Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 8/22 bl. 23-27
  • Njalaland—’n ongerepte paradys

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Njalaland—’n ongerepte paradys
  • Ontwaak!—1993
  • Soortgelyke materiaal
  • Op Safari in Ghana
    Ontwaak!—2001
  • Kom vaar saam met ons al met die Chobe op
    Ontwaak!—1990
  • Kan mens en dier in vrede lewe?
    Ontwaak!—1991
  • Leeus—Afrika se majestueuse maanhaarkatte
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 8/22 bl. 23-27

Njalaland—’n ongerepte paradys

Deur Ontwaak!-medewerker in Suid-Afrika

WATTER verfrissende verandering is dit tog vir ons agt stadsjapies!

Ons is in Njalaland—’n groot staptoergebied in die noorde van Suid-Afrika se Nasionale Kruger-wildtuin. Die naam kom van die mooi antiloop wat jy op hierdie bladsy sien. Dit is die njalabul.

Dit is aand en ons sit om ’n kampvuur buffelbredie en eet. In die bosveld om ons is daar olifante, leeus, luiperds, buffels en ander ontsagwekkende diere. Maar ons voel veilig onder die toesig van twee veldwagters. Trouens, ons dink aan hoeveel veiliger dit is om hier te wees as om in ’n misdaadgeteisterde stad te woon of op ’n besige hoofweg te ry.

“Het julle daardie skopsuil gehoor?” vra Kobus Wentzel, die veldwagter in bevel. Hy herhaal vernuftig die geluid, prrrrup. “Dit”, voeg hy by, “is ’n roep wat algemeen in hierdie gebied gehoor word. Ek sal môre op ons staptoer ’n paar voëls uitwys en julle kan dus gerus ’n voëlboek saamneem.”

Njalaland is ook ’n plantkundige se paradys. Daar is min plekke op aarde wat sy verskeidenheid plantegroei kan ewenaar. Volgens Reader’s Digest se Illustrated Guide to the Game Parks and Nature Reserves of Southern Africa is dit omdat “nege van Afrika se vernaamste ekosisteme” in die noorde van die Kruger-wildtuin saamkom. “Hier”, sê die boek voorts, “ontmoet moerasland die droë kreupelbos, woud die oop vlakte, rots die diep sand.” Sowat 400 vierkante kilometer van hierdie unieke streek is as gebied vir die Njalalandstaptoer opsygesit. Buiten die klein kamppersoneel woon hier geen ander mense nie, en daar is geen toeristepaaie nie.

Kobus probeer sy aandete nuttig terwyl hy ons baie vrae beantwoord. Hy het ’n meestersgraad in die wetenskap verwerf aan die Universiteit van Pretoria, waar hy natuurlewebestuur, dier- en plantkunde bestudeer het. Ons vind gou uit dat sy kennis nie net teoreties is nie.

“Het jy al enige gevaarlike konfrontasies met wilde diere gehad?”

“Ek het al ’n paar skynaanvalle beleef”, antwoord Kobus, “maar nooit deur ’n dier wat my werklik wou doodmaak nie.”

“Hoe weet jy dat dit net ’n skynaanval is wanneer ’n leeu jou storm?”

“As hy sowat vier of vyf meter voor jou in sy vier spore vassteek”, antwoord hy.

Veldwagters soos Kobus word opgelei om kalm te bly wanneer ’n dier storm. Hy verduidelik: “Hulle daag jou uit en jy stel die dier op die proef. Dit kan byvoorbeeld die geval wees met ’n leeuwyfie wat welpies het of ’n mannetjie wat ’n wyfie die hof maak. Deur jou te storm, sê die dier vir jou: ‘Jy oortree—jy maak inbreuk op my privaatheid en moet liewer padgee.’ Intussen het ek my geweer oorgehaal en is ek reg vir hom. Ek trek altyd ’n denkbeeldige streep. As hy oor daardie streep gaan, dan moet ek skiet. Maar ek vind dat hulle altyd voor daardie streep stop, en ek het nog nooit nodig gehad om enige dier tydens ’n staptoer te skiet nie.”

Kobus is ongetwyfeld nie ’n trofeejagter nie. Ons waardeer sy respek vir die natuurlewe. Maar dit word laat en ons moet môre vroeg op wees. Nadat ons nag gesê het, gaan slaap ons in vier grasdakhutjies wat ’n A-raamwerk het en op pale gebou is.

Om 4:45 vm. maak Wilson, die kampkok, ons wakker. Nadat ons ontbyt geniet het, ry ons na die plek toe waarvandaan ons gaan begin stap. Ons kyk dankbaar na die bewolkte hemel. Op wolklose somersdae kan die temperatuur tot meer as 40 grade Celsius styg.

Vir party van ons is dit ’n heeltemal nuwe ondervinding. Ons is aanvanklik bang dat ons dalk op ’n slang gaan trap of deur ’n wilde dier aangeval gaan word. Maar sulke vrese word gou vervang deur ’n gevoel van verwondering oor die uitgestrekte oop velde wat so ver as ’n mens kan sien met groen bome oortrek is. Oral in die bosveld hoor ’n mens voëlgesang en insekgeluide. O, watter genot is dit tog om die vars, onbesoedelde lug in te asem!

Nou en dan stop Kobus en sy helper, Ellion Nkuna, om ons iets interessants, soos ’n ry swerfmiere of ’n dierespoor, te wys. Ons kom by ’n boom met ’n termiethoop om sy stam. “Dit”, verduidelik Kobus, “is ’n njalaboom. Jy sien hulle dikwels op termiethope groei. Die termietbedrywigheid verryk die grond, en dit strek die boom tot voordeel.”

Ná ’n uur se stap loop ons verby ’n boom wat deur ’n olifant omgestoot is. “Hoewel dit ’n taai boom is”, verduidelik Kobus, “is dit glad nie vir ’n olifant ’n hindernis nie. Hy loop dit net om. Hulle doen dit dikwels. Dit klink moontlik ’n bietjie negatief, maar daar is ook positiewe aspekte. Binne ’n paar maande sal hierdie boom waarskynlik dood wees. Namate dit verrot, voorsien dit voedsel aan klein organismes en stel dit minerale in die grond vry.”

“Ek veronderstel”, voeg een in ons groep by, “dat ’n gebied soos hierdie in grasveld sal verander as die olifantbevolking nie beheer word nie.”

“Dis reg”, antwoord Kobus. “Daar sal nie ’n boom oorbly nie. In die Kruger-wildtuin probeer ons die olifantbevolking op ongeveer 7500 hou, wat volgens ons huidige kennis die aantal is wat die Kruger-wildtuin kan dra.”

Dan sien iemand ’n duidelike dierespoor in die sand. Ek roep impulsief uit: “Dit moet ’n luiperd s’n wees!”

“Nee”, sê Kobus, “dis ’n hiëna s’n. Let op dat dit ’n asimmetriese, of langwerpige, spoor is. Jy kan ook naelmerke sien, aangesien die hiëna ’n hondagtige dier is. Hy kan nie sy naels intrek nie. As jy dit nou vergelyk met die katspoor, soos van ’n luiperd of ’n leeu, kan dit baie maklik uitgeken word. Die katspoor is simmetries, dit wil sê rond, en sonder naelmerke, aangesien katte hulle kloue intrek. As jy na die agterste kussinkies kyk, sien jy ook dat daar in die hiëna se geval twee lobbe is, terwyl katagtige diere se agterste kussinkies groter is en drie lobbe het.”

Teen hierdie tyd begin ons honger word. Ons gaan dus op ’n groot termiethoop sit en eet iets ligs wat ons, die mans, in rugsakke gedra het. Daarna stap ons na ’n heuwel toe wat Kobus ons aanspoor om te klim. Halfpad op rus ons op ’n paar rotse en geniet ’n pragtige uitsig oor digte kreupelbos en bome wat oor ’n uitgestrekte vlakte tot by ’n bergreeks op die verre horison strek. Kobus herinner ons daaraan dat wat ons sien ongerep is, dat dit feitlik onaangeraak is deur die 20ste-eeuse mens. Maar ons is verbaas om op die heuweltop ’n paadjie te sien wat oënskynlik gereeld deur mense gebruik word.

“Dis ’n olifantpad”, sê Kobus.

Maar ek wonder hoe hy so seker kan wees dat diere dit gemaak het en nie mense nie. Terwyl dit deur my gedagtes gaan, vind die skerpsiende Ellion ’n bewys. Hy tel ’n ou olifanttand op.

“Dit is moontlik dekades oud”, sê Kobus.

“Wel”, erken ek, “dit bewys seker dat hier baie lank gelede enige mens was, aangesien die mens so ’n waardevolle artikel nie sou agterlaat nie.” Ellion sit die tand in sy rugsak om dit vir die owerheid van die Kruger-wildtuin te gee.

Die tyd het gevlieg en dit is amper middag wanneer ons die Land-Rover sien. Ons het ’n sirkelstaptog van sowat 11 kilometer gedoen. Wanneer ons weer by die kamp kom, het Wilson reeds middagete voorberei wat ons dankbaar verslind. Ná ’n middagslapie vertrek ons op ’n laatmiddagwandeling langs die Luvuvhurivier.

Hier is die natuurskoon pragtig, met digte, groen struikgewas en groot bome, soos die geelriviervy met sy fassinerende kronkelfatsoene. Nadat ons die name en kenmerke van verskeie bome geleer het, loop ons verby ’n trop bobbejane wat ons behoedsaam van agter ’n paar struike dophou. Daarna gaan sit ons op ’n rots wat oor die rivier uitkyk.

Terwyl ons na die stromende water luister, vestig Ellion ons aandag op vier njalakoeie agter ons wat na die rivier toe kom. Gelukkig waai die wind in ons rigting, en hulle ruik ons nie. Ons hou hierdie pragtige antilope dop terwyl hulle nou en dan stop om van die struikblare te eet. Ná sowat tien minute gewaar een van hulle ons en gee ’n waarskuwende blaf. Onmiddellik hardloop hulle almal weg.

Intussen het party van die nuuskierige bobbejane nader gekom, en ons hoor wat blykbaar die oordrewe geskreeu van ’n jong bobbejaantjie is. Miskien gee sy ma hom ’n pak omdat hy dit te naby gewaag het. Ons stel ons voor dat sy sê: ‘Moet dit nie weer naby daardie mense waag nie!’

Dit word donker en ons moet dus teruggaan kamp toe. Ná ons terugkeer begin dit reën, en ons geniet dus aandete in ’n oulike grasdakskuiling met oop kante. Ons luister na die reën se sagte tippetap wat deur die bosgeluide onderbreek word. Daar is wilde diere in die omgewing, en ons begin weer oor leeus gesels. Ons vra Kobus hoeveel keer hy al tydens ’n staptoer van aangesig tot aangesig met ’n leeu gekom het.

“Sowat 70 keer”, antwoord hy.

“Wat is gewoonlik die reaksie wanneer dit gebeur?”

“Gewoonlik”, antwoord Kobus, “is dit vir albei partye ’n verrassing. Jy loop in ’n gebied in, soos ons vandag gedoen het, en verwag om die gewone wild te sien, en skielik is daar, ’n paar meter voor jou, ’n trop leeus wat in die skaduwee rus. Hulle kyk na jou en jy sien hoe hulle oë rek asof hulle hulle oë nie kan glo nie. My oë rek waarskynlik ook”, lag Kobus. Dan sê ek vir die stappers: ‘Kom kyk! Gou!’ Die volgende oomblik hoor jy twee of drie brulgeluide, en die leeus stap weg. Hulle is baie banger vir ons as wat ons vir hulle is.

“Ander kere loop jy ’n wyfie met welpies raak, en dan is dit ’n ander saak. Pleks van te brul, maak sy ’n lang, dreigende gromgeluid, en jy sien hoe haar stert heen en weer piets. My geweer is oorgehaal en ek sê dat die stappers moet stilstaan. Dan stap ons ordelik agteruit terwyl ons vir die dier kyk en nie ons rug draai nie.”

Die volgende oggend stap ons deur die pragtige Mashikiripoort—’n smal kloof met steil kranse weerskante. Eindelik kom ons by ’n heuwel met ’n grot. Voordat Ellion opklim, gooi hy ’n klip en dit maak ’n harde klettergeluid. “Ek het die klip gegooi”, het hy later verduidelik, “net in geval daar leeus of ander gevaarlike diere is. Dit gee hulle tyd om te vlug.”

“Anders”, voeg Kobus by, “kan jy ’n gevaarlike dier vaskeer, en dan het jy probleme.” Wanneer ons die grot bereik, is daar ’n Boesmantekening op een van die rotswande. Dit is ’n kameelperd wat volgens Kobus moontlik meer as tweehonderd jaar gelede geteken is.

Terwyl ons stap, sien ons ook troppe kameelperde, wildebeeste en sebras. In ’n motor kan jy dikwels naby hierdie diere kom, maar as ’n mens te voet is en die wind in hulle rigting waai, ruik hulle jou altyd en hardloop hulle weg voordat jy naby kom. Ons luister hoe ’n trop sebras in die verte weggalop, en ek onthou die Bybel se ware woorde: “Die vrees en die skrik vir julle sal wees oor al die diere van die aarde.”—Genesis 9:2.

Teen hierdie tyd het ons al respek gekry vir Ellion se vermoë om diere raak te sien en hulle spoor te herken. Hy behoort aan die Tsonganasie—’n volk wat beroemd is vir hulle spoorsnyvernuf. Ons vra hom daaroor uit.

“Ek het dit begin leer toe ek as ’n klein seuntjie beeste opgepas het”, verduidelik hy.

Later, tydens ons middagstappie, is dit Ellion wat ons aandag op die seekoeigeluide vestig. Kort daarna kom ons by ’n plek wat op die rivier uitkyk. Daar is jou waarlik ’n trop seekoeie in die water. Baie mense beskou die seekoei as die gevaarlikste dier in Afrika. Maar ons het geleer om ons versigtige, goed opgeleide veldwagters te vertrou. Ons sit in stilte op die oewer en kyk. Nou en dan verdwyn ’n seekoei se kop onder die water. Sodra ons dink een is weg, kom hy skielik op, proes hy en spuit hy water by sy groot neusgate uit. Dan maak hulle eenstemmig hulle onvergeetlike, harde snorkgeluide en maak hulle yslike bekke oop.

Nadat ons sowat ’n halfuur lank deur hierdie snaaksighede vermaak is, stap ons teësinnig weg, want dit word donker. Daardie aand sit ons om die kampvuur en herleef die verrykende ondervindinge van die afgelope twee dae. Ons is verheug om te weet dat daar nog sulke ongerepte, pragtige plekke op die aarde is. Wat die toekoms betref, ons troos ons aan die Bybel se belofte dat God, voor dit te laat is, sal ingryp en die aarde van verderf sal red. Dan sal nie net Njalaland nie, maar die hele aarde bevoordeel word deur God se betroubare belofte: “Kyk, Ek maak alles nuut.”—Openbaring 11:18; 21:3-5; Jesaja 35:5-7.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel