Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 8/8 bl. 18-20
  • ’n Mabeer se lang slaap

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Mabeer se lang slaap
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Besige somer
  • Die lang slaap
  • Nuwe lewe
  • Lente
  • Indrukwekkende reuse van die Noorde van Kanada
    Ontwaak!—1993
  • Voeding en versorging in die dierewêreld
    Ontwaak!—2005
  • Wanneer die son nie opkom nie
    Ontwaak!—2008
  • Die luiperd—’n geheimsinnige kat
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 8/8 bl. 18-20

’n Mabeer se lang slaap

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FINLAND

WANNEER die trekvoëls begin migreer, weet ons dat dit binnekort herfs in die Noorde gaan wees. Om van die snerpende koue af weg te kom, vlieg kraanvoëls in statige V-formasies en vrolike swerms spreeus suidwaarts. Terselfdertyd moet die bruinbeer, wat onder op die grond loop, ook die koue winterweer trotseer. Hoe sal sy die winter oorleef wanneer die plantegroei doodgaan, die grond verys en alles deur ’n sneeukombers bedek word? As jy vlerke het, kan jy maklik wegkom, maar die bruinbeer kan nie net deur die boswêreld na warmer streke trek nie.

Die oplossing is heel prakties. Die beer sal haar kos vir die winter gedurende die somer eet en dan tot die lente toe hiberneer. Dit is egter nie so maklik soos wat dit klink nie. Dink net hoe jy sal lyk as jy ’n halwe jaar lank niks eet of drink nie. Kom ons kyk na ’n paar verbasende aspekte van ’n mabeer se winterslaap.

’n Besige somer

Om etlike maande lank sonder kos te kan bly, moet ’n mabeer voor die tyd energie opberg. Daarom is sy nie besorg oor haar figuur nie. Haar hoofdoel is om baie vet onder haar vel te hê, op party plekke tot agt sentimeter daarvan. Hoewel suikerryke bessies haar gunstelingkos is, is sy nie uitsoekerig nie—sy eet enigiets. Sy eet plantwortels, klein soogdiertjies, vis en miere. Wanneer die herfs uiteindelik aanbreek, het haar gewig moontlik van 130 kilogram tot 160 kilogram toegeneem, waarvan sowat ’n derde vet is (teen hierdie tyd weeg die mannetjie moontlik tot 300 kilogram). Voordat dit tyd is om droomland toe te gaan, hou sy op met eet en maak sy haar ingewande leeg. Sy eet, urineer of ontlas haar eers weer ongeveer ’n halwe jaar later.

’n Goeie lêplek is ’n grot, ’n verlate miershoop of ’n holte onder ’n boom se wortels, net solank dit rustig is—niemand hou mos daarvan om gepla te word wanneer hy slaap nie. Die beer maak sparboomtakke, mos, turf en ander kooigoed bymekaar om haar lêplek so gemaklik as moontlik te maak. Die lêplek is nie veel groter as die beer se groot lyf nie. Wanneer die winter aanbreek, sal sneeu haar lêplek bedek, en slegs die luggat sal dalk deur ’n oplettende persoon gesien kan word.

Die lang slaap

Sekere klein soogdiere, soos krimpvarkies, vlermuise en relmuise, word egte hiberneerders genoem omdat hulle die grootste deel van die winter in ’n toestand deurbring wat soortgelyk is aan die dood en hulle liggaamstemperatuur amper dieselfde as dié van die omgewing is. Maar die beer se liggaamstemperatuur daal net sowat vyf grade Celsius, en gevolglik slaap sy nie baie diep nie. “Dit is nie asof die beer heeltemal bewusteloos is nie. Hy lig sy kop op en verander sy posisie basies elke dag”, verduidelik professor Raimo Hissa, wat baie jare lank bere se winterslaap by die Universiteit van Oulu, in Finland, bestudeer het. Die beer kom egter selde in die middel van die winter uit haar lêplek uit.

Gedurende die beer se winterslaap neem haar lewensfunksies af sodat sy minder energie verbruik. Haar hartklop daal tot minder as tien slae per minuut en haar metaboliese tempo neem af. Wanneer die mabeer eers rustig slaap, begin die noodsaaklike proses om vet te verbrand. Vetweefsel word afgebreek en voorsien die beer se liggaam van die nodige kilojoules en water. Maar ondanks die feit dat noodsaaklike lewensfunksies afneem, word ’n sekere hoeveelheid afvalprodukte nogtans deur metaboliese prosesse voortgebring. Hoe sal sy daarvan ontslae raak en terselfdertyd haar lêplek skoonhou? Haar liggaam skei nie die afvalprodukte uit nie, maar hersirkuleer dit eerder!

Professor Hissa verduidelik: “Die stikstofureum-produkte word vanuit die niere en die blaas herabsorbeer en deur die bloedsomloopstelsel na die ingewande geneem, waar bakterieë ureum tot ammoniak hidroliseer.” Wat selfs verbasender is, is dat die ammoniak weer na die lewer gaan, waar dit gebruik word om nuwe aminosure te vorm, waaruit proteïene bestaan. Deur afvalprodukte in boustene om te sit, word die beer se liggaam dus gedurende die lang slaapperiode gevoed!

In die ou dae het mense bere in hulle lêplekke gejag. Ja, ’n slapende beer was ’n maklike teiken. Die lêplek is eers opgespoor en dan deur skiërs omring. Dan is die beer wakker gemaak en doodgemaak. Maar deesdae word die jag van bere in die winter in feitlik alle dele van Europa verbied omdat dit so wreed is.

Nuwe lewe

Die mannetjiesbeer slaap die hele winter deur en draai maklik om, maar vir die mabeer is dinge anders. Bere paar in die vroeë somer, maar die bevrugte eiers binne-in die ma ontwikkel eers verder gedurende haar winterslaap. Die embrio’s word dan in die wand van die baarmoeder ingeplant en begin groei. Ná slegs twee maande, in Desember of Januarie, styg die mabeer se liggaamstemperatuur effens, en sy gee geboorte aan twee of drie welpies. Daarna daal haar liggaamstemperatuur, maar nie so laag soos voor sy geboorte gegee het nie. Die pabeer sien nie hoe die welpies gebore word nie, maar as hy dit gesien het, sou hy nogal teleurgesteld gewees het. Die sterk mannetjie sou waarskynlik nie dink dat hierdie hulpelose welpies, wat elk sowat 350 gram weeg, syne is nie.

Die welpies drink die mabeer se voedsame melk, wat haar energiereserwes selfs verder laat afneem. Die welpies groei vinnig, en in die lente weeg die wollerige klein beertjies reeds ongeveer vyf kilogram. Dit beteken dat daar heelwat in die mabeer se klein lêplek gebeur.

Lente

Dit is nou Maart. Die koue winter is verby, die sneeu smelt en die voëls keer terug uit die suide. Aan die einde van die maand kruip mannetjiesbere uit hulle winterlêplekke. Die wyfiebere rus egter ’n paar weke langer; miskien het die welpies hulle uitgeput.

Nadat die mabeer so lank geslaap het, is sy net vel en been in vergelyking met hoe sy in die herfs gelyk het. Die sneeu is weg, en so ook haar vet. Andersins is sy in ’n verbasend goeie toestand—geen bedsere, geen krampe, geen osteoporose nie. Sy kom uit die lêplek en na ’n rukkie skei sy ’n fekale prop van metaboliese afvalstowwe uit. Gewoonlik begin die beer eers ná sowat twee of drie weke eet, aangesien dit tyd neem voordat haar liggaamsfunksies weer behoorlik funksioneer. Dan is sy natuurlik baie honger. Maar aangesien die lente nog skaars begin het, is daar vir eers nie baie kos in die woud nie. Die beer eet larwes en kewers, asook die vleis van ou karkasse en probeer dalk selfs om wildsbokke te vang.

Die mabeer moet die welpies natuurlik grootmaak sodat hulle leer om hulle soos bere te gedra, en sy is baie lief vir hulle. ’n Ou spreuk sê: “Laat ’n man eerder ’n beer teëkom wat van haar kleintjies beroof is as ’n sot in sy dwaasheid” (Spreuke 17:12). Met ander woorde, ’n mens wil jou nie in een van hierdie situasies bevind nie. “Die mabeer word baie besig gehou terwyl sy vir haar welpies sorg. As ’n mannetjiesbeer nader kom, laat sy hulle in ’n boom klim, aangesien die mannetjie hulle kan seermaak, selfs al is hy hulle pa”, verduidelik Hissa.

Die volgende winter neem die mabeer die welpies saam met haar in haar lêplek in. Die jaar daarna sal die gespeende welpies hulle eie lêplek moet vind, aangesien dit tyd sal wees vir die mabeer om geboorte te gee aan ’n nuwe werpsel welpies.

Baie is al geleer oor die ingewikkelde en vindingryke manier waarop die beer die winter deurbring, maar talle verbasende aspekte daarvan is nog steeds ’n raaisel. Waarom word bere in die herfs slaperig en verloor hulle hulle eetlus? Waarom kry hulle nie osteoporose nie? Dit is nie maklik om die geheime van die beer uit te vind nie, en dit is te verstane. Almal is mos geregtig op ’n bietjie privaatheid!

[Venster op bladsy 20]

Navorsing oor die beer se winterslaap

Die Soölogiedepartement van die Universiteit van Oulu doen al etlike jare lank fisiologiese navorsing oor die meganismes wat diere in staat stel om by die koue aan te pas. Navorsing oor die Europese bruinbeer het in 1988 begin, en sedertdien is altesaam 20 bere al bestudeer. In die dieretuin van die universiteit is ’n lêplek spesiaal vir navorsingsdoeleindes gebou. Rekenaars, laboratoriumtoetse en ’n videokamera is gebruik om inligting in te samel oor hulle liggaamstemperatuur, metabolisme en aktiwiteite, sowel as veranderinge in hulle bloed en hormone gedurende hulle winterslaap. Universiteite in ander lande, selfs sover as Japan, het ook ’n bydrae gelewer. Die navorsers hoop dat hulle inligting sal kan inwin wat dalk selfs nuttig sal wees om probleme in verband met menslike fisiologie op te los.

[Prent op bladsy 18]

’n Mabeer se lêplek

[Prent op bladsy 18]

Suikerryke bessies

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel