Vasbeslote om die kinders te help
GISTER het daar 40 000 kinders onder vyf jaar in ontwikkelende lande gesterf. Vandag sal daar nog 40 000 sterf. Môre nog 40 000. Die meeste van hierdie sterftes kan voorkom word.
Hierdie situasie word al jare lank die “stil nood” of die “stil ramp” genoem, wat beteken dat die wêreld nie veel aandag daaraan gee nie. “Indien daar elke dag 40 000 gevlekte uile doodgegaan het, sou mense woedend wees. Maar 40000 kinders sterf, en dit word skaars opgemerk”, het Peter Teeley gekla, ’n Amerikaanse woordvoerder by die VN-Wêreldspitsberaad vir Kinders wat in 1990 by die VN-hoofkwartier in New York gehou is.
Sommige meen dat die spitsberaad dit moontlik alles uiteindelik sal verander. Die spitsberaad is deur vooraanstaande amptenare, waaronder 71 staatshoofde, uit 159 lande bygewoon. Hulle het saam 99 persent van die wêreldbevolking verteenwoordig. Mikhail Gorbatsjof het die stemming daar opgesom toe hy gesê het: “Die mensdom kan dit nie langer duld dat daar elke jaar miljoene kinders sterf nie.”
Gedurende die dae voor die spitsberaad het die wêreld getoon dat hulle dit steun. Letterlik honderde volks- en gemeenskapsvergaderinge, seminare, opleidingsprogramme en debatte het die aandag gevestig op die treurige toestand waarin kinders hulle bevind. Meer as ’n miljoen mense in 80 lande het kerse opgesteek as simbool van hulle hoop dat die wêreld, ten spyte van die probleme en gevare wat voorlê, ’n beter plek gemaak kan word.
Die laaste dag van die spitsberaad is deur UNICEF (Verenigde Nasies-kinderfonds) as “moontlik die allerbelangrikste dag vir kinders oor die hele wêreld” bestempel. Waarom was daar soveel geesdrif? Omdat wêreldleiers toe ’n bepaalde “Plan van aksie” goedgekeur het om die lyding en sterfgevalle van kinders oor die hele wêreld te verminder.
In die geskiedenis van internasionale samesprekings is gebroke beloftes weliswaar iets algemeens. Tog het baie mense na afloop van die Koue Oorlog van ’n nuwe gees van opregtheid en samewerking bewus geword. James Grant, UNICEF se uitvoerende direkteur, het geesdriftig gesê: “Die Staats- en Regeringshoofde het in werklikheid die eerste stap gedoen om, as die hoofdoel van die ontwikkeling in ’n nuwe wêreldorde, die welstand van alle mense—van ‘volwasse kinders’ asook kinders—te verseker.”
Binne ’n jaar ná die spitsberaad het die meeste nasies inderdaad reeds nasionale planne gemaak om die spitsberaad se besluite uit te voer. Dit het direkteur Grant aangespoor om te sê: “Daar bestaan nou ’n baie realistiese moontlikheid dat alle kinders teen die jaar 2000 goeie gesondheid sal kan geniet.”
Maar wat presies is die treurige toestand waarin die kinders hulle bevind, die wêreld se skandelike gesinsgeheim, wat deur die internasionale media oopgevlek is? Is daar nou, in hierdie atmosfeer van internasionale samewerking ná die Koue Oorlog, goeie rede om te glo dat die Verenigde Nasies aan die spits van ’n wonderlike nuwe wêreldorde sal staan? Kan ons werklik op ’n rooskleurige toekoms vir ons kinders hoop? Die volgende twee artikels sal hierdie sake bespreek.