Ouers wat hulle kinders mishandel—die grootste oorsaak van spanning
“Aangesien [kinders] ’n beperkte siening van dinge buite die gesinslewe het, word dít wat hulle by die huis oor hulleself en ander leer universele waarhede wat diep in hulle verstand ingeprent word.”—Dr. Susan Forward.
’N POTTEBAKKER kan ’n vormlose stuk klei neem, die korrekte hoeveelheid water byvoeg en dit tot ’n pragtige kruik vorm. Ouers vorm eweneens ’n kind se siening van homself sowel as van die wêreld. Met liefde, leiding en dissipline ontwikkel die kind tot ’n bestendige volwassene.
Maar alte dikwels word die indrukke op ’n kind se verstand en hart deur ouers gevorm wat hom mishandel. Emosionele en fisiese mishandeling sowel as seksuele molestering skep ’n verwronge denkwyse wat diep ingewortel raak en nie maklik verander kan word nie.
Emosionele mishandeling
Woorde kan seerder maak as vuishoue. “Ek kan nie ’n dag onthou waarop [my ma] nie vir my gesê het dat sy wens ek nooit gebore was nie”, sê Jason. Karen sê: “Daar is altyd vir my gesê dat ek sleg of nie goed genoeg is nie.”
Kinders sal gewoonlik die slegte dinge glo wat van hulle gesê word. As daar gedurig vir ’n seun gesê word dat hy onnosel is, sal hy waarskynlik later dink dat hy wel onnosel is. Sê vir ’n meisie dat sy ’n nikswerd is, en sy sal dit waarskynlik glo. Kinders het ’n beperkte perspektief en kan dikwels nie tussen die waarheid en beledigende oordrywings of valshede onderskei nie.
Fisiese mishandeling
Joe onthou nog hoe sy pa hom fisies mishandel het: “Hy het my met die vuis begin slaan totdat hy my teen die muur gehad het. Hy het my altyd so hard geslaan dat ek duiselig geraak het . . . Wat my die bangste gemaak het, was dat ek nooit geweet het wat tot sy woedeuitbarstings aanleiding sou gee nie!”
Jake se pa het hom gereeld geslaan. Toe Jake ses jaar oud was, is sy arm tydens een so ’n slanery gebreek. “Ek wou nie hê hy of my susters of Ma moes my sien huil nie”, sê Jake. “Dit was al trots wat ek nog gehad het.”
Die boek Strong at the Broken Places sê dat fisiese mishandeling tydens die kinderjare dieselfde is as om “elke dag, elke week of elke maand in ’n motorongeluk betrokke te wees”. Sulke mishandeling leer ’n kind dat die wêreld onveilig is en dat hy niemand kan vertrou nie. Daarbenewens bring geweld dikwels geweld voort. “As kinders nie beskerm word teen diegene wat hulle mishandel nie”, waarsku die tydskrif Time, “sal die publiek eendag teen die kinders beskerm moet word.”
Seksuele molestering
Volgens een skatting word 1 uit elke 3 meisies en 1 uit elke 7 seuns tot ’n seksuele daad gedwing voor hulle 18 is. Die meeste van hierdie kinders ly in stilte. “Soos vermiste soldate”, sê die boek The Child in Crisis, “bly hulle jare lank verdwaald in ’n private oerwoud van vrees en skuldgevoelens.”
“Hoe het ek my pa tog nie gehaat omdat hy my gemolesteer het en hoe skuldig het ek tog nie gevoel omdat ek hom gehaat het nie”, sê Louise. “Ek het so skuldig gevoel, want ’n kind is veronderstel om sy ouers lief te hê en ek het nie altyd nie.” Sulke verwarrende gevoelens is te begrype wanneer ’n kind se vernaamste beskermer sy aanvaller word. Beverly Engel vra in The Right to Innocence: “Hoe kan ons erken dat ons eie ouer, iemand wat veronderstel is om ons lief te hê en vir ons te sorg, so min vir ons omgee?”
Seksuele molestering kan ’n kind se hele lewensbeskouing verdraai. “Elke volwassene wat as kind gemolesteer is, is sedert sy of haar kinderjare daarvan oortuig dat hy of sy hopeloos onbekwaam, waardeloos en werklik sleg is”, skryf dr. Susan Forward.
Dit verdwyn nie
“Dit is nie net die kind se liggaam wat mishandel of verwaarloos word nie”, skryf die navorser Linda T. Sanford. “Probleemgesinne mishandel ’n kind se verstand.” Wanneer ’n kind mishandel word, of hy nou emosioneel of fisies mishandel of seksueel gemolesteer word, kan hy of sy onbemind en waardeloos voel wanneer hulle groot is.
Jason, wie se geval vroeër genoem is, het as volwassene só min selfrespek gehad dat hy as ’n selfmoordrisiko bestempel is. Hy het hom onnodig aan lewensgevaarlike situasies blootgestel en het sy lewe beskou soos sy ma hom geleer het: ‘Jy moes nooit gebore gewees het nie.’
Joe sê die volgende oor die gevolge van die fisiese mishandeling wat hy as kind verduur het: “Dit verdwyn nie sommer as jy jou ouerhuis verlaat of trou nie. Ek is altyd bang vir iets, en ek haat myself daaroor.” As gevolg van die spanning wat in die huishouding heers waar fisiese mishandeling voorkom, word baie kinders groot met negatiewe verwagtinge en streng verdedigingsmiddele wat hulle inperk pleks van beskerm.
Vir Connie het bloedskande ’n verwronge selfbeeld tot gevolg gehad wat gevestig geraak het nadat sy volwassenheid bereik het: “Dikwels dink ek nog dat mense tot binne-in my kan sien en kan sien hoe walglik ek is.”
Alle vorme van mishandeling het ’n verderflike invloed wat diepgewortel kan wees wanneer volwassenheid bereik word. Wat aangeleer word, kan weliswaar afgeleer word. Tallose slagoffers wat van die letsels van kindermishandeling genees is, getuig daarvan. Maar hoeveel beter is dit tog as ouers besef dat hulle sedert hulle kind se geboorte grotendeels sy beskouing van homself en die wêreld vorm. ’n Kind se fisiese en emosionele welsyn hang grootliks van sy ouers af.
[Prent op bladsy 7]
Woorde kan seerder maak as vuishoue