Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 6/22 bl. 4-7
  • Hardwerkendheid—Is dit gevaarlik vir jou gesondheid?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hardwerkendheid—Is dit gevaarlik vir jou gesondheid?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Uitbranding en depressie
  • Die gesinslewe ly skipbreuk
  • Oud maar onbevredig
  • Uitbranding—Is jy volgende?
    Ontwaak!—1995
  • Uitbranding—Wie loop die risiko en waarom?
    Ontwaak!—1995
  • Uitbranding—Hoe kan jy dit die hoof bied?
    Ontwaak!—1995
  • Wat jy kan doen omtrent uitbranding
    Ontwaak!—2014
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 6/22 bl. 4-7

Hardwerkendheid—Is dit gevaarlik vir jou gesondheid?

’NMIDDELJARIGE versekeringsagent het teen sy motor geval, opgegooi en ineengestort. Hy het nog aan sy aktetas, die simbool van sy werk, vasgeklou. Hy het gebuk gegaan onder sy maatskappy se leuse: “Nou is die beslissende oomblik. Span jou krag in tot 150 persent van jou vermoë”, en gedurende die maand waarin hy ineengestort het, het hy omtrent 3000 kilometer in sy motor afgelê. Vier dae later het hy gesterf.

Dit is nie ’n uitsonderlike geval nie. “Maatskappystryders”, soos hulle in Japan genoem word, word geteister deur die vrees vir karosji, of sterfte weens oorwerkery. ’n Regsverteenwoordiger wat in sulke gevalle spesialiseer, skat dat daar “elke jaar ten minste 30 000 slagoffers van karosji in Japan” is. Dit is dus nie verbasend nie dat meer as 40 persent van die Japannese kantoorwerkers wat onlangs ondervra is, vrees dat hulle moontlik weens oorwerkery sal sterf.

Hoewel dit moeilik kan wees om die verband tussen oorwerkery en gesondheidsprobleme te bewys, bestaan daar maar min twyfel by die slagoffers se gesinne. Trouens, die frase “sterfte weens oorwerkery” is in die vergoedingseise aangebring wat deur bedroefde gesinne ingestel word. “Uit ’n mediese oogpunt”, sê Tetsoenojo Uehata van die Instituut vir Openbare Gesondheid in Japan, “verwys dit na dood of ongeskiktheid weens serebrale beroerte, miokardiale infarksie of akute hartversaking as gevolg van moeitevolle arbeid wat hoë bloeddruk of slagaarverharding vererger.” ’n Onlangse verslag deur Japan se Departement van Gesondheid en Welsyn waarsku dat aanhoudende oortyd ’n mens van slaap beroof en uiteindelik tot slegte gesondheid en siekte lei.

Maar net soos rokers dit haat om die gevare van rook te erken en alkoholiste die gevare van alkoholmisbruik, net so verafsku werkslawe dit om die gevare van onredelik lang werksure te erken. En die dood is nie die enigste gevaar nie.

Uitbranding en depressie

Hoewel party werkslawe slagoffers van ongeskiktheid en die dood word, beswyk ander onder uitbranding. “Uitbranding het geen presiese mediese definisie nie”, verduidelik die tydskrif Fortune, “maar die algemeen aanvaarde simptome is onder andere uitputting, ’n lae moraal, afwesigheid, meer gesondheidsprobleme en dwelm- of alkoholmisbruik.” Party slagoffers word vyandig, terwyl ander nalatige foute begin maak. Maar hoe word mense slagoffers van werkverwante uitbranding?

Gewoonlik is dit nie die wanaangepastes of emosioneel versteurdes wat slagoffers word nie. Dit is dikwels eerder mense wat baie besorg oor hulle werk is. Hulle sukkel miskien om strawwe mededinging te bowe te kom of swoeg om die maatskappyleer te bestyg. Hulle werk lank en hard omdat hulle probeer om volle beheer oor hulle werk te hê. Maar wanneer onwrikbare toewyding en aanhoudende werk nie die verwagte bevrediging en beloning teweegbring nie, is hulle ontnugter, voel hulle uitgeput en word hulle slagoffers van werkverwante uitbranding.

Wat is die gevolge daarvan? ’n Telefoondiens in Tokio wat as Noodlyn bekend staan en voornemende selfmoordslagoffers probeer help, kry al hoe meer oproepe van wanhopige middeljarige en ouer kantoorwerkers. Van die meer as 25000 selfmoordslagoffers gedurende 1986 in Japan was ’n verbasende 40 persent in hulle veertiger- en vyftigerjare en 70 persent was mans. “Dit is omdat depressie onder middeljarige broodwinners toeneem”, sê Hirosji Inamoera, ’n professor in psigiatrie.

Dan is daar die sogenaamde vakansieneurose. Die simptome? Mense is geïrriteerd omdat hulle tydens vakansiedae niks doen nie. Aangesien die werkslaaf aangedryf word deur die drang om te werk, pla sy gewete hom op dae wat hy nie werk nie. Omdat hy nie gemoedsrus kan vind nie, stap hy op en af in sy kamertjie soos ’n dier in ’n hok. Wanneer Maandag aanbreek, keer hy verlig na die kantoor terug.

’n Unieke soort depressie wat middeljarige werkers nou dokter toe laat gaan, is die sogenaamde huisfobie-sindroom. Uitgeputte werkers draal ná werk by koffiehuise en kroeë rond. Uiteindelik gaan hulle glad nie meer huis toe nie. Waarom is hulle bang om huis toe te gaan? Hoewel onsimpatieke huweliksmaats ’n faktor kan wees, “het baie te hard gewerk en het hulle die vermoë verloor om by die wêreld daarbuite, en in baie gevalle selfs by hulle eie gesin, aan te pas”, sê dr. Toroe Sekija, wat ’n “Naghospitaalstelsel” vir sulke pasiënte voorsien.

Die gesinslewe ly skipbreuk

Die werkslaaf is dalk nie die een wat die meeste ly nie. Werkverslaafdheid “is dikwels ’n groter probleem vir die mense wat saam met ’n werkslaaf lewe”, sê die tydskrif Entrepreneur. Die huweliksmaat se lewe kan in ’n nagmerrie verander. Die werkslaaf “het reeds die liefde van sy of haar lewe gevind”, sê die tydskrif The Bulletin van Sydney, Australië, “en dit is nie altyd maklik om tweede in die ry te staan nie”. Wat gebeur in so ’n huwelik?

Neem byvoorbeeld die geval van Larry, ’n Amerikaner wat vir ’n Japannese maatskappy in die Verenigde State werk. Hy het baie ure oortyd gewerk sonder om daarvoor betaal te word en het daardeur die fabriek se produktiwiteit met 234 persent verhoog. Was hy suksesvol en gelukkig? “Hy is mal!” het sy vrou in die hof uitgeroep toe sy van hom geskei het.

Maar nog erger was die geval van ’n Japannese sakebestuurder wat vyfuur soggens werk toe gegaan en nie voor nege-uur saans huis toe gekom het nie. Sy vrou het straf begin drink. Eendag, terwyl hulle oor haar drinkery getwis het, het die man sy vrou verwurg. Die regter het hom aan manslag skuldig bevind en gesê: “Jy het jou geheel en al aan jou werk toegewy en nie besef hoe eensaam jou vrou was en ook nie hard genoeg probeer om haar redes te gee om die lewe te geniet nie.”

Om jou huweliksmaat te verwurg, is ’n uiterste gevolg, maar oorwerkery kan die gesinslewe op ander maniere vernietig. Wanneer die man Sondae tuis is, sit hy dalk net voor ’n televisiestel wat op sy geliefkoosde sportprogram ingestel is en sluimer hy heelmiddag in. Hierdie mans besef nie hoe uit voeling hulle met ander aspekte van die lewe geraak het nie. Toegegooi onder hulle werk verwaarloos hulle iets baie kosbaars in die lewe, hulle gesin. Deur die behoefte aan kommunikasie in die gesin te verontagsaam, volg hulle gewis ’n weg na ’n eensame aftrede.

Oud maar onbevredig

Die boek At Work het in sy inleiding ’n waarskuwing gerig: “In ons samelewing . . . is die verband tussen werk, selfrespek en sosiale stand so sterk dat party dit uiters moeilik vind om by aftrede by ’n lewe aan te pas wat vry van hulle vorige werksrolle is.” Diegene wie se lewe om werk draai, moet hulle hierdie vraag afvra: ‘Wat sal ek oorhê as my werk weggeneem word?’ Onthou, wanneer ’n mens aftree, sal jou lewe moontlik om jou gesin en die gemeenskap draai.

Diegene wat die behoefte aan kommunikasie met hulle gesin en bure verwaarloos het, weet ná aftrede nie waaroor om met hulle te gesels nie. “Hulle betaal vir die feit dat hulle geweier het om aan enigiets anders as werk te dink, nie waar nie?” sê ’n ervare raadgewer van middeljarige egpare in Japan. “Die menslike sy in hulle lewe het ontbreek, en hulle het alles vanselfsprekend aanvaar net omdat hulle die broodwinners was. Maar wanneer hulle aftree, lyk dit of die bordjies verhang is.”

Daardie 30 of 40 jaar se harde werk, kwansuis vir die gesin, kan boemerang. Hoe jammer is dit tog as eertydse broodwinners ná jare se harde werk deur hulle gesin as “fabrieksafval” en noereotsjiba (nat blare wat afgeval het) beskou word. Laasgenoemde uitdrukking word in Japan gebruik om afgetrede mans te beskryf wat niks anders te doen het as om heeldag ledig by hulle vrouens te staan nie. Hulle word dus vergelyk met nat blare wat afgeval het en dan aan ’n besem vasklou en nie afgeskud kan word nie, niks anders as ’n oorlas nie.

As ’n mens al die gevare in gedagte hou, is dit natuurlik om te vra: Hoe kan hardwerkendheid waarlik ’n deug wees? Is daar ’n werk wat ware bevrediging verskaf? Ons volgende artikel in hierdie reeks beskou hierdie vrae.

[Venster op bladsy 6]

Tydige waarskuwings

“As jou man sy eetlus verloor, aan slaaploosheid ly en weier om te praat, toon hy waarskuwingstekens. Sê vir hom om genot uit iets anders as werk te put en om mense te probeer ontmoet wat nie van sy maatskappy is nie.”—Dr. Toroe Sekija, Sekija-neurologiekliniek, Tokio, Japan.

“Ek hou daarvan om lang ure te werk, maar as jy daardeur jou man of gesin gaan verloor, doen jy dinge op die verkeerde manier. Dis nie lekker om jou geld alleen te tel nie.”—Mary Kay Ash, voorsitster van Mary Kay Cosmetics.

[Prent op bladsy 5]

Werkverwante uitbranding veroorsaak soms ernstige probleme

[Prente op bladsy 7]

Werkverslaafde gesinshoofde bederf dikwels die lewe van diegene aan wie hulle die naaste moet wees

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel