Godsdiens se rol in menseoorloë
“DAAR was nog nooit ’n volk wat nie die een of ander vorm van godsdiens gehad het nie”, sê The World Book Encyclopedia (uitgawe van 1970). Tog het die geskiedskrywers Will en Ariel Durant geskryf: “Oorlog is een van die konstantes in die geskiedenis.” Bestaan daar die een of ander verband tussen hierdie twee konstantes, oorlog en godsdiens?
Oorlog en godsdiens was inderdaad deur die hele geskiedenis nog altyd onskeibaar. Lionel Casson het in die boek Ancient Egypt die volgende oor Egipte, een van die eerste wêreldmoondhede in die geskiedenis, gesê: “Vir elke militêre oorwinning is die eer aan die gode gegee; en die priesters, wat selfs groter rykdom begeer het, was net so gretig soos die farao’s om nog militêre ekspedisies aan te pak.”
Die geestelike W. B. Wright het eweneens oor Assirië, nog ’n vroeë wêreldmoondheid, gesê: “Om te veg, was vir die nasie ’n beroep, en die priesters het oorlog voortdurend aangestook. Hulle is hoofsaaklik deur die buit onderhou.”
Gerald Simons het oor wat hy “barbaarse Europa” genoem het die volgende geskryf: “Dit was ’n eenvoudige gemeenskap wat spesifiek vir een ding georganiseer was—oorlogvoering.” En godsdiens was daarby betrokke. “Baie legendes vertel van swaarde wat deur demone bewoon is of wat as die gode se agente opgetree het”, het Gerald Simons geskryf.
Maar in die Romeinse Ryk, wat as hoogs beskaafd beskou is, was die situasie dieselfde. “Die Romeine is grootgemaak om oorlog te voer”, het Moses Hadas in die boek Imperial Rome verduidelik. Romeinse soldate het baniere met embleme van hulle gode op gedra wanneer hulle gaan veg het. Een ensiklopedie het gesê: “Dit was niks ongewoons vir ’n generaal om bevel te gee dat ’n banier tussen die vyand se manskappe ingegooi moet word sodat sy soldate aangevuur is om met groter ywer tot die aanval oor te gaan om wat hulle as moontlik die heiligste ding op aarde beskou het terug te kry nie.”
Oorlog en voorgewende Christene
Toe die Christendom op die wêreldtoneel verskyn het, het sake nie verander nie. Trouens, Anne Fremantle het in die boek Age of Faith geskryf: “Van al die oorloë wat die mens gevoer het, was daar nie een waarin daar met groter ywer geveg is as dié wat ten behoewe van ’n godsdiens gevoer is nie. En van hierdie ‘heilige oorloë’ was nie een bloediger en meer uitgerek as die Christelike Kruistogte van die Middeleeue nie.”
Dit is verbasend dat dinge selfs vandag nie veel verander het nie. “Mense gaan op gewelddadige wyse voort om onder godsdiensvlae te veg en te sneuwel”, het die tydskrif Time gesê. “Protestante en Rooms-Katolieke in Ulster is voortdurend besig om mekaar oor en weer in ’n sinlose stryd af te maai. Arabiere en Israeli’s waak gespanne oor die grense van gebieds-, kulturele en godsdiensgeskille.” Etniese en godsdiensverskille was boonop verantwoordelik vir grusame slagtings in die voormalige republieke van Joego-Slawië asook in Asiatiese lande.
Dit is ongelooflik dat voorgewende Christene dikwels oorlog voer teen lidmate van hulle eie geloof. Katolieke maak dus Katolieke dood op die slagvelde. Die Katolieke geskiedskrywer E. I. Watkin het erken: “Hoe pynlik die erkenning ook al is, ons kan nie in die belang van ’n valse lering of oneerlike trou die geskiedkundige feit ontken of ignoreer dat Biskoppe deurgaans alle oorloë ondersteun het wat deur die regering van hulle land gevoer is nie. Trouens, ek weet nie van ’n enkele geval waar die hiërargie van ’n land enige oorlog as onregverdig veroordeel het nie . . . Wat die amptelike teorie ook al was, is die beginsel van ‘my land altyd reg’ in die praktyk deur Katolieke Biskoppe tydens oorloë gevolg.”
Maar dit is nie net Katolieke wat hierdie beginsel volg nie. ’n Hoofartikel in die Sun van Vancouver, Kanada, het gesê: “Protestantisme kan geensins beweer dat hulle vrygespreek moet word van hierdie magte van nasionalistiese verdeeldheid nie. ’n Swakheid van moontlik alle georganiseerde godsdienste is dat die kerk die vlag aanhang . . . Watter oorlog is ooit gevoer waar daar nie beweer is dat God aan elkeen se kant was nie?”
Klaarblyklik nie een nie! Die Protestantse geestelike Harry Emerson Fosdick het erken: “Selfs in ons kerke het ons die oorlogsvaandels geplaas . . . Uit die een hoek van ons mond het ons die Vredevors geloof en uit die ander het ons oorlog verheerlik.” En die rubriekskrywer Mike Royko het gesê dat dit Christene nog nooit “teen die bors gestuit het om teen ander Christene oorloë te voer nie”. Hy het verduidelik: “As dit die geval was, sou die meeste van die hewigste oorloë in Europa nooit plaasgevind het nie.” Die Dertigjarige Oorlog in Duitsland tussen die Protestante en die Katolieke was ’n belangrike voorbeeld van so ’n oorlog.
Die feite is ongetwyfeld maar alte duidelik. Godsdiens het oorloë ondersteun en was met tye selfs ’n voorstander daarvan. Gevolglik het baie al gewonder: Begunstig God werklik die een nasie bo die ander ten tye van oorlog? Kies hy kant wanneer nasies teen mekaar veg? Sal daar ooit ’n tyd wees wanneer daar nie meer oorlog sal wees nie?
[Lokteks op bladsy 3]
Romeinse soldate het baniere met embleme van hulle gode op tussen die vyand se manskappe ingegooi