Die dans van die kraanvoël
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE
IN DIE Suid-Koreaanse stad Pusan kan jy ’n buitengewone volksdans sien. Mans wat in wit uitrustings geklee is en hoë swart hoede dra, swaai hulle arms, draai in die rondte, buig en staan selfs op een been.
Hulle eienaardige impromptubewegings het ’n eenvoudige verduideliking. Die mans boots die Chinese kraanvoël na wat al eeue lank in Suid-Korea oorwinter. Die unieke dans van hierdie kraanvoëls het die plaaslike mense so beïndruk dat hulle hulle eie dans geskep het wat op die bewegings van die voëls gebaseer is.
Eenduisend-vyfhonderd kilometer daarvandaan in Hokkaido, Japan, stroom natuurliefhebbers na die Koesjiro Sjitsoegen- Nasionale Park om die ware Jakob te sien. Danksy ’n spesiale voedingsprogram gedurende die strawwe wintermaande het ’n Japannese kolonie van Chinese kraanvoëls nou tot etlike honderde toegeneem. Dit is waarlik ’n pragtige gesig om ’n groep van hierdie elegante wit-en-swart voëls te sien wat hulle uitbundige danse in die sneeu uitvoer. Jennifer Ackerman, ’n skrywer vir National Geographic, gebruik die Japannese woord aware om te beskryf hoe die danse haar bekoor. Dit is ’n opsomming van “die gevoelens wat die aangrypende skoonheid van iets vlietends by ’n mens wek”, verduidelik sy.
Kraanvoëls, wat op al die vastelande behalwe Suid-Amerika en Antarktika gevind kan word, fassineer mense al lank. Hierdie voëls kom voor in rotstekeninge in Afrika, Australië en Europa. In die Verre-Ooste, waar kraanvoëls simbole van ’n lang lewe en geluk is, beeld kunstenaars hulle dikwels in hulle werke uit. Moontlik omdat kraanvoëls lewenslank by hulle maat bly, is hulle ook ’n simbool van huweliksgeluk en word hulle dikwels op bruidskimono’s uitgebeeld. Die Koreane het die Chinese kraanvoël ’n “natuurlike monument” verklaar omdat hy so seldsaam en pragtig is. Daar is ’n voorstelling van dansende kraanvoëls op die Japannese 1 000-jennoot. En die Chinese het reeds 2 500 jaar gelede ’n “dans van die wit kraanvoëls” geskep. Miskien is dit hierdie unieke liefde vir dans wat verklaar waarom kraanvoëls so ’n spesiale plekkie in mense se harte het.
Die dans
Al 15 kraanvoëlspesies dans, en selfs kuikens wat nog nie eers twee dae oud is nie, sal dit probeer. “Party ander voëlgroepe dans ook,” verduidelik die Handbook of the Birds of the World, “maar nie een van hulle dans soveel of . . . vir die mens so mooi [soos kraanvoëls] nie.” Die danse van die kraanvoëls is nogal uiteenlopend en altyd skouspelagtig—veral as ’n mens dink aan die grootte van die voëls, hulle elegante liggaamsbewegings en hulle dramatiese spronge hoog in die lug met uitgestrekte vlerke. Die danse bestaan normaalweg uit “lang ingewikkelde kombinasies van buigings, spronge, trippelpassies en kort vlugte”, voeg die Handbook of the Birds of the World by. En wanneer ’n paar kraanvoëls begin dans, besluit die hele groep gewoonlik, net soos by mense, om saam te dans. In Afrika is daar al gesien hoe tot 60 pare mahems in harmonie saam dans.
Waarom dans kraanvoëls? Is dit om te oefen, te kommunikeer, mekaar die hof te maak, alarm te maak of is dit maar net uitgelatenheid? Dit kan moontlik weens enigeen of al hierdie redes wees. Kraanvoëls hou beslis daarvan om in pare te dans, en dit is deel van hulle hofmaakritueel. Maar selfs jong kraanvoëls dans, en hulle is gewoonlik die uitbundigste dansers. “Wat ook al die rede, dit is ’n plesier om te aanskou”, sê die Handbook of the Birds of the World.
Die vlug van die kraanvoëls
’n Mens hoor kraanvoëls dikwels lank voordat jy hulle sien. ’n Klaende trompetagtige roep kondig hulle teenwoordigheid aan, al is hulle dalk kilometers ver weg. Hierdie roep help blykbaar om die swerm gedurende hulle lang migrasievlugte bymekaar te hou. Die meeste kraanvoëlspesies migreer van hulle broeiplekke in die noorde. In die herfs lê hulle groot afstande af wanneer hulle van Kanada, Skandinawië of Siberië vlieg na die warmer klimate van China, Indië, die Verenigde State (Texas) of die Mediterreense streek. Hierdie reise is gevaarlik en uitputtend. Party Eurasiese kraanvoëls is al op hoogtes van byna 10 000 meter gesien wanneer hulle oor die Himalajas na Indië vlieg. Hulle vlieg in die tipiese V-formasie en benut stygende warm lugstrome sodat hulle so ver as moontlik kan sweef. Maar wanneer hulle oor water vlieg, kan hulle net op hulle vlerkkrag staatmaak.a
Die Spaanse voëlkundige Juan Carlos Alonso bestudeer al byna 20 jaar lank die migrasiepatrone van die 70 000 Eurasiese kraanvoëls wat in Spanje oorwinter. “Ons ring party voëls en sit radiosendertjies aan ander sodat ons hulle migrasievlugte kan volg”, verduidelik hy. “Dit is vir my baie opwindend wanneer ek ’n voël wat ek gering het toe hy maar ’n kuiken in Noord-Duitsland was, in sy Spaanse oorwinteringsgebied kry. Die kraanvoëls gebruik hulle migrasieroetes al eeue lank. ’n Kraanvoël wat in Finland gering is, is so ver suid as Etiopië gevind waar hy oorwinter het, terwyl party kraanvoëls van Siberië in Mexiko oorwinter.”
Die stryd om oorlewing—met die mens se hulp
Tans is 9 van die 15 kraanvoëlspesies op die randjie van uitsterwing. Die trompetkraanvoël van Noord-Amerika is die mees bedreigde spesie, en in 1938 was daar net 14 voëls oor. Maar danksy ’n broeiprogram met voëls in gevangenskap en die bewaring van sleutelhabitats het hulle getalle stadig tot meer as 300 toegeneem. Natuurbewaarders maak kuikens nou in gevangenskap groot en hervestig hulle dan in beskermde gebiede. Onlangs is ultraligte vliegtuie gebruik om ’n paar jong trompetkraanvoëls te leer hoe om te migreer. Russiese wetenskaplikes wend soortgelyke pogings aan om die bedreigde wit kraanvoël te beskerm.
Een van die roerendste suksesverhale kom van Japan. ’n Klein kolonie Chinese kraanvoëls in Hokkaido het nie gemigreer nie omdat die voëls gedurende die wintermaande kos kon vind langs die strome naby warmbronne. In die strawwe winter van 1952 het selfs hierdie strome egter toegeys, en dit het gelyk of die klein swerm van 30 voëls sou verdwyn. Maar plaaslike skoolkinders het mieliepitte op die toegeysde strome gestrooi, en die voëls het die winter oorleef. Sedertdien word die kraanvoëls gereeld gevoer, en die klein swerm het vermeerder tot byna 900 voëls, omtrent ’n derde van die wêreldwye bevolking.
’n Onsekere toekoms
Soos baie ander diersoorte het die kraanvoëls gely weens die drooglegging van vleilande en die verlies aan grasveld. Om te oorleef, moes die kraanvoëls aan mense gewoond raak. Hulle verkies dit gewoonlik om mense op ’n veilige afstand van etlike kilometers van hulle af te hou, maar waar hulle nie gepla word nie, kan hulle aan mense gewoond raak. In Indië het saruskraanvoëls, die langste van alle vlieënde voëls, hulle aangepas, en hulle broei nou in dorpsdamme. Ander suksesvolle kraanvoëlspesies het geleer om in saailande kos te vind terwyl hulle migreer of wanneer hulle in hulle oorwinteringsgebied is.
Daar word gehoop dat die harde werk van bewaringsgesindes in baie lande die oorlewing van hierdie grasieuse voëls sal verseker. Wat ’n tragedie sal dit tog wees as toekomstige geslagte nooit die opwinding van die kraanvoëls se pragtige dans kan beleef of hulle harde roep kan hoor wanneer hulle in die herfs suidwaarts vlieg nie!
[Voetnoot]
a Duisende Eurasiese kraanvoëls migreer in die lente en herfs deur Israel, en party oorwinter ook daar. In die laatmiddag in die Bo-Jordaanvallei sal ’n mens dalk gelukkig genoeg wees om swerms kraanvoëls te sien vlieg met die sneeubedekte berg Hermon in die agtergrond. Hierdie skouspel bied ’n vlietende oomblik van onvergeetlike prag.
[Prent op bladsy 15]
Chinese kraanvoëls, Asië
[Prent op bladsy 16]
Detail van ’n Koreaanse porseleinstuk
[Prent op bladsy 16]
Swart-en-wit kraanvoëls met oorkwassies
[Prent op bladsy 16, 17]
Gewone Europese kraanvoëls in vlug
[Prent op bladsy 17]
Mahems