Voedsel vir almal—Net ’n droom?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË
“ELKE man, vrou en kind het die reg om vry te wees van honger en wanvoeding”, het die Wêreldvoedselkonferensie, wat deur die Voedsel- en Landbou-Organisasie van die Verenigde Nasies (VLO) geborg word, in 1974 verklaar. ’n Beroep is toe gedoen om “binne ’n dekade” alle honger in die wêreld uit te wis.
Maar toe verteenwoordigers van 173 lande laat verlede jaar by die VLO-hoofkantoor in Rome vir ’n vyfdaagse Wêreldvoedselspitsberaad saamgekom het, was dit hulle doel om te vra: “Wat het verkeerd geloop?” Nie alleen het enige pogings om voedsel aan almal te voorsien, misluk nie, maar nou, meer as twee dekades later, is die situasie erger.
Die hoofkwessies van voedsel, bevolking en armoede is dringend. ’n Dokument wat by daardie spitsberaad vrygestel is, het erken dat dit “die sosiale bestendigheid van baie lande en gebiede heel moontlik ernstig sal raak en wêreldvrede selfs in gevaar kan stel” as hierdie probleme nie opgelos word nie. Een waarnemer het dit meer pertinent gestel: “Ons sal die vernietiging van die beskawing en volkskulture sien.”
Volgens die Direkteur-generaal van die VLO, Jacques Diouf, “is voedsel vir meer as 800 miljoen mense vandag nie vryelik beskikbaar nie; onder hulle is 200 miljoen kinders”. Daar word geraam dat die huidige wêreldbevolking van 5,8 miljard teen die jaar 2025 tot 8,3 miljard sal toeneem, met die grootste toename in ontwikkelende lande. Diouf kla: “Daar is soveel mans, vrouens en kinders wat hulle onvervreembare reg op lewe en waardigheid ontneem word dat dit onaanvaarbaar is. Saam met die uitroepe van diegene wat honger is, is daar die stille benoudheid van beskadigde grond, ontboste gebiede en viswaters wat al hoe meer uitgeput word.”
Watter oplossing word voorgestel? Diouf sê dat die oplossing in “moedige optrede” lê, naamlik om “voedselsekerheid” aan lande met ’n voedseltekort te voorsien, sowel as die vaardighede, belegging en tegnologie wat hulle in staat sal stel om hulleself te voed.
“Voedselsekerheid” —Waarom so ontwykend?
Volgens ’n dokument wat deur die spitsberaad uitgereik is, “bestaan voedselsekerheid wanneer voldoende, veilige en voedsame voedsel te alle tye vir alle mense fisies en ekonomies beskikbaar is om in hulle voedingsbehoeftes en voedselvoorkeure vir ’n aktiewe en gesonde lewe te voorsien”.
Die Zaïre-vlugtelingkrisis het toegelig hoe voedselsekerheid belemmer kan word. Terwyl ’n miljoen Rwandese vlugtelinge honger gely het, het VN-agentskappe ’n voorraad voedsel beskikbaar gehad om hulle te voed. Maar die vervoer- en verspreidingsreëlings het magtiging deur politici vereis, asook die samewerking van plaaslike owerhede—of plaaslike krygshere as hulle die vlugtelingkampe beheer het. Die noodtoestand in Zaïre toon weer eens hoe moeilik dit vir die internasionale gemeenskap is om diegene wat honger is te voed, selfs wanneer voedsel beskikbaar is. Een waarnemer het gesê: “’n Menigte organisasies en entiteite moet geraadpleeg en omgehaal word voordat enigiets kan gebeur.”
Soos ’n dokument van die Amerikaanse Departement van Landbou getoon het, kan voedselsekerheid ernstig benadeel word deur ’n hele aantal grondoorsake. Afgesien van natuurrampe sluit dit oorlog en burgerlike twis, ongepaste staatsbeleide, onvoldoende navorsing en tegnologie, omgewingsagteruitgang, armoede, bevolkingsgroei, geslagsdiskriminasie en swak gesondheid in.
’n Paar dinge is al bereik. Sedert die sewentigerjare het die gemiddelde dieetenergievoorraad, ’n aanduiding van voedselverbruik, in ontwikkelende lande van 8970 tot 10 560 kilojoules per persoon per dag gestyg. Met die oog op ’n bevolkingsgroei van etlike miljarde teen die jaar 2030, sê die VLO egter: “Om net die huidige vlak van voedselbeskikbaarheid te handhaaf, sal dit vinnige en houbare produksiestygings verg om lewering met meer as 75 persent te laat toeneem sonder om die natuurlike hulpbronne te vernietig waarop ons almal staatmaak.” Dit is dus ’n sombere taak om verhongerde bevolkings van voedsel te voorsien.
‘Ons het optrede nodig, nie nog spitsberade nie’
Heelwat kritiek is gerig teen die verrigtinge van die Wêreldvoedselspitsberaad en dít waartoe die afgevaardigdes hulle verbind het. Een Latyns-Amerikaanse verteenwoordiger het die “beskeidenheid” van ’n belofte om die aantal ondervoede mense tot net die helfte van die huidige vlak te verminder as “skandelik” veroordeel. Vyftien lande het die voorstelle wat deur die spitsberaad goedgekeur is op verskillende maniere geïnterpreteer. Selfs om net ’n beskeie verklaring en plan van aksie op te stel, het volgens die Italiaanse koerant La Repubblica “twee jaar van konfrontasies en onderhandelings geverg. Elke woord, elke komma is geweeg om nie die oop wonde . . . weer te laat bloei nie.”
Baie wat gehelp het om die spitsberaaddokumente voor te berei, was ontevrede met die resultate. “Ons is uiters skepties oor die verwesenliking van die goeie voorstelle wat aangekondig is”, het een gesê. ’n Geskilpunt was of die beskikbaarheid van voedsel as ’n “internasionaal erkende reg” gedefinieer moet word, aangesien ’n “reg” in geregshowe verdedig kan word. ’n Kanadees het verduidelik: “Die ryk state het gevrees dat hulle gedwing sou word om hulp te verleen. Dit is waarom hulle daarop aangedring het dat die teks van die verklaring afgewater word.”
Weens die eindelose besprekings by spitsberade wat deur die VN geborg word, het een Europese regeringsminister gesê: “Nadat ons soveel besluite geneem het by die Kaïro-konferensie [oor bevolking en ontwikkeling, wat in 1994 gehou is] het ons by elke daaropvolgende konferensie gevind dat ons weer dieselfde dinge bespreek.” Sy het aanbeveel: “Die implementering van aksieplanne tot nut van ons medemens moet boaan al ons agendas wees, nie nog spitsberade nie.”
Waarnemers het ook daarop gewys dat selfs die bywoning van die spitsberaad ’n groot uitgawe was vir sommige lande wat dit beswaarlik kan bekostig. Een klein Afrikaland het 14 afgevaardigdes en 2 ministers gestuur, wat almal meer as twee weke in Rome gebly het. Die Italiaanse koerant Corriere della Sera het berig dat die vrou van een Afrikapresident, in wie se land die gemiddelde jaarlikse inkomste nie meer as R14 600 per persoon is nie, lustig R102 000 uitgegee het in die eksklusiewe modewinkels in Rome se middestad.
Is daar rede om te glo dat die Plan van Aksie wat by die spitsberaad goedgekeur is welslae sal behaal? ’n Joernalis antwoord: “Al wat ons nou kan hoop, is dat regerings dit ernstig sal opneem en stappe sal doen om toe te sien dat die aanbevelings daarvan uitgevoer word. Sal hulle? . . . Die geskiedenis bied min rede tot optimisme.” Dieselfde kommentator het gewys op die teleurstellende feit dat, hoewel daar by die 1992-Aardespitsberaad in Rio de Janeiro ooreengekom is om bydraes tot ontwikkelingshulp na 0,7 persent van die bruto binnelandse produksie te verhoog, “net ’n handjievol lande daardie niebindende doelwit bereik het”.
Wie sal die honger mense voed?
Ten spyte van al die mensdom se goeie voornemens het die geskiedenis oor en oor bewys dat “aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Dit is dus onwaarskynlik dat mense op hulle eie ooit vir almal voedsel sal voorsien. Hebsug, wanbestuur en egotisme het die mensdom tot op die rand van die afgrond gebring. Die VLO se direkteur-generaal Diouf het gesê: “Wat per slot van rekening vereis word, is die verandering van harte, verstande en begeertes.”
Dit is iets wat net God se Koninkryk kan doen. Jehovah het trouens eeue gelede in verband met sy volk geprofeteer: “Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees.”—Jeremia 31:33.
Toe Jehovah God die mensdom se oorspronklike tuintuiste voorberei het, het hy “al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra”, aan die mens as voedsel voorsien (Genesis 1:29). Daardie voorsiening was oorvloedig, voedsaam en toeganklik. Dit was wat die hele mensdom nodig gehad het om hulle voedselbehoeftes te bevredig.
God se voorneme het nie verander nie (Jesaja 55:10, 11). Lank gelede het hy die versekering gegee dat hy alleen elke behoefte van die mensdom deur middel van sy Koninkryk in die hande van Christus sal bevredig, deur voedsel vir almal te voorsien, armoede uit te wis, natuurrampe te beheer en konflikte te elimineer. (Psalm 46:9, 10; Jesaja 11:9; vergelyk Markus 4:37-41; 6:37-44.) Dan ‘sal die aarde beslis sy opbrengs lewer; God, ons God, sal ons seën’. “Daar sal volop graan op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees.”—Psalm 67:6, NW; 72:16, NW.
[Foto-erkenning op bladsy 12]
Dorothea Lange, FSA Collection, Library of Congress