Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 6/10 bl. 16-18
  • ’n “Ysterband” van see tot see

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n “Ysterband” van see tot see
  • Ontwaak!—2010
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Duur voorstel
  • Uitdagings tydens die bouwerk
  • Die uitwerking op mense
  • Oos-afrika se “gekke spoorlyn”
    Ontwaak!—1998
  • ’n Trein met “tande”
    Ontwaak!—1994
  • Die Indiese spoorwegstelsel—’n Reus wat ’n nasie bedien
    Ontwaak!—2002
  • Meer as 120 jaar om ’n vasteland oor te steek
    Ontwaak!—2008
Sien nog
Ontwaak!—2010
g 6/10 bl. 16-18

’n “Ysterband” van see tot see

OMTRENT 150 jaar gelede was ’n groot deel van Kanada, die wêreld se tweede grootste land in oppervlakte, ’n onbekende wildernis. Die geskiedkundige Pierre Berton verduidelik: “Driekwart van die bevolking het redelik afgesonderd op plase gewoon”, en die toestand van die paaie “het dit byna onmoontlik gemaak om ver te reis”. Om op mere en riviere te reis, was ook nie altyd moontlik nie, want dit was tot vyf maande van die jaar gevries.

Met die oog op hierdie uitdagings het die eerste minister, sir John A. Macdonald, in 1871 voorgestel dat ’n spoorlyn gebou word wat Kanada se Atlantiese kus met sy kus aan die Stille Oseaan sal verbind. So ’n spoorlyn is in 1869 in die Verenigde State voltooi, maar Kanada het minder geld gehad, asook ’n groter afstand om te dek en ’n bevolking gelykstaande aan net sowat 10 persent van dié van die Verenigde State. ’n Kanadese politieke leier het die voorgestelde projek “een van die belaglikste dinge denkbaar” genoem. ’n Ander het gespot dat die eerste minister volgende sal voorstel dat ’n spoorlyn na die maan toe gebou moet word.

’n Duur voorstel

Die regering het egter belowe om die spoorlyn binne tien jaar te voltooi. Sandford Fleming, ’n Skotse spoorwegingenieur het die koste van die spoorlyn beraam op omtrent $100 miljoen, wat destyds ’n ontsaglike som geld was. Hoewel die roete korter en eenvoudiger sou gewees het as ’n gedeelte van die spoor deur die Verenigde State sou loop, het Macdonald daarop aangedring dat die roete slegs deur Kanada loop om die land se belange te beskerm as ’n oorlog sou uitbreek.

Baie beleggers was nie bereid om in so ’n duur waagstuk te belê nie. Maar in 1875 het die werk begin toe die Canadian Pacific Railway (CPR) die eerste graaf grond vir die bou van die hooflyn omgekeer het. Tien jaar later is die projek byna heeltemal stopgesit. Op 10 Julie moes ’n skuldlas van $400 000—wat die CPR nie kon betaal nie—teen drieuur die middag vereffen word. Maar om tweeuur daardie selfde middag het die Kanadese Parlement uiteindelik ingestem om meer geld aan hulle te leen, wat die projek gered het.

Uitdagings tydens die bouwerk

Terwyl werkers die spoorlyn in die noorde van Ontario gelê het, het hulle ontdek dat daar soliede rots minder as 30 sentimeter onder die grondoppervlak is. Grond moes dus oor lang afstande aangery word. In Sentraal-Kanada het die temperatuur in die winter tot minus 47 grade Celsius gedaal, wat baie konstruksieprobleme veroorsaak het. Daarbenewens het gemiddeld honderde sentimeters sneeu elke jaar geval. Die deel van die spoorlyn deur die Rotsgebergte in die weste is beskryf as die plek “waar die dood sonder waarskuwing kom”. Baie tonnels en brûe moes gebou word. Werksdae van tien uur, ondanks reën, modder of sneeu, was algemeen.

Uiteindelik, op 7 November 1885, is die laaste spyker sonder groot ophef ingeslaan by die Eagle-pas in Brits-Columbië in die weste. Die stasie het die naam Craigellachie gekry, genoem na ’n bymekaarkomplek in Skotland wat ’n simbool van moedige verset in moeilike tye geword het. Toe die hoofbestuurder van die CPR gevra is om ’n toespraak te hou, het hy eenvoudig gesê: “Al wat ek kan sê, is dat die werk in elke opsig goed gedoen is.”

Die uitwerking op mense

Duisende Chinese arbeiders wat vir die projek in die land ingebring is, is verseker dat hulle vaste werk op die spoorlyn sou ontvang. Die werk was dikwels gevaarlik, veral in die Rotsgebergte. Baie van hierdie werkers kon eers ’n hele paar jaar nadat die laaste spyker ingeslaan is, genoeg geld bymekaarmaak om terug te keer huis toe.

Met die koms van die spoorlyn het handel en nywerhede weswaarts beweeg, wat ’n negatiewe uitwerking op die tradisionele lewenswyse gehad het. Dorpies en stede is gestig, en inboorlingvolke is na reservate verskuif. Klein sakeondernemings, soos herberge, wat op voormalige handelsroetes was, het toegemaak. Aan die positiewe kant het die trein na bewering “die gemeenskap bevry van knegskap aan grond en modder”, asook “van knegskap aan die winter”. Verder het voedselitems wat van die Ooste af by Kanada se Pasifiese kus aangekom het, die oostelike stede binne net ’n paar dae bereik.

Hoewel treine nog steeds ’n groot rol daarin speel om goedere regoor Kanada te vervoer, het mense meer per motor en per vliegtuig begin reis, wat daartoe gelei het dat minder passasiers per trein reis. Maar baie mense geniet dit om weg te breek van die 21ste eeu se gewoel deur op ’n gerieflike trein te klim en die pragtige natuurskoon tussen Toronto en Vancouver te geniet. Pleks van die pas van die lewe te versnel, soos die trein eens op ’n tyd gedoen het, gee dit passasiers dus nou die geleentheid om te ontspan en na te dink oor die spoorlyn se kleurryke geskiedenis terwyl hulle van see tot see reis op Kanada se “ysterband”.

[Venster/Prent op bladsy 18]

ONS VERTEL ANDER OP DIE “YSTERBAND” VAN ONS HOOP

Die spoorlyn is nog steeds die vernaamste manier om na party Kanadese gemeenskappe te reis, en daarom gebruik Jehovah se Getuies dit om afgeleë gebiede met die Bybel se boodskap oor God se Koninkryksregering te bereik (Jesaja 9:6, 7; Matteus 6:9, 10). “Dit is maklik om op die trein oor die Bybel te praat”, verduidelik die Getuies, “omdat mense nuuskierig is oor waarheen ons op pad is en waarom ons daarheen gaan.”

Een Getuie lewer kommentaar oor ’n treinrit na ’n Ojibwa-reservaat naby die Nipigon-meer in die noorde van Ontario en sê: “Die natuurskoon en dierelewe is pragtig, maar ons aangenaamste herinneringe is van die mense wat ons ontmoet het. Omdat hulle min besoekers kry, het ons aankoms die plek aan die gons gehad. Party het vir ons hulle kano’s geleen, en ons is toegelaat om hulle skoolkamer gratis te gebruik. Nadat ons die hele dag lank gepreek het, het lede van die gemeenskap bymekaargekom om na ’n video oor ons wêreldwye predikingswerk te kyk.”

[Prent op bladsy 16]

Sir John A. Macdonald

[Prent op bladsy 17]

Dit was moeilik om die spoorlyn te bou

[Prente op bladsy 17]

Tallose brûe en tonnels moes in die berge gebou word

[Prente op bladsy 17]

Die laaste spyker het die transkontinentale spoorlyn in Kanada voltooi

[Prent op bladsy 18]

Op die “ysterband” vandag

[Foto-erkennings op bladsy 16]

Bo: Canadian Pacific Railway (A17566); middel: Library and Archives Canada/C-006513

[Foto-erkennings op bladsy 17]

Bo, links na regs: Canadian Pacific Railway (NS13561-2); Canadian Pacific Railway (NS7865); Library and Archives Canada/PA-066576; onder: Canadian Pacific Railway (NS1960)

[Foto-erkennings op bladsy 18]

Bo: Canadian National Railway Company; regs: Courtesy VIA Rail Canada Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel