Hardwerkendheid—Wat is die gevolge?
Deur Ontwaak!-medewerker in Japan
“‘STAMINADRANKIES’ het besonder gewild geword, met meer as 200 beskikbare soorte en ’n omset van 900 miljoen jen per jaar”, berig die Mainichi Daily News, Japan se toonaangewende koerant. Die gewildheid van hierdie produkte, wat glo onmiddellik ekstra energie aan afgematte werkers verskaf, “getuig van die Japannese dryfkrag om ten spyte van spanning, min slaap en bedompige somerweer by die werk te presteer”, sê die verslag voorts.
Aan die ander kant van die Stille Oseaan het “bykans een uit agt Amerikaners gesê dat hulle 60 uur of meer per week werk”, aldus die Amerikaanse Buro vir Arbeidstatistiek. Diegene wat posisies van middelbestuur beklee, moet soveel van hulle tyd en energie aan werk wy dat hulle beroep soms hulle lewe beheer.
In bykans elke kultuur word mense wat ywerig, pligsgetrou en hardwerkend is as deugsaam geprys. Selfs ’n eertydse Bybelskrywer het gesê: “In die geval van ’n mens is daar niks beters as dat hy eet en inderdaad drink en sy siel die goeie laat sien weens sy harde werk nie. Ook dit het ek gesien, ja ek, dat dit uit die hand van die ware God is” (Prediker 2:24, NW). Oor die algemeen stem mense nog met sulke waardes saam. Hetsy hulle dit as deugsaam beskou of nie, die meeste mense werk van die oggend tot die aand, vyf, ses of selfs sewe dae per week.
Maar wat is deur al hierdie harde werk bereik? Ontwikkelende nasies beny die ekonomiese “wonders” wat sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog in lande soos Japan en Duitsland teweeggebring is. Albei nasies het uit nederlaag opgang gemaak en ekonomiese moondhede geword waarmee die res van die wêreld rekening moet hou. Maar wat het toewyding aan hulle werk vir baie mense tot gevolg gehad?
Hoewel die lewenstandaard in Japan aansienlik verhoog het, berig die Mainichi Daily News dat die meeste Japannese “dit steeds moeilik vind om enige werklike gevoel van welvaart in hulle daaglikse lewe te ervaar”. Maar veel erger is die feit dat baie in hulle meedoënlose najaging van die sogenaamde lekker lewe weens oorwerkery en spanning siek word of selfs sterf. In ’n studie in die Verenigde State is daar eweneens bevind dat ’n derde van die drieduisend bestuurders wat ondervra is, gemeen het dat hulle te hard werk, uitgebrand is en nie geesdriftig oor hulle werk word nie.
Werkende vroue toon dieselfde waarskuwingstekens. ’n Italiaanse opname het getoon dat werkende vrouens in daardie land elke week gemiddeld 30 uur meer as hulle huweliksmaat werk. Benewens die lang ure wat hulle op kantoor of in die fabriek werk, moet hulle nog na die huishoudelike takies omsien wanneer hulle by die huis kom. ’n Werkster het aan die tydskrif Europeo gesê: “Ek het feitlik nie ’n sosiale lewe nie. Ek het geen tyd vir myself nie. Ek kan dit nie meer verdra nie.”
Wat van die gesinslewe? “In ons strewe na die Amerikaanse droom gee ons onsself en ons gesinne prys vir geld en mag”, sê Herbert Freudenberger, ’n New Yorkse spesialis wat werkverwante uitbrandings behandel. Party vrouens van Britse sakemanne wat oorsee werk, voel glo afgesonderd en ongelukkig omdat hulle mans in hulle werk verdiep is. Maar hulle is hoegenaamd nie die enigstes wat so voel nie.
Beskou die uitwerking wat dit op die gesinslewe in Japan het, waar minder as die helfte van alle middeljarige kantoorwerkers voor agtuur saans by die huis kom. Party vrouens beskou hulle mans nie meer as huweliksmaats nie; hulle wil nie meer hulle mans langer by die huis hê as wat hulle daar is nie. ’n Handelsflits op televisie som die vrouens se teleurstelling op deur te sê: “Dit is die beste as mans gesond en nie tuis is nie.”
Uit die voorgaande is dit duidelik dat hardwerkendheid ’n positiewe en ’n negatiewe sy het. Wanneer dit te ver gevoer word, kan dit ’n las word. Hoe kan hardwerkendheid dus, nie ’n las nie, maar ’n ware deug en ’n bron van geluk wees?
Presies hoe ernstig is dit daarenteen wanneer persone hulle werk voor enigiets anders stel of ongeag die gevolge daarmee voortgaan? Kom ons beskou hierdie aspekte van hardwerkendheid van naderby.