Ons beskou die wêreld
Dodelike siektes
“Siektes is verantwoordelik vir 46,5 miljoen van die 50 miljoen sterfgevalle wat elke jaar [wêreldwyd] voorkom”, sê die tydskrif Newsweek. “Aansteeklike en parasitiese siektes is die hoofoorsake (17,5 miljoen), naas hartkwale, beroerte en ander bloedsomloopkwale (11 miljoen) en kanker (5,1 miljoen).” Trouens, ’n verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie sê dat meer as ’n miljard mense wêreldwyd—of 1 uit 5—op enige gegewe tyd aan ’n siekte ly. Talle ander is met latente siektes besmet, hoewel hulle nog nie siek is nie. Hieronder is 2 miljard mense wat die hepatitis B-virus het, 30 miljoen tot 40 miljoen met HIV en 1,7 miljoen met tuberkulosebasille.
Die pous sê “Jahweh” is die enigste God
“God openbaar sy naam aan die mensdom.” Só het ’n opskrif in vetgedrukte letters boaan die bladsy in die Vatikaanse tydskrif L’Osservatore Romano gelees. Daaronder was die inhoud van ’n preek wat pous Johannes Paulus II tydens sy besoek aan die St. Leonard Murialdo-gemeente in Rome gehou het. “In Exodus sê God vir ons wat sy naam is”, het die pous begin. Nadat hy Exodus hoofstuk 3, verse 13 en 14 aangehaal het, waarin God vir Moses gesê het om vir die Israeliete te sê: “EK IS het my na julle gestuur”, het die pous bygevoeg: “Hierdie woord, ‘Ek is’, wat ook deur die woord Jahweh uitgedruk word, sê dat God die lewende en alles oortreffende Een is . . . Hieruit moet ons verstaan dat Jahweh niemand anders as die enigste God is nie.”
Verkragtingsyfers in Amerika
Die Nasionale Vrouestudie wat onlangs gepubliseer is, het getoon dat 683 000 vroue in die Verenigde State in 1990 verkrag is. Die syfer, wat gegrond is op onderhoude met 4000 vroue, is vyf keer groter as die syfer van 130 000 verkragtings of pogings tot verkragting wat vir daardie jaar deur die Nasionale Misdaadopname verskaf is. Die studie het ook getoon dat net 16 persent van alle verkragtingslagoffers die misdaad by die polisie aanmeld, wat verduidelik waarom slegs 102 560 verkragtings in 1990 aangemeld is. Die meeste verkragters was aan die slagoffer bekend—familielede, bure of vriende. Die opname het ook getoon dat 12,1 miljoen Amerikaanse vroue ten minste een keer in hulle lewe al die slagoffer van ’n verkragting was. Die meeste, 62 persent, het gesê dat dit met hulle as minderjariges gebeur het en 29 persent van hulle was jonger as 11.
Geen rede vir rassisme nie
Met behulp van die nuutste vooruitgang in die genetika het wetenskaplikes die inligting begin uitpluis wat lank in die mens se genetiese kode verberg was. Die Franse tydskrif Le Figaro sê dat hulle bevindings die tradisionele opvattings oor rasse nou finaal die nek ingeslaan het. Ondanks die oënskynlik oneindige verskeidenheid wat daar onder mense bestaan met al hulle sigbare uiterlike trekke soos lengte, velkleur en ander gelaatstrekke stem genetici nou saam dat alle mense op die aarde ongetwyfeld nie te lank gelede nie hulle oorsprong van dieselfde ouers en plek gehad het. “Al die verduidelikings wat al uitgedink is om rassisme voor te staan, het nie steek gehou nie”, sê Le Figaro.
Stille Omwenteling laat Quebec se kerke leegloop
Die woorde “Frans-Kanadees” en “Katoliek” is al lank sinonieme in Quebec. Die kerk was op een tydstip die enigste georganiseerde liggaam in die Frans-Kanadese gemeenskap, wat deur die plaaslike priester verteenwoordig is. Byna almal het kerk toe gegaan. Maar “met die Stille Omwenteling het die boorlinge van Quebec krities teenoor die kerk begin word”, sê Le Journal de Montréal. “In minder as 15 jaar het die kerk in Quebec verloor wat dit amper 400 jaar gekos het om op te bou.” Hoewel die kerk steeds 80 persent van die bevolking in die huwelik bevestig en 89 persent van die babas doop, gaan ’n maksimum van net 30 persent van die bevolking kerk toe. “Mense dink nie dat dit nodig is om [hulle geloof] gereeld te beoefen nie”, erken priester André Lamoureux van die aartsbisdom van Montreal. Le Journal de Montréal sê dat die kerk se nuwe rol ’n sosiale een is.
“Oog vir ’n oog”
Aangesien tronkvonnisse gewoonlik nie veel beteken vir verstokte oortreders nie, volg regter Joe B. Brown van Memphis, Tennessee, ’n ander beleid wanneer inbrekers voor hom verskyn om gevonnis te word. Volgens The Wall Street Journal “nooi hy slagofffers uit om die dief se huis te besoek en iets terug te ‘steel’. In ’n aantal onlangse sake het die . . . regter van die strafhof die Bybelse oog vir ’n oog toegepas op sulke dinge soos twee winterjasse vir ’n goue Rolex en stereoluidsprekers vir twee fietse. As ’n dief sy eie motor tydens sy ontsnappingspoging gebruik, is dit, asook klere, juweliersware en ander waardevolle artikels beskikbaar.” Sy reëls laat toe dat die slagoffer die dief se huis soveel keer en op enige tyd, dag of nag, kan besoek totdat die skuld betaal is. Maar daar is spesifieke riglyne. En ’n onderbalju moet hom vergesel om te verseker dat die goedere wat geneem word nie op hulle beurt van ander gesteel is nie.
Skoonheid en voedsel
“Die voeding en bevogtiging van die vel hang af van die gehalte van die voedsel wat mense eet. Die belangrikste skoonheidsmiddel is steeds die regte dieet”, sê Ida Caramico, professor in farmaseutiese wetenskappe aan die Universiteit van São Paulo, Brasilië. Volgens die Brasiliaanse tydskrif Globo Ciência laat besoedeling, toksiese voedselsoorte, emosionele probleme, te veel sonlig en, ironies genoeg, die oormatige gebruik van skoonheidsmiddels die vel verouder. As jy jou vel wil versag en opknap, stel die tydskrif voor dat ’n mens daagliks ten minste agt glase water drink en ook ’n dieet volg wat genoeg vrugte, groentes en volgraanprodukte insluit. Dit voeg by: “Enige produk wat van buite af vir die vel sorg, kan gebruik word om die voorkoms te verbeter, maar geen produk—natuurlik of kunsmatig—oortref die resultate van goeie voeding nie.”
Maniese magneet
Die ou deel van Jerusalem trek nie net duisende toeriste aan nie maar ook tientalle geestelik versteurde mense wat glo dat hulle karakters uit die Bybel is of wat daarvan oortuig is dat net hulle die sleutel tot wêreldvrede het en dit aan Jerusalem se mure moet openbaar. “Christene sê gewoonlik dat hulle Jesus of die Maagd of, meestal, Johannes die Doper is, en dikwels verloor hulle beheer oor hulle emosies op plekke wat met Jesus verband hou soos die Via Dolorosa en die Tuingraf”, sê The New York Times. “Jode sê dikwels dat hulle Moses, koning Dawid en ander karakters uit die Ou-Testament is, en hulle verloor beheer oor hulle emosies op die Olyfberg of by die Westelike Muur.” Een toeris het onlangs amok gemaak in die Kerk van die Heilige Graf deur ’n kruis af te ruk, lampe te breek en ’n beeld te probeer vernietig terwyl hy uitgeroep het dat ’n mens nie afgode moet aanbid nie. Elke jaar word 50 tot 200 mense na Kfar Shaul, ’n psigiatriese hospitaal, geneem met dit wat psigiaters Jerusalem-sindroom noem. Diegene wat ’n geskiedenis van geestesiekte het, het diegene daarsonder met 4 teenoor 1 oortref en mans het vroue met 2 teenoor 1 oortref.
Goud in afvalgoed
Danksy moderne tegnologie herwin ’n Italiaanse firma nou edelmetale uit industriële afval. Volgens Il Messaggero ontvang ’n fabriek in die stad Arezzo, Italië, afval uit verskillende wêrelddele en herwin goud, silwer en ander edel elemente daaruit. Die dinge waaruit die edelmetale kom, sluit fotografiese papier, tinfoelie, mikroskyfies, kameras wat weggegooi is, rekenaars en ander elektroniese apparate in. Il Messaggero berig dat net hierdie een fabriek in Arezzo jaarliks gemiddeld 120 ton goud, 200 ton silwer, 4 ton palladium, een ton platinum, 100 kilogram rodium en klein hoeveelhede iridium en rutenium herwin.
In die regte perspektief
Dit gaan nie noodwendig sleg met mense in lande waar die inkomste laag is nie. The New York Times berig dat die gemiddelde inkomste in China maar net R960 per jaar is. ’n Middeljarige egpaar in Guiyang verdien byvoorbeeld saam minder as R116 per maand—sy as ’n onderwyseres en hy as ’n fabriekstegnikus. Maar hulle werklike inkomste is meer as twee keer daardie bedrag, ongeveer R234 per maand as gevolg van bonusse en subsidies en ’n toelaag omdat hulle net een kind het. Hoewel hulle inkomste steeds laag is, is hulle uitgawes ook laag. Hulle betaal geen belasting of mediese rekeninge nie. Die huur vir hulle woonstel is minder as drie rand per maand en hitte en elektrisiteit word gratis voorsien. Kospryse is ook relatief laag en beloop R102 van hulle maandelikse begroting. Hulle het ’n verdere R52 nodig vir hulle klerebehoeftes. Dit stel hulle in staat om sowat R28 per maand te spaar—’n skynbaar klein bedrag vir die toekoms. Maar hulle hoef nie te vrees dat hulle ontslaan sal word nie en hulle weet dat hulle mediese uitgawes betaal sal word en dat hulle as bejaardes ’n pensioen sal ontvang.
Seksueel aktiewe leerlinge
Aangesien die CDC (Centers for Disease Control in Amerika) bekommerd is oor die toename in seksueel oordraagbare siektes en die risiko wat vigs vir jongmense inhou, het dit sy eerste opname gedoen oor die gesondheidsgewoontes van hoërskoolleerlinge in standerd 7 tot 10 (van 14 tot 18 jaar oud) in al 50 state, sowel as Porto Rico en die Maagde-eilande. Die bevindings, wat hierdie jaar gepubliseer is, het getoon dat 54 persent sê dat hulle nie meer maagde is nie. “Ons is veral bekommerd oor die toename wat met elke standerd gepaardgaan”, het dr. Lloyd Kolbe, direkteur van die Afdeling vir die Gesondheid van Adolessente en die Skool by die CDC, gesê. Volgens die opname het 40 persent van die leerlinge in standerd 7 al geslagsomgang gehad, 48 persent in standerd 8, 57 persent in standerd 9 en 72 persent in hulle matriekjaar. Een uit elke 25 leerlinge het erken dat hulle ’n seksueel oordraagbare siekte het.