Griep—Wat ons nou weet
DIT is die jaar 1997. ’n Wetenskaplike sit in die klein Eskimo-dorpie Brevig op die bevrore toendra van die Seward-skiereiland van Alaska. Voor hom is die liggaam van ’n jong vrou wat hy met die hulp van vier Eskimo’s uit die ysgrond opgegrawe het. Sy was in 1918 ’n slagoffer van die griep en het sedertdien bevrore daar gelê.
Wat sal dit help om haar liggaam nou te ontleed? Die wetenskaplike hoop dat die virus wat die griep veroorsaak het, nog in haar longe is en dat dit met behulp van gevorderde genetiese tegnieke geïsoleer en geïdentifiseer kan word. Waarom kan daardie kennis nuttig wees? In antwoord hierop moet ons ’n bietjie meer insig kry in hoe virusse te werk gaan en waarom hulle so gevaarlik is.
’n Virus wat dodelik kan wees
Vandag weet ons dat griep deur ’n virus veroorsaak word en dat dit deur respiratoriese vloeistowwe van persoon tot persoon kan versprei wanneer iemand hoes, nies of praat.a Dit kom wêreldwyd voor, selfs in die trope, waar dit heeljaar voorkom. In die Noordelike Halfrond strek die griepseisoen van November tot Maart, en in die Suidelike Halfrond van April tot September.
Tipe A-griep, die gevaarlikste soort griepvirus, is klein in vergelyking met baie ander virusse. Dit is gewoonlik sferies, met uitsteeksels aan die oppervlak. Wanneer hierdie virus ’n mensesel besmet, vermenigvuldig dit so vinnig dat daar dikwels binne sowat tien uur ’n swerm van tussen 100 000 en ’n miljoen nuwe griepvirus“kopieë” uit die sel bars.
’n Skrikwekkende kenmerk van hierdie eenvoudige organisme is sy vermoë om vinnig te verander. Omdat die virus so vinnig vermeerder (baie vinniger as MIV), is sy talle “kopieë” nie identies nie. Party verskil net genoeg om nie deur die immuunstelsel bespeur te word nie. Dit is waarom ons elke jaar ander griepvirusse kry, wat ’n nuwe stel antigene oplewer—stowwe wat ons immuunstelsel toets. As die antigeen genoegsaam verander, kan ons immuunstelsel min weerstand bied, en die moontlikheid van ’n pandemie ontstaan.
Verder besmet griepvirusse ook diere, en dít hou ’n probleem vir mense in. Die vark kan blykbaar ’n draer wees van virusse wat voëls soos hoenders en eende besmet. Maar dit kan ook die draer wees van ander virusse wat mense besmet.
As ’n vark dus deur albei soorte virusse besmet word—een soort wat diere besmet en ’n ander soort wat onder mense voorkom—kan die gene van die twee virussoorte vermeng raak. Die gevolg kan ’n heeltemal nuwe griepvirusstam wees, een waarteen mense geen immuniteit het nie. Party meen dat boeregemeenskappe waar pluimvee, varke en mense in noue kontak met mekaar lewe—soos dikwels die geval is in Asië—heel waarskynlik die oorsprong van nuwe griepvirusstamme is.
Waarom het dit so dodelik geword?
Die vraag is: Wat kon veroorsaak het dat die griepvirus van 1918-19 in iets verander het wat tot longontsteking en die dood onder jongmense gelei het? Hoewel daar geen lewende virusse uit daardie tyd bestaan nie, was wetenskaplikes lank van mening dat hulle, indien hulle ’n bevrore eksemplaar daarvan kon vind, dalk die ongeskonde RNS kon isoleer en uitvind wat hierdie virussoort so dodelik gemaak het. Hulle het wel in ’n sekere mate daarin geslaag.
Danksy die bevrore eksemplaar uit Alaska wat aan die begin van hierdie artikel beskryf is, kon ’n span wetenskaplikes die meeste van die 1918-19-griepvirus se gene identifiseer en die volgorde daarvan bepaal. Maar wetenskaplikes kon nog nie uitvind waarom daardie griep so dodelik was nie. Blykbaar was daardie virusstam verwant aan ’n griepvirus wat varke en voëls besmet.
Kan dit terugkeer?
Volgens talle deskundiges is dit nie ’n kwessie van of so ’n gevaarlike griepvirus sal terugkeer nie, maar wanneer en hoe dit sal terugkeer. Trouens, party verwag dat daar sowat elke 11 jaar ’n nuwe gevaarlike griepvirus en sowat elke 30 jaar ’n ernstige griepepidemie sal wees. Volgens hierdie voorspellings moes die mensdom lankal reeds weer ’n pandemie beleef het.
Die mediese tydskrif Vaccine het in 2003 berig: “Die laaste grieppandemie was 35 jaar gelede, en die langste opgetekende tydperk tussen pandemies is 39 jaar.” Die artikel sê voorts: “Die pandemiese virus kan uit China of ’n nabygeleë land kom en kan oppervlakantigene of aggressiewe agense insluit wat van dieregriepvirusse afkomstig is.”
Die artikel in Vaccine het aangaande die virus voorspel: “Dit sal vinnig dwarsdeur die wêreld versprei. Daar sal verskeie vlae van besmetting voorkom. Groot getalle mense van alle ouderdomsgroepe sal siek word, en daar sal in alle lande wydverspreide ontwrigting van sosiale en ekonomiese bedrywighede wees. Baie hoë sterftesyfers sal onder die meeste, indien nie alle ouderdomsgroepe nie, gesien word. Dit is onwaarskynlik dat gesondheidsorgstelsels in selfs die mees ekonomies ontwikkelde lande opgewasse sal wees vir die taak om gesondheidsorgdienste te voorsien.”
Presies hoe kommerwekkend is so ’n scenario? John M. Barry, skrywer van die boek The Great Influenza, gee hierdie perspektief: “’n Terroris met ’n kernwapen is vir elke nasionale politikus ’n nagmerrie. ’n Nuwe grieppandemie behoort [die nagmerrie] te wees.”
Watter behandeling is beskikbaar?
Jy vra dalk: ‘Is daar nie nou doeltreffende behandeling nie?’ Die antwoord bevat in werklikheid goeie en slegte nuus. Antibiotika kan die sterftesyfer weens sekondêre bakteriese longontsteking verminder, en sekere medisyne kan doeltreffend teen sekere griepvirusse wees. Daar is immunisering wat kan help om ’n griepvirus te beveg, as die regte virusstamme geïdentifiseer word en as die immunisering betyds toegedien kan word. Dit is die goeie nuus. Wat is die slegte nuus?
Die geskiedenis van griepimmunisering is kommerwekkend—van die rampspoedige varkgriepepisode van 1976 tot die tekort aan entstof in 2004. Al het die mediese wetenskap sedert die Eerste Wêreldoorlog noemenswaardige vooruitgang gemaak, het dokters nog steeds geen geneesmiddel teen ’n kragtige virus gevind nie.
Dit lei gevolglik tot hierdie verontrustende vraag: Kan 1918-19 hom herhaal? Let op wat in ’n verslag deur Londen se Nasionale Instituut vir Mediese Navorsing gesê is: “In sekere opsigte heers dieselfde toestande as in 1918: weens die ontwikkeling van vervoermiddele reis ’n groot hoeveelheid mense na verskillende lande, daar is etlike oorlogsgebiede met die gepaardgaande probleme van wanvoeding en swak higiëne, die wêreldbevolking het tot ses en ’n half miljard gegroei en meeste van hierdie mense woon in stedelike gebiede waarvan baie se infrastruktuur aan die agteruitgaan is wat die verwydering van vullis en rioolafval betref.”
’n Gesiene Amerikaanse deskundige het tot hierdie slotsom gekom: “Kortom, ons is elke jaar nader aan die volgende pandemie.” Beteken al hierdie dinge dan dat die toekoms duister, selfs hopeloos, is? Glad nie!
[Voetnoot]
a Die boek Viruses, Plagues, and History sê: “Die Italianers het die term influenza omstreeks 1500 geskep vir siektes wat aan die ‘invloed’ van die sterre toegeskryf is.”
[Prent op bladsy 8]
Nuwe griepvirusstamme kan in boeregemeenskappe ontstaan
[Erkenning]
BAY ISMOYO/AFP/Getty Images
[Prent op bladsy 8, 9]
Tipe A-griepvirus
[Erkenning]
© Science Source/ Photo Researchers, Inc
[Prent op bladsy 9]
Navorsers het eksemplare van die 1918-19-virus bestudeer
[Erkenning]
© TOUHIG SION/CORBIS SYGMA