Ons beskou die wêreld
Lasterlike buitebande?
’n Groot rubbermaatskappy in Jokohama, Japan, het opgehou om ’n sekere soort motorbuiteband te produseer omdat Moslems daaraan aanstoot geneem het. Moslems het gekla dat die patroon op die loopvlak na die Arabiese woord vir “Allah” lyk. Die Asahi Evening News het gesê dat die maatskappy om verskoning gevra het vir sy gebrek aan kennis van die Islam en verduidelik het dat ’n rekenaar die loopvlak vir maksimum bestuursveiligheid ontwerp het. Hulle het nie bedoel om Allah te beledig of te laster nie. Die maatskappy onttrek die bande aan Islamitiese lande of vervang hulle.
“Nuwe” evangelisasie deur Katolieke
Die Rooms-Katolieke Kerk vestig opnuut die aandag op evangelisasie, berig die New York Newsday. Kerkamptenare is bekommerd oor die feit dat baie Katolieke wat emigreer by ander godsdiensgroepe aansluit. Daarom het pous Johannes Paulus II op “die nuwe evangelisasie” aangedring en ’n organisasie, Evangelisasie 2000, uitsluitlik met dié doel gestig. “Dié strategieë sluit selfs huis-tot-huis-evangelisasie in, ’n metode wat gewoonlik met Jehovah se Getuies en ander Christelike groepe vereenselwig word”, berig Newsday.
Australië se duur misdadigheid
Die totale jaarlikse misdadigheidskoste in Australië is, volgens die Australiese Instituut van Kriminologie, op A$1600 vir elke man, vrou en kind in die land bereken. Die totale jaarlikse koste is A$27 miljard, wat 2,7 persent van die land se bruto binnelandse produk verteenwoordig. Hoe word hierdie verbasende bedrag bereken? Die koerant The Australian haal syfers van die instituut se verslag aan. Bedrieglike versekeringseise op motorvoertuie neem toe, en die totale koste van alle soorte bedrog word nou tot op A$13 miljard per jaar gestel; die koste van nienoodlottige aanrandings is omtrent A$300 miljoen per jaar. Die jaarlikse koste van wetstoepassing het al A$2,5 miljard bereik, en die koste om net een gevangene ’n jaar in die tronk te hou, het nou al tot A$50 000 gestyg.
“Stad sonder vlieë”
Inwoners van Beijing, China, het volslae oorlog teen huisvlieë verklaar, berig die International Herald Tribune. “Ons doel is om ’n stad sonder vlieë te skep”, het ’n senior gesondheidsamptenaar gesê. “Maar ons sal nie net vlieë doodmaak nie. Ons wil skoon stede skep.” In ’n kampanje om “die menigte te mobiliseer”, het inwoners baniere opgesit en tweemiljoen pamflette versprei wat die kampanje aangekondig het. Tydens ’n spesiale “aanvalsweek” wat daarop gevolg het, het die stad omtrent 15 ton plaagdoders en 200 000 vlieëplakke uitgedeel. In nog ’n aanvalsweek in die daaropvolgende maand het 1000 spanne bejaardes en jong kinders met 8000 kilogram gif oorlog teen vlieë gevoer. In Junie het party dele van Beijing met ’n vliegbevolking van tot 33 per kamer gewemel. Die doel is om die digtheidsvlak af te bring tot twee vlieë per 100 kamers.
’n Europese Gemeenskap van die armes?
Met 18 persent van die wêreld se totale inkomste wat onder Europa se 6 persent van die wêreldbevolking verdeel word, lyk dit of die Europese Gemeenskap ’n toevlug van vrede en vooruitgang is. Tog berig Le Monde Diplomatique, ’n Paryse koerant, dat daar nou in die 12 nasies van die Europese Gemeenskap omtrent 53 miljoen mense is wat onder die broodlyn lewe. In Griekeland, Ierland, Portugal en Spanje bestaan 20 tot 25 persent van die bevolking uit armes, en hulle getalle neem vinnig toe in Groot-Brittanje, Italië en Nederland. Toenemende werkloosheid het die grootste faktor geword in die groeiende getal armes. Onder die 13 miljoen werkloses binne die Gemeenskap word meer as die helfte as langtermyn-werkloses beskou.
Duister sy van die Verenigde Kerk
“Die meeste van ons het ’n redelik naïewe opvatting dat dinge soos seksuele molestering nie in die kerk sal voorkom nie en nooit deur geestelikes bedryf sal word nie”, het Sylvia Hamilton, ’n predikant van die Verenigde Kerk, gesê. Sy gee egter te kenne dat “dit ’n groot probleem is”. Volgens Kanada se Toronto Star is seksuele molestering, “wat van grappe tot gedwonge geslagsdade strek—in die kerk net so algemeen, indien nie algemener nie, as in die hele samelewing”. Peter Lougheed, ’n lid van die Verenigde Kerk se taakgroep, het erken dat “die kerk vir die gemeentelid en vir vroue onveiliger is as die sekulêre werkplek”. Die berig in die Star sê voorts: “Na jare van ontkenning en geheimhouding sypel die probleem nou eers deur tot die oppervlak, soos borrels in ’n moeras.”
Lood wat sy gewig in goud werd is
’n Vrag loodgietblokke wat in die wrak van ’n Romeinse skip gevind is wat tweeduisend jaar gelede naby die Sardiniese kus gesink het, is “sy gewig in goud werd”, sê die Italiaanse koerant Il Messaggero. In eertydse Rome, wat blykbaar die vrag se oorspronklike bestemming was, sou die metaal waardevol gewees het om “pype, gesoldeerde leikanale en gegote gewigte mee te maak”. Maar wetenskaplikes beskou die ontdekking as nog kosbaarder. Aangesien die gietblokke op die seebodem gelê het en deur ’n “swaar sandmantel” teen die uitwerking van kosmiese strale beskerm is, is elke spoor van radioaktiwiteit met tyd vernietig. Sulke suiwer lood, wat onmoontlik elders gevind kan word, is vir navorsingsfisici van onskatbare waarde vir skerms wat geen uitwerking sal hê op die fyn afmetings wat in hulle laboratoriums gedoen word nie.
Christelike eenheid?
In Augustus 1992 het die WRK (Wêreldraad van Kerke) dr. Konrad Raiser as sy nuwe sekretaris-generaal verkies. Dr. Raiser vervang Emilio Castro, wat sedert 1984 as die hoof van die organisasie gedien het. Die WRK, wat uit meer as 300 Protestantse, Anglikaanse en Oosters-Ortodokse Kerke bestaan, is in 1948 gestig met die doel om groter eenheid onder die kerke te bewerkstellig. Die Paryse koerant Le Monde het oor die WRK se onvermoë om sodanige eenheid te bewerkstellig, gesê: “Leerstellige gesprekvoering het tot stilstand gekom en politieke betrokkenheid het die WRK verdeel. Sy betrokkenheid by Suid-Afrika teen die apartheidsregering, die handel in wapens en sy [posisie ten gunste van] vryheidsteologie het nie enige eenstemmigheid bewerkstellig nie . . . en het sy geloofwaardigheid beskadig. Omdat die WRK deur al hoe meer burokrasie verswelg word, wek dit hoogstens beleefde nuuskierigheid of, nog erger, onverskilligheid.”
Kinderarbeid
“Die tagtigerjare was nie ’n goeie tyd vir Brasiliaanse kinders en adolessente nie, het die Stigting van die Brasiliaanse Instituut van Aardrykskunde en Statistieke gesê”, berig die Jornal da Tarde. Die studie het getoon dat 32 miljoen van die 59,7 miljoen kinders van gesinne kom wie se jaarlikse inkomste per capita minder as die helfte van die minimum loon van omtrent R118 is. Pleks van skool toe te gaan, doen 17,2 persent van die Brasiliaanse kinders tussen die ouderdom van 10 en 14—omtrent tienmiljoen—sekulêre werk om hulle gesinne wat swaarkry te help. Die gevolg? Die sosioloog Rosa Ribeiro het gesê: “Dit lei tot die vermeerdering en voortbestaan van armoede. Sonder voldoende onderwys het die kind geen kans om sy stand in die samelewing te verander nie.”
Dwelms in eertydse Egipte
“Wetenskaplikes aan die Universiteite van München en Ulm [in Duitsland] het spore van dagga, kokaïen en nikotien in Egiptiese mummies opgespoor”, berig die Frankfurter Allgemeine Zeitung. Navorsers het been-, haar- en weefselmonsters van verskeie mummies ondersoek wat dateer uit die tydperk tussen 1070 v.G.J en 395 G.J. Wat vertel hierdie wetenskaplike ontdekkings ons van die lewe in eertydse Egipte? “Dit is duidelik dat Egiptenare dwelms selfs gebruik het om huilende kinders te kalmeer”, sê die koerant. Hoe weet wetenskaplikes dit? ’n Papirus beskryf ’n mengsel van vlieguitwerpsels en papawersaad as ’n sterk kalmeermiddel.
Bloedbevlekte barbierspale
Pale met rooi en wit spiraalstrepe het ’n kenmerk van barbierswinkels geword. Waarom? Omdat barbiers gedurende die Middeleeue nie net hare gesny en baarde geknip het nie, maar ook tande getrek en bloedlating as ’n genesing teen alle kwale beoefen het. The Toronto Star berig: “Tydens bloedlating was dit gebruiklik vir die pasiënt om ’n paal styf in een hand vas te druk sodat die are geswel het en die bloed vrylik kon uitspuit.” Die paal is rooi geverf sodat ’n mens nie die bloedvlekke daarop so maklik kon sien nie. “Wanneer dit nie gebruik is nie, het dit as ’n advertensie buite die winkel gehang, met die wit gaas wat gebruik is om bloeiende arms te verbind daarom gedraai”, het die Star gesê. Barbiers het die paal as handelsmerk geërf toe die beroep tydens die bewind van Hendrik VIII, die koning van Engeland in die 16de eeu, tussen snydokters en barbiers verdeel is.
’n Verenigde lugruim vir Europa?
“Binne die volgende agt jaar sal lugvaart in Europa feitlik heeltemal tot stilstand kom”, sê La Repubblica. Gedurende die afgelope twee jaar het lugverkeer met 8 persent toegeneem. Maar vertragings wat deur lugvaartbeheerprobleme veroorsaak word, het “met 62 persent toegeneem”, en byna ’n kwart van al die vlugte is 24 minute laat. Volgens die president van die Vereniging van Europese Lugrederye, Giovanni Bisignani, word die opeenhoping van lugverkeer toegeskryf aan die feit dat daar nie ’n gesentraliseerde beheernetwerk vir die Europese lugruim bestaan nie. Daar is tans 54 beheersentrums wat 31 verskillende stelsels gebruik. Tensy ’n oplossing gevind word, sal stiptheid maar net “’n droom” wees.
Uitwerking van gewelddadige rolprente
In ’n onderhoud deur die Brasiliaanse tydskrif Veja is die rolprentregisseur Steven Spielberg gevra watter uitwerking geweld in vermaak op kykers kan hê. Steven Spielberg het gesê: “Wanneer kykers na geweld in rolprente of in TV-programme kyk, stimuleer dit hulle baie meer om dit wat hulle sien na te volg as wanneer hulle dit in die werklike lewe of op TV-nuus sien. In rolprente word geweld met volmaakte beligting, pragtige tonele en in vertraagde aksie verfilm, wat dit selfs romanties maak. Maar in die nuus het die publiek ’n baie beter begrip van hoe verskriklik geweld kan wees, en dit word met oogmerke gebruik wat nie in rolprente bestaan nie.” Steven Spielberg sê voorts dat hy sy jong seun tot dusver nie toegelaat het om na party van sy bekende rolprente (Jaws en die Indiana Jones-reeks) te kyk nie, want te veel bloed en geweld word daarin vertoon.