Die groot migrasie
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA
’NMILJOEN dawerende hoewe dreun oor die grond. Die massa deinende lywe beur vorentoe en skop ’n groot rooi stofwolk op. Die diere galop op hulle dun bene verby golwende valleie en heuwels, trek deur oop grasvelde en steek riviere en strome oor. Die hele trop beweeg saam en laat groot stroke veld agter waar hulle die gras tot by die wortels afgevreet het. Hierdie ontsaglike trop bulkende, trekkende diere is een van die diereryk se indrukwekkendste natuurskouspele op aarde—die groot migrasie van die wildebeeste.
Afrika se tuin van Eden
Die Serengeti is ’n ongerepte landstreek. Dit is ’n enorme, golwende grasland wat in Tanzanië en Kenia geleë is en ’n gebied van sowat 30 000 vierkante kilometer beslaan. Hier skep die bolaag ryk vulkaniese grond ideale toestande vir die welige grassoorte wat die land bedek. Daar is gebiede met plate akasiabome en grasvlaktes met doringbome wat weiding vir troppe olifante voorsien. Groepies kameelperde beweeg grasieus met lang, stadige treë oor die grasvlakte.
Op party plekke staan granietrotse, wat deur die wind en reën gladgeslyt is, bo die vlaktes uit en bied dit ideale uitkykpunte vir leeus en luiperds. Die snelvloeiende riviere wat deur die landskap kronkel, is vol seekoeie en krokodille. Op die oop vlaktes kan ’n mens troppe wildebeeste, hartbeeste, basterhartbeeste en baie ander soorte wildsbokke sien wei. Dorstige sebras kom by watergate bymekaar en omring dit soos halssnoere van swart-en-wit krale. Gaselle en rooibokke gee groot spronge terwyl hulle sonder enige inspanning oor die vlaktes hardloop. Groot troppe buffels, met hulle enorme gebuigde horings en gespierde lywe, wei langsaam en trek graspolle met hulle breë bekke uit.
Troppe leeus kom oral in die Serengeti voor. Wanneer die dag op sy warmste is, lê hulle luilekker in die skaduwee van bome en bosse terwyl hulle vir die aandkoelte wag om te gaan jag. Gespikkelde luiperds lê uitgestrek op takke hoog in die bome en is byna onsigbaar omdat hulle gekamoefleer word deur die lig wat tussen die blare deur skyn. Vir die jagluiperd is die oop grasvelde die ideale plek om blitsvinnig te hardloop. Sy lenige liggaam lyk wasig wanneer hy sy prooi oor die vlaktes agternasit.
Ja, die ekosisteem in die Serengeti is ’n paradys van dierelewe wat wonderlik is om te aanskou. Maar dit is die migrasie van die ontsaglike troppe wildebeeste wat een van die grootste natuurwonders in die diereryk is.
Die nar van die vlaktes
Volgens skatting is daar 1,5 miljoen wildebeeste in die Serengeti. Dit is ’n koddige dier met ’n lang kop en blink oë wat ver uitmekaar en hoog teen sy kop sit. Sy horings, wat soos dié van ’n bees is, buig effens ondertoe en buitentoe en draai dan na bo. Sy rug loop afwaarts tot by sy agterlyf, wat lyk of dit swak en buite verhouding tot die dier se sterk skof en nek is. Maer, dun bene dra die gewig van die wildebees se swaar lyf. Met ’n lang witterige baard onder sy ken, ’n donker maanhaar op sy nek en ’n stert soos dié van ’n perd lyk die wildebees soos ’n kombinasie van ’n paar verskillende diere.
Wildebeeste se manewales is dikwels naragtig en vermaaklik. Wanneer hulle in groot troppe bymekaar is, maak hulle ’n raserige bulkgeluid wat soos die gekwaak van duisende paddas klink. Waar hulle op die oop vlaktes staan, lyk dit of hulle verwilderd en verbaas na die wêreld om hulle staar.
Soms sal ’n wildebeesbul oor die vlaktes nael, dan sywaarts spring en in sirkels hardloop. Hy skud sy kop, bokspring op stywe bene en skop die stof ewe komieklik op. Party sê dat hierdie gedrag bedoel is om die koeie te beïndruk of om ander bulle af te skrik. Maar soms lyk dit of die bul sommer net lewenslustig is.
Gebore in ’n gevaarlike wêreld
Wanneer die regte tyd aanbreek, begin die wildebeeste geboorte gee. Hulle het die unieke vermoë om die geboorte van hulle kleintjies te laat saamval sodat 80 tot 90 persent van hulle kalfies binne ’n tydperk van drie weke gebore word. Gedurende hierdie tyd word duisende blêrende wildebeeskalfies by die trop gevoeg. Die band tussen die ma en haar kalfie moet gou gevorm word, want as die trop skielik op loop gaan, kan die ma en haar kalfie maklik geskei word, en die kalfie se kanse op oorlewing sal dan baie skraal wees.
Die kleintjies word in ’n gevaarlike wêreld gebore waar roofdiere altyd op die uitkyk is. Die koeie wag totdat daar geen teken van gevaar is nie voordat hulle geboorte gee. Maar as hulle deur ’n roofdier verras word, het hulle die verbasende vermoë om die geboorteproses te onderbreek en weg te hardloop. Hulle kan dan later, wanneer daar geen gevaar is nie, aan die kalfie geboorte gee.
Die kalfie het blykbaar ’n ingebore sin vir gevaar en staan binne ’n paar minute ná sy geboorte op. Ná ’n week sal die kalfie teen 50 kilometer per uur oor die vlaktes kan hardloop.
’n Tyd om te trek
Wildebeeste trek in groot troppe oor die Serengeti. Die hoofrede waarom hulle in sulke groot getalle trek, is die reën. Die reënval word bepaal deur weerpatrone wat in jaarlikse siklusse voorkom. Dwarsdeur die jaar reën dit gewoonlik êrens binne die grense van hierdie uitgestrekte grasland.
Wildebeeste moet elke dag water drink en het ’n konstante voorraad gras nodig. Solank kos en water beskikbaar is, bly hulle in dieselfde gebied. Maar in die droë seisoen begin die gras op die vlaktes verdroog en verdwyn die waterbronne. Die troppe wildebeeste kan nie staan en wag dat die reën na hulle toe kom nie. Hulle moet die reën volg.
Waar die reën ook al val, ondergaan die droë vlaktes gou ’n verandering. Binne ’n paar dae verskyn groen spruitjies bo die grond en kort voor lank is daar oral groen gras te sien. Hierdie sagte grashalms is vol voedingswaarde en vog—’n groot aantrekkingskrag vir die wildebeeste.
Hierdie diere weet op die een of ander manier waar dit reën, selfs al is dit ver daarvandaan. Niemand is seker hoe hulle weet dat dit op ’n ander plek in die Serengeti reën nie—of hulle die malende donderwolke in die verte sien of die vog in die droë lug ruik nie. Hoe dit ook al sy, die troppe moet ter wille van oorlewing trek. En dit is presies wat hulle doen!
’n Gevaarlike tog
Die wildebeeste vertrek nie almal op een slag nie. Hulle is kuddediere; wanneer een dier in ’n sekere rigting begin loop, hou ander op met wei en volg hulle hom. Kort voor lank begin die hele trop met ’n dramatiese uittog. Hulle word deur dors en honger voortgedryf. Soms hardloop hulle. Op ander tye stap hulle in lang rye en trap hulle diep vore in die stowwerige grond.
Hulle tog is vol gevare. Roofdiere volg die ontsaglike troppe hoefdiere en hou enige dier in die oog wat stadig, mank of siek is. Terwyl die wildebeeste voorttrek, gaan hulle die gebiede van leeutroppe binne, wat hulle voorlê. Die groot katte kruip in die lang gras weg en storm dan tussen die groot trop weidende diere in, sodat hulle paniekbevange uitmekaarspat. Luiperds, jagluiperds, wildehonde en hiënas maak almal jag op enige diere wat agterraak of van die hooftrop afdwaal. Wanneer ’n dier gevang word, verskyn aasvoëls op die toneel. Hulle baklei oor die oorblyfsels en los net ’n geraamte oor, wat in die warm Afrikason verbleik.
Snelvloeiende riviere is ontsaglike hindernisse waardeur die trop moet trek. Dit is indrukwekkend om te sien hoe hulle ’n rivier oorsteek; duisende diere spring van die hoë oewers af in die water. Die meeste kom veilig anderkant uit. Ander word deur die stroom meegesleur of deur krokodille gevang wat net onder die wateroppervlak wag. Hierdie gevaarlike tog word elke jaar onderneem. Wanneer dit voltooi is, het hulle sowat 3 000 kilometer afgelê.
Die mens—hulle grootste bedreiging
Duisende jare lank het die mens se bedrywighede nie juis ’n uitwerking op die migrasie van die wildebeeste gehad nie. Nou is die mens die grootste bedreiging vir hierdie skouspel. In onlangse dekades het die regerings van Tanzanië en Kenia die diere van die Serengeti probeer beskerm. Maar al vind die wildebeestrek grotendeels binne die beskermende grense van wildreservate plaas, word duisende van die diere onwettig deur wilddiewe gevang en doodgemaak. Hulle gebruik draadstrikke, gifpyle en gewere om die diere te jag sodat hulle wildsvleis en jagtrofeë aan gretige kopers kan verkoop. ’n Magdom wildbewaarders en veldwagters patrolleer die beskermde gebiede, maar die Serengeti is so groot dat dit byna onmoontlik is om dit heeltemal te beveilig. Namate die mensebevolking toeneem, word die druk al hoe groter om hierdie vrugbare grasvelde vir ander doeleindes te gebruik. Die feit dat groot gebiede vir natuurbewaring opsy gesit word, is ’n netelige en omstrede kwessie.
Eens op ’n tyd was daar miljoene bisons op die vlaktes van Noord-Amerika. Nou is hulle weg. Party mense vrees dat dit ook met die laaste groot troppe wildebeeste in Oos-Afrika sal gebeur. Dit sal ’n hartseer dag wees as so ’n ontsagwekkende natuurwonder voor ons oë verdwyn. Ons sien uit na die dag wanneer mens en dier in volmaakte harmonie onder God se regverdige heerskappy sal lewe (Jesaja 11:6-9). Intussen sal hierdie skouspelagtige gebeurtenis—die groot migrasie van die wildebeeste—ons met ontsag vervul.
[Prent op bladsy 18]
Troppe moet snelvloeiende riviere oorsteek