Rooi spatsels op die sneeu—As die lente nie vroeg kom nie
“AS JY dit een maal gesien het, sal jy dit nooit vergeet nie; in die sagte sonlig wat deur die blare val, vorm die helder rooi ’n opvallende kontras met die donker agtergrond van die woud se blaartapyt.” Dit is wat Western Forests, ’n natuurhandleiding van die Audubon-genootskap, van die sneeuplant Sarcodes sanguinea sê. Dit is selfs opvallender as jy dit ’n bietjie vroeër te sien kry, wanneer die plantjie deur die oppervlak van ’n hopie ongesmelte sneeu stoot. Western Forests sê voorts: “’n Ongewone plant wat stewig, vlesig en heeltemal helder rooi is, met skutblare wat op die onderstingel oorvleuel en aan die bokant tussen blomtrosse krul.” Sy verspreiding is beperk tot die bergagtige naaldwoude van Kalifornië en suidelike Oregon.
Die sneeuplant is een van die saprofiete, ’n groep wat geen groenigheid, geen chlorofil, bevat nie en daarom nie fotosinteer nie. Saprofiete lewe van dooie of verrotte plant- of dieremateriaal. Sampioene, skimmels en sommige ander swamme en sekere bakterieë is saprofiete, maar party in hierdie groep is ook blomplante. Die sneeuplant is een van hulle.
Sommige van die saprofitiese hoër plante het heeltemal afhanklik geword van sekere swamme vir voedsel, wat ’n mikorrisiale verhouding genoem word—’n wedersyds voordelige verbinding van ’n swam (miko) en die wortelstelsel (risa) van ’n hoër plant. In sulke gevalle het die wortels van die saprofiet kenmerkend geen wortelhare nie. Die swam neem die taak oor om minerale en vog te absorbeer. The Encyclopedia Americana (Internasionale Uitgawe) sê: “Die betekenis van mikorrisas as simbiotiese verbintenisse is laat in die 19de eeu deur die Duitse botanikus Albert Bernard Frank ontdek as ’n vertakking van ’n studie oor die kweek van eetbare sampioene vir die Pruisiese regering.”