Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 11/8 bl. 16-19
  • Sigbare bewyse van die Slagting

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sigbare bewyse van die Slagting
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Besoek om te onthou
  • ’n Opvoedkundige museum
  • Oorlewendes van die Slagting
  • Die nut van die museum
  • ’n Slagtingsgedenkmuseum en Jehovah se Getuies
    Ontwaak!—1993
  • Kan die Slagting weer plaasvind?
    Ontwaak!—2001
  • Die booshede van Nazisme aan die kaak gestel
    Ontwaak!—1995
  • Standvastig gedurende die Nazi-besetting van Nederland
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 11/8 bl. 16-19

Sigbare bewyse van die Slagting

TERWYL JY ’N PLEK BINNEGAAN WAT DIE LAAGSTE PEIL VAN MENSLIKHEID TEN TOON STEL, lyk dit vreemd om hierdie woorde uit die Heilige Bybel in klip gegraveer te sien: “Julle is my getuies.” Maar miskien is dit tog die plek om die Bybel, ten minste daardie spesifieke vers, aan te haal.—Jesaja 43:10.

Die Verenigde State se Slagtingsgedenkmuseum in Washington, DC, wat op 22 April 1993 ingewy is, is ’n onmiskenbare en realistiese herinnering aan tegnologie wat deur amorele opswepers misbruik is om ’n onbeskryflike uitwissingstelsel te ontwerp. Die katalogus van weerlose slagoffers wat deur Nazi-tirannie vermoor is, gaan die verstand te bowe—ongeveer sesmiljoen Jode en miljoene ander mense, waaronder Pole, Slawe, Jehovah se Getuies, Sigeuners, homoseksuele en mense met gebreke.

’n Besoek om te onthou

Die besoek begin in ’n koel, grys staalhyser wat jou van die grondverdieping, wat die Getuienissaal genoem word, na die derde verdieping neem. Daarvandaan sien besoekers, namate hulle na die onderste verdiepings gaan, uitstallings van alle stadiums van die Slagting, van Nazi-propaganda tot Hitler die bewind oorgeneem het tot die aankeer van slagoffers tot die vrylating uit die doodskampe. Die besoek eindig in die Herdenkingsaal, waar daar altyd ’n vlam brand. Die getuienis van ooggetuies, foto’s en rolprente, musiek en tekenwerk—alles word gebruik om hierdie grusame verhaal te help vertel.

Besoekers sien drie verdiepings van ’n uiters roerende en oorweldigende permanente uitstalling. Party afgrysliker uitstallings is agter ’n muur wat ongeveer 1,2 meter hoog is sodat kinders nie daaroor kan sien nie.

’n Opvoedkundige museum

Die museum se Slagtingsnavorsingsinstituut het ’n uitgebreide biblioteek en argief. Dit sal ook as ’n internasionale sentrum vir verdere studies oor die Slagting dien. “Ons wy ons aan die onderrigting en opvoeding van die publiek”, sê dr. Elizabeth Koenig, die hoof van die Museumbiblioteek. Die biblioteek sal inligting hê oor party van die minderheidsgroepe wat in die konsentrasiekampe was. “Ons het reeds baie inligting oor Jehovah se Getuies”, sê sy.

In 1933 het Hitler ’n veldtog begin om Jehovah se Getuies uit te wis. Duisende Getuies—van Duitsland, Oostenryk, Pole, die eertydse Tsjeggo-Slowakye, Nederland, Frankryk en ander lande—is na konsentrasiekampe geneem. Hulle is slegs om godsdiensredes vervolg. Twee van hierdie kampoorlewendes is na die museum se opening genooi.

Oorlewendes van die Slagting

Een oorlewende, Franz Wohlfahrt, 73, het gesien hoe altesaam 15 van sy naasbestaandes in hegtenis geneem word omdat hulle Getuies is. “Sewe van hulle is tereggestel, die meeste deur die valbyl. Een is vergas, en die ander het in konsentrasiekampe en Gestapo-tronke gesterf”, vertel hy.

Het hy gedink dat hy ooit die kampe sou oorleef? “Ek het werklik daaraan getwyfel”, sê Franz. “Die wagte het my byna elke dag daaraan herinner dat indien Duitsland die oorlog verloor hulle steeds genoeg ammunisie sou hê om my mee tereg te stel.”

Is hy spyt dat hy vanweë sy godsdiensoortuiging ’n gevangene was? “Nooit! Nooit!” sê Franz, asof so ’n gedagte ’n belediging van sy standvastigheid is. “Ons was altyd blymoedig. Ek is baie keer deur wagte voorgekeer wat gevra het: ‘Het jy in al hierdie ellende steeds ’n glimlag op jou gesig? Wat makeer jou?’ Dan het ek gesê: ‘Ek het rede om te glimlag omdat ons ’n hoop het wat verder strek as hierdie moeilike tyd—’n hoop op God se Koninkryk wanneer alles herstel sal word en alles vergoed sal word vir wat ons vandag moet deurmaak.’”

Joseph Schoen, wat in 1910 gebore is, het Bybellektuur in Oostenryk ondergronds gedruk en versprei en was altyd een stap voor die Gestapo—tot 1940, toe hulle hom in hegtenis geneem het. Van 1943 tot 1945 is hy gereeld met die dood gedreig. In 1943 het die konsentrasiekampleier Joseph voor al die vergaderde personeellede uitgesonder en geskreeu: “Is jy steeds getrou aan die God, Jehovah?”

“Ja, ek is”, het Joseph geantwoord.

“Dan gaan jou kop waai!”

In 1945 was Joseph op die dodemars na Dachau. “Ek was uit ’n fisiese oogpunt ’n wrak”, onthou hy. “Tog was ek nog nooit so sterk in my geloof soos op daardie mars nie.”

Nou, terwyl hy die museum besoek en aan sy dae as ’n gevangene terugdink, sê hy: “Ek was destyds glad nie bang nie. Jehovah ondersteun jou wanneer jy dit nodig het. Jy moet leer hoe om op Jehovah te vertrou en besef hoe werklik hy is wanneer die ergste gebeur. Hy verdien alle eer. Nie een van ons was ’n held nie. Ons het net op Jehovah vertrou.”

Die nut van die museum

“Ek dink hierdie museum het baie groot betekenis”, sê die geskiedskrywer dr. Christine Elizabeth King, waarnemende visekanselier van Staffordshire-universiteit in Engeland. “In die eerste plek bevat die museum die verslag van wat gebeur het. En dit dien hier as teenargument vir diegene wat sê: ‘Dit het nooit gebeur nie.’ Daar is soveel bewyse, sowel as die lewende getuies wat die Slagting oorleef het. Tweedens is die museum ’n uitstekende opvoedkundige middel.”

“En vir Jehovah se Getuies”, sê sy voorts, “is dit baie belangrik om hulle broers en susters te kan sien wat gely en gesterf en hulle lewe gegee het. Die verslag daarvan is iets baie spesiaals.”

[Venster op bladsy 18]

Die woorde op die pilaar lui:

“JEHOVAH SE GETUIES”

“Die Nazi’s het Jehovah se Getuies in 1933 begin teister. Omdat die Getuies geweier het om militêre diens te verrig en aan die regering trou te sweer, is hulle dikwels van spioenasie en sameswering teen die staat beskuldig. Die Nazi’s het die Getuies se voorspellings oor toekomstige anargie as revolusionêre dreigemente vertolk en hulle profesieë oor die terugkeer van Jode na Palestina as Sionistiese stellings.

“Die Getuies het nietemin steeds vergader, gepreek en lektuur versprei. Hulle het hulle werk, pensioen en alle burgerregte verloor en is van 1937 af na konsentrasiekampe gestuur. Daar het die Nazi’s hulle as ‘vrywillige gevangenes’ bestempel: Getuies van Jehovah wat hulle geloof verloën het, kon vrygelaat word. Nie een van hulle het dit gedoen nie.”

[Venster op bladsy 19]

“Dis ’n belangrike verhaal om te vertel”

“Een van die merkwaardigste verhale is dié van Jehovah se Getuies. Vanweë hulle godsdiensoortuiging was hulle een van die eerste godsdienste wat . . . deur die Nazi-regering in 1933 verbied is. Dit was net omdat hulle geglo het dat hulle hulle eerbied en hulle verantwoordelikheid aan ’n hoër wet, die wet van God, verskuldig is. As gevolg hiervan is hulle so meedoënloos soos die Jode en die Sigeuners vervolg en in konsentrasiekampe gesit waar baie van hulle hulle lewe verloor het.

“Dis ’n belangrike verhaal om te vertel. Die treurigste aspek daarvan [is] moontlik dié van die kinders van Jehovah se Getuies. Wanneer hulle pa na ’n kamp geneem en hulle ma in hegtenis geneem is, is hulle, saam met Joodse en Sigeunerkinders, in ’n ry agter in die skool gesit. As die kinders steeds nie die saluut ‘Heil Hitler!’ wou gebruik of enige ander blyk van eerbied teenoor die Nazi-staat wou betoon nie, is hulle eenvoudig weens hulle geloof as jeugmisdadigers geklassifiseer. En hierdie kinders het natuurlik nie net geboet vir hulle ouers se sogenaamde en beweerde misdade nie, wat misdade van die gewete was, maar ook vir die feit dat hulle hulle kinders was.”—Dr. Sybil Milton, hoofgeskiedskrywer van die museum.

[Prent op bladsy 16]

Konsentrasie-kampbaadjies met die pers driehoekige kenteken het Jehovah se Getuies geïdentifiseer

[Prent op bladsy 17]

Slagtingsoorlewendes Franz Wohlfahrt (links) en Joseph Schoen met die geskiedskrywer dr. Christine King by die uitstalling “Die slagoffers”

[Prent op bladsy 17]

Franz Wohlfahrt en Joseph Schoen is in soortgelyke goederewaens na konsentrasiekampe vervoer

[Prent op bladsy 18]

Bo: Die oorlewendes Franz Wohlfahrt (links) en Joseph Schoen by die geskiedenisvideovertoning “Vyande van die Staat” wat Jehovah se Getuies insluit

[Prent op bladsy 18]

Onder: Maria en Franz Wohlfahrt by die uitstalling met die Bybel van Johann Stossier, Maria se broer. “Johann het dit op die een of ander manier ’n hele ruk lank weggesteek voordat dit ontdek is”, sê Franz. “Die Bybel is die enigste besitting wat ná sy teregstelling aan sy ma teruggestuur is”

[Prent op bladsy 18]

Die woorde langs die uitgestalde Bybel lui: “Hierdie Bybel het aan Johann Stossier behoort, een van Jehovah se Getuies wat ’n gevangene in die Sachsenhausen-konsentrasiekamp was. Johann Stossier is oorlede kort voordat Sowjet-troepe die gevangenes uit die kamp bevry het”

[Prent op bladsy 19]

“Hoe wankelbaar is die grondslag van die beskawing tog nie”, het die Amerikaanse president Clinton by die inwyding van die museum gesê. “Die Slagting herinner ons vir ewig daaraan dat kennis sonder waardes die mens se nagmerrie net kan vererger, dat ’n kop sonder ’n hart nie menslikheid is nie”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel