die klooster was gerieflik, stil en vreedsaam. Eers toe ek saam met priesters begin werk het wie se filosofie om die ontwikkelende lande gedraai het, het ek bewus geraak van die verskil tussen die wêreld waarin ons as nonne gelewe het en die wêreld van die res van die mensdom—daardie wêreld van pyn en ongeregtigheid waar mense onder die swaar juk van die verwaandes ly.

In my geestelike orde, die Theresiaanse Karmelietesendelinge, is daar baie oor geregtigheid gesê, maar dit het gelyk of my owerstes dit heeltemal geïgnoreer het wanneer hulle met ander te doen gehad het. Die lede van die onderwyspersoneel het ’n salaris ontvang wat ver onder die regering se vasgestelde loonskaal was, sonder enige byvoordele vir hulle en hulle gesinne, en hulle kon sonder dat hulle kennis gegee is en sonder vergoeding ontslaan word. Dit het selfs erger gegaan met die bediendes; nadat hulle 10 tot 12 ure lank in die skool gewerk het, moes hulle bykomende werk kry om ’n bestaan te maak en hulle gesin te onderhou. Ek wou daardie onregverdige situasie regstel.

Toe ek dit aan die moederowerste meld, het sy gesê dat ek net ’n masjiengeweer oor my skouer nodig gehad het om ’n ekstremis te wees! Op daardie oomblik het ek gedink dat ek liewer ’n ekstremis wil wees as om so onmenslik soos hulle te wees. Ek het dus besluit om vrystelling te vra van die lewenslange geloftes van kuisheid, armoede en gehoorsaamheid wat ek afgelê het. Ek wou die kerk op ’n groter gebied help. Die vrystelling is geredelik toegestaan.

My politieke bedrywigheid

Toe het ek werklik die gelofte van armoede begin nakom. Ek sou dikwels nie ’n stukkie brood gehad het as dit nie vir die goedhartige mense om my was nie. Ek het vir die eerste keer uitgevind hoe die gewone mense werklik lewe. Ek het op alle gebiede—godsdienstig, sosiaal en polities—hard saam met die plaaslike kerk gewerk. Omdat ek volwassenes onderrig het, het ek baie geleenthede gehad om die primitiewe toestande wat hulle vanweë die samelewing verduur het, die oorsake daarvan en die moontlike oplossings daarvoor met hulle te bespreek. Wat was hierdie oplossings? Eers, om vreedsame middele en betogings te gebruik; en daarna, indien nodig, geweld om die verlangde doelwit, geregtigheid, te bereik.

Die godsdienstig-politiese beweging waaraan ek verbonde was, en wat deur Katolieke priesters georganiseer en deur leke ondersteun is, rig sy bedrywighede op die onderontwikkelde gebiede van Afrika, Asië en Latyns-Amerika. Dit staan ’n onmiddellike, ingrypende verandering van die sosiaal-ekonomiese strukture deur middel van ’n revolusionêre proses voor, en enige soort ekonomiese, politieke en kulturele imperialisme word beslis verwerp. Dit beoog die totstandkoming van ’n Latyns-Amerikaanse sosialisme wat die skepping van die hombre nuevo (nuwe mens) bevorder wat vry is van die bande wat deur buitelandse politieke stelsels voorgeskryf word.

Ons het onderneem om al hoe meer oor die armes te wete te kom en ons met hulle lewenslot te vereenselwig. Met hierdie ideale in gedagte het ek hard gestry om elkeen—jonk en oud, adolessent en volwassene—te help.

My persoonlike lewe—die grootste ontnugtering

In my stryd om die armes se omstandighede te verbeter, het ek vergeet dat die hart bedrieglik kan wees. Ek het verlief geraak op my baas, ’n priester, met wie ek twee jaar lank saamgeleef het. Ek het mettertyd swanger geraak. Toe die priester dit uitvind, wou hy hê dat ek ’n aborsie ondergaan, maar ek het geweier aangesien dit moord sou wees. Ek moes my werk saam met die priester opgee en die stad verlaat om die kind te kon hê, sodat dit nie ontdek sou word dat ek die priester se minnares was nie.

Ek was baie hartseer toe ek die stad verlaat het en het dit oorweeg om selfmoord te pleeg deur voor ’n trein in te spring, maar iets het my daarvan weerhou. Ek het uitgehou. Vriende, familielede en goedgesinde mense in my geboortedorp het hulle liefde, medelye en begrip aan my betoon—iets wat die enigste man wat ek ooit liefgehad het nooit gedoen het nie. Toe my seun gebore is, het hierdie mense na ons omgesien. Ek wou hê my seun moes ’n sterk, dinamiese man word wat by sy oortuigings staan en bereid is om vir sy ideale te sterf. As blyk van hierdie begeerte was sy tweede naam Ernesto ter gedagtenis aan Ernesto Che Guevara (die welbekende Argentynse guerrilla), wat ek baie bewonder het.

Nadat die leër die Argentynse regering omvergewerp het, het hulle die linksgesinde groepe begin vervolg. Baie van my kamerade is in hegtenis geneem. Die encapuchados (vermomdes) het verskeie kere ’n klopjag op my huis uitgevoer en alles geplunder en feitlik al my besittings gesteel. Ek moes dikwels voor die owerheid verskyn om vir hulle te sê waar my kamerade hulle bevind, maar ek het aan my vriende getrou gebly en sou liewer sterf as om ’n verraaier te word.

’n Keerpunt

Omdat ek onder sulke druk geleef het, het ek iemand nodig gehad met wie ek kon praat, iemand wat ek kon vertrou en op wie ek as ’n ware vriend kon staatmaak. Op daardie tydstip het twee van Jehovah se Getuies my besoek. Ek was baie bly oor hulle besoek omdat hulle ’n sekere kalmte en vriendelikheid gehad het waarvan ek gehou het. Ek wou hê hulle moes weer kom om ’n Bybelstudie met my te hou. Met hulle terugkeer het ek my moeilike posisie aan hulle verduidelik en reguit vir hulle gesê dat ek hulle nie as medepligtiges daarin wou betrek nie. Hulle het my verseker dat hulle nie bang was nie, want die owerheid het geweet wie hulle was.

Ons Bybelstudie was van die begin af vol struikelblokke. Aangesien ek my geloof en vertroue in God verloor het, was dit vir my baie moeilik om die beginsels in die Bybelstudiehulp Die waarheid wat lei tot die ewige lewe te aanvaar. Ek wou met die studie ophou, aangesien ek die Bybel as ’n mite beskou het en gedink het dat Marx reg was toe hy gesê het dat godsdiens “die opium van die volk” is. Toe ek vir die Getuies gesê het hoe ek voel en dat hulle nie meer tyd met my moes mors nie, het hulle geantwoord dat hulle dit nie as ’n mors van tyd beskou om mense te help wat hulp nodig het nie.

Ek het ’n ander indruk gekry toe ek na die Koninkryksaal toe genooi is. Ek was sat van vergaderinge waar daar geen gesprekvoering, wedersydse agting en vriendelikheid was nie. Maar die vergaderinge van Jehovah se Getuies was anders. Hulle is op die Bybel gebaseer en geloofversterkend, en hulle beweeg ons om mekaar en selfs ons vyande lief te hê.

Die nuwe Christelike persoonlikheid verdring geweld

Uiteindelik het ek die weg na ’n beter wêreld gevind. Op 8 Junie 1982 het ek my toewyding aan Jehovah God deur waterdoop gesimboliseer, en ek wou nog nooit so graag van die ou persoonlikheid, die politiese hombre nuevo van geweld, ontslae raak en my met die nuwe persoonlikheid met sy goeie vrugte beklee, wat in Galasiërs 5:22 beskryf word nie. Nou neem ek aan ’n ander soort stryd deel, ’n Christelike stryd, naamlik die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk, en ek span my in om aan ander die Koninkrykswaarheid te leer van ’n beter wêreld wat kom.

Watter seën is dit tog om my seuntjie te kan leer dat hy, pleks van Ernesto Che Guevara na te volg wanneer hy groot is, in die voetstappe van Christus Jesus, ons Leier en Voorbeeld, kan volg! Ek bid dat ek en my seun asook alle liefhebbers van geregtigheid, waaronder my vroeëre kamerade en my familielede, in daardie ewige, beter wêreld, ’n paradysaarde vol vreugde, vrede, geluk en geregtigheid, kan ingaan. Niemand vind baat by geweld nie; dit veroorsaak net haat, onenigheid, frustrasies en nimmereindigende probleme. Ek praat uit ervaring, want ek het so ’n lewe gelei.—Deur Eugenia María Monzón.

[Prent op bladsy 22]

Die prediking van huis tot huis in Argentinië

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel