Ons beskou die wêreld
Genoeg kos, maar ondervoeding duur voort
Hoewel die wêreldbevolking drasties toegeneem het, is daar meer as 150 miljoen minder ondervoede mense in die armer lande as 20 jaar gelede. “Die kosvoorraad en die boere het inderdaad bygehou met die toename en dit oorskry”, sê John Lupien, direkteur van die VV se Voedsel- en Landbou-organisasie. “Op die oomblik is daar genoeg kos om almal te voed, ás dit by die mense kan uitkom wat dit nodig het.” Ongelukkig, berig The Economist, “het ongeveer 780 [miljoen] mense in arm lande, een uit elke vyf van hulle bevolking, nie genoeg om te eet nie. Tot 2 miljard mense wat genoeg kos kry om hulle mae vol te maak, het nietemin ’n tekort aan die nodige vitamiene en minerale. . . . Tot 40 000 jong kinders sterf daagliks, deels omdat ondervoeding hulle vatbaar maak vir allerhande siektes”. Daarenteen veroorsaak oorvoeding ook skade, deur kwale soos hartsiekte en sekere soorte kanker onder die welvarender sektors van die gemeenskap te laat voorkom.
Die paradoks van noodleniging aan Somalië
Die instroming van gratis kos na hongergeteisterde Somalië het ’n interessante paradoks geskep. Hoewel die noodleniging gehelp het om verhongering stop te sit, bedreig dit ook die voortbestaan van die plaaslike boerdery-ekonomie. Toe kos so skaars was dat ’n hongerdood meer as 1,5 miljoen mense in die gesig gestaar het, het voedselpryse skerp gestyg. Maar ná ’n bestendige toevloei van noodlenigingsvoedsel het die markpryse skerp gedaal. ’n Berig in die New York Times sê: “Die prys van rys is glo die laagste ter wêreld, met die prys van ’n sak rys van [50 kilogram] wat oor die afgelope paar maande tot [R15] gedaal het. Dieselfde hoeveelheid rys van ’n vergelykbare graad sal vergelykenderwys omtrent [R34,50] in die Verenigde State en [R354] in Japan kos.” Gevolglik het die plaaslike opbrengs soveel waarde verloor dat die boere nie hulle oeste kan verkoop nie. ’n Program is nou in werking om van die noodlenigingsvoedsel te verkoop en die pryse te probeer stabiliseer.
Vaders dra ook skuld
Toekomstige moeders word al ’n geruime tyd lank gewaarsku om weg te bly van dinge, soos alkohol en tabak, wat geboortedefekte kan veroorsaak en word aangemoedig om ’n voedsame dieet te volg. “Nou word voornemende vaders aangespoor om soortgelyke voorsorg te tref”, sê U.S.News & World Report. “Nuwe navorsing dui daarop dat ’n man se blootstelling aan chemiese invloede nie net sy vermoë om ’n kind te verwek nie, maar ook die toekomstige gesondheid van sy kinders beïnvloed.” Getuienis toon dat mans “veel meer bydra tot miskrame in hulle vrouens sowel as misvormdheid, kankers en ontwikkelingsvertragings in hulle kinders as wat vantevore besef is”. Dit blyk nou dat dwelmmiddels en ander chemikalieë (wat neweprodukte van sigaretrook insluit), sowel as ’n dieet met te min groente en vrugte wat ryk aan vitamien C is, die sperm skade aandoen. Die toksikoloog Devra Lee Davis sê: “Ons spits ons al te lank op slegs die moeders toe. Die belangrike rol wat die vader speel om gesonde babas voort te bring, is nie ten volle besef nie.”
Toenemende belangstelling in die bonatuurlike
Die groeiende, wêreldwye beheptheid met die bonatuurlike is ook in Suid-Afrika duidelik te sien. Tradisionele toordokters, charismatiese godsdiens, astrologie en Satanisme raak al sedert die middel-tagtigerjare vinnig al hoe gewilder. Waarom? “Mense draai in tye van teenspoed weg van die rasionele en wend hulle tot die mistieke”, sê The Weekly Mail van Johannesburg. “Aan die einde van die tweede millennium is daar toenemende belangstelling in spiritistiese verskynsels.” Die antropoloog Robert Thornton verduidelik dit soos volg: “Ek dink dat hierdie opvattings ’n aanduiding is van die soorte vrees wat mense het. Dit is die toevlug wat mense tot magte buite hulle neem omdat hulle voel dat hulle nie hulle lewe kan beheer nie.” Die metafisikaleraar Rod Suskind sê: “Een rede vir die toenemende belangstelling is dat die toekoms so onvoorspelbaar lyk, en mense kyk verby die konvensionele bronne om te verstaan wat gebeur.” En volgens The Weekly Mail sê die antropoloog Isak Niehaus dat “dit veroorsaak word deur die waarneembare mislukking van die konvensionele wetenskap asook van godsdiens om die belangrike kwessies op te los wat mense in die gesig staar”.
Joernaliste word doodgemaak
Ten minste 60 joernaliste is doodgemaak terwyl hulle in 1992 wêreldwyd oor konflikte verslag gelewer het. Hierdie berig, wat deur die Internasionale Federasie van Joernaliste in Brussel, België, uitgegee is en in die Manchester Guardian Weekly verskyn het, het genoem dat Turkye en Bosnië die gevaarlikste plekke is. Ten minste tien joernaliste is na bewering in die laaste jaar in hierdie twee lande alleen vermoor. Joernaliste is ook gedreig terwyl hulle oor die stamoorloë en hongersnood in Somalië verslag gelewer het. Die federasie vra die Verenigde Volke en die regerings van die Europese Gemeenskap om te verklaar dat sensuur ’n “verskriklike skending van menseregte” is.
Nog ’n grieppandemie?
“Pandemiese griep sal, feitlik sonder twyfel, ’n ernstige plaag wees wanneer dit waarskynlik binne die volgende paar jaar uitbreek”, sê The New York Times Magazine. Volgens wetenskaplikes is die tyd ryp vir nog ’n griepepidemie soos die een wat in 1918 tussen 20 miljoen en 40 miljoen mense doodgemaak het. “As dit een keer gebeur het, is daar alle rede om te verwag dat dit weer kan gebeur”, sê John R. La Montagne, hoof van die afdeling vir aansteeklike siektes aan die Nasionale Instituut van Allergieë en Aansteeklike Siektes in Bethesda, Maryland. Maar die virusmutasies wat pandemiese griepvariante skep, is seldsaam. Hulle het nog net drie keer in dié eeu voorgekom: die sogenaamde Spaanse griep van 1918, die Asiatiese griep van 1957 en die Hongkong-griep van 1968; en die laaste twee was relatief matig. Aangesien die griepvirus so dikwels en onvoorspelbaar verander, kan ’n dodelike uitbreking ontstaan voordat ’n doeltreffende entstof ontwikkel kan word. Die artikel kom tot die slotsom: “As die geskiedenis as ’n aanduiding dien, kan ons waarskynlik voor die einde van die eeu ’n groot verandering in daardie antigene verwag—een wat groot genoeg is om ernstige griep wêreldwyd te laat uitbreek.”
Mishandelde mans
“Byna 40 persent van alle vrouens wat tydens ’n staatsgeborgde opname ondervra is, het gesê dat hulle hulle eggenoot al gedreig of liggaamlik mishandel het, en dit is aansienlik meer as die persentasie mans wat dieselfde beweer het”, sê The Toronto Star. “Die navorsing weerlê die algemene beskouing oor gesinsgeweld . . . Selfs die navorsers is deur die bevindings van die studie verbaas.” Die omskrywing van mishandeling was onder andere om jou eggenoot te dreig, hom met iets te gooi of met ’n voorwerp te slaan. Die meeste van die vrouens het gesê dat hulle nie uit selfverdediging geweld gebruik het nie. “Hierdie bevindings behoort mense weer te laat dink oor die hele aard van huweliksgeweld in terme van strafregspleging”, het Rena Summer gesê, ’n doktorale student aan die Universiteit van Manitoba se departement van gesinstudies en een van die outeurs van die studie. Maar sy het gesê dat aangesien mans gewoonlik sterker as vrouens is vrouens dikwels ernstiger beserings opdoen wanneer hulle deur hulle man mishandel word.
Heksejag bestaan nog
India Today berig dat meer as twaalf vroue wat as hekse bestempel is in ’n tydperk van twee maande deur waansinnige skares in die stamgebonde agterlande van Indië vermoor is. “Tientalle ander vroue is erg geslaan, gemartel, naak laat paradeer, op die dierlikste manier moontlik verneder en uit hulle dorpies weggejaag.” Die geweld het uitgebreek toe godsdiensoptogte van dorpie tot dorpie begin beweeg het. Hierdie gebruik het tot ’n maatskaplike hervormingsbeweging en ’n afname in misdaad gelei. Maar toe het party van die vroue in die optogte “besete” geraak en sekere dorpsbewoners as hekse begin identifiseer wat vir plaaslike probleme verantwoordelik is. As hulle nie ’n “toets” van onskuld kon slaag nie, soos om ’n dooie persoon op te wek as hulle van moord beskuldig is, het dit onmiddellike vergelding beteken. Geloof in die toorkuns is glo die grondoorsaak, en volgens een antropoloog “spruit dit voort uit ’n drang in stamgemeenskappe om die bonatuurlike te beheer, mag teen die bose oog te hê, krag om hulle begeerde doelwitte te bereik en mag om hulle wil op ander af te dwing”.
Kafeïen word blameer
Oormatige koffiedrinkers wat hulle gewoonte skielik aflê, kla gereeld van hoofpyne, neerslagtigheid, uitputting, angs en selfs spierpyn, naarheid en braking. Nou het navorsers aan die Johns Hopkins-universiteit bevind dat hierdie simptome ook by mense voorkom wat daagliks slegs een of twee koppies koffie of tee, of ’n paar blikkies koeldrank, drink wat kafeïen bevat en wat dan twee dae lank niks daarvan drink nie. Onttrekkingsimptome kan so erg wees dat hulle dit nodig ag om die dokter te spreek. Die slagoffers kan diegene wees wat oor naweke weg van die kantoor se koffiemasjien is, mense wat kafeïenvrye gaskoeldrank begin drink of pasiënte wat voor ’n operasie moet vas. Dokters word aangeraai om die geskiedenis van pasiënte se kafeïengebruik na te gaan as hulle van hoofpyne en ander simptome kla wat met kafeïenonttrekking ooreenstem. Diegene wat graag hulle kafeïeninname wil verminder, word aangeraai om dit geleidelik te doen. Die studie het ook die vraag laat ontstaan of kafeïen, en gevolglik koffie, as ’n fisies verslawende middel geklassifiseer moet word.