Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 1/8 bl. 3-4
  • “Laat ons vir ons ’n stad bou”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Laat ons vir ons ’n stad bou”
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Stad genaamd Henog
  • Verskillend, dog eenders
  • Stede—Waarom in ’n krisis?
    Ontwaak!—2001
  • “Die stad is vol verdrukking”
    Ontwaak!—1994
  • ‘Stede wat uit hulle nate bars’
    Ontwaak!—2001
  • Die uitdaging om die stede te voed
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 1/8 bl. 3-4

“Laat ons vir ons ’n stad bou”

Deur Ontwaak!-medewerker in Duitsland

DIE kanse is goed dat jy in ’n stad woon. Volgens party skattings woon byna die helfte van die wêreld se bewoners in stede. Een bron sê dat “stede teen die huidige tempo meer as 75 persent van Suid-Amerika se bevolking, teen die jaar 2000, sal moet huisves”. Volgens hierdie selfde bron sal die aantal stedelinge in Afrika gedurende dieselfde tydperk meer as verdubbel.

Selfs al woon jy nie in ’n stad nie, is die moontlikheid groot dat jy in een werk, jou inkopies daar gaan doen of ten minste nou en dan die geriewe benut wat net ’n stad jou kan bied. Stede het ’n invloed op alle mense. Hoe anders sou ons lewe tog daarsonder gewees het!

’n Stad genaamd Henog

Die bou van stede kan tot baie ver in die geskiedenis teruggevoer word. Ons lees dat Kain, die heel eerste kind wat gebore is, ‘’n stad gebou het en die stad na die naam van sy seun Henog genoem het’ (Genesis 4:17). Deur ’n stad te bou, wat ongetwyfeld relatief klein was in vergelyking met hedendaagse stede, het Kain ’n presedent vir toekomstige geslagte geskep.

Aangesien mense van nature gesellig is, wil hulle graag saam met ander wees. Dit is nie altyd net ter wille van geselskap nie, maar ook sodat hulle veilig en beskermd kan voel, wat veral in vorige eeue belangrik was aangesien gemeenskappe dikwels aangeval is. Maar dit is nie die enigste faktore wat daartoe gelei het dat mense stede begin bou het nie.

The World Book Encyclopedia sê dat daar vier vername redes is wat die stigting van stede bevorder. Dit is “(1) tegnologiese vooruitgang [stoommasjiene, elektriese krag, telekommunikasie], (2) ’n gunstige fisiese omgewing [party faktore is die ligging, klimaat, riviere en gevolglik die watervoorraad], (3) maatskaplike organisering [gesag en regering] en (4) die bevolkingsaanwas”.

Stede het dit makliker gemaak om handel te dryf en om ’n groot arbeidsmag in een gebied te vestig. Daarom sien ons in baie stede groot woonbuurte waar laekostebehuising aan die werkers en hulle gesinne verskaf word. Aangesien openbare en private vervoer vandag geredelik beskikbaar is, word handels- en politieke toesig nie deur afstand belemmer nie. Daarom strek stede se invloed tot in voorstedelike gebiede.

Party eertydse stede is ook met ’n godsdienstige doel gebou. Genesis 11:4 sê: “Hulle [mense wat kort ná die Vloed van Noag se dag geleef het] sê: Kom, laat ons vir ons ’n stad bou en ’n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik [vir godsdiensaanbidding]; en laat ons vir ons ’n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie.”

Die bou van stede is al deur maatskaplike, godsdienstige, kommersiële, geografiese sowel as politieke oorwegings beïnvloed. Stede het terselfdertyd deur die eeue heen grootliks bygedra tot die ontwikkeling van die hedendaagse samelewing soos ons dit ken en het ’n invloed op ons almal gehad.

Verskillend, dog eenders

The New Encyclopædia Britannica sê dat “mense hulle eerste in die vrugbare subtropiese valleie van die Nyl-, die Tigris-, die Eufraat-, die Indus- en die Geelrivier gevestig het”. Hierdie eertydse stede het natuurlik grootliks verskil van die 20ste-eeuse stede wat nou langs dié riviere geleë is.

In vorige eeue het die meeste mense in plattelandse gebiede gewoon. Londen was byvoorbeeld in die jaar 1300 die enigste groot stad in Engeland, en sy bevolking van minder as 40 duisend het nie eers 1 persent van die land se bevolkingsyfer uitgemaak nie. Teen 1650 het ongeveer 7 persent van alle Engelse in Londen gewoon. Teen die begin van die 19de eeu het die stad ’n bevolking van byna eenmiljoen gehad. Vandag woon minder as 9 persent van Brittanje se inwoners in plattelandse gebiede. Die res woon opmekaar in stedelike gebiede, waarvan ongeveer sewemiljoen in net die metropolis Groter Londen woon.

Iets wat ’n mens ’n aanduiding gee van hoe stede in grootte en getal toegeneem het, is die feit dat Londen in 1900 die enigste stad in die hele wêreld was wat ’n bevolking van eenmiljoen gehad het. Nou is daar meer as 200 stede wat meer as ’n miljoen inwoners het. Geograwe praat ook van ’n megalopolis, wat ’n reeks aaneengeskakelde stede is soos dié in die Ruhrgebied in Duitsland, waar die gebied langs die Ruhrrivier, van Duisburg tot Dortmund, feitlik een aaneenlopende gemeenskap vorm.

Ten spyte van die verskille tussen eertydse en hedendaagse stede het hulle wel iets in gemeen—probleme. En die probleme was nog nooit soveel of so groot soos hulle vandag is nie. Stede word deur ernstige probleme geteister. Indien mense enigiets geleer het uit die woorde: “Laat ons vir ons ’n stad bou”, moet dit minstens die feit wees dat die bou van stede, onder onvolmaakte toestande en deur feilbare mense, nie noodwendig die ideale manier is om ons behoeftes te bevredig nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel