Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 4/8 bl. 4-7
  • Stede—Waarom in ’n krisis?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Stede—Waarom in ’n krisis?
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Onvervulde drome
  • Ander wrede werklikhede
  • Probleme van groot stede in Westerse lande
  • “Laat ons vir ons ’n stad bou”
    Ontwaak!—1994
  • “Die stad is vol verdrukking”
    Ontwaak!—1994
  • Die uitdaging om die stede te voed
    Ontwaak!—2005
  • Wat hou die toekoms vir stede in?
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 4/8 bl. 4-7

Stede—Waarom in ’n krisis?

“Kom, laat ons vir ons ’n stad bou en ’n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; . . . sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie.”—Genesis 11:4.

HIERDIE woorde, wat meer as 4 000 jaar gelede gespreek is, het die begin van die bouwerk aan die groot stad Babel aangekondig.

Babel, wat later Babilon genoem is, was op die eens vrugbare vlaktes van Sinear in Mesopotamië geleë. Maar anders as wat baie mense dink, is dit nie die eerste stad wat in die Bybel genoem word nie. Die eerste stede is eintlik al voor die Vloed van Noag se dag gebou. Die moordenaar Kain het die eerste bekende stad gebou (Genesis 4:17). Hierdie stad, wat Henog genoem is, was waarskynlik nie veel meer as ’n versterkte nedersetting of dorpie nie. Babel, daarenteen, was ’n groot stad—’n prominente sentrum van valse aanbidding wat ’n indrukwekkende godsdienstoring gehad het. Maar Babel en sy befaamde toring was ’n simbool van openlike verset teen God (Genesis 9:7). Volgens die Bybel het God dus ingegryp en ’n einde gemaak aan die bouers se ambisieuse godsdiensplan deur hulle taal te verwar. God ‘het hulle daarvandaan oor die hele aarde verstrooi’, sê Genesis 11:5-9.

Dit is nie verbasend dat dit tot die verspreiding van stede gelei het nie. Stede het immers beskerming teen vyandelike aanvalle gebied. Stede het plekke voorsien waar boere hulle produkte kon berg en versprei. Die koms van die mark het dit vir baie stedelinge ook moontlik gemaak om hulle bestaan op ’n ander manier as uit boerdery te maak. The Rise of Cities sê: “Nadat stedelinge bevry is van die las van ’n sukkelbestaan, kon hulle ’n wye verskeidenheid gespesialiseerde ambagte begin beoefen: mandjiewerk, pottebakkery, wewery, leer-, timmer- en steenwerk—waarvoor daar ook al ’n mark was.”

Stede het as doeltreffende verspreidingsentrums vir sulke goedere gedien. Neem byvoorbeeld die Bybelverslag van ’n ernstige hongersnood in Egipte. Die eerste minister, Josef, het dit raadsaam gevind om die mense in stede te vestig. Waarom? Blykbaar omdat die oorblywende voedselvoorraad makliker so versprei sou kon word.—Genesis 47:21.

Stede het ook kommunikasie en interaksie tussen mense verbeter gedurende ’n tyd toe vervoer stadig en beperk was. Dit het weer die tempo van maatskaplike en kulturele veranderinge versnel. Stede het sentrums geword waar nuwighede ingevoer is en het tegnologiese ontwikkeling bevorder. Namate nuwe idees vryelik gevloei het, het nuwe denkrigtings op wetenskaplike, godsdienstige en filosofiese gebiede ontstaan.

Onvervulde drome

Vandag bied stede nog baie van dieselfde voordele. Dit is geen wonder dat hulle nog steeds miljoene mense lok nie—veral in lande waar die lewe op die platteland ondraaglik geword het. Maar vir baie mense wat na stede verhuis, bly die drome van ’n beter lewe onvervuld. Die boek Vital Signs 1998 sê: “Volgens ’n onlangse studie deur die Bevolkingsraad is die lewensgehalte in baie stedelike sentrums van die ontwikkelende wêreld vandag laer as in plattelandse gebiede.” Waarom is dit so?

Henry G. Cisneros skryf in The Human Face of the Urban Environment: “Wanneer arm mense in bepaalde geografiese gebiede gekonsentreer raak, neem hulle probleme vinnig toe. . . . Die toenemende konsentrasie van arm mense, meestal minderheidsgroepe, gaan gepaard met stygende werkloosheid, groter en langer afhanklikheid van welsynsdienste, talle openbare gesondheidsprobleme en, die ergste van alles, ’n toename in misdaad.” Die boek Mega-city Growth and the Future sê eweneens: “Die geweldige toeloop van mense lei dikwels tot hoë vlakke van werkloosheid en werkskaarste omdat die arbeidsmark nie die toenemende aantal werksoekers kan absorbeer nie.”

Die groeiende aantal straatkinders is ’n hartverskeurende bewys van die diep armoede wat in die stede van die ontwikkelende wêreld bestaan. Volgens party skattings is daar wêreldwyd tot 30 miljoen straatkinders! Die boek Mega-city Growth and the Future sê: “Omdat armoede en ander probleme familiebande ondermyn het, moet straatkinders noodgedwonge vir hulleself sorg.” Sulke kinders voer dikwels ’n ellendige bestaan deur tussen vullis rond te krap vir kos, te bedel of klein werkies by plaaslike markte te doen.

Ander wrede werklikhede

Armoede kan tot misdaad lei. In een Suid-Amerikaanse stad wat bekend is vir sy innoverende moderne argitektuur, het misdaad so algemeen geword dat die stad vinnig besig is om ’n landskap van ystertralies te word. Van die rykste tot die armste inwoners is besig om ysterheinings op te rig om hulle eiendom en privaatheid te beskerm. Hulle lewe in werklikheid in hokke. Party bring selfs die tralies aan voordat hulle huis voltooi is.

Groot bevolkings plaas ook druk op ’n stad se vermoë om basiese dienste soos water en sanitasie te voorsien. Na raming het een stad in Asië 500 000 openbare toilette nodig. Tog het ’n onlangse opname getoon dat net 200 toilette gevind kon word wat in ’n werkende toestand is!

Wat ook nie oor die hoof gesien moet word nie, is die vernietigende uitwerking wat oorbevolking dikwels op die plaaslike omgewing het. Nabygeleë plase verdwyn namate stadsgrense uitbrei. Die voormalige hoof van die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur, Federico Mayor, sê: “Stede het ongelooflike hoeveelhede energie nodig, put waterbronne uit en verbruik voedsel en grondstowwe. . . . Die fisiese omgewing word uitgeput omdat dit nie meer kan voorsien wat nodig is of die afvalstowwe kan absorbeer nie.”

Probleme van groot stede in Westerse lande

Hoewel die situasie in Westerse lande dalk nie so kritiek is nie, is daar nogtans ’n stedelike krisis. Die boek The Crisis of America’s Cities sê byvoorbeeld: “Amerikaanse stede word vandag gekenmerk deur geweld wat buitengewone afmetings aanneem. . . . Die voorkoms van geweld in Amerikaanse stede is so ernstig dat mediese tydskrifte aansienlike ruimte daaraan begin wy het as een van die grootste openbare gesondheidskwessies van ons tyd.” Geweld is natuurlik ’n plaag in talle groot stede regoor die wêreld.

Die verval van die stadslewe is een rede waarom baie stede onaantreklik vir werkgewers geword het. Die boek The Human Face of the Urban Environment sê: “Sakeondernemings het na die voorstede of oorsee verskuif, fabrieke gesluit en ‘bruin velde’—leë geboue op besoedelde persele agtergelaat, waar giftige stowwe in die grond begrawe is en wat heeltemal ongeskik is vir ontwikkeling.” Derhalwe is arm mense in baie stede in gebiede gekonsentreer “waar omgewingsprobleme te maklik geïgnoreer word—waar rioolstelsels onklaar raak; waar watersuiwering onvoldoende is; waar vuil persele wemel van rotte en kakkerlakke wat huise binnedring; waar klein kinders loodverf van die mure in vervalle woonstelblokke eet . . . waar dit lyk of niemand omgee nie”. In so ’n omgewing floreer misdaad, geweld en wanhoop.

Daarbenewens vind Westerse stede dit moeilik om basiese dienste te voorsien. In 1981 het die skrywers Pat Choate en Susan Walter ’n boek geskryf met die treffende titel America in Ruins—The Decaying Infrastructure. Daarin het hulle gesê: “Amerika se openbare fasiliteite raak vinniger uitgedien as wat dit vervang word.” Die skrywers het groot kommer uitgespreek oor die aantal brûe wat roes, paaie wat versleg en rioolstelsels in groot stede wat onklaar raak.

Twintig jaar later het stede soos New York nog steeds verslegtende infrastrukture. ’n Artikel in die New York Magazine het die enorme Third Water Tunnel-projek beskryf. Dit is nou al sowat 30 jaar lank aan die gang en word die heel grootste infrastruktuurprojek in die Westelike Halfrond genoem. Die koste hiervan beloop ongeveer 40 miljard rand. Wanneer die tonnel voltooi is, sal dit vyfmiljard liter vars water per dag aan New York-stad lewer. “Maar ten spyte van al die grawery”, sê die skrywer, “is die tonnel net bedoel om die bestaande pype aan te vul sodat hulle vir die eerste keer herstel kan word sedert hulle aan die begin van die eeu gelê is.” Volgens ’n artikel in The New York Times sal dit ongeveer 695 miljard rand kos om die res van die stad se verslegtende infrastruktuur—die moltreinstelsel, watertoevoerpype, paaie, brûe—te herstel.

New York is hoegenaamd nie die enigste stad wat dit moeilik vind om noodsaaklike dienste te voorsien nie. Eintlik het ’n aantal groot stede al getoon hoe kwesbaar hulle is vir ontwrigting weens ’n wye verskeidenheid oorsake. In Februarie 1998 is Auckland, Nieu-Seeland, vir meer as twee weke deur ’n verwoestende kragonderbreking lamgelê. Inwoners van Melbourne, Australië, het 13 dae lank geen warm water gehad nie toe gastoevoerpype afgesluit is weens ’n nywerheidsongeluk by ’n fabriek.

Dan is daar die probleem wat feitlik alle stede in gemeen het—verkeersknope. Die argitek Moshe Safdie sê: “Daar bestaan ’n fundamentele konflik—’n wanbalans—tussen die grootte van stede en die vervoerstelsels wat hulle bedien. . . . Ouer stede moes hulle middestede by verkeersvolumes aanpas wat ondenkbaar was toe hulle gebou is.” Volgens The New York Times is verkeersknope “die reël” in stede soos Kaïro, Bangkok en Sao Paulo.

Ten spyte van al hierdie probleme lyk dit of mense nog steeds na die stede bly stroom. Dit is soos ’n artikel in The UNESCO Courier dit gestel het: “Of dit werklik so is of nie, die stad bied blykbaar vooruitgang en vryheid, ’n droom van geleenthede, ’n onweerstaanbare aantrekkingskrag.” Maar presies wat hou die toekoms in vir die groot stede van die wêreld? Is daar enige realistiese oplossings vir hulle probleme?

[Lokteks op bladsy 5]

“Die geweldige toeloop van mense lei dikwels tot hoë vlakke van werkloosheid en werkskaarste”

[Prent op bladsy 7]

Verkeersknope is ’n groot probleem in baie stede

[Prent op bladsy 7]

Miljoene straatkinders sorg vir hulleself

[Prent op bladsy 7]

Vir baie stedelinge bly drome van ’n beter lewe onvervuld

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel