Is gewelddadige TV-tekenprente skadelik?
Deur Ontwaak!-medewerker in Brittanje
“BUGS Bunny word vir skoolgevegte blameer”, het ’n opskrif in The Times van Londen gesê. Die koerant het berig hoe sommige onderwysers voel oor die gedrag van jongmense wat glo gewelddadige tonele uit TV-tekenprente naboots.
“Die meeste tekenprente is gewelddadig”, het die onderhoof van ’n laerskool gesê, “en selfs as die goeie ou uiteindelik seëvier, doen hy dit op ’n manier wat veel te wense oorlaat.” Voel jy ook só oor die strekking van TV-tekenprente?
Baie ouers is besorg omdat animasie al hoe gewilder word en nou algemeen op video beskikbaar is. Party is besorg oor hulle kinders se “tekenprentmentaliteit” en sê selfs dat tekenprente geweld, oneerlikheid en ongehoorsaamheid bevorder.
Maar kan dit werklik skadelik wees om na tekenprente te kyk, al is daar ’n paar gewelddadige tonele in?
Is dit skadelik?
Volgens die riglyne van die BBC (Britse Uitsaaikorporasie) moet TV-regisseurs die uitwerking van enige geweld wat in hulle programme vertoon word ernstig oorweeg, en dit sluit tekenprente in. Die amptelike beskouing is: “Hoe meer die kyker hom met die situasie kan vereenselwig, hoe meer sal die geweld sy emosies prikkel.”
Tekenprente beeld uiteraard onwerklike situasies uit; is die gevaar dus minimaal? Die meeste kinders wat graag na TV-tekenprente kyk, doen dit natuurlik vir vermaak. Tekenprente verskaf inderdaad vermaak. Maar kan hulle meer doen? Ja, ongetwyfeld, want enige tekenprent kan ’n blywende indruk maak. Dr. Gregory Stores van Oxford-universiteit het vir die tydskrif TV Times, waarin die TV-programrooster aangegee word, gesê dat die tekenprente waarna kinders kyk een oorsaak is van die “monsters, spoke of wilde diere” wat so algemeen in kindernagmerries voorkom.
Die Britse regering se studie Screen Violence and Film Censorship erken ook dat die geselskap waarin ’n kind hom bevind wanneer hy na ’n rolprent kyk, kan bepaal watter uitwerking dit op hom het. Wanneer kinders dus sonder toesig na tekenprente kyk, kan dit vir hulle gevaar inhou.
Dieselfde verslag sê dat kleuters gewelddade wat hulle sien geredelik naboots en dat ouer kinders van ongeveer vyf of ses “met die een of ander emosionele aansporing” aggressiewe dade wat hulle geleer het, sal uitvoer.
Daarom erken uitsaaiers die moontlikheid dat “veral kinders”, ongeag hulle ouderdom, wat oor ’n tydperk aan die uitbeelding van geweld op televisie blootgestel word “ongevoelig daarvoor kan raak of dit as iets alledaags kan begin beskou”. Dit kan hulle minder sensitief daarvoor maak om self geweld te pleeg of hulle gevoelloos laat optree wanneer ander weens geweld ly.
Die “Bugs Bunny”- of “Tom and Jerry”-verslaafde, wat daardie karakters moontlik jare gelede vir die eerste keer op die rolprentskerm gesien het, is moontlik nou ’n ouer en kan, deur net ’n knoppie te druk, na hulle hedendaagse manewales op TV kyk. Maar standaarde het verander. Ouers wat hulle kinders se welsyn op die hart dra, sal beslis die inhoud van hedendaagse tekenprente wil nagaan.
Neem die “Teenage Mutant Ninja Turtles” as voorbeeld. Hierdie Amerikaanse rolprentkarakters is vir talle transatlantiese gehore as te gewelddadig beskou. Voordat die tekenprent wat op die rolprent gebaseer is dus as ’n televisiereeks in Brittanje vertoon is, het die BBC party tonele uitgesny. Hulle het selfs die woord “Ninja” uitgelaat omdat dit na Japannese krygsmanne verwys. Hulle het hulle eerder “Teenage Mutant Hero Turtles” genoem.
Maar ouers was steeds besorg. Een ma het aan die koerant Scotsman gesê: “Kinders is baie liggelowig. Ek het ’n vyfjarige wat turtle-mal is. Wanneer ek hom by die skool gaan haal, is die kinders op die speelgrond almal besig om mekaar te probeer skop.”
Die besorgdheid van ouers en onderwysers word verbasend genoeg deur party speelgoedwinkeleienaars gedeel. Een Britse winkel het aangekondig dat hulle dié reptielkrygsmanne nie meer gaan verkoop nie as gevolg van vrese dat kinders “mekaar met karateskoppe sal terroriseer en hulle lewe in gevaar sal stel deur in die stormwaterafvoerstelsels weg te kruip”. Is daar enige ander gevare?
Verborge gevare
Een koerant het gesê dat die verband tussen die “Turtles”-tekenprente en die bemarking van verwante produkte “waarskynlik tot nog toe die mees ontstellend suksesvolle bemarkingstaktiek is wat op kinders gerig is”. Só ’n verband is niks nuuts nie, maar “wat wel in die ‘Turtles’ se geval nuut is, is die grootte” van die mark.
In hierdie geval hoop die handelaars om ongeveer 400 “Turtle”-produkte, soos strokiesverhale en T-hemde, aan verslaafde kinders te verkoop. As kinders dan so bitter graag hierdie dinge wil hê nadat hulle na die tekenprente gekyk het, moet die tonele waarna hulle in daardie selfde tekenprente kyk sekerlik ’n uitwerking op hulle hê! Maar party sê moontlik dat hierdie nuwe giere gou oorwaai.
Selfs al waai sulke giere gou oor geniet mense steeds ou gunstelingtekenprente. “‘Mutant Turtles’ sal dalk kom en gaan, maar ‘Tom and Jerry’ bly vir ewig”, sê The Times van Londen. Jy sal jou dus moontlik ’n paar vrae moet afvra. Is die feit dat jy tuis na sulke tekenprente kyk vir jou kinders ’n aanduiding dat jy elke daad wat uitgebeeld word, goedkeur? Wat van tonele waarin diere wreed behandel word? Jy redeneer moontlik dat tekenprente nie met die werklike lewe vereenselwig kan word nie. Maar weet jy wat nou met tekenprente gebeur? Animatronika!
“Animatronika” is elektroniese vernuf wat tekenprentfantasieë lewensgetrou maak, so lewensgetrou dat gehore dit moeilik vind om tussen die tekenprent en die werklikheid te onderskei. “Die animatroniese koninkryk is so oortuigend in vlakby-opnames”, berig The Sunday Times Magazine, “dat selfs die aandag van die mees siniese kykers, wat gewoond is aan fantastiese rolprentkunsies, nie deur ’n vals sweetgaatjie of nagemaakte plooi afgelei word nie.” Gewelddadige tonele wat só uitgebeeld word, word met skokkende realisme weergegee.
Dink ook aan die gedragstandaarde wat hedendaagse tekenprente die volgende geslag bied. Die karakters wat in een nuwe, gewilde tekenprent uitgebeeld word, is “’n onuitstaanbare gesin van raasbekke, leeglêers en ‘onderpresteerders’”, berig The Times van Londen. Mense geniet dit “deels as gevolg van die karakters se antisosiale gedrag”.
Ja, ouers, julle het heel waarskynlik rede om besorg te wees wanneer julle dink aan die tekenprente waarna julle kinders kyk. Wat kan julle dan doen?
Verbied ‘geweld as vermaak’
Evalueer die voor- en nadele van die vermaak wat aangebied word. Party ouers het ter wille van hulle gesin se welsyn besluit om sonder ’n TV klaar te kom. Ander help hulle kinders om die voor- en nadele van die programme waarna hulle mag kyk, in ag te neem. “Hoe beter ’n kind (of selfs ’n volwassene) toegerus is om krities en analities na ’n tekenprent, ’n advertensie of ’n nuusberig te kyk”, verduidelik The Independent van Londen, “hoe groter voordeel sal sy of hy uit die media trek.” Ouers is beslis in die beste posisie om hulle kinders te help om dit te doen.
’n Onlangse studie oor die rol van televisie in die gesinslewe het die aandag op twee verskillende onderrigtingsmetodes gevestig. Een behels redenering en verduideliking, tesame met ’n beroep op jou kind se vermoë om dinge te bereik. Die ander is basies straf en dreigemente. Wat het die resultate getoon?
Die kinders wie se ouers hulle met straf gedreig het, het “televisieprogramme met ’n antisosiale inhoud” verkies, terwyl “kinders wie se ma’s hulle hoofsaaklik met redenerings en verduidelikings gedissiplineer het” sulke tonele “die minste aanloklik gevind het”. Liefdevolle ouers verduidelik dus vir hulle kinders waarom dit onverstandig is om na gewelddadige tekenprente te kyk. Maar hou in gedagte dat kinders gebore nabootsers is, en dit plaas ’n groot verantwoordelikheid op ouers om nie na geweld as vermaak te kyk nie. As jy daarna kyk, sal jou kinders niks daarmee verkeerd sien om self daarna te kyk nie.
Jy vra moontlik: ‘Hoe kan ek dan my kinders vermaak?’ Een voorstel: Waarom soek julle nie vermaak deur na die manewales van werklike diere te kyk nie? Woon julle naby ’n natuurreservaat of dieretuin wat julle saam as ’n gesin kan besoek? Indien nie, kan julle altyd gepaste video’s oor die natuurlewe kies waarna julle tuis kan kyk.
Ongelukkig kan nie een van ons tans die geweld van die wêreld waarin ons leef, ontvlug nie. Maar of ons nou jonk of oud is, ons kan, as ons wil, enigiets vermy wat geweld bevorder.
[Prent op bladsy 12]
Bevorder tekenprente geweld?