Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 8/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die geestelikes en seksuele misbruik
  • Kinders verkies TV
  • Kleiner verskeidenheid plaasdiere
  • Die lied van ’n dooie voël
  • Verkragting in Suid-Afrika
  • Kredietkaartbedrog
  • Gevaarlike emmers
  • Meer mense
  • Deur die mode beseer
  • Hedendaagse slawerny
  • Vigs in Brasilië
  • ’n Veglustige wêreld
  • Skokkende vigs-statistiek!
    Ontwaak!—2001
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1991
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1992
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 8/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Die geestelikes en seksuele misbruik

Die Australiese Nasionale Televisie het onlangs ’n dokumentêre program met die titel “Die uiterste verraad” uitgesaai. Die program het beweer dat 15 persent van Australië se geestelikes skuldig is aan seksuele oortredings wat wissel van kindermolestering tot die verkragting van vroulike gemeentelede. Nog voor die einde van die televisieprogram is verskeie sentrums wat opgerig is om klagtes oor seksuele aanranding aan te hoor, toegeval deur oproepe van beweerde slagoffers. Baie oproepers het gesê dat hulle hul ondervinding baie jare lank geheim gehou het. Een vrou het gesê dat dit die eerste keer in 40 jaar is dat sy gepraat het oor haar beproewing wat sy as kind verduur het! Iemand anders het gesê dat ná haar predikant haar as kind gemolesteer het, het hy haar met pyniging in ’n helse vuur gedreig as sy dit sou waag om iemand te vertel. Woordvoerders vir verskeie kerkgroepe het nie oor die 15 persent saamgestem nie, maar het erken dat die seksuele wangedrag van geestelikes ’n ernstige probleem is.

Kinders verkies TV

Die meeste kinders meen dat dit te veeleisend is om boeke te lees. Dit was die bevinding van ’n studie wat die Duitse tydskrif Eltern onder 1960 skoliere van 8 tot 15 jaar gemaak het. Die meeste het verkies om televisie te kyk. Die koerant Schweinfurter Tagblatt het in ’n berig oor die studie gesê dat 64 persent daarvan hou om TV te kyk en dat die televisieprogramgids kinders se gunstelingleesstof is. Een 14-jarige was van mening dat die mens ’n natuurlike, ingebore gawe het om TV te kyk terwyl lees ’n moeilike proses is wat aangeleer moet word.

Kleiner verskeidenheid plaasdiere

Baie soorte plaasdiere loop gevaar om uit te sterf, sê die Paryse koerant Le Figaro. Sedert die begin van die eeu het die helfte van Europa se plaasdiersoorte uitgesterf, en ’n derde van die wat oorbly, kan binnekort verdwyn. ’n Algemene neiging in hedendaagse landbou is om slegs met daardie plaasdiersoorte te boer wat die grootste opbrengs lewer en gevolglik die winsgewendste is. Dieselfde neiging kan in ontwikkelende lande gesien word. Namate al hoe meer bees-, vark- en pluimveesoorte toegelaat word om uit te sterf, raak die wêreld gevolglik van al hoe minder diersoorte afhanklik vir voedsel. Wetenskaplikes vrees nou dat hierdie tekort aan genetiese verskeidenheid grootliks daartoe kan bydra dat een nuwe siekte die meeste van die aarde se plaasdiere kan uitwis.

Die lied van ’n dooie voël

Die lied van die huia, ’n Nieu-Seelandse voël, is onlangs met ’n rekenaar en ’n sintetiseerder nagemaak. Dit is verbasend as ’n mens in gedagte hou dat die huia in 1907 uitgesterf het. Volgens The Times van Londen het David Hindley opnames gevind van Henare Hemana, ’n Maori wat die huia nageboots het. Toe die liedjies in 1954 opgeneem is, was Hemana 80 jaar oud, maar hy kon “’n indrukwekkende reeks huialiedjies” uit die kop fluit. Hemana se liedjies is later bevestig toe ander opnames ontdek is waarin die voël se lied nagemaak is. Met hierdie opnames en die inligting wat uit boeke versamel is, het mnr. Hindley dalk ’n lied gekomponeer wat 85 jaar gelede deur ’n huiavoël gefluit is.

Verkragting in Suid-Afrika

“Suid-Afrika is een van die gewelddadigste plekke”, het die Sunday Star Review van Johannesburg gesê. Verkragting is een gewelddadige misdaad wat internasionale aandag kry. In Suid-Afrika word gemiddeld 23 000 verkragtings jaarliks aangemeld. Daar word egter geskat dat “slegs een uit elke 36 verkragtings aangemeld word”. ’n Groot persentasie van die gevalle is verkragtings deur mans wat hulle slagoffers ken, soos eggenote, manlike familielede of vriende. “Volgens ’n studie van geweld wat deur Lloyd Vogelman van die Universiteit van die Witwatersrand gemaak is, sal een uit twee Suid-Afrikaanse vroue in haar lewe verkrag word”, het die Sunday Star Review gesê.

Kredietkaartbedrog

Die Canadian Bankers’ Association (CBA) sê dat kredietkaartbedrog in daardie land die afgelope twee jaar meer as verdubbel het en dat dit aanhoudend toeneem. Paul Facciol, voorsitter van die CBA se kredietkaartonderkomitee, het gesê dat ‘verlore en gesteelde kaarte vir die meeste van die verlies verantwoordelik is’. Volgens The Globe and Mail “het gesteelde, vervalste en veranderde kredietkaarte die twee grootste maatskappye, Visa en Mastercard, verlede jaar meer as R107 miljoen gekos—ongeveer 14 keer meer as die R7,7 miljoen wat in alle bankrowe gesteel is”.

Gevaarlike emmers

“Daar verdrink gemiddeld een kleuter elke twee weke nadat hy in ’n groot emmer geval het wat water of die een of ander vloeistof bevat”, sê Don Barkas van die Santa Barbara Stadsbrandweerafdeling in Kalifornië, VSA. ’n Artikel wat deur The California Fire Service gepubliseer is, het spesifiek 20-literemmers genoem wat in baie huise vir allerlei huishoudelike werkies gebruik word. ’n Kindjie wat alleen is, kan homself blykbaar tot by die rand van die emmer optrek, sy handjies daarin steek om te speel en daarin val. Die 20-literemmer wat vol of selfs gedeeltelik vol vloeistof is, is swaarder as die gemiddelde 8 tot 12 maande oue baba. Die artikel sê dat meer as 200 kleintjies die afgelope sewe jaar in die Verenigde State verdrink het nadat hulle in emmers vol vloeistof geval het.

Meer mense

Die Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds het onlangs hulle jongste skattings oor die wêreld se bevolkingsaanwas bekend gemaak. Volgens The New York Times “toon die nuwe skattings dat die wêreld tot die einde van die eeu toe elke jaar 97 miljoen mense sal bykry en daarna, tot in 2025, 90 miljoen per jaar”. Na verwagting sal 97 persent van hierdie bevolkingsaanwas in ontwikkelende lande geskied. So ’n bevolkingstoename hou ’n groot gevaar vir die gehalte van die mens se lewe in. “Die verslag het gewaarsku dat so ’n groeikoers lei tot meer arm en honger mense, al hoe meer verhuising na stede en ryker lande asook groter druk op die wêreld se voedsel- en watervoorraad en ander natuurlike hulpbronne”, het die Times gesê. Na verwagting sal die wêreldbevolking, wat tans 5,5 miljard is, in 2050 10 miljard wees.

Deur die mode beseer

“Die mode het ’n lang geskiedenis van gepaardgaande beserings”, het Barbara Schreier, ’n kenner op die gebied van kostuumgeskiedenis, gesê. Wat het sy bedoel? Volgens die tydskrif In Health het ’n verslag van die Amerikaanse Nasionale Veiligheidsraad bekend gemaak dat daar in net een jaar in Amerika “102 397 mense deur hulle klere beseer en 43 868 deur hulle juwele vasgevang, gesny of gesteek is”. Swaar handsakke het al skouer- en nekspierbeserings veroorsaak. Die voorgaande syfers weerspieël natuurlik net dié gevalle waar mense mediese hulp gesoek het.

Hedendaagse slawerny

Mense dink dat die slawernykwessie reeds in die 19de eeu opgelos is. Maar ’n ondersoek wat onlangs deur die tydskrif Newsweek gedoen is, “dui daarop dat daar etlike miljoene gevalle van gedwonge knegskap is”. Die Britse organisasie Anti-Slavery International beweer dat ruim 100 miljoen mense dwarsdeur die wêreld in slawerny verkeer. Mense word as eiendom aangehou en geforseer om dwangarbeid te verrig in onder meer die Karibiese Eilande, die Midde-Ooste, Afrika en Asië. “Baie word gereeld geslaan om gehoorsaamheid af te dwing”, sê Newsweek. Party werkers word na bewering met rooiwarm brandysters gebrandmerk. In party gebiede is daar mense wat ’n bestaan maak as slawehandelaars wat in die ontvoering en verkoop van jong vroue spesialiseer. In een land is die “markwaarde” van ’n meisie ses beeste.

Vigs in Brasilië

Dr. Luís Alberto Pelegrino Ferreira, ’n Brasiliaanse viroloog, het onlangs gesê dat 42 persent van diegene in die staat Santa Catarina wat vigs onder lede het tussen 20 en 29 is. Hy het gesê dat die hoë persentasie vigs onder jong volwassenes “ons tot die slotsom laat kom het dat hierdie mense besmet is toe hulle tussen 15 en 19 was”. Promiskuïteit op ’n vroeë ouderdom het klaarblyklik tot hierdie somber situasie bygedra. Daar word egter algemeen erken dat HIV ook deur bloedoortappings oorgedra kan word. Die koerant O Estado de S. Paulo het berig dat ses bloeiers, lede van dieselfde familie, almal deur bloedoortappings met die HIV-virus besmet is.

’n Veglustige wêreld

In die laaste tyd is die uitdrukking “Nuwe Wêreldorde” alom gebruik om die veranderde politieke klimaat in die wêreld te beskryf. Die uitdrukking het dikwels ’n positiewe bybetekenis, want dit koppel hierdie nuwe omstandighede met moontlike wêreldvrede. Maar die tydskrif Asiaweek het onlangs die situasie geskets soos dit werklik is toe dit onder die opskrif “Die Nuwe Wêreldorde” ’n lys van meer as 100 nasies gepubliseer het. Die nasies word volgens die grootte van hulle leër aangegee. China was boaan die lys, met ’n leër van 2300000. Indië en Noord-Korea was volgende, met omtrent 1000-000 soldate elk. Om en by 30 lande spog met ’n leër van 100 000 of meer. Burkina Faso, met sy leër van 7000, was onderaan die lys. Die groottotaal van al die leërs wat deur Asiaweek aangegee is, kom op meer as 15 000 000 soldate te staan!

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel