Per spoor na die kruin van Europa
Deur Ontwaak!-medewerker in Switserland
DIE mens van die negentiende eeu was daarop uit om die natuur te oorwin. Die Switserse Alpe was ’n aanloklike moontlikheid. Die Alpe se skrikwekkende pieke van skerp ys en rots het die mens eeue lank op ’n eerbiedige afstand gehou—maar nie meer nie. Bergklimmers het dit in die vroeë 1800’s reggekry om die 4158 meter hoë Jungfrau te klim. Hoewel dit nie een van die hoogste pieke van die Alpe is nie, is dit ongetwyfeld een van die skouspelagtigstes.
Teen die laat 1800’s het verskeie mense met ondernemingsgees aan maniere begin dink om hierdie piek vir meer as net die handjie vol waaghalsige bergklimmers toeganklik te maak. Die idee om ’n spoorlyn na die piek te bou, het gou posgevat.
’n Moedige onderneming
Dit sou ’n reusagtige taak wees om ’n spoorlyn na só ’n hoë plek te bou, veral met die beperkte tegnologie van destyds. Die Switserse regering het verskeie voorstelle oorweeg oor hoe dit gedoen kon word en toe die planne van Adolphe Guyer-Zeller, ’n Zürichse industrialis, gekies. Hy moes eers ’n wetenskaplike ekspedisie na die hoë Alpe organiseer om te bewys dat werkers en toeriste op daardie hoogtes kon bly leef.
Sy planne het die Wengernalp-spoorlyn ingesluit, wat reeds die Alpynse valleie Lauterbrunnen en Grindelwald aan die voet van die Jungfrau met mekaar verbind het. Guyer-Zeller het voorgestel dat ’n sewe kilometer lange opwaartse tonnel regdeur die Jungfrau se bekende buurpieke, die Eiger en Mönch, gebou word om die spoor tot op die piek te verleng. Sodoende sou die spoor teen die gure weer beskerm word.
Die werk het in Julie 1896 begin. Dit het twee jaar geduur om die eerste buitelugfase, van Kleine Scheidegg tot by Eigergletscherstasie, wat maar twee kilometer van mekaar is, te voltooi. Die volgende taak was om deur die Eiger te begin boor. Terwyl die winter van 1898/99 nader gekom het, het honderde tonnelwerkers hulle gereed gemaak om heeltemal van die buitewêreld afgesny te word deur tonne en tonne sneeu.
Die slaapkwartier vir die werkers en die bergruimte vir die lewensmiddele het ’n taamlik groot dorp gevorm. Duisende kilogramme voedsel, boumateriaal en brandstof moes in voorraad gehou word. Die lewensmiddele moes hou totdat die Wengernalp-spoorlyn weer gebruik kon word, wat eers laat in die lente sou wees.
Die werkers het dag en nag, in drie agt uur lange skofte, geboor. Maar die rotsboordery het ook lewensverlies meegebring. Ses werkers het in ’n aaklige mynongeluk gesterf. Nietemin het die tonnelwerkers op 7 Maart 1899 die tweede fase, Eigerwandstasie, bereik. Deur die stasievensters kon hulle Kleine Scheidegg sien, wat nou 4,3 kilometer agter hulle gelê het, en ver onderkant hulle die Thunmeer.
’n Onverwagse terugslag
Op 3 April 1899 is die projek swaar getref deur die skielike dood van Adolphe Guyer-Zeller. Maar onder die leiding van sy seuns is die volgende fase, Eismeerstasie, op ’n hoogte van 3160 meter, voltooi. Dit is in Julie 1905 geopen.
Gedurende die daaropvolgende jare het die projek maar stadig gevorder. Die moordende lewe in daardie onherbergsame gebied het op die werkers se senuwees gewerk en hulle kragte laat kwyn. Nietemin het hulle op 21 Februarie 1912 die laaste rotse weggeskiet en die Jungfraujoch (dit beteken “Juk van die Jungfrau”, die nek tussen die Mönch en die Jungfrau) bereik. ’n Asemrowende panorama het hom ontvou—sneeubedekte pieke en gletsers het in helder sonlig uit ’n diepblou hemel gelê en baai!
Europa se hoogste spoorwegstasie, Jungfraujoch, wat op ’n hoogte van 3454 meter en 9,3 kilometer van die spoorlyn se beginpunt af lê, is op 1 Augustus 1912 ingewy. Die oorspronklike plan om die kruin van die Jungfrau (700 meter hoër) te bereik, moes laat vaar word—hoofsaaklik weens die koste en die beperkte beweegruimte vir die menigte besoekers wat daar bo verwag is. Die projek het reeds sy oorspronklike begroting van tienmiljoen Switserse frank met vyfmiljoen frank oorskry. In plaas van die voorgenome 7 jaar het die projek 16 jaar geduur.
As jy die Jungfraujoch besoek
Beplan jy ’n besoek aan die Jungfraujoch? Die Jungfrauspoorlyn kan jou, in minder as ’n uur, van Kleine Scheidegg na die kruin van Europa neem. Wanneer die trein vir ’n rukkie stilhou, kan jy deur die vensters na die Eigerwand- en Eismeerstasie kyk. As jy die bopunt bereik, sal die dun lug op daardie hoogte jou moontlik dwing om eers stadig rond te loop wanneer jy die uitstalsaal van die wetenskaplike navorsingstasie besoek of die beeldhouwerke in die Yspaleis besigtig. ’n Hyser neem jou tot by die Sfinksterras, wat op die Aletschgletser uitkyk. Jy kan selfs ’n entjie op ’n hondeslee gaan ry!
As jy honger of dors word, kan jy ’n restaurant besoek wat elke sak en smaak pas. Maar die beste is gratis: die wonderlike uitsig op die Skepper se handewerk—dit is nou as geen mis of wolke skielik hulle verskyning maak nie. Die natuurtoneel is waarlik ’n meesterstuk van die skepping. As nietige waarnemers kan ons dit slegs met ontsag en bewondering aanskou.
[Prent op bladsy 24]
Die Jungfraubahn (Jungfrauspoorlyn)
[Diagram/Prent op bladsy 25]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die roete van die Jungfrauspoorlyn:
1. Kleine Scheidegg (buitelug);
2. Eigergletscher (buitelug);
3. Eigerwand (in die tonnel);
4. Eismeer (in die tonnel);
5. Jungfraujoch (in die tonnel)