Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 1/22 bl. 25-27
  • “Die stad wat vol mense was”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Die stad wat vol mense was”
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe het hulle so groot geraak?
  • “Groot is nie meer beter nie”
  • Die selfs ernstiger probleme
  • Wat hou die toekoms in?
  • Groot stede is stadig aan die verstik
    Ontwaak!—1994
  • “Die stad is vol verdrukking”
    Ontwaak!—1994
  • Mexikostad—’n Groeiende Monster?
    Ontwaak!—1991
  • “Laat ons vir ons ’n stad bou”
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 1/22 bl. 25-27

“Die stad wat vol mense was”

DÍT is ’n gepaste beskrywing van Sao Paulo, Lagos, Mexikostad en Seoel, hoewel die Bybelprofeet Jeremia nie van hierdie stede gepraat het nie. Hy het van Jerusalem gepraat kort nadat dit in 607 v.G.J. deur die Babiloniërs vernietig is.—Klaagliedere 1:1.

Aangesien die wêreldbevolking tans sowat vyf en ’n half miljard is, is dit nie moeilik om stede te vind wat vol mense is nie. Die afgelope halfeeu was daar ’n onmiskenbare neiging in die rigting van grootheid. Hoewel daar in 1950 slegs 7 stedelike gebiede met vyfmiljoen inwoners in die wêreld was, word daar geskat dat minstens 21 stede, insluitende die 5 stede wat hierbo genoem is, teen die jaar 2000 meer as tienmiljoen inwoners sal hê.

Hoe het hulle so groot geraak?

Megastede ontstaan wanneer plattelanders op soek na werk na stede trek en wanneer stedelinge uit die binnestad trek omdat hulle ’n groter en aangenamer omgewing soek waarvandaan hulle dan per motor, bus of trein werk toe ry. Hierdie voorstede, tesame met hulle moederstad, grens spoedig aan mekaar om ’n metropolitaanse gebied te vorm.

Party megastede het so gegroei toe hulle “tieners” was. Tenochtitlán—vandag noem ons dit Mexikostad—is in omstreeks 1325 gestig. Teen 1519, toe die Spanjaarde daar aangekom het, het hierdie hoofstad van die Asteekse Ryk moontlik reeds ’n bevolking van byna 300 000 gehad.

Maar ander stede het, net soos middeljarige mense wat stelselmatig gewig aansit, eers op ’n gevorderde leeftyd uitgebrei. Seoel, waar die Olimpiese Spele van 1988 gehou is, se oorsprong kan tot voor-Christelike tye teruggevoer word, maar sy bevolking was sowat 50 jaar gelede steeds net ’n tiende van wat dit vandag is. Nou is dit die tuiste van byna ’n kwart van die land se 43 miljoen inwoners.

Net soos Seoel beteken Tokio se naam “hoofstad”. In Tokio se geval beteken dit eintlik “oostelike hoofstad”. Die naam was oorspronklik Edo, maar is in 1868 na Tokio verander toe die hoofstad verskuif is van die stad Kioto wat meer wes geleë is. Die gebied rondom Edo is reeds in voor-Christelike tye bewoon, maar die grondslag van die hedendaagse megastad is eers in 1457 gelê toe ’n magtige krygsman ’n kasteel daar gebou het. Die stad is gedurende die 17de eeu gestig, en teen die middel-1800’s het dit ’n bevolking van heelwat meer as ’n miljoen mense gehad. Tokio, wat glo eens op ’n tyd met meer neontekens as enige ander stad in die wêreld gespog het, is baie modern.

Sao Paulo, Brasilië, is ’n ander megastad wat net so modern is en jeugdige sjarme uitstraal. Hoewel die stad al in 1554 deur Portugese Jesuïetesendelinge gestig is, lyk dit ten spyte van sy ouderdom merkwaardig jonk met sy wye lane en modernistiese wolkekrabbers. Nou, gedurende Januarie, vier sy inwoners—Paulistanos—sy 440ste herdenking. Sao Paulo was tot die 1880’s ’n taamlike klein stad, maar toe het die geld van Brasilië se splinternuwe koffienywerheid emigrante van Europa en later van Asië soos ’n magneet aangetrek.

Die Portugese het ook ’n rol gespeel in die ontwikkeling van ’n megastad in Nigerië. Die Lagos-gebied is natuurlik lank voordat die Europeërs aan die einde van die 15de eeu daar aangekom het deur een van Afrika se grootste en mees verstedelikte tropiese volke van prekoloniale tye, die Joroebas, bewoon. Die stad was tot die middel-1800’s ’n bekende slawemark. In 1861 is dit deur Brittanje geannekseer en in 1914 het dit die hoofstad geword van wat toe ’n Britse kolonie was.

“Groot is nie meer beter nie”

Grootheid hou voordele in. Hoe groter die stad gewoonlik is, hoe groter die kanse dat sy inwoners ’n ryk sosiale en kulturele lewe kan lei. Ekonomiese faktore word ook gunstig deur grootheid beïnvloed, aangesien ’n groot bevolking groter mark- en werksmoontlikhede voorsien. Die ekonomiese voordele van stede trek mense wat na die beloofde land soek soos ’n kragtige magneet aan. Maar wanneer hulle nie werk kan kry nie en uiteindelik in ’n krotbuurt moet woon, en moontlik moet bedel om te bly leef, of wanneer hulle weens die tekort aan gepaste huisvesting haweloos raak, raak hulle tog so maklik ontnugter en verbitterd!

Die tydskrif National Geographic redeneer dat te groot eenvoudig te groot is en sê: “Stede het tot onlangs toe nog met hulle groei gespog. Groot was goed, en die grootste stede het gespog met hoe belangrik hulle in die wêreld is. Maar groot is nie meer beter nie. As ’n stad vandag beweer dat hy ‘die wêreld se grootste stad’ is, kan dit vergelyk word met ’n gesonde jong persoon wat hoor dat hy ’n ernstige siekte het. Dit kan moontlik genees word, maar dit kan nie geïgnoreer word nie.”

Dit is feitlik onmoontlik om te keer dat mense in onaanvaarbare getalle na die stede toe stroom. Daarom probeer megastede die uitdaging op ander maniere die hoof bied, moontlik deur die een ry vaal, eenderse woongeboue na die ander te bou, deur wolkekrabbers op te rig wat al hoe hoër in die hemele strek of deur hulle tot splinternuwe idees te wend. Japannese boumaatskappye dink byvoorbeeld nou daaraan om reusekomplekse ondergronds te bou waar miljoene mense kan werk, inkopies kan doen en selfs kan woon. “’n Ondergrondse stad is nie meer ’n droom nie”, sê een boubestuurder, “ons verwag dat dit vroeg in die volgende eeu ’n werklikheid gaan word.”

Grootheid is selfs uit ’n fisiese oogpunt nie altyd beter nie. Rampe kan oral voorkom—en dit gebeur wel. Maar wanneer hulle stede tref, is die vernietiging van lewe en besittings potensieel groter. Ter toeligting: Tokio is deur groot rampe, natuur- en mensgemaakte rampe, getref. In 1657 het sowat 100 000 mense in ’n rampspoedige brand omgekom, in 1923 het ’n soortgelyke aantal in ’n dodelike aardbewing en brand omgekom en tot ’n kwartmiljoen het waarskynlik gedurende die hewige bomaanvalle aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog omgekom.

Die probleme van die wêreld word in sy stede weerspieël—stedelike besoedeling en verkeersophopings. Albei probleme word aanskoulik toegelig deur Mexikostad, wat eenkeer as ’n “voorbeeld van ’n stedelike ramp” beskryf is. Meer as driemiljoen motors besoedel die strate. Dít, tesame met fabrieke wat meer as die helfte van die hele Mexikaanse nywerheid verteenwoordig, veroorsaak elke dag soveel besoedeling dat jy, volgens ’n verslag in 1984, “net deur asem te haal die ekwivalent van twee pakkies sigarette per dag rook”.

Mexikostad is natuurlik nie uniek nie. Watter moderne nywerheidstad het nie sy eie besoedeling en verkeersophopings nie? In Lagos word spitsure die “ry stadig” genoem, wat taamlik gepas is. Die stad strek oor vier hoofeilande; brûe van die vasteland af kan nie die toenemende aantal motors hanteer wat die paaie vul en die verkeer byna tot stilstand bring nie. Die boek 5000 Days to Save the Planet sê: “Die tyd het byna aangebreek wanneer dit vinniger sal wees om te loop.” Byna?

Die selfs ernstiger probleme

Megastede word deur selfs ernstiger probleme geteister. Buiten onvoldoende huisvesting, oorvol skole en hospitale met te min personeellede, is sielkundige aspekte ook daarby betrokke. Dr. Paul Leyhausen, ’n toonaangewende Duitse etoloog, sê dat “’n groot aantal neuroses en sosiale wanaanpassings, gedeeltelik of heeltemal, direk of indirek, deur oorbevolking veroorsaak word”.

Megastede beroof hulle inwoners van ’n gemeenskapsin en verander die stad in ’n gesigslose massa. ’n Stedeling kan te midde van honderde bure eensaam wees en na vriende en metgeselle hunker wat hy nêrens kan vind nie. Die gevoel van vervreemding wat deur hierdie situasie geskep word, hou gevaar in wanneer dit daartoe lei dat veelvolkige bevolkings in rasse- of etniese groepe onderverdeel. Ekonomiese ongelykhede of dade van diskriminasie—werklik of denkbeeldig—kan tot rampspoed lei, soos Los Angeles in 1992 uitgevind het toe die uitbreek van rassegeweld meer as 50 sterfgevalle en 2000 beserings veroorsaak het.

Die grootste gevaar wat die stadslewe inhou, is die neiging om geestelikheid te verdring. Die stadslewe is duur, en daarom kan diegene wat daar woon se aandag maklik deur die sorge van die lewe afgelei word. Nêrens anders is daar soveel dinge wat so geredelik beskikbaar is om mense se aandag af te lei sodat hulle die dinge afskeep wat werklik belangrik en blywend is nie. Nêrens anders is daar soveel geleenthede vir vermaak nie—goeie, slegte en onsedelike vermaak. Dit was juis hierdie gebrek aan geestelikheid wat Jerusalem, die stad vol mense waarvan Jeremia gepraat het, tot ondergang gedoem het.

Wat hou die toekoms in?

Met die oog op sulke oorweldigende probleme sê 5000 Days to Save the Planet: “Die taak om ’n ordentlike lewenstandaard vir hedendaagse stedelinge, om nie eers te praat van toekomstige geslagte nie, te voorsien, hou blykbaar onoorkomelike probleme in.” Net om aan die teenswoordige eise te voldoen, “plaas ’n ondraaglike las op die omgewing en die gemeenskap”. En met die oog op die toekoms sê dit: “Dit is net wensdenkery om te dink dat ’n mens dié probleme die hoof sal kan bied wanneer die stedelike bevolking drie keer groter as nou is.”

Stede ondervind ongetwyfeld probleme. En weens hulle grootte ondervind megastede selfs groter probleme! Hulle probleme veroorsaak dat die hele wêreld op ondergang afstuur. Is daar ’n oplossing in sig?

Megastede het ’n invloed op ons. Selfs kleiner stede kan ’n invloed op ons hê, party op ’n wyse wat geensins met hulle grootte verband hou nie. Beskou as voorbeelde hiervan die ander stede wat in ons volgende nommer bespreek sal word.

[Prent op bladsy 25]

Lagos, wat vol mense is

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel