Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 2/22 bl. 18-20
  • Het jy kunstande nodig?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Het jy kunstande nodig?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom kunstande?
  • Hoe hulle met mekaar vergelyk
  • Kners jy op jou tande?
    Ontwaak!—1998
  • Hoe jy ’n mooi glimlag kan behou
    Ontwaak!—2005
  • Ortodonsie—Wat behels dit?
    Ontwaak!—1998
  • Waarom moet jy ’n tandarts besoek?
    Ontwaak!—2007
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 2/22 bl. 18-20

Het jy kunstande nodig?

VALS tande, dikwels die teiken van gekskeerdery, is vir baie eienaars nie ’n grap nie. As al jou eie tande in ’n goeie toestand is, is die kwessie van kunstande dalk vir jou onbelangrik. Maar al kom jy nooit voor hierdie probleem te staan nie, sal hierdie artikel jou dalk help om te besef wat ’n seën dit is om sterk, gesonde tande te hê en jou vasbeslote maak om hulle so te hou—ten minste sover dit van jou afhang.

Maar waarom vind baie mense wat gedink het dat hulle hulle tande pligsgetrou versorg eendag uit dat hulle tande losraak? Vra maar enige tandarts. As mense eers verby 30-jarige leeftyd is, is die grootste oorsaak van tandverlies inflammasie van die tandvleis (periodontale siektes). Maar ’n persoon verloor dalk ook tande weens ’n ongeluk of tandbederf.

Maar het jy werklik kunstande nodig as jy sommige of al jou tande verloor het?a Waarom kom party mense oënskynlik daarsonder oor die weg? Is kunstande maar net nog ’n handelsartikel wat aan die publiek afgesmeer word?

Waarom kunstande?

Om hierdie vrae te beantwoord, moet ons na die funksies van ons tande kyk. Hulle speel nie net ’n rol in ons voorkoms nie. Wanneer ons ons kos kou, word dit fyngeskeur sodat spysverteringsappe met die fyn stukkies kan vermeng, wat die liggaam in staat stel om die voedingstowwe op te neem. Maar as ons min of geen tande het nie, sal ons kos nie behoorlik afgebreek word nie. Selfs die benerige rande van baie sterk tandvleis sal dit nie genoegsaam kan doen nie. Dit is waarom mense sonder tande wat hulle kos met koffie, tee of ander drankies probeer afspoel, dalk slegte spysvertering sal hê. Wanneer selfs ’n paar tande uit is, word die kossoorte beperk wat ’n mens eet, want harde of veselrige kos wat meer gekou moet word, word gewoonlik vermy.

Tande help ons ook praat, ’n voordeel waaraan ons selde dink totdat party uit is. Hulle help die tong en lippe om spraakklanke te vorm wat noodsaaklik is vir begrip. Spraakklanke soos eindkonsonante kan byvoorbeeld nie behoorlik gevorm word as ons nie tande het nie. Jy het dit moontlik opgemerk as jy al iemand sonder tande hoor praat het. ’n Persoon met kunstande moet dus sy tong daarby aanpas om die klanke weer reg te kry. Hoewel dit ’n tydjie sal neem, is die resultate gewoonlik beter as wanneer daar geen tande is nie.

Kan ’n mens sing of sekere musiekinstrumente bespeel as jy kunstande het? Gewoonlik kan ’n mens hierdie dinge heel goed doen as die kunstande op verskeie maniere verander word. Sangers, party akteurs, mense wat op blaasinstrumente speel, geestelikes en sommige fotografiese modelle sal dit baie moeilik vind, indien nie onmoontlik nie, om hulle werk sonder tande te doen.

As ’n mens nie tande het nie, het dit ook ’n uitwerking op jou voorkoms. Die sagte weefsel rondom die mond trek saam en die neus en ken beweeg nader aan mekaar sodat ’n mens ouer lyk as wat jy in werklikheid is. Dit kan ’n uitwerking op ’n mens se selfvertroue hê en kan selfs vir sommige ’n sielkundige versteuring tot gevolg hê.

Die verlies van ’n tand kan veroorsaak dat die dentale boog knak. Ons tande is onderling afhanklik van mekaar, soos stene in ’n Romeinse boog. Die verlies van ’n buurtand sal gevolglik die ander tande laat wegdryf. Hierdie beweging laat spasies tussen die oorblywende tande vorm en as gevolg hiervan pak kosdeeltjies dalk saam teen die tandvleis, en dit lei dikwels tot inflammasie van die tandvleis. Tandbeweging kan ook veroorsaak dat die tande nie meer mooi opmekaar pas nie, wat kouprobleme kan veroorsaak.

Hoe hulle met mekaar vergelyk

Die wesenlike verskil tussen natuurlike en kunstande is dat natuurlike tande stewig in die been van die kake gewortel is. Dit stel hulle in staat om ons kos doeltreffender te sny, te skeur en in baie klein stukkies te maal. Die onderste tande beweeg teen die boonste tande met ’n kragtige maal-en-skeur-aksie.

Daarenteen rus ’n volledige stel kunstande slegs op die tandvleis of die rande daarvan. Dit word net in posisie gehou deur swak kragte van die tong, die wange en vashegting. Aangesien kunstande nie soos natuurlike tande vasgeanker word nie, kan hulle maklik losraak.

Die doeltreffendheid van kunstande verskil gevolglik van persoon tot persoon. Geen stel kunstande is so doeltreffend soos natuurlike tande nie. Die vorm en grootte van kake, weefseltipes en selfs die draer se gemoedstoestand, asook die vermoë om te leer hoe om kunstande te gebruik, is almal faktore wat bepaal hoe doeltreffend hulle is. Hulle grootste beperking is hulle gebrek aan vastheid. Maar wat hulle voorkoms betref, kan kunstande nie van natuurlike tande onderskei word nie.

Soms verg dit ongelukkig dat ’n mens kunstande moet dra voordat jy die wysheid, ontwerpkuns en praktiese waarde van natuurlike tande besef. Mense kan die oorspronklike swak namaak, maar kan nooit dieselfde graad van verbasende doeltreffendheid bereik nie.

Jou omstandighede verplig jou dalk om ernstig daaraan te dink of jy kunstande, hetsy ’n volledige of ’n gedeeltelike stel, nodig het. Die besluit berus natuurlik by jou, maar dit lyk tog of dit verstandig is om die voordele daarvan in ag te neem. Hulle kan jou help om moontlike spysverteringsprobleme te voorkom, voldoende voedingstowwe in te neem en jou spraakvermoë te verbeter. En hulle kan werklik jou voorkoms verbeter.

Hoewel draers van kunstande gewoonlik die verlies van hulle eie tande betreur, het die ontwikkeling van kunstande inderdaad vir miljoene mense oor die wêreld bygedra tot ’n mate van selfvertroue en ’n gevoel van tevredenheid.

[Voetnoot]

a In hierdie artikel verwys die woord “kunstande” na doelgemaakte hulpmiddels wat verlore tande vervang. As al jou eie tande uit is, het jy ’n volledige stel kunstande nodig. Maar as sommige tande oorbly, kan ’n gedeeltelike stel kunstande gebruik word. Hierdie artikel vestig die aandag op volledige stelle kunstande en verwyderbare gedeeltelike stelle.

[Venster op bladsy 19]

’n Hap uit jou tandartsrekening

’N BESOEK aan ’n tandarts of ’n ortodontis het dikwels ’n baie groot rekening tot gevolg. Maar jy kan bemoedig word deur sekere bevindings wat met jou kinders s’n kan help.

“Die hoë voorkoms van skewetande en van misvormde kake onder Amerikaners”, berig The New York Times, “is dalk as gevolg van ons hoogs verfynde dieet.” Volgens teorie sal ’n dieet wat harde kouwerk vereis “kaakgroei bevorder (wat ’n groot genoeg ruimte tot gevolg sal hê sodat die tande sal inpas sonder om mekaar te verdring), die permanente tande reg laat uitkom en die groei van die gesig en mondholte koördineer”.

Wetenskaplikes het hierdie teorie probeer staaf deur ape harde en sagte kos te voer. Die resultate? Die ape wat harde kos geëet het, het baie minder “ortodontiese abnormaliteite” gehad. ’n Dieet wat jou kind hard laat kou, kan wel een manier wees om ’n hap uit jou tandartsrekening te vat. Nog ’n manier om dit te doen, is om jou kinders te help om die gewoonte aan te leer om hulle tande gereeld te borsel en te flos.

[Prent op bladsy 20]

Ons tande is onderling afhanklik van mekaar. Sonder buurtande om hulle in plek te help hou, sal tande gou skuif en ’n nadelige uitwerking op ander tande hê

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel