Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 11/8 bl. 3-5
  • Wie beskerm Afrika se wild?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie beskerm Afrika se wild?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Skadu van vergane prag
  • Is daar plek vir mens sowel as dier?
    Ontwaak!—1993
  • Dierelewe neem in 50 jaar met 73% af – Wat sê die Bybel?
    Nog onderwerpe
  • Die Een wat ons wild sal beskerm
    Ontwaak!—1993
  • Padveiligheid vir diere
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 11/8 bl. 3-5

Wie beskerm Afrika se wild?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SUID-AFRIKA

DAAR is al onvriendelike dinge gesê oor die manier waarop mense in Afrika hulle natuurerfenis beskou. ‘Hulle het geen werklike waardering daarvoor nie; hulle beskou dit net as ’n bron van voedsel en geld’, sê party besoekers. Is daar ’n rede vir hierdie gevolgtrekkings? Reservate is dikwels vol Westerse toeriste en baie min plaaslike mense. Maar ’n Zulu-hoofman in Suid-Afrika het eenkeer verduidelik: “Daar is struikelblokke wat dit vir swart mense moeilik maak om wildreservate te besoek. Vir ons is wildbewaring ’n luuksheid wat slegs ’n handjievol swart mense kan bekostig om te geniet.”

Baie mense in Afrika word, in teenstelling met hulle voorvaders, in stedelike krotbuurte groot waar hulle van die natuur afgesny is. Plattelanders is ook dikwels slagoffers van armoede en verwaarlosing. “Slegs diegene met ’n vol maag kan dit bekostig om wild bloot weens estetiese, kulturele en opvoedkundige redes te beskerm”, het ’n wildbewaarder van ’n land in Wes-Afrika verduidelik.

Ten spyte van hierdie negatiewe faktore is die natuurlewe ’n gewilde tema in Afrika-kuns, soos ’n besoek aan kuriowinkels sal bewys. Argeologie onthul dat wilde diere al sedert antieke tye ’n tema van Afrika-kuns is. Is dit nie bewyse van ’n estetiese waardering vir die natuurlewe nie?

Neem die geval van Abel en Rebecca, wat al ’n paar vakansies in wildreservate van Suider-Afrika deurgebring het. Tog het albei in swart woonbuurte in Suid-Afrika grootgeword. Rebecca het danksy openbare dieretuine in Johannesburg en Pretoria in die natuurlewe begin belangstel. “As kind”, verduidelik sy, “het ons wilde diere net gesien wanneer ons hierdie dieretuine besoek het.”

Abel se liefde vir die natuurlewe het anders begin. Hy het dikwels gedurende skoolvakansies by sy grootouers op die platteland gekuier. “My oupa”, sê hy, “het altyd vir my verskillende diere gewys en hulle gewoontes aan my verduidelik. Ek onthou dat hy my van die ratel en ’n slim voëltjie, die grootheuningwyser, vertel het wat diere glo na byeneste lei.” Abel vertel hierdie fassinerende ondervinding wat hy as 12-jarige seun gehad het.

“Eendag, terwyl ons in die veld gestap het, het my oupa my aandag gevestig op ’n voëltjie wat blykbaar na ons geroep het. Dit was ’n heuningwyser. Ons het die voëltjie gevolg terwyl hy van boom tot boom voor ons uit gevlieg het. Dit het langer as ’n halfuur so aangehou. Uiteindelik het die voëltjie op ’n tak gaan rus en opgehou roep. My oupa het gesê dat ons nou die byenes moes soek. En sowaar, kort daarna het ons gesien hoe bye by ’n gat onder ’n klip invlieg. My oupa het versigtig ’n bietjie heuning uitgehaal. Daarna het hy ’n stukkie heuningkoek met larwes daarin op die rots neergesit. Dit was sy manier om die voëltjie te bedank dat hy ons na die byenes toe gelei het.”

Voëlkundiges het al baie oor hierdie merkwaardige verhouding tussen die mens en die heuningwyser geskryf. “Ek sal die ondervinding nooit vergeet nie”, sê Abel verder. “As gevolg hiervan wou ek meer omtrent die natuurlewe leer.”

’n Voormalige Masai-kryger van Tanzanië, Solomon ole Saibull, wat later ’n natuurbewaarder geword het, het sake in perspektief gestel toe hy taktvol aan ’n Westerse skrywer verduidelik het: “Ek weet van baie Afrikane wat nie alleen die ekonomiese sy van natuurbewaring waardeer nie, maar ook die ontasbare waardes daarvan . . . Hulle is mense—Afrikane—wat kan sit en kyk hoe die natuur hom op verskillende subtiele maniere openbaar. Die son wat oor die ligpers heuwels ondergaan, die geil plantegroei en die rivier- en valleilandskappe, die verskeidenheid en oorvloed van diere wat heeltemal vry is—dit maak alles deel uit van ’n magdom van fassinerende wonders. Hierdie estetiese gevoel word tog sekerlik nie net tot Europa en Amerika beperk nie?”

Ja, Afrika se natuurerfenis beïndruk almal—van nederige inwoners van swart woonbuurte tot hoogs opgeleide wetenskaplikes. ’n Duitse veeartsenystudent wat Suid-Afrika en die Nasionale Krugerwildtuin onlangs besoek het, het gesê: “Die natuur en die wildlewe was vir my die interessantste en boeiendste aspek van hierdie land. Met ons klein verskeidenheid grootwild en die gebrek aan ruimte in Duitsland is natuurontspanning en -bewaring op hierdie skaal vir my heeltemal onbekend.”

Toeriste word ook deur die ontsaglike natuurreservate in Botswana, Namibië en Zimbabwe bekoor. Maar die grootste konsentrasie van grootwild in Afrika word waarskynlik in en om die Nasionale Serengeti-wildtuin van Tanzanië en die Masai Mara-wildreservaat van Kenia aangetref. Hierdie beroemde parke grens aan mekaar, en die diere is nie omhein nie. “Saam”, sê die tydskrif International Wildlife, “dra die Serengeti-Mara een van die wêreld se grootste wildbevolkings: 1,7 miljoen wildebeeste, 500 000 gaselle, 200 000 sebras, 18 000 elande asook ’n aansienlike aantal olifante, leeus en jagluiperds.”

John Ledger, redakteur van die Suid-Afrikaanse tydskrif Endangered Wildlife, het in 1992 sy eerste besoek aan Kenia gebring en dit beskryf as ‘’n droom wat bewaarheid geword het’. Die Masai Mara, het hy geskryf, “is soos hoe vroeë landskappe moes gelyk het wat Cornwallis Harris [’n 19de-eeuse skrywer en jagter] gesien het terwyl hy in die 1820’s die binneland van Suid-Afrika verken het. Golwende graslande, enkele doringbome en ’n menigte wilde diere, so ver as die oog kan sien!”

’n Skadu van vergane prag

Ongelukkig sien ons vandag heelwat minder diere in groot dele van Afrika as wat Europese setlaars in vergange eeue gesien het. In 1824 het die eerste blanke hom byvoorbeeld in die gebied gevestig wat later die Britse kolonie van Natal geword het. Die klein kolonie het so gewemel van die wild dat jagtrofees en ander wildprodukte sy vernaamste handel was. In een jaar is tot 62 000 wildebees- en sebravelle uit Durban se hawe verskeep, en in ’n ander rekordjaar is meer as 19 ton ivoor uitgevoer. Weldra het die blankebevolking tot meer as 30 000 gegroei, maar die meeste van die wild was reeds uitgewis. “Daar is baie min wild oor”, het ’n Natalse magistraat in 1878 berig.

Dieselfde hartseerverhaal kan in ander dele van Afrika vertel word waar koloniale regerings toegelaat het dat die vernietiging van wild tot diep in die 20ste eeu voortgeduur het. Neem byvoorbeeld Angola, wat in 1975 onafhanklikheid van Portugal verkry het. Michael Main skryf in sy boek Kalahari: “Die verhaal wat oor die voormalige koloniale regime vertel kan word, is nie indrukwekkend nie. Ten einde die Huila-distrik vir beesboerdery geskik te maak, het die omstrede Diploma Legislativo nommer 2242 van 1950 verklaar dat die streek ’n oop jaggebied is. Gevolglik het ’n massaslagting van wild plaasgevind . . . Feitlik elke groot soogdier is uitgewis. Na raming was die slagting verantwoordelik vir die dood van 1000 swartrenosters, etlike duisende kameelperde en tienduisende wildebeeste, sebras en buffels. Die Diploma is byna twee en ’n half jaar lank nie herroep nie, en teen daardie tyd was die skade reeds gedoen, daar was geen diere oor nie.”

Maar hoe staan sake vandag, en watter soort toekoms wag daar op Afrika se wild?

[Venster op bladsy 5]

Geld uit wildreservate

Afrika se wildreservate en nasionale parke is oor hierdie reusekontinent versprei en beslaan na raming ’n totaal van 850 000 vierkante kilometer. Dit is gelykstaande aan ’n gebied veel groter as Brittanje en Duitsland saam.

In baie van hierdie natuurreservate kan jy die sogenaamde vyf grotes—olifante, renosters, leeus, luiperds en buffels—te sien kry. Daar is ’n groot verskeidenheid diere wat ’n mens fassineer—van majestueuse arende wat in die lug sweef tot nederige miskruiers wat hulle misballe oor paaie rol.

Duisende oorsese toeriste waardeer hierdie natuurlewe. Hulle bestee jaarliks meer as driemiljard rand in lande wat in die behoeftes van wildliefhebbers voorsien. Ja, natuurreservate is ’n bron van inkomste.

[Prent op bladsy 4]

Nie lank gelede nie is daar elke jaar in Suid-Afrika oneindig baie wilde diere vir trofeë en velle gejag

[Erkenning]

Courtesy Africana Museum, Johannesburg

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel