Die volmaakte sedelike rigsnoer
’N SEEVAARDER het betroubare kaarte en instrumente nodig om ’n vaste koers te hou. Mense het eweneens ’n betroubare rigsnoer nodig om die sedelike besluite te kan neem waarvoor hulle daagliks te staan kom. ’n Sedelike rigsnoer wat veranderlik of onlogies is, sal nie deug nie, en ook nie ’n rigsnoer waarby net sekere kulture of gemeenskappe baat vind nie. Die volmaakte sedelike rigsnoer moet bo ras en kultuur uitstyg.
Dit is ironies dat die Bybel—die einste boek wat al deur miljoene verwerp is, die boek wat al deur party bloot ’n pragtige allegorie genoem is, die boek wat al meer as enige ander boek in die geskiedenis gekritiseer is—daardie volmaakte sedelike rigsnoer is. Die Bybel sê self dat dit die Skepper se sedelike rigsnoer vir die mens is, die “lamp” wat ons pad in “die spore van geregtigheid” kan verlig.—Psalm 23:3; 119:105.
Is daar enige bewys wat hierdie merkwaardige bewering staaf? Is daar getuienis dat dit beter is om volgens Bybelstandaarde as volgens die mensgemaakte etiek te lewe?
Die Bybel en geslagsedelikheid
Beskou die kwessie van geslagsedelikheid. Die Bybel verbied buite-egtelike geslagsomgang en sê: “Vlug vir geslagsonsedelikheid” (1 Korinthiërs 6:18, New International Version; Efesiërs 5:5). Dit gee egpare die raad: “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Hebreërs 13:4). Die Bybel toon boonop dat iemand wat hierdie bevel verontagsaam homself skade berokken en op die regte van ander inbreuk maak.—Spreuke 6:28-35; 1 Thessalonicense 4:3-6.
Die oorweldigende probleme van tienerswangerskap, die bedreiging van vigs, herpes, sifilis en ander seksueel oordraagbare siektes en die stygende egskeidingsyfer is alles ’n bewys dat hierdie raad steeds op die lewe in die negentigerjare toepaslik is. Die persoon wat by die Bybel se sedelikheid bly, vermy baie hartseer en pyn. Nog belangriker, hy behou ’n goeie gewete (1 Petrus 3:16). “Ek het selfrespek en die tevredenheid dat ek doen wat in God se oë reg is”, sê die 24-jarige Jonathan. Hy is een van Jehovah se Getuies. “Aangesien baie jongmense aan vigs sterf, kan dit letterlik my lewe red as ek sedelik rein bly.”
Godvresende egpare het gevind dat dit ’n goeie uitwerking op hulle huwelik het as hulle die Bybel se sedelikheid naleef. Een 23-jarige getroude vrou sê: “Ek en my man het albei nog nie geslagsomgang gehad toe ons getroud is nie. Ek dink ons het iets baie spesiaals gehad om met mekaar te deel, iets wat min jongmense deesdae met ’n huweliksmaat kan deel. Ek weet dit het die liefdesband tussen ons verstewig.”
Die Bybel en die sakelewe
Die Bybel het ook sy eie gedragskode wat sakegebruike betref. Hoewel dit erken dat dit kan lyk of oneerlike mense vooruitgaan, spoor dit ons nogtans aan om eerlik te bly (Psalm 73:1-28). “Twee soorte gewig [’n juiste vir aankope en ’n onjuiste, oneerlike vir verkope], twee soorte maat—hulle altwee is vir die HERE ’n gruwel” (Spreuke 20:10). Jehovah se Getuies vermy dus oneerlike saketaktiek.
’n Christen wat dít doen, kan weliswaar ongerief ondervind. Dit is moontlik vir hom moeilik om mee te ding met sakemanne wat minder nougeset is. Ander vind moontlik sy eerlikheid vreemd, selfs dwaas, maar hy behou ’n goeie gewete—iets kosbaarders as geld. Hy het gemoedsrus en kan ’n goeie nagrus geniet. Hy word nie gekwel deur ’n knaende vrees dat hy uitgevang en vir oneerlikheid gestraf sal word nie.—Vergelyk Spreuke 3:21-26.
Daarbenewens het baie Getuies gevind dat ’n mens Bybelse sedelikheid kan handhaaf én goeie sake kan doen. ’n Eerlike mens wen dikwels die vertroue van werknemers, klante, leweransiers en krediteure. Dit kan hom tot voordeel strek.
Is optelgoed hougoed?
Soos ons vroeër gesien het, het die denkwyse van optelgoed is hougoed diewe gemaak van mense wat eintlik eerlik is. Maar in die ou tyd het die Bybel vir God se volk gesê: “Jy mag jou nie blind hou wanneer jy ’n verdwaalde bees of skaap van jou volksgenoot sien nie. Jy moet dit na hom toe terugvat. As hy nie naby jou bly nie of as jy hom nie ken nie, moet jy die dier na jou huis toe vat, en dit moet daar bly tot hy dit kom soek. Dan moet jy dit vir hom teruggee. So moet jy ook maak met ’n donkie of ’n kledingstuk van jou volksgenoot of enigiets anders wat wegraak en jy kry dit.”—Deuteronomium 22:1-3, NAV.
Vandag leef Jehovah se Getuies steeds hierdie beginsel na. Een Getuie in Brooklyn, New York, het ’n sak met R74 000 opgetel wat in die straat gelê het. Dit het tydens ’n klein ongelukkie ongemerk uit ’n pantserwa geval. Hoewel die geld gebruikte note met ’n lae sigwaarde was—gevolglik onmoontlik om op te spoor—het hy die geld aan die polisie oorhandig. Sy medewerkers het sy besluit afgekeur. Die polisie het hom verbasend genoeg oor sy eerlikheid gespot. Maar hierdie Christenman verduidelik: “Ek probeer Bybelbeginsels in my daaglikse lewe toepas.” Die Bybel sê in Hebreërs 13:18: “Bid vir ons, want ons is oortuig dat ons ’n goeie gewete het, omdat ons in alles goed [“eerlik”, NW] wil wandel.”
Universele trefkrag!
Die Bybel bied ook betroubare riglyne wat ander sedelike kwessies betref. Dit bevorder goedhartigheid, billikheid, regverdigheid, eerlikheid, opregtheid, fatsoenlikheid, ’n verantwoordelikheidsin en mensliewende besorgdheid oor ander. Die sedelike raad daarin word in die Gulde Reël opgesom: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen.”—Mattheüs 7:12.
Die Bybel se sedelike riglyne is, in ooreenstemming met hulle Bron, in enige land of kultuur suksesvol. In die boek Christianity’s Contributions to Civilization sê Charles D. Eldridge: “Boeke wat in een land geskryf word, word baie selde in ander lande gewild; hulle is soos bome wat nie teen verplanting bestand is nie . . . Maar nie die Bybel nie: dit is al in elke moontlike soort grond verplant sonder dat dit veel gesag en prag verloor het.”
Die Bybel is dus ongeëwenaard wat universele trefkrag betref en styg uit bo taal, kultuur en ras. Een Bybelskrywer het dit só gestel: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek” (2 Timotheüs 3:16, NAV). Dit is weliswaar soms moeilik om die Bybel te verstaan. In die ou tyd is een ywerige Bybelleser gevra of hy verstaan wat hy lees. Hy het geantwoord: “Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie?”—Handelinge 8:29-35.
Daardie man het persoonlike hulp ontvang om die Bybel te verstaan. Vandag is sulke persoonlike hulp beskikbaar deur middel van die Bybelopvoedkundige werk van Jehovah se Getuies. Hulle het reeds miljoene mense in meer as 200 lande gehelp om tot ’n kennis van God se Woord te kom. En hulle nooi jou ook om daardie Heilige Boek beter te leer ken deur ’n Koninkryksaal in jou omgewing te besoek.
Dit is interessant dat etiese gedrag blykbaar “deur ’n goeie voorbeeld aangeleer kan word, . . . of deur bloot met mense ‘om te gaan’ wat eties optree”. Dit is net nog ’n goeie rede om diegene te leer ken wat jou plaaslike Koninkryksaal besoek. Nie dat Jehovah se Getuies inherent beter as ander mense is nie, maar hulle welslae op sedelike gebied is ’n bewys van die krag van God se Woord.—2 Korinthiërs 4:7.
Die wêreld se sedes sal aanhou versleg. Die Bybel voorspel: “Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger” (2 Timotheüs 3:13). Maar jy hoef nie deur hierdie vernietigende stroom meegesleep te word nie. God het ’n betroubare kompas, ’n onfeilbare rigsnoer, voorsien. Gaan jy dit volg?
[Lokteks op bladsy 8]
Die Bybel sê self dat dit die Skepper se sedelike rigsnoer vir die mens is, die “lamp” wat ons pad kan verlig
[Lokteks op bladsy 9]
Die Bybel se sedelike riglyne is in enige land of kultuur suksesvol
[Lokteks op bladsy 10]
“Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen.”—Mattheüs 7:12
[Prent op bladsy 9]
Godvresende egpare het gevind dat dit ’n goeie uitwerking op hulle huwelik het as hulle die Bybel se sedelikheid naleef