Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 1/8 bl. 5-7
  • “Die stad is vol verdrukking”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Die stad is vol verdrukking”
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Onvleiende feite oor stede
  • Uitsonderings of die reël?
  • Beskou stede van naderby
  • Stede—Waarom in ’n krisis?
    Ontwaak!—2001
  • “Laat ons vir ons ’n stad bou”
    Ontwaak!—1994
  • Wat hou die toekoms vir stede in?
    Ontwaak!—2001
  • “Die stad wat vol mense was”
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 1/8 bl. 5-7

“Die stad is vol verdrukking”

TOE die Bybelprofeet Esegiël van ’n stad “vol verdrukking” gepraat het, het hy niks geweet van die probleme wat hedendaagse stede teister nie (Esegiël 9:9, An American Translation). Sy woorde was ook nie ’n kriptiese voorspelling van hierdie probleme nie. Tog is sy woorde ’n akkurate beskrywing van 20ste-eeuse stede.

Die boek 5000 Days to Save the Planet het gesê: “Ons stede is koud en klinies en dus lelik om in te woon en lelik om na te kyk. . . . Die geboue wat ’n al hoe groter rol in ons stede speel, is gebou met min of geen inagneming van die mense wat daarin moet woon en werk nie.”

Onvleiende feite oor stede

Nege stede, wat in verskillende wêrelddele geleë is, is soos volg deur koerante en tydskrifte beskryf. Kyk of jy hierdie stede se regte name ken.

Stad A, wat in Latyns-Amerika geleë is, is bekend vir sy jong kontrakmoordenaars en hoë moordsyfer. Dit staan ook bekend as die tuiste van ’n dwelmkartel.

Stad B is “die stad in die [Verenigde State] waar die meeste straatrowery voorkom”. Gedurende die eerste twee maande van 1990 het moordsyfers “met 20 persent gestyg vergeleke met dieselfde tydperk” die vorige jaar.

“Etlike miljoene mense [trek] elke jaar na die stedelike gebiede van Suid-Amerika, Afrika en Asië . . . na wat in hulle oë die beloofde land is.” Omdat hulle dit nie vind nie, word talle verplig om in armoede te leef en te bedel of te steel om ’n bestaan te maak. Die helfte van die inwoners van Stad C in Afrika en Stad D in Asië—sowel as 70 persent van Stad E in Asië—woon glo in minderwaardige huisvesting.

“Hoewel [Stad F] een van die veiligste groot stedelike gebiede in Noord-Amerika is, laat toenemende werkloosheid, ’n stygende misdaadsyfer en etniese vyandigheid sy inwoners wonder of die negatiewe aspekte die sukses werd is. Misdaad . . . het die stad se inwoners mismoedig gemaak. Seksuele aanrandings het met 19% toegeneem . . . Moorde het met byna 50% toegeneem.”

“Elke dag trek 1600 mense na [Stad G in Latyns-Amerika] . . . As [dit] teen hierdie tempo bly groei, sal 30 miljoen mense teen die einde van die eeu in dié stad woon. Hulle sal teen ’n slakkegang in 11 miljoen motors deur die stad sukkel en ure lank in verkeersknope vasval . . . Lugbesoedeling . . . is honderd keer hoër as die aanvaarbare vlak. . . . Veertig persent van alle inwoners ly aan chroniese brongitis. . . . Gedurende spitsure styg die geraasvlak in die middestad tot tussen 90 en 120 desibel; 70 desibel word as onuithoudbaar beskou.”

“Elke dag [word] 20 ton hondemis van die strate en sypaadjies van [Stad H in Europa] . . . opgetel. . . . Benewens die koste en ergernis het ’n ernstiger sy van die saak aan die lig gekom. Hondemis is die oorsaak van ’n siekte wat deur die parasiet Toxocara canis veroorsaak word. Daar is gevind dat die helfte van die kinders se speelplekke en sandkaste in [die stad] besmet is met die uiters geharde mikroskopiese eiers van die parasiet, wat onder skoensole en huisdiere se pote vassit en sodoende in huise inkom. . . . Moegheid, maagpyn, allergieë en hart- en slagaarprobleme is vroeë simptome van die siekte.”

“Hoewel [Stad I in Asië] geteister word deur al die probleme wat ’n oorontwikkelde metropolis in ’n onderontwikkelde land ondervind—armoede, misdaad en besoedeling—begin die stad bewys lewer dat hy een van die hoofstede van die 21ste eeu gaan wees.”

Uitsonderings of die reël?

Kon jy hierdie stede identifiseer? Waarskynlik nie, aangesien nie een van die gemelde probleme net in een spesifieke stad voorkom nie. Die probleme is eerder aanduidings van wat wêreldwyd met byna elke stad van enige grootte skort.

Volgens die Duitse dagblad Süddeutsche Zeitung is Stad A Medellin, Colombia. Die moordsyfer het van 7081 in 1991 tot “slegs” 6622 in 1992 gedaal. Nogtans berig die Colombiaanse dagblad El Tiempo dat byna 45 000 mense gedurende die afgelope dekade weens geweld daar gesterf het. Daarom probeer verskeie groepe burgerlikes tans hard om die stad van misdaad en ander onaanvaarbare bedrywighede te suiwer en sy reputasie te verbeter.

Die feit dat The New York Times Stad B as die stad New York identifiseer, verbaas waarskynlik nie mense wat dié stad in onlangse jare besoek het en verbaas beslis ook nie sy inwoners nie.

Die syfers wat die Duitse tydskrif Der Spiegel verskaf aangaande die aantal mense wat in armoedige toestande in Nairobi, Kenia (C), Manila, Filippyne (D), en Kalkutta, Indië (E), woon, toon dat meer mense in hierdie drie stede alleen verplig word om in minderwaardige huisvesting te woon as wat daar altesaam in welvarende Europese lande soos Denemarke of Switserland woon.

Stad F—Toronto, Kanada—is in 1991 deur die tydskrif Time beskryf in ’n artikel wat nie so vleiend was soos die een wat die tydskrif drie jaar tevore gepubliseer het nie. Die eerste verslag, met die titel “Uiteindelik—’n Stad wat werk”, het die stad wat “byna almal beïndruk”, opgehemel. Dit het ’n besoeker aangehaal wat gesê het: “Hierdie plek laat my amper weer in die waarde van stede glo.” Ongelukkig ondervind die “stad wat werk” klaarblyklik nou dieselfde probleme as ander stede wat agteruitgaan.

Hoewel die tydskrif Time van Stad G praat as “een van die aantreklikste en stylvolste stede in die Amerikas, asook een van die mees gesofistikeerdes”, erken die tydskrif nietemin dat dít “natuurlik die Mexikostad van die rykes en die toeriste is”. Intussen woon die menigtes armes, volgens die World Press Review, “in een van die hoofstad se 500 krotbuurte” in kasarms “wat van industriële afval, kartonhouers, motorwrakke en gesteelde boumateriaal aanmekaargeslaan is”.

Stad H word deur die Franse weekblad L’Express as Parys geïdentifiseer wat, volgens The New Encyclopædia Britannica, “al honderde jare lank, deur ’n proses wat nog nooit met sukses verduidelik is nie, . . . ’n betowering uitstraal wat miljoene in alle wêrelddele onweerstaanbaar vind”. Maar weens ernstige probleme hou Parys nie meer soveel betowering in nie.

Die Time sê aangaande Stad I: “Die Weste het dit eers op ’n romantiese wyse as die lomerige, dromerige hoofstad van eertydse Siam, ’n ‘Oosterse Venesië’, beskou, maar vandag is dié onvoorspelbare stad van engele en goue tempels die jongste paddastoelstad in Asië.” Selfs die engele en tempels van Bangkok, Thailand, kon nie verhoed dat dit, ten minste ’n ruk lank, “die wêreldhoofstad van die prostituutbedryf” word nie.

Beskou stede van naderby

’n Joernalis het ’n dekade gelede gesê dat hoewel groot stede blykbaar “dieselfde krisisse ondervind, elkeen sy eie karakter en dus ’n spesiale manier het waarop dit om oorlewing stry”. In 1994 voer stede steeds, elkeen op sy eie manier, ’n stryd.

Nie almal meen dat die stryd om oorlewing verlore is nie. ’n Voormalige burgemeester van Toronto is byvoorbeeld optimisties en het gesê: “Ek glo nie stede stort ineen nie. Hulle het met probleme te kampe, maar ek dink ons kan dit oplos.” Party stede het weliswaar van hulle probleme suksesvol opgelos of ten minste verlig. Maar dit het veel meer as net optimisme geverg.

Die joernalis Eugene Linden het verlede Januarie geskryf: “Die uiteindelike lot van die wêreld is vervleg met die uiteindelike lot van sy stede.” Wat die uiteinde ook al is, stede het ’n groot invloed op die ontwikkeling van ons wêreld gehad, en hulle het dit steeds. Hetsy hulle oud of nuut is, hulle het ook op ons persoonlik ’n invloed gehad—moontlik ’n groter invloed as wat ons dink. Daarom hou ons oorlewing so nou verband met hulle oorlewing.

Wanneer ons stede van naderby beskou, is dit dus nie eenvoudig met die doel om ons algemene kennis te verbeter nie. Van groter belang is die feit dat dit ons bewus sal maak van die sorgwekkende situasie waarin die wêreld hom tans bevind. Laat ons dan nou “Stede van naderby beskou”. Ons hoop dat ons lesers hierdie reeks van ses dele in die Ontwaak! interessant, opbouend en bemoedigend sal vind. Ten spyte van ernstige wêreldprobleme—wat so duidelik uit ons stede se stryd om oorlewing blyk—is daar hoop!

[Lokteks op bladsy 6]

“Die uiteindelike lot van die wêreld is vervleg met die uiteindelike lot van sy stede.”—Die skrywer Eugene Linden

[Prent op bladsy 7]

Dit is miskien maklik om van stad tot stad te reis, maar dit is nie so maklik om hulle probleme op te los nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel