Ons beskou die wêreld
Nuwe Katolieke kategismus
Die Vatikaan het aangekondig dat hy na ses jaar se voorbereiding binnekort ’n nuwe universele kategismus gaan vrystel. Dit is maar die tweede keer in die Katolieke Kerk se geskiedenis dat een opgestel is. Die eerste universele kategismus is in 1566, ná die Konsilie van Trente, vrygestel en het deel van die kerk se pogings uitgemaak om die gevolge van die Hervorming teë te werk. Die Franse koerant Le Monde sê die nuwe kategismus is “’n toegewing aan die kerk se tradisionalistiese faksie, wat hulle sedert die Vatikaan II vir ’n unieke kategismus met ouer en tradisioneler waardes beywer”. Pous Johannes Paulus II het sy amptelike goedkeuring aan die teks verleen en gesê dat die nuwe kategismus “dié verwysingspunt in die voorbereiding vir nasionale en biskopskategismusse sal voorsien”.
Is ’n hoër lewensduur ’n seën?
Hoewel die mediese wetenskap die mens se gemiddelde lewensduur in onlangse jare ietwat verhoog het, erken dr. Hirosji Nakajima, direkteur-generaal van die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie), dat “die wêreldbevolking se gesondheid en lewensgehalte alles behalwe verbeter”. In ’n onderhoud met die Paryse koerant Le Figaro het dr. Nakajima gesê: “Volgens ons inligting het die aantal siekes of gebreklikes, veral onder die bejaardes, moontlik selfs toegeneem.” Die wêreldwye gemiddelde lewensduur is nou 65 jaar. In nywerheidslande is dit 76 jaar, terwyl dit in ontwikkelende lande gemiddeld 62 jaar en net 50 jaar in dié gebiede op die aarde is wat die minste gevorderd is. Die WGO hoop om die gemiddelde lewensduur binne die volgende vyf jaar met vier maande te verhoog. Maar dr. Nakajima het gesê: “Dit is duidelik dat ’n langer lewensduur nie noodwendig ’n lewe sonder gebreke of chroniese siekte beteken nie.”
Redding vir die Kolosseum
“Solank die Kolosseum staan, sal Rome ook daar wees”, lui ’n ou Latynse gesegde. Maar reënwater wat deursypel, die vreetwerking van lugbesoedeling en die vibrasie wat deur stadsverkeer veroorsaak word, het die beroemde monument se toestand kritiek gemaak. Daar is ’n voortdurende gevaar dat stukkies daarvan sal afval, en ’n aantal plekke moet versterk word. Om te verhoed dat die amfiteater meer vervalle raak, is ’n ooreenkoms tussen die Italiaanse Departement van Kultuurerfenis en ’n Romeinse bank gesluit. In die eerste fase van die projek sal die boë waterdig gemaak en herstel en die arena se houtvloer, waar gladiators vroeër geveg het, herbou word. Waar die koerant La Repubblica die beoogde belegging van 40 miljard lira (R88 miljoen) bespreek, noem dit die ooreenkoms “die grootste verbintenis wat tot nog toe tussen die openbare en private sektors in Italië aangegaan is om ’n kunswerk te red”.
‘Geen priesters—geen kerk’
’n Ernstige probleem staar die Katolieke geestelikes in Frankryk in die gesig—ouderdom. Met te min nuwe priesters om die vakatures te vul wat ontstaan wanneer ouer geestelikes sterf of aftree, verminder die aantal priesters in Frankryk voortdurend. Die koerant Ouest-France berig dat die aantal priesters in Bretagne, ’n tradisioneel Katolieke vesting in die weste van Frankryk, tot net 2207 gedaal het. Slegs 180 priesters is jonger as 50, 900 van hulle is tussen 50 en 70 en meer as die helfte is ouer as 70. Die aartsbiskop van Rennes, Jacques Jullien, het voorspel dat die tendens ’n krisis vir die kerk kan inhou en het gekla: “Die tekort aan priesters is ons grootste probleem. . . . Geen priesters beteken geen kerk.”
Inflasie ondermyn sedes
Watter uitwerking het ’n hoë inflasiekoers oor ’n lang tydperk op mense? Eduardo Giannetti da Fonseca, ’n ekonoom aan die Universiteit van São Paulo, het in antwoord op hierdie vraag deur die tydskrif Veja gesê: “Inflasie het ’n uitwerking op die samelewing se morele standaarde. In ’n land waar mense nie weet hoeveel die geld in hulle beursie die volgende maand werd sal wees nie, gee hulle mettertyd die mees fundamentele etiese beginsels van menseverhoudinge prys. Vertroue, getrouheid, stiptheid, eerlikheid en onkreukbaarheid word deur ’n gebrek aan ekonomiese bestendigheid ondermyn.” Die regering sowel as die publiek beskerm hulleself teen die hoë lewenskoste en meen dalk dat die doel die middele heilig. Meneer Fonseca sê: “Inflasie leer mense om opportunisties en korrup te wees en dinge dadelik te wil hê.”
Die steroïedevoorkoms
Die gebruik van anaboliese steroïede deur atlete wat hulle atletiekprestasies wil verbeter, is lank reeds bekend. In onlangse jare het steroïedemisbruik onder nie-atlete egter om skoonheidsredes toegeneem. In ’n studie wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie gedoen is, is daar bevind dat 6,6 persent van alle manlike senior hoërskoolleerlinge in die Verenigde State al steroïede gebruik het. Ses-en-twintig persent van hierdie groep het gesê dat hulle hoofsaaklik steroïede gebruik om hulle persoonlike voorkoms te verbeter. Die nadelige gevolge van anaboliese steroïede is onder andere hoër cholesterol, watersug, ’n groter risiko van koronêrearteriesiekte, ’n vergrote prostaat, groeisels aan die lewer, testikulêre atrofie en impotensie. Daar word ook vermoed dat steroïede aggressiewe, strydlustige gedrag stimuleer.
Gesindhede ten opsigte van vigs
“Baie Suid-Afrikaners besef nie hoe ernstig [vigs] is nie of weier om te glo dat die siekte enigsins bestaan”, berig die Saturday Star van Johannesburg. “’n Gedugte mengsel van rassisme, armoede en onkunde veroorsaak dat die ongeneeslike siekte vinniger versprei.” Party dink dat vigs ’n Westerse sameswering is om Afrika te verswak of dat die siekte die een of ander versinsel van die wit man is om Afrika se swart geboortesyfer in toom te hou. Nog ’n faktor wat mense se gesindheid ten opsigte van vigs beïnvloed, is die geweld wat vir baie iets alledaags geword het. ’n Suid-Afrikaanse man in ’n onlusgeteisterde gebied het vir ’n groep vigs-raadgewers gesê: “Julle sê vir my dat vigs my binne 10 jaar kan siek maak. Maar 25 mense het . . . verlede naweek hier gesterf [weens politieke geweld]. Kan vigs die lewe werklik erger maak as wat dit reeds is?” Daar word geskat dat die siekte binne die volgende 10 tot 15 jaar drasties in Suid-Afrika sal toeneem as opvattings nie verander nie.
Maankrag
Dit is lank reeds bekend dat die maan die eb en vloed van die aarde se seegetye veroorsaak. Maar die Franse tydskrif Terre Sauvage sê dat wetenskaplikes van die CNRS (Franse nasionale sentrum vir wetenskaplike navorsing) nou bevestig dat die maan ’n soortgelyke uitwerking op die aarde se landoppervlak het. Deur middel van ’n peilstok wat in ’n poel soutwater in ’n verseëlde grot 1000 meter onder die aarde se oppervlak gesit is, kon navorsers elke 12 uur ’n deining van die grot se inhoud opmerk. Hierdie beweging, wat deur die geringe uitsetting en sametrekking van die grot se mure veroorsaak is, kom ooreen met die maan se wenteling rondom die aarde en bewys dat die maan inderdaad die oorsprong is van wat Terre Sauvage “die verbasende ondergrondse asemhaling” noem.
Die oorsaak van bewegingsiekte word ontrafel
Die meeste mense het al die een of ander tyd in hulle lewe aan bewegingsiekte gely. Miljoene ondervind dit gereeld terwyl hulle reis. Wetenskaplikes meen dat hulle nou verstaan wat die kenmerkende naarheid veroorsaak. Dit blyk dat die probleem in die brein is, waar die inligting wat deur die oë oorgedra word nie met die inligting ooreenstem wat deur die binneoor waargeneem word nie. Die binneoor voel byvoorbeeld die liggaam se beweging in ’n skommelende boot terwyl die oë ’n onbeweeglike gesig waarneem wanneer die liggaam saam met die boot beweeg. Die teenstrydige boodskappe wat deur die brein ontvang word, veroorsaak die vrystelling van hormone wat met spanning verband hou en ’n vermeerdering van elektriese polsslae in die maagspiere, en mettertyd het dit naarheid en vomering tot gevolg. Maniere om bewegingsiekte te voorkom, is om ’n klein, vetarm styselmaaltyd te eet voordat ’n mens reis; om na die draaie van ’n kronkelpad te kyk terwyl jy in ’n motor reis of na die horison terwyl jy in ’n boot is sodat die oë dít wat die binneoor gewaar, kan waarneem; om die kop en liggaam so min as moontlik te beweeg en om die verstand met ander gedagtes besig te hou.
Middeljariges verloor hulle werk
“As jy ouer as 40 is, moet jy nie eers daaraan dink om van werk te verander nie”, sê The Star, ’n Johannesburgse koerant. Baie werkers in Suid-Afrika word weens die ekonomiese insinking ontslaan. Ouer mense wat die aftreeouderdom nader, verloor dikwels eerste hulle werk. Volgens statistiek van die Departement van Mannekrag verloor 37 500 mense in Suid-Afrika wat ouer as 50 is elke maand hulle werk. “Die situasie in Suid-Afrika is nie verskillend van die oorsese tendense waar mans en vroue bo 55 vinnig besig is om ’n bedreigde spesie in die werkplek te word nie”, sê The Star. “Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling sê formele werk vir mans en vroue wat 55 en ouer is, raak uit die mode. . . . Die ouer mans in Japan, van wie 60 persent werk, is die uitsondering.”
Poging om gewildheid misluk
Amerikaanse politici se onlangse pogings om guns te wen deur ’n godsdienstige strekking aan hulle veldtogte te gee, het dikwels die teenoorgestelde uitwerking gehad. In een geval het ’n luisteraar aan New York se Daily News geskryf: “Jesse Jackson moet sy Bybel raadpleeg. In sy toespraak tydens die Demokratiese konvensie op 15 Julie het hy van Maria en Josef as ’n hawelose egpaar gepraat en van Maria as ’n enkelmoeder. Maria en Josef was nie ’n ‘hawelose egpaar’ nie. Hulle het na Bethlehem gereis om die wet na te kom, hulle het na Egipte gevlug sodat Herodes hulle nie kon vervolg nie, maar hulle het in Nasaret gewoon. En Maria was nie ’n ‘enkelmoeder’ nie. In Mattheüs, hfst. 1, verse 18-23, en in Lukas, hfst. 1, verse 26-35, word daar van Josef as Maria se man en van Maria as Josef se vrou gepraat. Hoewel ‘haweloos’ en ‘enkel’ dus gewilde en treffende byvoeglike naamwoorde is, geld hulle nie in hierdie geval nie. Jesse, maak seker van jou feite.”