Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 7/8 bl. 13-18
  • Die Indiese spoorwegstelsel—’n Reus wat ’n nasie bedien

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Indiese spoorwegstelsel—’n Reus wat ’n nasie bedien
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe is die reus gebore?
  • Die reus groei
  • Die opwindende “speelgoedtreine”
  • Die lang reis
  • Is spoorweë hier om te bly?
    Ontwaak!—1998
  • Oos-afrika se “gekke spoorlyn”
    Ontwaak!—1998
  • ’n “Ysterband” van see tot see
    Ontwaak!—2010
  • ’n Trein met “tande”
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 7/8 bl. 13-18

Die Indiese spoorwegstelsel—’n Reus wat ’n nasie bedien

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN INDIË

Meer as 4 000 jaar gelede was daar bouers wat stene in noordelike Indië gemaak het. Maar min het hulle geweet dat daardie stene gebruik sou word om ’n reusagtige spoorwegnetwerk op die Indiese subkontinent te bou.

DIE INDIESE SPOORWEGSTELSEL is ’n reus! Treine is die vernaamste vervoermiddel in Indië, ’n land met meer as ’n miljard mense. Behalwe dat die meeste mense treine vir hulle daaglikse vervoer gebruik, vereis Indië se tradisionele kultuur dat die miljoene mense wat nie by hulle familie woon nie, gereeld reis om familiegeleenthede by te woon, soos geboortes, begrafnisse, feeste, troues of siekte.

Elke dag is daar gemiddeld meer as 8 350 treine wat oor die 12,5 miljoen passasiers oor spoorlyne van sowat 80 000 kilometer vervoer. Goederetreine vervoer vragte van meer as 1,3 miljoen ton. Saam lê hulle elke dag ’n afstand af wat gelyk is aan drie en ’n half keer die afstand na die maan!

Dink aan die 6 867 stasies, 7 500 lokomotiewe, meer as 280 000 passasiers- en goederewaens en spoorlyne van altesaam 107 967 kilometer, insluitende syspore, en jy sal verstaan waarom ongeveer 1,6 miljoen mense vir die Indiese Spoorweë werk, die grootste arbeidsmag van enige maatskappy ter wêreld. Ja, dit is voorwaar ’n reus!

Hoe is die reus gebore?

Wat het daartoe gelei dat die Indiese spoorweë gebou is? Wanneer is daar met hierdie ontsaglike projek begin? En wat van daardie 4 000 jaar oue stene?—Sien die venster hierbo.

In die middel van die 19de eeu het Indië groot hoeveelhede ru-katoen geproduseer, wat met die pad na hawens geneem is om uitgevoer te word. Indië was egter nie die vernaamste verskaffer van katoen aan die Britse wewerye nie; die meeste van hulle katoen het van die Diep Suide in Noord-Amerika gekom. Maar omdat die Amerikaanse katoenoes in 1846 misluk het, gevolg deur die Burgeroorlog van 1861 tot 1865, was daar ’n dringende behoefte aan ’n alternatiewe verskaffer. Indië was die antwoord. Maar ’n vinniger vervoerstelsel was nodig om Engeland se Lancashire-wewerye aan die gang te hou. Die Oos-Indiese Spoorwegmaatskappy (1845) en die Spoorweg van die Groot Indiese Skiereiland (1849) is gestig. Kontrakte is ook met die Engelse Oos-Indiese Kompanjie geteken, die grootste handelsmaatskappy op die Indiese subkontinent. Die werk het vinnig gevorder, en op 16 April 1853 het die eerste trein in Indië ’n afstand van 34 kilometer afgelê, van die dokgebied wat bekend gestaan het as Bori Bunder in Bombaai (nou Mumbaai) na die dorp Thāna.

Om die katoenproduserende hinterland van Bombaai af te bereik, moes die Westelike Ghats, ’n ruwe bergreeks, oorgesteek word. Britse ingenieurs en werkers, saam met duisende Indiese werkers—soms tot 30 000 op ’n slag—het sonder die voordele van moderne tegnologie gearbei. Hulle het die wêreld se eerste roetsbane gebruik, en het ’n spoorlyn gelê wat op een plek 555 meter in net 24 kilometer geklim het. Hulle het 25 tonnels met ’n totale lengte van 3 658 meter gegrawe. Nadat hulle die Dekkan-plato bereik het, het die projek goed op dreef gekom. Die werk het landwyd goed gevorder en is nie net deur die handel aangedryf nie, maar ook deur die behoefte om troepe en personeel vinnig te vervoer namate die Britte hulle belange op die subkontinent uitgebrei het.

Eersteklas-treinvervoer in die 19de eeu het die hitte en stof, vir die paar wat dit kon bekostig, draaglik gemaak. In privaat passasierswaens was daar ’n gemaklike bed, toilet en bad, kelners wat verversings, van oggendtee tot aandete, bedien het, ’n waaier oor ’n bak ys om die lug te verkoel, ’n haarkapper en storieboeke uit die reeks Wheeler’s Railway Library, sowel as die nuutste romans van Rudyard Kipling, ’n skrywer wat in Indië gebore is. Louis Rousselet, wat in die 1860’s gereis het, het gesê dat hy “oor hierdie groot afstande kon reis sonder om juis uitgeput te raak”.

Die reus groei

Teen 1900 was Indië se spoorwegnetwerk die vyfde grootste in die wêreld. Lokomotiewe—stoom-, diesel- en elektriese enjins—en spoorwegwaens, onder andere passasierswaens, wat vroeër alles ingevoer is, was nou plaaslik vervaardig. Van die enjins was werklik kolossaal—lokomotiewe wat tot 230 ton geweeg het, elektriese enjins van 4 500 kilowatt en ’n dieselenjin van 2 300 kilowatt wat 123 ton geweeg het. In 1862 is die wêreld se eerste dubbeldekkertrein in diens gestel. Indië spog met die wêreld se langste spoorwegplatform, wat 833 meter lank is, in Kharagpur in Wes-Bengale, en die langste onderdakplatforms, wat elk 305 meter lank is, in Sealdah in Kolkata.

Die eerste treine het op breë spore geloop. Later, om geld te bespaar, is daar gebruik gemaak van eenmeterspore, sowel as smal spore vir die heuwels. In 1992 is Project Unigauge van stapel gestuur, en tot op hede is smal en eenmeterspore van byna 7 800 kilometer met breë spore vervang.

Mumbaai se voorstedelike treine vervoer miljoene pendelaars, en dit lyk of hulle altyd stampvol gepak is. Kolkata se moltreinstelsel kan daagliks 1,7 miljoen passasiers vervoer. In Chennai (vroeër Madras) vind ons Indië se eerste lugspoorstelsel. ’n Gerekenariseerde besprekingsdiens en multimedia-inligtingstalletjies is onlangse toevoegings. Dit is ’n baie besige en progressiewe reus.

Die opwindende “speelgoedtreine”

Die Britse koloniste het graag na die berge toe gegaan omdat dit daar koeler was. Omdat hulle vinniger daar wou kom, het hulle die bergspoorweë met hulle “speelgoedtreine” gebou. Hulle kon nou vinniger by die berge kom—dit wil sê in vergelyking met hoe lank dit hulle te perd of in ’n draagstoel sou geneem het. Die “speelgoedtrein” in suidelike Indië neem byvoorbeeld sy passasiers na die Nilgiri-heuwels, of Blouberge. Dit het ’n gemiddelde spoed van 10,4 kilometer per uur en is moontlik die stadigste trein in Indië. Maar wat ’n rit is dit tog; deur die tee- en koffieplantasies van die berge tot by Coonoor op ’n hoogte van 1 712 meter! Die spoorlyn is in die laat 19de eeu gebou en klim met ’n helling van 1 op 12 en het 208 draaie en 13 tonnels. Dit gebruik die Abt-tandstang-en-kleinrat-stelsel. Tandstawe dien as ’n leer waarteen die lokomotief klim en die trein van agter af stoot. Hierdie spoorlyn is een van die oudste en steilste in die wêreld wat van tandstaaf- en adhesietegnologie gebruik maak.

Die Darjeeling-Himalaja-spoorlyn is slegs 610 millimeter wyd en klim met ’n helling van 1 op 22,5 tot by Ghoom, Indië se hoogste stasie, 2 258 meter bo seevlak. Die spoorlyn het drie spiraallusse en ses S-draaie. Die bekendste deel, die Batasia-lus, bring passasiers in die versoeking om van die trein af te spring, teen die grashelling op te klouter en weer op te klim nadat die trein om die draai gegaan het. Die hoogtepunt van hierdie opwindende rit is die uitsig op Kānchenjunga, die derde hoogste berg in die wêreld. In 1999 het UNESCO hierdie spoorlyn wêrelderfenisstatus gegee, wat sy toekoms sekerder maak.

Om Simla te bereik, wat Indië se 2 200 meter hoë somerhoofstad onder die Britse bewind was, gaan die trein deur 102 tonnels, steek dit 869 brûe oor en gaan dit om 919 draaie in net 95 kilometer! ’n Mens kan pragtige natuurtonele deur groot vensters en ’n deursigtige veselglasdak sien. Ja, om op hierdie “speelgoedtreine” te ry, is ’n ware genot. Aangesien die tariewe redelik laag gehou word, word die bergspoorweë ongelukkig teen ’n verlies bedryf. Spoorwegentoesiaste hoop dat ’n oplossing gevind kan word om hierdie opwindende treine te red.

Die lang reis

Daar is al gesê dat die koms van die spoorweg in Indië “die einde van een era en die begin van ’n ander” aangedui het, en dat “die spoorweg Indië aanmekaargeskakel het soos geen ander skema sedertdien kon doen nie”. Hoe waar tog! As jy wil, kan jy in Jammu op ’n trein klim, in die voetheuwels van die Himalajas, en by Kanyakumari afklim, Indië se suidelikste punt, waar die Arabiese See, die Indiese Oseaan en die Baai van Bengale ontmoet. Jy sou 3 751 kilometer deur 12 state gereis het en ongeveer 66 uur op die trein deurgebring het. Selfs as jy in ’n slaapkompartement gereis het, sou jou kaartjie jou dalk minder as R200 gekos het. Jy sou die geleentheid gehad het om vriendelike, spraaksame mense van baie kulture te leer ken en jy sou heelwat van hierdie fassinerende land gesien het. Bespreek jou kaartjie—en geniet die reis!

[Venster op bladsy 14]

Daardie antieke stene

Gedurende die Britse bewind (1757-1947) was die spoorwegstelsel op die Indiese subkontinent ideaal om troepe oor lang afstande te vervoer. Binne drie jaar nadat Indië se eerste trein in diens gestel is, het ingenieurs spoorlyne gelê tussen Karatsji en Lahore, in wat vandag Pakistan is. Klip was nie beskikbaar om as ballas te dien om die spoorlyn te stabiliseer nie, maar naby die dorp Harappa het werkers stene gevind wat in oonde gebak is. Die Skotse ingenieurs John en William Brunton het gemeen dat dit ’n geskikte en ekonomiese alternatief sou wees. Terwyl werkers al hierdie stene uitgegrawe het, het hulle op kleibeeldjies en seëls afgekom waarop daar in ’n vreemde taal gegraveer is, maar dit het nie die allerbelangrike bouwerk aan die spoorlyn onderbreek nie. Eenhonderd-en-sestig kilometer van hierdie spoorlyn is op Harappa-stene gebou. Vyf-en-sestig jaar later het argeoloë die Harappa-terrein stelselmatig opgegrawe en oorblyfsels gevind van die verstommende beskawing van die Indus-vallei, wat meer as 4 000 jaar terugdateer en gedurende dieselfde tydperk as antieke Mesopotamië bestaan het!

[Venster/Prent op bladsy 16]

DIE KONKAN-SPOORLYN—’n moderne wonder

Die Konkan is ’n strook land, ongeveer 75 kilometer by sy wydste punt, aan die weskus van Indië, tussen die Arabiese See en die Sahyadri-bergreeks. Die Konkan, wat suid strek vanaf Mumbaai, Indië se handelsentrum, tot by die groot hawe van Mangalore, hou baie voordele vir die handel in. Handel in Indië en met ander lande is eeue lank deur die kushawens hanteer. Maar seevaart was gevaarlik—veral gedurende die moesonseisoen, wanneer riviere ook onbevaarbaar was—en pad- en spoorroetes het diep in die binneland ingesny om talle natuurlike hindernisse te vermy. Die mense van die streek wou graag ’n direkte landroete langs die kus af hê om goedere, veral bederfbare produkte, vinnig na die groot markte te vervoer. Wat was die oplossing?

Die Konkan-spoorlyn was die grootste spoorlynprojek van die 20ste eeu op die subkontinent. Wat was daarby betrokke? ’n Spoorlyn van 760 kilometer moes gebou word met spoorwalle van tot 25 meter hoog en deurgrawings van 28 meter diep. Meer as 2 000 brûe moes gebou word, insluitende die 64 meter hoë Panval Nadi-boogbrug, die hoogste in Asië, wat oor ’n vallei van 500 meter strek, en die 2,065 kilometer lange Sharavatirivier-brug. Om die spoorlyn so reguit as moontlik te maak, is 92 tonnels deur die bergreekse gegrawe, waarvan 6 meer as drie kilometer lank is. Trouens, dit sluit Indië se langste tonnel tot op hede in, die 6,5 kilometer lange Karbude-tonnel.

Daar was enorme probleme—hulle moes stortreëns, grondverskuiwings en modderstortings trotseer, asook deur soliede rots, en selfs moeiliker, deur sagte litomargiese grond grawe, wat al met tandepasta vergelyk is. Al hierdie natuurlike hindernisse moes deur ingenieursvernuf en tegnologie oorkom word. Sentrifugale en straalwaaierventilasie in die tonnels, sowel as ander veiligheidsmaatreëls, was op sigself ’n ontsaglike onderneming. Grond moes van 42 000 verskillende grondeienaars verkry word, wat ’n enorme taak vir die regsdepartement was.

Maar op 26 Januarie 1998, ná net sewe jaar van konstruksie—’n rekord vir so ’n groot projek—het die eerste trein op die Konkan-spoorlyn geloop. Die reis van Mumbaai na Mangalore was 1 127 kilometer korter as die vorige kronkelende roete, en die reistyd is met 26 uur verminder. Die Konkan-spoorlyn het vir treinreisigers die geleentheid gebied om nuwe asemrowende natuurtonele te sien, vir toeriste die kans gegee om opwindende nuwe plekke te verken en het ’n verbeterde ekonomie vir miljoene mense geskep.

[Kaart]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

MUMBAAI

Mangalore

[Prent]

Die Panval Nadi-boogbrug, die hoogste brug in Asië

[Erkenning]

Dipankar Banerjee/STSimages.com

[Venster/Prent op bladsy 16]

DIE FAIRY QUEEN

Die wêreld se oudste stoomlokomotief wat nog in gebruik is, is die Fairy Queen. Dit is in 1855 in Leeds, Engeland, deur die ingenieursfirma Kitson, Thompson en Hewitson gebou en het postreine van Howrah-stasie, naby Kolkata, tot by Raniganj in Bengale getrek. Nadat dit in 1909 aan diens onttrek is, is dit in die Nasionale Spoorwegmuseum in Nieu-Delhi gehou, waar dit treinentoesiaste groot plesier verskaf het. Ter viering van Indië se 50ste jaar van onafhanklikheid is hierdie getroue ou lokomotief weer in diens gestel. Sedert 1997 word die tjoek-tjoek van die Fairy Queen Express weer gehoor terwyl dit toeriste 143 kilometer ver van Delhi na Alwar, in Rajastan, neem.

[Venster/Prente op bladsy 17]

LUUKSHEID EN SPOED—Indië het dit!

LUUKSHEID Indië het ’n lang geskiedenis wat dikwels deur weelde gekenmerk is. Eksklusiewe treintoere bied ’n gemaklike, maar duur, kykie in daardie geskiedenis. Die Palace on Wheels, met sy stoomaangedrewe lokomotief, is in 1982 in gebruik geneem. Die passasierswaens wat weelderig opgeknap is en vroeër deur maharadjas en onderkonings gebruik is, het nog steeds ’n atmosfeer van koninklike luuksheid. Die pêrelwit waens, die paneelwerk van Birmaanse kiaat, kristalkandelare en ryk brokaat skep ’n gevoel van deftigheid. Pragtige slaapkompartemente, eetkamers, ’n sitkamer en biblioteek, uitstekende internasionale cuisine en kelners in uniform laat passasiers skoon bederf voel.

Weens ’n verandering na breë spoor is ’n nuwe Palace in 1995 gebou, en die ou passasierswaens is aan diens onttrek. ’n Nuwe luuksetrein, The Royal Orient, loop nog steeds op ou eenmeterspore in die westelike state Goedjarat en Rajastan. Die treine loop hoofsaaklik in die nag, en passasiers besoek besienswaardighede gedurende die dag. Reisigers gaan deur die groot Thar-woestyn, met sy antieke forte, vestings en tempels. ’n Mens kan op ’n kameel oor die duine ry en op ’n olifant na die beroemde Amber Fort gaan. Nie ver hiervandaan nie is Jaipur, die Pienk Stad. Hierdie stad het ’n ryk geskiedenis en is bekend vir sy edelstene en handwerk. Die toer sluit ook voëlparke en ’n tierreservaat in, asook ’n besoek aan die tuiste van die enigste Asiatiese leeus wat nog in die natuur gevind kan word. Maak seker dat jy die Udaipur-paleis op die meer by jou reisplan insluit, en natuurlik ook die Taj Mahal! Al hierdie dinge en nog meer dra by tot ’n opwindende treinavontuur.

SPOED Indië se treine kan nie kers vashou by Frankryk en Japan se sneltreine nie. Maar dit is moontlik om vinnig en gerieflik oor lang afstande te reis met die 106 pare blitsvinnige interstedelike treine van die Indiese Spoorweë. Die Rajdhani- en Shatabdi-trein, met ’n spoed van byna 160 kilometer per uur, bied so te sê dieselfde gerief en fasiliteite as vliegtuie. Lugverkoelde passasierswaens het verstelbare sitplekke of gerieflike slaapkompartemente. Maaltye en verversings, linne, veilige drinkwater en mediese sorg word by die tarief van hierdie luuksetreine ingesluit.

[Kaart]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Jaipur

Udaipur

[Prente]

Hawa Mahal, Jaipur

Taj Mahal, Agra

The Royal Orient

Binne die “Palace on Wheels”

[Erkenning]

Hira Punjabi/STSimages.com

[Kaart/Prent op bladsy 13]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

NIEU-DELHI

[Prente]

Van die vernaamste spoorlyne

Stoom, Zawar

Stoom, Darjeeling-Himalaja-spoorlyn (DHR)

Elektries, Agra

Elektries, Mumbaai

Diesel, Hyderabad

Diesel, Simla

[Erkenning]

Kaart: © www.MapsofIndia.com

[Kaart/Prent op bladsy 15]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

MUMBAAI

[Prent]

Churchgate-stasie, Mumbaai

[Erkenning]

Sandeep Ruparel/STSimages.com

[Kaart/Prent op bladsy 15]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Nilgiri-heuwels

[Prent]

Die stoomlokomotief stoot die Nilgiri-“speelgoedtrein” teen die steil helling op

[Kaart/Prente op bladsy 18]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Darjeeling

[Prente]

Die Batasia-lus, waar die spoorlyn oor homself gaan

’n Uitsig op die Kanchenjunga-berg van die Batasia-lus af

[Foto-erkenning op bladsy 14]

Treine op bladsye 2, 13, 15 in die middel, 16-18: Reproduced by permission of Richard Wallace

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel