Benutting van die wind
DIE bouwerk aan Brittanje se eerste kommersiële windplaas het volgens The Independent van Londen ’n tydelike terugslag ondervind toe een van die hyskrane wat gebruik is om die turbine op te rig in ’n stormwind omgewaai het. Daar word nietemin beweer dat die benutting van die wind een van die vinnigste en goedkoopste metodes is om krag op te wek. Nog beter, dit veroorsaak geen chemiese besoedeling soos in die geval van die verbranding van fossielbrandstowwe soos steenkool nie.
Hoewel verskeie Europese state—soos Denemarke, Duitsland en Nederland—sowel as Kalifornië ten gunste van windplase as bronne van hernieubare energie is, is nie alle omgewingsgesindes tevrede daarmee nie. Sommige mense kla oor die geraas van die roterende turbinelemme; ander hou nie van die onooglikheid daarvan nie, veral wanneer die masjiene in gebiede met pragtige natuurskoon geleë is.
In Brittanje, een van Europa se winderigste lande, verwelkom regeringsadviseurs windkragaanlegte aan die kus nietemin as “die belowendste enkele korttermynenergiebron”, sê die tydskrif New Scientist. Kritici wat daarenteen gekant is teen die kus as ’n moontlike ligging raai aan dat die turbines, ten spyte van die hoë koste daaraan verbonde, in die see opgerig moet word deur spesiale hystoestelle pleks van hyskrane te gebruik om swaar toerusting te verskuif—en sodoende sterk seewinde te benut.