Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 12/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vroue aangeraai om hulle teen verkragters te verset
  • Die Kerk in Pole
  • “Gebruik dit of verloor dit”
  • Kanker weens straling
  • Hoenders met “vigs”
  • Tienerprobleme
  • Kyk, maar moenie eet nie
  • “Vuurwapen-waansin”
  • Vrouebestuurders
  • Die wêreld se gesondheid
  • Videodobbelary
  • Adolessente van die negentigerjare
  • Nuwe dobbelaars—Jongmense!
    Ontwaak!—1995
  • Kompulsiewe dobbelaars—altyd verloorders
    Ontwaak!—1995
  • Wat is daarmee verkeerd om te dobbel?
    Ontwaak!—2002
  • Ek is verslaaf! Hoe kan ek ophou dobbel?
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 12/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Vroue aangeraai om hulle teen verkragters te verset

Nuwe navorsing toon dat vroue se kanse om verkragting en beserings te vermy groter is wanneer hulle fisies weerstand bied as wanneer hulle pleit of huil. Navorsers aan die Brandeis-universiteit in Waltham, Massachusetts, het tydens hulle ondersoek van verslae oor vroue wat seksueel aangerand is, gevind dat vroue wat fisies weerstand gebied of geskreeu en weggehardloop het veel beter daaraan toe was as diegene wat dit nie gedoen het nie. “Trouens, die vroue wat die grootste gevaar geloop het om verkrag of beseer te word, was diegene wat nie fisies weerstand gebied het nie, maar gesmeek het of met hulle aanvallers geredeneer het”, sê die tydskrif American Health. Dr. Sarah Ullman, wat die studie gedoen het, gee hierdie raad: “’n Vrou moenie aarsel om uit alle mag te skreeu, te baklei en haar teë te sit nie. Dit sal waarskynlik nie help om te pleit en te smeek nie.”

Die Kerk in Pole

Ongeveer vier jaar ná die ondergang van Kommunisme in Pole het die Katolieke Kerk nou met ernstige probleme te kampe. Volgens Londen se Guardian Weekly toon meningspeilings dat “die priesterskap se aansien drasties afgeneem het”. Dit voeg by dat “die getal aansoeke vir kweekskoolbywoning afneem en dat die bywoningsyfer vir godsdiensonderrigklasse in skole daal”. Die meeste met wie ’n onderhoud gevoer is, meen dat die Katolieke Kerk die openbare lewe te veel beïnvloed het. Die Guardian sê Poolse “intellektuele meen dat hoewel Pole in die verlede vir sy godsdiensywer bekend was sy Katolisisme in werklikheid net oppervlakkig en ritualisties was”. Party is daarvan oortuig dat die kerk hoofsaaklik ’n instrument was om Kommunisme teen te staan en dat dit Poolse Katolieke nie gekeer het om “te skei of aborsies te ondergaan terwyl die wet dit nog toegelaat het nie”.

“Gebruik dit of verloor dit”

’n Aantal studies wat wêreldwyd gedoen is, het getoon dat hoe meer ’n mens jou brein gebruik, hoe kleiner is die moontlikheid dat jy breinkwale sal ondervind. “As jy ’n groter geleerdheid ontvang, beteken dit nie net dat jy jou brein meer ontwikkel wanneer jy jonk is nie, maar dat jy dit jou hele lewe lank meer gebruik, en dít veroorsaak die een of ander soort beskermende meganisme” teen geestesiektes. Volgens The Toronto Star van Kanada “kan jy deur te lees, te skryf en rekenkunde te doen jou brein moontlik die beste beskerm teen” ’n toestand van verswakte verstandelike vermoë. Die neuropsigoloog Marilyn Albert het gesê: “Aangesien hierdie bevinding so goed gestaaf is, weet ons dat dit waar is.” Sy het bygevoeg: “Wat die brein betref, is dit ’n geval van ‘gebruik dit of verloor dit’.”

Kanker weens straling

Sewe jaar ná die Tsjernobil-kernongeluk in die Oekraïne meld dokters in Belarus (vroeër Wit-Rusland) ’n aansienlike toename aan in gevalle van skildklierkanker onder kinders. Volgens die Franse mediese tydskrif Le Concours médical het aangemelde gevalle van skildklierkanker onder kinders in Belarus van gemiddeld 4 gevalle per jaar tussen 1986 en 1989 tot 114 gevalle per jaar van 1990 tot Junie 1992 toegeneem. Aangesien die radioaktiewe isotoop wat skildklierkanker veroorsaak, jodium 131, tydens die ongeluk in veel groter hoeveelhede as ander radioaktiewe elemente vrygestel is, hoop wetenskaplikes dat ander soorte kanker wat deur straling veroorsaak word, beperk sal wees.

Hoenders met “vigs”

Dit is blykbaar nie net mense en sekere soorte ape wat vigs kan opdoen nie. Die Indian Express van Bombaai, Indië, het berig dat ’n siekte wat soortgelyk aan vigs is die land se pluimvee getref het. Volgens die Express het die virussiekte gumbaro, wat ’n verworwe immuniteitsgebrek-sindroom veroorsaak, “epidemiese afmetings in die land aangeneem en is lakke [honderdduisende] voëls aangetas”. Meer as 1,5 miljoen eierlêende voëls het reeds doodgegaan. Die berig het gesê dat Indië waarskynlik ’n groot tekort aan eiers gaan hê.

Tienerprobleme

“Vandag se tieners [in die Verenigde State] het met ’n somber en onseker werklikheid te kampe wat veel erger is as die tienerjare wat hulle ouers en grootouers kan onthou”, berig die International Herald Tribune. Die Tribune haal Amerikaanse statistiek aan en sê dat daar sedert die vyftigerjare ’n toename van 30 persent was in die getal tieners wat alkohol gebruik. Selfmoord onder tieners was voorheen uiters seldsaam, maar nou is dit, naas ongelukke en moord, die derde grootste oorsaak van sterfgevalle. Ongewenste swangerskappe onder jongmense tussen 10 en 14 jaar het van 1983 tot 1987 met 23 persent toegeneem, en die aantal gonorreegevalle het tussen 1960 en 1988 verviervoudig. Psigoloë probeer nuwe maniere vind waarop hulle begrip vir jongmense kan toon en hulle kan help.

Kyk, maar moenie eet nie

Die vang en eet van walvisse het in onlangse jare ’n groot geskil geword. In ’n paar lande, soos in Japan, sê party mense dat walvisvleis deel van hulle tradisionele dieet uitmaak en is hulle ontsteld oor die verbod wat die Internasionale Walviskommissie op die walvisbedryf geplaas het. Party Japannese het egter agtergekom dat walvisse ’n wins kan oplewer sonder dat hulle gevang en geëet word. Die bewoners van die Bonin-eilande, suid van Tokio, is besig om hulle jongste toeriste-attraksie—walviskykery—uit te brei. Wanneer die walviskykers dié visse in hulle natuurlike habitat sien, en nie op hulle bord nie, het dit opgewonde uitroepe tot gevolg, veral wanneer die walvisse blaas en rondplas.

“Vuurwapen-waansin”

Onder daardie opskrif het ’n hoofartikel in The New York Times van 25 Mei die verhoor bespreek van ’n man van Louisiana wat vrygespreek is op ’n aanklag van manslag nadat hy in Oktober 1992 ’n Japannese uitruilstudent doodgeskiet het. Die 16-jarige student het per abuis die man se deurklokkie gelui. Toe die student die man se bevel om doodstil te staan, verontagsaam het, het hy die Japannese tiener, wat nie die bevel verstaan het nie, in die bors geskiet. “Volgens die wet het jy die reg om almal wat jou deurklokkie lui met ’n vuurwapen te konfronteer”, het die man se advokaat ter verdediging van hom gesê. Die hoofartikel het gesê dít beteken dat enigiemand wat na jou deur toe kom, “die plaaslike predikant inkluis . . . , kan verwag om geskiet te word as hy dit sou waag om jou deurklokkie te lui”. “As Japannese verstaan ons nie waarom die Amerikaanse gemeenskap soveel klem op vuurwapens lê nie”, het ’n Japannese verslaggewer gesê. “Dit is eintlik eenvoudig”, het die hoofartikel geantwoord. “Dink net aan dwaasheid, onverdraagsaamheid, ’n verwronge begrip van die ‘reg om vuurwapens te mag dra’ en ’n weiering om enigiets te leer” uit die feit dat tallose mense weens vuurwapens sterf.

Vrouebestuurders

Daar word dikwels gesê dat vroue nie soveel bestuursvernuf soos mans het nie. Ondersteun die feite hierdie veralgemening? Nie volgens The Motorist, ’n tydskrif wat deur die Automobiel-Assosiasie van Suid-Afrika gepubliseer word, nie. Mansbestuurders was in meer as 83 persent van alle padongelukke betrokke wat in ’n onlangse jaar in dié land plaasgevind het. Daarom het baie versekeringsmaatskappye laer tariewe vir vrouebestuurders as vir mans. Die bogenoemde tydskrif verduidelik: “Hierdie vertroue in die bestuursvernuf van vroue” bestaan omdat die bedryf “meen dat vroue minder aggressief is wanneer hulle bestuur, minder geneig is om kanse te waag en omdat dit onwaarskynliker is dat hulle verkeersoortredings sal begaan”. Die tydskrif kom tot die slotsom dat die regte gesindheid, ongeag die geslag van die bestuurder, goeie bestuursgewoontes verseker.

Die wêreld se gesondheid

Hoe gaan dit met die wêreld se gesondheid? ’n Volledige verslag wat onlangs deur die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie) gepubliseer is, bevat slegte sowel as goeie nuus. Die goeie nuus is dat masels, polio, kinkhoes en neonatale klem-in-die-kaak afneem vanweë wêreldwye pogings om kinders te immuniseer. Kardiovaskulêre siektes neem ook in die meeste ontwikkelde lande af. Die sterftesyfer van babas en kinders neem wêreldwyd af, en die verwagte lewensduur neem toe. Die WGO sê die slegte nuus is dat tropiese siektes, soos cholera, geelkoors, denguekoors en malaria, “blykbaar op ’n onkeerbare wyse versprei”. Vigs, tering en suikersiekte neem ook toe.

Videodobbelary

Garry Smith, ’n professor aan die Universiteit van Alberta, sê dat videoloterymasjiene “net so verslawend soos crack-kokaïen” is en nie op openbare plekke tuishoort nie. Professor Smith, wat ’n studie oor kompulsiewe dobbelary gedoen het, en met wie daar in The Edmonton Journal van Kanada ’n onderhoud gevoer is, sê dat ’n mens “binne net ses maande” aan videodobbelary verslaaf kan raak. Hy sê dat die uitbreiding van dobbelary ’n toename in misdaad en ander ernstige probleme tot gevolg het. Twee derdes van alle kompulsiewe dobbelaars verduister geld en maak hulle skuldig aan vervalsing, bedrog en diefstal sodat hulle hulle gewoonte kan onderhou. Die verslawing veroorsaak neerslagtigheid en selfmoordgedagtes wat tot roekelose bestuur en ongelukke bydra, asook tot ’n versuim om skulde te betaal “én onkoste wat deur die gesondheidsorgstelsel gedek moet word”. Volgens professor Smith “kos elke kompulsiewe dobbelaar die gemeenskap $56 000 [R120 000]”.

Adolessente van die negentigerjare

Vittorino Andreoli, ’n psigiater aan die Verona-universiteit, Italië, sê dat vandag se jongmense in teenstelling met vorige geslagte “geen of min begrip van die toekoms het”. Hy voeg by dat dit dus vir jongmense moeilik is om “vandag iets op te offer ter wille van geluk in die toekoms”. Baie het ook “geen begrip van wat goed of sleg is nie”, wat beteken dat “enige optrede deur die situasie alleen bepaal word” en nie deur enige vaste sedewette nie. Baie van vandag se jongmense verstaan nie eintlik wat die dood is nie. Dr. Andreoli sê “hulle ken net die dood wat hulle op televisie sien as fiksie . . . Jongmense weet hoe om die dood teweeg te bring, maar hulle weet nie wat dit is nie. Hulle kan dus iemand doodmaak of selfs selfmoord pleeg en heeltemal verskillende gevolge verwag.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel