Jongmense vra . . .
Waarom moet ek die jongste kind wees?
Die jongste kind word gewoonlik as die “baba” van die gesin beskou.
“Ek haat die feit dat ek moet betaal vir foute wat my ouer susters gemaak het.”
“My ouer broer slaan my wanneer hy probleme het.”
‘EK IS die jongste van vyf’, skryf Lilia. ‘En dit is nie ’n grap nie. Ek word baie keer uitgesluit omdat niemand deur die “baba” gepla wil word nie. My broers en susters haat dit eenvoudig om my op te pas. Ek voel altyd soos ’n laspos. Ek voel soms soos ’n enigste kind omdat ek soveel tyd alleen moet deurbring.’
Faye is die jongste van vier kinders. Sy sê: “My ouers het altyd eerder die ouer kinders geglo. En die ouer kinders het hulle eie vriende gehad. Ek het ’n alleenloper geword.”
Is jy die jongste kind in julle gesin? Dan het jy dalk soortgelyke griewe. Dit is dalk vir ander snaaks as hulle hoor dat jy die “baba” van die gesin is. Maar vir jou is dit nie ’n grap om die jongste te wees nie.
Die probleme van die jongste kind
Dink jy byvoorbeeld dat jou ouer broer of suster altyd voorgetrek word? Jy het dalk rede om so te dink. In Bybelse tye het die eersgeborene ’n unieke, bevoorregte posisie geniet; die jongste kind het ’n agterstand gehad wanneer dit by sekere voorregte en verantwoordelikhede gekom het. (Vergelyk Genesis 25:31; 43:33.) Vandag is ouers steeds geneig om hoë verwagtings van hulle oudste kind te koester. Dit is nie dat hulle hom liewer as die ander kinders het nie, maar omdat hy ouer is, kry hy dalk die verantwoordelikheid om na sy jonger broers en susters om te sien. Hy is eerste groot, en gevolglik ontvang hy dikwels etlike benydenswaardige voorregte en vryhede.
Die jongste kind word egter beskou as die “baba” van die gesin en word in werklikheid deur ouerlike liefde oorlaai! ’n Vrou wat aangehaal word in die boek Sibling Rivalry deur Seymour V. Reit vertel: “Ek was die jongste in ons gesin . . . Ek is soos ’n baba behandel en daar is ’n taamlike ophef van my gemaak, selfs deur die ouer kinders. Ek het dit natuurlik geniet, maar ek dink dat dit my tog ’n bietjie teruggehou het. Dit het my dalk gekeer om groot te word en uitdagings die hoof te bied.”
Jou ouers kan ook te ver gaan om jou te probeer beskerm. Hulle laat dalk jou ouer broers en susters toe om saam met vriende uit te gaan, maar vereis dat jy by die huis bly—of dat jy so vroeg terug moet wees dat dit in die eerste plek nie die moeite werd is om uit te gaan nie!
Omdat jy die jongste is, word daar dalk ook talle onregverdige vergelykings tussen jou en ander gemaak. “Wanneer ek regtig in die moeilikheid is of net iets onnosels by die huis aanvang”, kla die 16-jarige Karl, “sal hulle sê: ‘Alan doen dit nie’ of: ‘Waarom kan jy nie jou kamer soos Alan opruim nie?’” En as jou ouer broer of suster ’n rebelse houding op jou ouderdom gehad het, moet jy versigtig wees! Jou ouers gaan heel moontlik hulle bes doen om te voorkom dat die geskiedenis hom herhaal. “Ek haat die feit dat ek moet betaal vir die foute wat my ouer susters gemaak het”, kla een meisie. “Net omdat my suster die motor geleen het en na ’n plek gegaan het waar sy nie moes nie, kan ek nie die motor leen nie!”
Die stryd met broers en susters
Jou grootste klagte is dalk egter die manier waarop jou broers en susters jou behandel. Hulle toon moontlik min respek vir jou privaatheid of jou persoonlike besittings. Hulle terg jou dalk alewig of jy moet boet vir hulle mislukkings. “My ouer broer slaan my wanneer hy probleme het”, het een jong seun gekla.
Jong Susannah toon presies wat baie keer agter sulke verskille van kinders skuil. Sy sê: “Ek dink baie van die bakleiery gaan net oor mag en oor wie op wat geregtig is.” Dit is net natuurlik om ’n ouer se liefde, erkenning en goedkeuring te verlang. En aangesien dit feitlik onmoontlik vir ouers is om al hulle kinders dieselfde te behandel, ontstaan daar tog verskille en griewe. Die aartsvader Jakob het “Josef meer liefgehad as al sy seuns”. Hoe het sy broers en susters daarop gereageer? “Hulle [het] hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie” (Genesis 37:3, 4). As die jongste kind kry jy moontlik ook meer aandag en liefde van jou ouers. Indien wel, is jou broers en susters dalk afgunstig op jou. “Ek het gedink my jonger suster kry alles wat sy wil hê”, sê ’n tienermeisie Roseanna wat die oudste kind is. “Ek besef dat ek jaloers op haar was.”
Die voordele
Dit het nietemin ’n aantal voordele as jy die jongste kind is. Jou ouers is moontlik nou ryker as wat hulle was toe hulle net ouers geword het. Gevolglik het jy dalk nou materiële voordele, soos om jou eie kamer te hê, wat jou broers en susters nie op jou ouderdom gehad het nie. En hoewel sommige jongmense nie gebruikte klere wil dra nie, kan klere wat jy van jou broers of susters kry vir jou baie meer klere in jou kas gee as wat sommige van jou portuurs het!
Die ervaring wat jou ouers opgedoen het om kinders groot te maak, is nog ’n voordeel. (Vergelyk Hebreërs 5:14.) Jou ouer broers en susters moes hulle in werklikheid nog as ouers ‘touwys maak’. Aangesien hulle uit hulle vorige foute geleer het, is jou ouers dalk meer ontspanne en seker in hulle besondere rolle, en is hulle minder geneig om onrealistiese eise te stel. Jy geniet miskien ’n mate van vryheid wat jou broers en susters nie geniet het toe hulle so oud soos jy was nie.
Die feit dat jy ouer broers en susters het, is ook ’n voordeel. As jy egter dink aan die vyandigheid wat broers en susters gewoonlik teenoor mekaar openbaar, is dit dalk ’n bietjie moeilik om te glo. Maar dit is selde dat broers en susters mekaar werklik haat. Trouens, een 13-jarige meisie het erken: “My broer pla my alewig. Maar diep in my hart is ek baie lief vir hom.” Jou ouer broers en susters kan vir jou ’n bron van vriendskap, geselskap en raad wees. ’n Ouer broer of suster kan selfs ’n rolmodel vir jou wees, veral as hy of sy godvresend is. Moet jy vir die eerste keer hoër (sekondêre) skool toe gaan? Jou ouer broer kan jou help om daarby aan te pas. Het jou ouers jou uiteindelik toestemming gegee om grimering te dra? Miskien kan jou ouer suster jou wys hoe om dit aan te sit.
Dit is interessant dat die boek Sibling Rivalry voorts sê: “Die jongste kinders . . . is geneig om vriendeliker en geselliger te wees as die oudste of middelste kinders, en hulle is gewild by ander kinders. Aangesien hulle daaraan gewoond is om saam met ander van verskillende ouderdomme te werk en met hulle oor die weg te kom, is hulle op hulle gemak saam met hulle portuurs buite die gesinskring.”
Probeer die meeste voordeel uit jou situasie trek
Dink jy nog steeds dat die jongste kind aan die kortste end trek? Wel, jy sal miskien daarin belangstel om te weet dat eersgeborenes en die middelste kinders dikwels luidkeels kla dat hulle die tragiesste lot het! Wat wel saak maak, is nie waar jy op die stamboom inpas nie, maar hoe hard jy probeer om Bybelbeginsels toe te pas.
As jy byvoorbeeld meen dat jou ouers oorbeskermend is, moet jy die saak op ’n volwasse manier met hulle bespreek. “Planne misluk sonder beraadslaging” (Spreuke 15:22). As jy ‘vredeliewend en redelik’ is, kan jy met jou ouers onderhandel en aanneemlike oplossings voorstel—pleks van te kerm as jy nie jou sin kry nie (Jakobus 3:17, 18, NW). As jy nie ’n voorreg kry wat jou ouer broer of suster gehad het nie, moet jy nie ’n bohaai opskop nie. Toon dat jy verantwoordelik en bekwaam is deur die opdragte wat jou ouers jou gee na die beste van jou vermoë uit te voer.—Vergelyk Lukas 16:10.
Bybelbeginsels sal jou ook help om die vrede tussen jou en jou broers en susters te bewaar. Wil jy privaatheid hê? Volg dan die Gulde Reël, en respekteer hulle privaatheid en besittings (Mattheüs 7:12). Haat jy dit om geterg te word? Behandel dan jou broers en susters met ‘eer’ en moenie die eerste beledigings slinger nie (Romeine 12:10). Is jy omgekrap omdat jy meen dat hulle jou afskeep of uitsluit? Moenie dink dat jy ’n alleenloper moet wees nie. “Bepleit jou saak” met hulle, en bespreek die saak op ’n kalm, volwasse manier (Spreuke 25:9, NW). Baie keer moet jy net leer om te vergewe (Efesiërs 4:32; Kolossense 3:13; 1 Petrus 4:8). Maar as jy meen dat jou broer of suster jou fisies seermaak of uitskel, moet jy jou ouers daarvan sê. Slegs dan kan hulle hulle plig doen deur hulle kinders te ‘vermaan’.—Efesiërs 6:4.
Nee, om die jongste kind te wees beteken nie dat jy tot ’n “baba” gedoem word nie. Dit hoef ook nie jou emosionele of geestelike groei te belemmer nie. As die jongste kind kan jy empatie, onselfsugtigheid, mededeelsaamheid en die vermoë om met ander oor die weg te kom ontwikkel—lesse wat jou net tot voordeel kan strek in die jare wat voorlê.
[Prent op bladsy 23]
“Waarom word ek altyd uitgelaat?”