Klein mensies, groot spanning
“Kinders se smart is beslis klein, maar is die kind nie ook klein nie?”—Percy Bysshe Shelley.
KYK na die tekening van ’n keil hier onder. Met die eerste oogopslag lyk die hoed langer as wat die rand breed is. Maar in werklikheid is hy net so hoog as wat hy breed is. Groottes kan maklik verkeerd geskat word.
Volwassenes kan net so maklik verkeerd wees oor die erns van ’n kind se spanning. ‘Kinders se probleme is so onbeduidend’, redeneer party. Maar hierdie denkwyse is bedrieglik. “Volwassenes moet probleme nie volgens hulle grootte evalueer nie”, waarsku die boek Childstress!, “maar volgens die hoeveelheid pyn wat dit veroorsaak.”
In baie gevalle is ’n kind se pyn groter as wat volwassenes besef. Dit is bevestig deur ’n studie waarin ouers gevra is om hulle kinders se emosionele toestand te evalueer. Byna almal het gesê dat hulle kinders “baie gelukkig” is. Maar toe hulle kinders afsonderlik ondervra is, het die meeste hulleself as “ongelukkig” en selfs “ellendig” beskryf. Kinders het te kampe met vrese wat grootliks deur ouers geringgeag word.
In ’n ander studie wat deur dr. Kaoroe Jamamoto gedoen is, is ’n groep kinders gevra om 20 lewensgebeure volgens ’n sewe-punt-spanningskaal te evalueer. Daarna het ’n groep volwassenes daardie selfde gebeure geëvalueer soos hulle gedink het ’n kind hulle sou evalueer. Die volwassenes het 16 van die 20 gebeure verkeerd geëvalueer! “Ons almal dink ons ken ons kinders”, is dr. Jamamoto se gevolgtrekking, “maar alte dikwels sien of hoor of verstaan ons nie wat hulle werklik kwel nie.”
Ouers moet leer om lewenservaringe uit ’n nuwe oogpunt te beskou: deur die oë van ’n kind. (Sien venster.) Dit is veral vandag noodsaaklik. Die Bybel het voorspel dat “daar in die laaste dae gevaarlike tye van groot spanning sal aanbreek . . . wat moeilik sal wees om te bowe te kom en te verdra” (2 Timotheüs 3:1, The Amplified Bible). Kinders is nie immuun teen sulke spanning nie; hulle is dikwels die vernaamste slagoffers. Hoewel ’n mate van die spanning wat kinders ondervind eenvoudig “eie aan die jeug” is, is daar spanning wat heeltemal buitengewoon is en spesiale aandag verdien.—2 Timotheüs 2:22, NW.
[Venster op bladsy 5]
Deur die oë van ’n kind
Die dood van ’n ouer = Skuldgevoelens. ’n Kind kan oomblikke van woede jeens sy ouer herroep en dit kan tot verswygde skuldgevoelens oor sy ouer se dood lei.
Egskeiding = ’n Gevoel van versaking. ’n Kind se logika sê vir hom as ouers kan ophou om mekaar lief te hê, hulle dalk ook sal ophou om hom lief te hê.
Alkoholisme = Spanning. Claudia Black skryf: “Die daaglikse atmosfeer van vrees, versaking, ontkenning, inkonsekwensie en werklike of moontlike geweld wat in die alkoholis se huis heers, is beslis nie ’n normale, heilsame atmosfeer nie.”
Rusies tussen ouers = Vrees. ’n Studie onder 24 skoliere het aan die lig gebring dat rusies tussen ouers soveel spanning veroorsaak het dat dit vomering, gesigsenutrekkings, haarverlies, gewigsverlies of -toename en selfs ’n maagseer tot gevolg gehad het.
Hoë prestasies = Frustrasie. “Wat kinders ook al doen”, skryf Mary Susan Miller, “dit wil voorkom asof hulle alewig in ’n wedloop gewikkel is waarvan hulle dink hulle lewe afhang en wat volwassenes vir hulle gereël het.” Daar word druk op die kind uitgeoefen om die beste te wees by die skool, by die huis en selfs wanneer daar gespeel word—die kind wen nooit nie, en die wedloop hou nooit op nie.
’n Nuwe boetie of sussie = Verlies. Aangesien ’n kind nou sy ouers se aandag en liefde met iemand anders moet deel, voel hy dalk dat hy ’n ouer verloor het pleks dat hy ’n boetie of sussie bygekry het.
Skool = Angs oor die skeiding. Vir Amy was dit asof sy elke dag iemand aan die dood afgestaan het wanneer sy haar ma moes agterlaat en skool toe moes gaan.
Foute = Vernedering. Omdat kinders ’n verwronge selfbeeld het, is hulle “geneig om party dinge heeltemal uit verband te ruk”, sê dr. Ann Epstein. Vernedering, het sy gevind, is een van die algemeenste oorsake van selfmoord onder kinders.
Liggaamsgebreke = Frustrasie. Afgesien van die gespot van onsimpatieke portuurs, moet die fisies of verstandelik gestremde kind dalk ook die ongeduld verdra van onderwysers en gesinslede wat teleurstelling uitspreek oor dinge wat hy eenvoudig nie kán doen nie.
[Prent op bladsy 4]
Ouderwetse keil