Jongmense vra . . .
Waarom toon my ouers nie groter belangstelling in my nie?
“Elke keer as ek my ma vra om vyf minute aan my af te staan”, kla een tienermeisie, “is sy altyd te besig.”
CHRISTINA was 16 jaar oud—ongetroud en swanger. Hoewel sy berouvol was oor die penarie waarin sy haar bevind het, was sy ook verbitterd. “My ma het nooit die moeite gedoen om hierdie dinge aan my te verduidelik nie”, het sy gesnik. “Sy het eenvoudig nooit tyd gehad om belang te stel in wat ek gedoen het nie.”
Is dit hoe jy soms voel—dat jou ouers eenvoudig nie in jou belangstel nie? Jy gee dalk nie uiting aan jou frustrasies op dieselfde manier wat Christina gedoen het nie. En jy weet dat dit geen verskoning vir slegte gedrag is as jy ouers het wat jou afskeep nie. Nogtans voel jy moontlik diep seergemaak as hulle jou afskeep. Hoewel jy al amper volwassenheid bereik het, het jy dalk steeds ’n sterk behoefte aan jou ouers se liefde en ondersteuning. As jou ouers jou ignoreer, voel dit waarskynlik asof niemand vir jou omgee nie. “Elke keer as ek my ma vra om vyf minute aan my af te staan”, kla een tienermeisie, “is sy altyd te besig.”
Dit is dus nie verbasend dat, volgens een opname, 25 persent van alle jongmense “meen dat hulle nie genoeg tyd saam met hulle ouers deurbring nie”. Een jongmens het gesê: “Ek wens ek kon ’n intiemer verhouding met my ouers hê en meer openlik met hulle gesels.” Selfs wanneer jongmense en ouers fisies bymekaar is, is hulle dalk emosioneel verwyderd. Daar is dalk geen betekenisvolle kommunikasie nie.
Waarom dit lyk asof hulle jou ignoreer
Stel jou die volgende voor: Jy het die hele dag gewag om met jou ma oor die een of ander probleem te gesels. Maar sodra sy ná werk by die huis kom, gaan sit sy in ’n stoel en raak verdiep in die aandnuus op TV. Wanneer jy probeer om met haar te gesels, jak sy jou af met ’n geïrriteerde: “Kan jy nie sien ek probeer ontspan nie?”
’n Liefdelose ouer? Nee, ouers skeep selde hulle kinders opsetlik af. Maar ons lewe in “kritieke tye wat moeilik is om deur te kom” (2 Timotheüs 3:1-3, vgl. NW). En jou ouers vind dalk dat hulle onder meer druk verkeer as ooit tevore. Hulle is moontlik so gespanne, gefrustreerd of uitgeput dat hulle eenvoudig nie die energie het om kwaliteittyd saam met jou deur te bring nie. Dit kan veral die geval wees as jy in ’n eenouergesin woon. Tensy jy jou ouers dus daarvan bewus maak dat jy ongelukkig is, aanvaar hulle dalk dat alles goed gaan.
Jou ouers is miskien ook bekommerd oor ander dinge. As jou pa ’n bedrywige Christen is, het hy dalk baie gemeentelike verantwoordelikhede. (Vergelyk 2 Korinthiërs 11:28, 29.) En hoewel jou ma miskien selde daaroor praat, word haar aandag heel moontlik afgelei deur toenemende gesondheidsprobleme. Het jy broers en susters? Dan is jou ouers waarskynlik ook besig om na hulle behoeftes om te sien.
Party ouers worstel weliswaar met ernstige probleme soos alkoholisme en is nie in staat om na hulle kinders se behoeftes om te sien nie. Maar ander weet dalk eenvoudig nie hoe om belangstelling in hulle kinders te toon nie. Per slot van rekening leer kinders by hulle ouers hoe om liefde te betoon. (Vergelyk 1 Johannes 4:19.) En miskien is jou ouers grootgemaak deur ouers wat nie belangstelling in hulle getoon het nie.
Dan is dit ook so dat party kulture jongmense se behoeftes feitlik ignoreer. In party dele van Afrika is dit die gebruik dat pa’s, ma’s en kinders tydens maaltye afsonderlik eet. Met watter gevolg? Collin, ’n 14-jarige seun van Afrika, sê: “Dit was moeilik om emosioneel na aan my ouers te voel. Ek het gevoel asof ek man-alleen blindelings deur die lewe gaan.”
Slaggate om te vermy
Wat die rede ook al mag wees waarom jou ouers jou oënskynlik afskeep, dit kan jou steeds hartseer en kwaad maak. Party jongmense wil nie saamwerk nie of is ongehoorsaam. Party besluit dat opstandigheid die enigste manier is waarop hulle die aandag op hulle situasie kan vestig. Maar soos Christina, wat aan die begin genoem is, doen opstandige jeugdiges dikwels weinig meer as om hulleself in die proses seer te maak. “Die onkundiges se dwaling kos hulle die dood”, waarsku Spreuke 1:32.—NAV.
Aan die ander kant word weinig tot stand gebring as die situasie eenvoudig geïgnoreer word—veral as dit jou diep seermaak. “Gedra jy jou slap in die dag van benoudheid?” vra Spreuke 24:10. Indien wel, “skiet jou krag te kort”. Emosionele wonde kan selfs werkliker as, en net so pynlik soos, fisiese wonde wees (Spreuke 18:14). En wanneer hulle toegelaat word om soos ’n kanker te vererger, kan hulle verdere pyn veroorsaak wanneer volwassenheid bereik word. Neem byvoorbeeld die geval van ’n jongman, Johan. “Terwyl ek grootgeword het”, sê Johan, “was my pa weens sy alkoholisme nooit in staat om my te help wanneer ek hom die nodigste gehad het nie.” Hy voeg by: “Hy was te verdiep in sy eie probleme om aandag aan my te skenk.” As ’n volwassene het Johan lank onder depressie en skuldgevoelens gebuk gegaan.
Met die hulp van ’n paar goeie vriende kon Johan begin om weer ’n gevoel van eiewaarde te kry. Sy ondervinding beklemtoon nietemin hoe belangrik dit is om positiewe maniere te probeer vind waarmee jy die situasie tuis kan verwerk.
Moedig hulle belangstelling in jou aan
Veronderstel jou pa of ma knoop selde ’n gesprek met jou aan. Jy kan begin om die ongemaklike stilte te verbreek deur belangstelling in hulle te toon (Mattheüs 7:12; Filippense 2:4). Bied aan om hulle te vergesel as hulle gou êrens heen moet gaan. Vra hulle of jy iets kan doen om hulle te help deur miskien ’n maaltyd voor te berei of te help skoonmaak. Mettertyd kan jy hulle van jou bekommernisse begin vertel, soos wat besig is om by die skool te gebeur.
Maar soms het jy dalk ernstige probleme wat jy wil bespreek. Dit sal nie veel help om jou pa te nader wanneer hy uitgestrek op die rusbank lê en ontspan ná ’n moeilike dag by die werk nie. Probeer om die “regte tyd” te kry—wanneer hy redelik ontspanne en opgewek is—om sake te bespreek (Spreuke 15:23, NAV). Hy sal waarskynlik baie meer gewillig wees om aandag aan jou probleme te skenk.
Maar gestel jou ouers toon geen belangstelling nie, al probeer jy jou bes?a Spreuke 15:22 herinner ons daaraan dat “planne misluk sonder beraadslaging”. Ja, dalk sal jy vir jou ouers moet vertel (natuurlik op ’n vriendelike en taktvolle manier) dat jy dink hulle toon nie genoeg belangstelling in jou nie en dat dit jou seermaak en onbemind laat voel. Miskien wil jy net nou en dan geprys word of miskien sal jy dit waardeer as hulle jou met jou huiswerk help.
Jou ouers sal waarskynlik verbaas wees om te verneem dat jy so voel. Hulle sal jou dalk onverwyld van hulle liefde verseker en miskien selfs om verskoning vra omdat hulle jou die verkeerde indruk gegee het. Ouers sal dikwels ’n daadwerklike poging aanwend om te verander wanneer ’n probleem onder hulle aandag gebring word.
Aan die ander kant sal julle bespreking miskien aan die lig bring dat jy hulle verkeerd verstaan het. Miskien het jy eenvoudig nie gelet op die verskillende maniere waarop hulle belangstelling in jou toon nie. Wat ook al die geval mag wees, as jy sake uitpraat, doen jy ’n belangrike stap om die situasie by die huis te verbeter.
Vul die leemte
Gestel jy kry steeds geen gunstige reaksie van jou ouers nie? Dit is te begrype dat so iets taamlik pynlik sal wees. Daar is nietemin ander dinge wat jy kan doen.
Probeer byvoorbeeld om iemand—verkieslik iemand wat ouer as jy is—te kry wat die leemte kan help vul wat deur jou onopmerksame ouers geskep is. Soos die boek Spreuke dit stel, bestaan daar ’n vriend ‘wat gebore word met die oog op die nood’ (Spreuke 17:17). Soek daardie soort vriend. Maar wees selektief wanneer jy raad aanvaar, stel vas of dit tot jou voordeel en in ooreenstemming met God se Woord is.
Die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies is nog ’n bron van hulp en ondersteuning. Daar kan jy geestelike broers en susters, vaders en moeders vind wat werklik in jou sal belangstel en jou sal help om geestelik en emosioneel te groei (Markus 10:30). Collin, die jong seun van Afrika wat vroeër genoem is, het sulke vriende gevind. Hy het gevoel dat hy leiding nodig het en het die vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon. Gemeentelede wat hom laat voel het dat hulle hom lief en nodig het, het gou met hom vriende gemaak. Mettertyd het sy ouers, broers en susters ook die gemeentelike vergaderinge begin bywoon.
Jou ouers gee heel waarskynlik werklik vir jou om, maar hulle moet eenvoudig meer bewus gemaak word van jou behoeftes. Neem die inisiatief, en sê vir hulle wat daardie behoeftes presies is! Wie weet? Miskien vind jy uit dat hulle veel meer in jou belangstel as wat jy ooit gedink het.
[Voetnoot]
a Ouers wat met sulke ernstige probleme worstel soos verslaafdheid aan dwelms of alkohol het dalk professionele hulp nodig voordat hulle belangstelling in hulle kinders se behoeftes kan toon.
[Prent op bladsy 23]
Hedendaagse ouers verkeer dikwels onder te veel druk en is te moeg om hulle kinders te help om hulle probleme die hoof te bied