Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 7/22 bl. 9-11
  • Vryheid van spraak in die huis—Is dit ’n kruitvat?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vryheid van spraak in die huis—Is dit ’n kruitvat?
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat ouers kan doen
  • TV—Die “subtiele onderrigter”
    Ontwaak!—2006
  • Het televisie jou verander?
    Ontwaak!—1991
  • Verstandige gebruik van die televisie
    Ontwaak!—2000
  • Vryheid van spraak—Word dit misbruik?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 7/22 bl. 9-11

Vryheid van spraak in die huis—Is dit ’n kruitvat?

AS IEMAND sonder rede “Brand!” skreeu in ’n stampvol teater en van die mense doodgetrap word in die stormloop om uit te kom, moet die een wat geskreeu het dan nie die verantwoordelikheid dra vir die gevolglike sterftes en ongelukke nie? As iemand sê: “Ek stem nie saam met wat jy sê nie, maar ek sal jou reg om dit te sê, verdedig”, ontvang jy dan carte blanche, onbeperkte vryheid, om in die openbaar te sê net wat jy wil, ongeag die gevolge? Daar is diegene wat so dink.

Toe rap-sangers in Frankryk byvoorbeeld die moord van polisiemanne voorgestaan het en polisiemanne doodgemaak is deur van die mense wat die musiek gehoor het, moes die gereg dan nie die rap-sangers aanspreeklik gehou het vir die geweld wat hulle aangestook het nie? Of moet hulle onder ’n verklaring van regte beskerm word? As radio- en televisieuitsaaiers en rekenaarnetwerke eksplisiete tonele van geweld en pornografie beskikbaar stel aan kinders, waarvan party hierdie tonele tot nadeel van hulleself en van ander naboots, moet die verskaffers van sulke materiaal dan nie deels daarvoor verantwoordelik wees nie?

’n Studie deur die Amerikaanse Sielkundige Vereniging “reken dat die gewone kind, wat 27 uur per week TV kyk, 8000 moorde en 100000 dade van geweld sal sien tussen die ouderdom van 3 en die ouderdom van 12”, sê die tydskrif U.S.News & World Report. Kan ouers met reg voorgee dat dit nie eintlik ’n invloed op hulle kinders het nie? Of hou dit miskien ’n “duidelike en onmiddellike gevaar” in? Is dit hier waar ’n streep getrek moet word of ’n beperking op vryheid van spraak geplaas moet word?

Een studie wat deur universiteitsielkundiges gedoen is, waarin tekenprente van “superhelde wat vuisslaan” gereeld aan een groep vierjariges vertoon is en “kalmer prente” aan ’n ander groep, het getoon dat dit waarskynliker was dat dié wat die aksiehelde gesien het ná die tyd goed sou slaan of rondgooi. En die uitwerking van TV-geweld vervaag ook nie ná die kinderjare nie. Nadat 650 kinders van 1960 tot 1995 bestudeer is en hulle kykgewoontes en gedrag ondersoek is, het ’n ander universiteitstudie bevind dat dié wat as kinders na die gewelddadigste televisieprogramme gekyk het as volwassenes die aggressiefste gedrag geopenbaar het, waaronder huweliksgeweld en dronkbestuur.

Hoewel sommige kinders miskien nie sal erken watter uitwerking televisie en rolprente op hulle het nie, sal ander wel. In 1995 het Kinders Nou, ’n steungroep in Kalifornië, 750 kinders, tussen die ouderdomme van 10 en 16, ondervra. Die studie het getoon dat 6 uit 10 gesê het dat seks op TV kinders beweeg om op ’n te jong ouderdom seks te hê.

Party voer dalk aan dat kinders geweld op televisie en in rolprente miskien nie letterlik opneem nie en dat al daardie gruwelrolprente geen uitwerking op hulle het nie. “Waarom”, het ’n Britse koerant gevra, “moes ’n skoolowerheid in Amerika se Midde-Weste dan vir duisende kinders sê dat daar nie Teenage Mutant Ninja Turtles in die plaaslike stormpype was nie? Die klein Turtle-aanhangers het in die afvoerpype ingekruip om hulle te soek, dis waarom.”

Vandag word daar ’n hewige debat gevoer oor wat sommige as ’n fyn skeidslyn beskou tussen vryheid van spraak en die geweld wat deur anti-aborsiepraatjies in baie plekke in die Verenigde State veroorsaak word. Mense wat teen aborsie gekant is, protesteer in die openbaar dat dokters en kliniekpersoneel wat aborsies uitvoer moordenaars is en self nie die reg het om te leef nie. ’n Paar yweriges eis dat hierdie dokters en hulle helpers doodgemaak word. Bespieders kry die voertuigregistrasienommers van sulke mense, en hulle name en adresse word uitgedeel. Gevolglik is dokters en kliniekpersoneellede al geskiet en doodgemaak.

“Dit is nie ’n kwessie van vryheid van spraak nie”, het die president van Amerika se Federasie vir Gesinsbeplanning uitgeroep. “Dit is dieselfde as om ‘Brand!’ in ’n stampvol teater te skreeu. Ons het ’n stampvol teater; kyk maar net na die vlaag van moorde by klinieke in die laaste paar jaar.” Diegene wat hierdie geweld voorstaan, voer aan dat hulle maar net hulle reg uitoefen soos dit in die Amerikaanse Eerste Wysiging—vryheid van spraak—gewaarborg word. En so hou dit aan. Die stryd om hierdie reg sal steeds in die openbaar gestry word, en howe sal die geskil moet beslis, ongelukkig nie tot die tevredenheid van almal nie.

Wat ouers kan doen

Huise moet toevlugsoorde wees vir kinders, nie ’n plek waar hulle ’n maklike prooi kan word van diegene wat hulle sal uitbuit en misbruik of waar kalm persoonlikhede beweeg kan word om gewelddadige luimveranderinge te openbaar nie. “Jy voel miskien verseker dat jou kind nooit gewelddadig sal raak nie, ondanks die feit dat hy gereeld na TV-geweld kyk”, het ’n Amerikaanse universiteitsprofessor aan ouers gesê. “Maar jy kan nie verseker wees dat jou kind nie vermoor of vermink sal word deur iemand anders se kind wat wel gereeld daarna kyk nie.” Toe het hy die aansporing gegee: “Die beperking van kinders se blootstelling aan TV-geweld moet deel van die openbare gesondheidsprogram word, soos veiligheidstoeltjies, fietshelms, immunisasie en goeie voeding.”

As jy nie sal toelaat dat ’n vreemdeling in jou huis inkom en skeltaal gebruik en onwelvoeglik met jou kind oor seks en geweld praat nie, moet dan nie die radio of televisie toelaat om daardie vreemdeling te wees nie. Jy moet weet wanneer om dit af te skakel of om die kanaal te verander. Jy moet selfs weet waarna jou kind op televisie en op die rekenaar in die privaatheid van sy kamer kyk. As hy weet hoe om die rekenaar en die beskikbare rekenaarnetwerke te gebruik, sal jy dalk geskok wees as jy uitvind waarna hy saans kyk. As jy nie goedkeur waarna jou kind kyk nie, sê eenvoudig nee en verduidelik waarom. Hy sal nie doodgaan as hy beperk word nie.

Ten slotte, leer jou kinders om volgens Goddelike beginsels te leef en nie volgens die gebruike van hierdie goddelose stelsel van dinge, waarvan die woorde en dade deur geweld en onwelvoeglikhede gekenmerk word nie (Spreuke 22:6; Efesiërs 6:4). Die apostel Paulus het tydige raad aan Christene gegee waarvolgens ons almal moet leef. “Laat hoerery en elke soort onreinheid of gierigheid onder julle selfs nie genoem word nie, net soos dit heilige mense betaam; ook nie skandelike gedrag of dwase praatjies of onwelvoeglike skertsery nie, dinge wat nie betaamlik is nie, maar eerder danksegging.”—Efesiërs 5:3, 4.

[Prente op bladsy 10]

Party TV-programme kan tot misdaad en onsedelikheid lei

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel