Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 12/22 bl. 4-6
  • Die grootste plaag in die geskiedenis

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die grootste plaag in die geskiedenis
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Unieke pessiekte
  • Toe die wetenskap magteloos was
  • Griep—Wat ons nou weet
    Ontwaak!—2005
  • Pandemies—Wat die toekoms inhou
    Ontwaak!—2005
  • Beskerm jou gesin teen griep
    Ontwaak!—2010
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 12/22 bl. 4-6

Die grootste plaag in die geskiedenis

IN Oktober 1918 was die wêreld nog steeds in die Eerste Wêreldoorlog gewikkel. Hoewel die einde van die gevegte op hande was, was die media nog steeds aan sensuur onderwerp. Daarom was Spanje, wat nie by die oorlog betrokke was nie, dus die eerste land wat berig het dat burgerlikes op baie plekke teen ’n onrusbarende tempo siek word en sterf. Gevolglik het die siekte die naam gekry waaraan dit vir ewig geken sou word—die Spaanse griep.

Die pandemie het in Maart 1918 uitgebreek.a Talle navorsers het die oorsprong daarvan na die staat Kansas, VSA, teruggevoer. Daarvandaan het dit blykbaar na Frankryk versprei deur middel van Amerikaanse soldate wat kort tevore daar geland het. Nadat die sterftesyfer weens die griep die hoogte ingeskiet het, het dit teen Julie 1918 gelyk of alles na normaal teruggekeer het. Min het dokters op daardie stadium besef dat die pandemie hom net gereed maak om groter vernietiging te saai.

Toe die Eerste Wêreldoorlog op 11 November 1918 tot ’n einde gekom het, was die wêreld verheug. Ironies genoeg het die pessiekte ongeveer daardie selfde tyd regoor die wêreld uitgebreek. Dit was ’n monster wat nou wêreldwyd die voorblad gehaal het. Min wat deur daardie tyd geleef het, is nie daardeur geraak nie, en almal was vreesbevange. ’n Gerespekteerde kenner op die gebied van griep het gesê: “Die lewensverwagting in die Verenigde State het in 1918 met meer as 10 jaar gedaal.” Hoe het hierdie pessiekte van ander verskil?

’n Unieke pessiekte

’n Baie kommerwekkende verskil was die onverwagsheid waarmee hierdie griep toegeslaan het. Hoe onverwags was dit? In die onlangs gepubliseerde boek The Great Influenza, haal die skrywer John M. Barry ’n geskrewe verslag van hierdie ondervinding aan: “In Rio de Janeiro het ’n man vir ’n mediese student, Ciro Viera da Cunha, wat vir ’n trem gewag het, in ’n heel normale stem iets gevra en toe dood neergeval; in Kaapstad, Suid-Afrika, het Charles Lewis op ’n trem geklim vir ’n vyf kilometer lange rit na sy huis, toe die kondukteur inmekaargesak en gesterf het. Binne die volgende vyf kilometer is ses mense op die trem dood, onder meer die bestuurder.” Almal het aan die griep gesterf.

Dan was daar die vrees—vrees vir die onbekende. Die wetenskap het geen idee gehad wat die oorsaak van die siekte was of presies hoe dit versprei het nie. Openbare gesondheidsmaatreëls is ingestel: hawens is onder kwarantyn geplaas; bioskope, kerke en ander openbare vergaderplekke is gesluit. In San Francisco, Kalifornië, VSA, het amptenare byvoorbeeld opdrag gegee dat die hele bevolking maskers van gaas moes dra. Enigiemand wat nie in die openbaar ’n masker gedra het nie, kon ’n boete of tronkstraf kry. Maar dit het nie gelyk of enigiets werk nie. Hierdie maatreëls was eenvoudig onvoldoende en is te laat ingestel.

Daar was ook vrees omdat die griep mense voor die voet getref het. Tot vandag toe weet ons nie waarom die 1919-pandemie nie hoofsaaklik bejaardes geteister het nie; gesonde jongmense is daardeur getref en het gesterf. Die meeste van dié wat aan die Spaanse griep gesterf het, was tussen 20 en 40 jaar oud.

Boonop was dit waarlik ’n wêreldwye epidemie. Dit het selfs tropiese eilande bereik. Die griep het Wes-Samoa (nou bekend as Samoa) op 7 November 1918 per skip bereik, en binne twee maande het ongeveer 20 persent van die bevolking van 38 302 gesterf. Elke groot land in die wêreld is op dramatiese wyse deur die griep geraak!

Dan was daar die omvang van hierdie plaag. Byvoorbeeld, in Philadelphia, Pennsilvanië, VSA, het die siekte vroeg en besonder erg toegeslaan. Teen die middel van Oktober 1918 was daar ’n ernstige tekort aan doodskiste. “Een vervaardiger het gesê dat hy 5 000 kiste binne twee uur sou kon verkoop het, as hy dit gehad het. Met tye het die stad se lykshuis tien keer meer lyke as kiste gehad”, sê die geskiedkundige Alfred W. Crosby.

In ’n relatiewe kort tydjie het meer mense aan die griep gesterf as aan enige soortgelyke pandemie in die mensegeskiedenis. ’n Algemene skatting van die wêreldwye sterftesyfer is 21 miljoen, maar party kenners reken nou dat daardie syfer te laag is. Vandag meen sommige epidemioloë dat die werklike syfer eerder 50 miljoen of dalk selfs 100 miljoen was! Barry, wat vroeër genoem is, sê: “Binne ’n jaar is meer mense aan die griep dood as wat in ’n eeu aan die Swart Dood van die Middeleeue gesterf het; meer mense is binne vier-en-twintig weke aan die griep dood as wat in vier en twintig jaar aan vigs gesterf het.”

Dit is moeilik om te glo, maar die Spaanse griep het in ’n jaar of wat die dood van meer Amerikaners veroorsaak as wat in albei wêreldoorloë saam op die slagveld omgekom het. Die skryfster Gina Kolata verduidelik: “As so ’n plaag vandag sou uitbreek en dieselfde persentasie van die Amerikaanse bevolking eis, sal 1,5 miljoen Amerikaners sterf, wat meer is as die aantal sterftes in ’n enkele jaar weens hartsiekte, kankers, beroertes, chroniese longkwale, vigs en Alzheimer se siekte saam.”

In ’n neutedop: die Spaanse griep was die verwoestendste pandemie in die geskiedenis van die mens. Watter hulp het die wetenskap gebied?

Toe die wetenskap magteloos was

Teen die begin van die Eerste Wêreldoorlog het die geneeskunde blykbaar groot vooruitgang gemaak in die bekamping van siektes. Selfs gedurende die oorlog was dokters baie trots op die welslae wat hulle daarin behaal het om die uitwerking van aansteeklike siektes te verminder. Destyds het The Ladies Home Journal verklaar dat Amerikaanse huise nie meer ’n kamer nodig het om dooies uit te lê sodat hulle besigtig kon word nie. Dit het voorgestel dat sulke vertrekke voortaan woonkamers genoem word. Maar toe breek die Spaanse griep uit, en die geneeskunde was feitlik magteloos.

Crosby skryf: “Al die dokters van 1918 het ’n aandeel gehad aan die grootste geneeskundige mislukking van die twintigste eeu of, as die totale getal sterftes in ag geneem word, van alle tye.” Sodat al die skuld nie op die mediese beroep geplaas word nie, maak Barry hierdie punt: “Wetenskaplikes het destyds die omvang van die bedreiging ten volle begryp, geweet hoe om talle sekondêre bakteriese longontstekings te genees en het raad oor openbare gesondheid gegee wat tienduisende Amerikaners se lewens sou kon red. Politici het daardie raad geïgnoreer.”

Wat weet ons dus nou, sowat 85 jaar later, van hierdie vreeslike pandemie? Wat was die oorsaak daarvan? Kan dit terugkeer? Indien wel, sal ons dit suksesvol kan beveg? Van die antwoorde sal jou dalk verbaas.

[Voetnoot]

a ’n Epidemie is ’n siekte wat op ’n sekere plek—in ’n gemeenskap, ’n stad of ’n hele land—uitbreek. ’n Pandemie is ’n wêreldwye epidemie.

[Lokteks op bladsy 6]

Die meeste van dié wat aan die Spaanse griep gesterf het, was tussen 20 en 40 jaar oud

[Prent op bladsy 4]

’n Skoolklas van 1919, Canon City, Colorado, VSA

[Erkenning]

Courtesy, Colorado Historical Society, 10 026 787

[Prent op bladsy 4, 5]

’n Polisiebeampte

[Erkenning]

Photo by Topical Press Agency/Getty Images

[Prent op bladsy 5]

Bofbalspelers dra beskermende maskers

[Erkenning]

© Underwood & Underwood/CORBIS

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel