Hoeveel geluk bied die stadslewe?
DIE geteisterde mensdom in vandag se stede strewe op etlike maniere na geluk. Stede soos Bombaai, Bangkok, Monte Carlo, San Francisco en Dallas probeer hierdie geluk verskaf. In baie opsigte doen hulle dit wel. Maar is enige van die wêreld se stede ’n bron van blywende geluk?
Die skyn teenoor die werklikheid
Vroeg in hierdie eeu het Hollywood die rolprenthoofstad van die wêreld geword. Daarom sal dit jou dalk verbaas om uit te vind dat Indië tot 800 rolprente per jaar vervaardig. “Die Indiese nasie is verslaaf aan rolprente”, sê die Duitse tydskrif Geo, en sê ook dat hulle verslawing “amper soos ’n godsdiens” is. Dit voeg by: “Die bioskoop dien nêrens anders so duidelik as ’n plaasvervanger vir die wêreld van die vergaderde miljoene wat net op die silwerdoek voorspoed en rykdom, geluk en geregtigheid vind nie.”
Hoewel ongeveer die helfte van Indië se rolprente in Madras aan die ooskus vervaardig word, het sy rolprentbedryf aan die weskus begin. In 1896 het die Franse broers, Auguste en Louis Lumière, die uitvinders van ’n kommersiële projeksietoestel, hulle eerste suksesrolprent by Bombaai se Watson Hotel vertoon.
Bombaai was maar ’n klein dorpie toe Portugese handelaars in 1534 die beheer daarvan oorgeneem het. Brittanje se koning Charles II het in 1661 met ’n Portugese prinses getrou, en die dorpie is as ’n trougeskenk aan hom gegee. In 1668 het dit onder beheer van die Oos-Indiese Kompanjie gekom en eerlank het Bombaai Indië se vernaamste westelike seehawe geword.
Een ensiklopedie sê dat “geen ander stad in die omgewing Bombaai se natuurskoon
oortref nie”. Met die oog op sy pragtige omgewing en in ooreenstemming met die skynwêreld van Indiese rolprente wat deur Bombaai help skep is—’n vermenging van musiek, dans en liefde—is dit veronderstel om ’n stad van vreugde te wees.
Maar Bombaai het een van die hoogste bevolkingsdigthede ter wêreld. Toestande van oorbevolking bederf die stad se pragtige omgewing en bring maar min geluk aan die derduisende wat “sonder lopende water of sanitasie” in plakkersdorpe woon en wat noodgedwonge van “nabygeleë riviere en oop ruimtes as toilette” gebruik moet maak.—5000 Days to Save the Planet.
Bombaai het ook ’n klomp godsdienste. Maar in plaas daarvan dat dit geluk bring, was daar al hewige godsdiensonluste in Indië. In net die afgelope twee jaar het dit die lewens van honderde in Bombaai alleen geëis.
Dis nie alles goud wat blink nie
San Francisco is ook ’n stad met pragtige natuurskoon. Hy is bekend vir sy heuwels, vir een van die beste natuurlike hawens ter wêreld en vir sy brûe, waaronder die Golden Gate-brug wat die ingang tot die hawe oorspan. Min besoekers gaan hier weg sonder om beïndruk te wees.
In 1835 is Yerba Buena gestig en in 1847 is dit San Francisco hernoem. ’n Jaar later is goud hier naby ontdek en het die Kalifornië-goudstormloop begin. ’n Dorpie met net ’n paar honderd inwoners het skielik ’n grenspaddastoelstad geword. Maar die stad het sy terugslae gehad, soos die verwoestende aardbewing en brand van 1906.
San Francisco se internasionale flair dra tot sy gewildheid by. Binne sy grense, sê The European, is daar “afsonderlike wêrelde wat ver van mekaar verwyderd is wat atmosfeer sowel as voorkoms betref”. Verskeie volksgroepe is verteenwoordigend van Europa en Asië, soos een van die grootste Chinese gemeenskappe buite Asië. Die Spaanssprekende inwoners se teenwoordigheid beklemtoon die stad se Mexikaanse herkoms.
Honderde toeristedeskundiges het San Francisco onlangs as hulle “droomstad” gekies en die stad vir sy “ongeëwenaarde vermenging van vriendelikheid, elegansie en verdraagsaamheid” geprys. ’n Joernalis het verder gesê: “Een kenmerk van Noord-Kalifornië en die stad waarin ek woon, is sy verdraagsaamheid teenoor elke soort menslike optrede, iets wat mense in ander dele van die land dronkslaan en kwaad maak.”
Die stad se boheemsheid het al dikwels groot opslae in die nuus gemaak. In die sestigerjare het talle ongemaklik toegekyk toe langhaar-, onversorgde blommekinders “liefde” en “vrede” vereer het voor hulle in die aaklige lewenswyse van dwelmmisbruik en promiskuïteit verval het. En die stad het een van die grootste homoseksuele gemeenskappe in die land.
Vigs het San Francisco baie swaar getref. ’n Duitse koerant noem die epidemie die stad se “kwaaiste krisis” sedert die aardbewing en brand van 1906 en voeg by dat dit “lyk asof sy vrolike stemming vir altyd verlore is”. Die stad by die Golden Gate moes ’n pynlike waarheid onder die oë sien: “Goue” lewenstyle, al lyk hulle ook hoe belowend, het te midde van die hartseer al hulle glans verloor.
Meer verloorders as wenners
Monte Carlo, al lank ’n speelplek vir die rykes en die elite, is die tuiste van een van die beroemdste dobbelhuise ter wêreld. Sedert sy casino in 1861 in gebruik geneem is, het dit ’n gewilde stilhouplek vir toeriste geword. Hier is verskeie casino’s om die wense te bevredig van diegene wat meen dat dobbelary die sleutel tot lewenslange geluk is. Maar met dobbelary is daar baie meer verloorders as wenners.
Monte Carlo is op die Franse Riviera in die vorstedom Monaco geleë en het ’n oppervlakte van minder as 2,5 vierkante kilometer. Monaco is deur die Romeine van die ou tyd bewoon. In 1297 het die welgestelde Grimaldi-gesin van Italië die beheer daarvan oorgeneem. Nadat Monaco sy onafhanklikheid eers aan Spanje en toe aan Frankryk verloor het, is die vorstedom in 1814 onder die Grimaldi’s herstel.
In 1992 het Rainier III, ’n Grimaldi-afstammeling, kommer uitgespreek oor die veiligheid van sy onderdane. Nadat hy gesê het dat “veertig persent van die wêreld se tenkskepe deur die Middellandse See vaar”, het hy bygevoeg: “Daar is 150 keer meer oliebesoedeling hier as in die Noordsee. Tagtig persent van die rioolpype wat in hierdie see uitmond, stort hulle inhoud regstreeks en onbehandeld in die see.”
Ten spyte van probleme, sê The European, “laat geen ander oord ’n mens so onmiddellik aan opwinding en ouderwetse sorgeloosheid dink bloot wanneer sy naam genoem word nie”. Sy casino’s, sy museums, sy luukse seiljagklub, sy tydren—wat volgens sommige die puikste en betowerendste is—en ook sy operagebou dra alles tot hierdie beeld by. Maar kultuur is nie al wat die welgesteldes na Monte Carlo toe lok nie; daar is ook sy aansienlike belastingvoordele.
Tog kan geld en kultuur nie blywende geluk verseker nie. In 1891 het Charles Wells, ’n Engelsman, wel ’n bank in Monte Carlo bankrot laat raak, maar ten spyte van sy ‘gelukslag’ het hy uiteindelik in die tronk beland. En in ’n stad wat vir sy opwindende motorwedrenne en watersport bekend is, is dit ironies dat prins Rainier se vrou, prinses Grace, in 1982 in ’n motorongeluk gesterf het en dat hulle dogter se man in 1990 in ’n ongeluk tydens ’n motorbootwedren omgekom het.
Die kultuur wat in die Verenigde State geskep is
Hoewel baie Europeërs Amerika se popkultuur kritiseer, lyk dit tog asof hulle baie daarvan vir hulleself aanneem. Hulle het byvoorbeeld etlike jare lank met welgevalle na die gekonkel en gesinskandale in die televisiereeks Dallas gekyk. ’n Duitse koerant het die reeks geprys omdat dit “’n emosionele behoefte bevredig het” en omdat dit mense “’n gevoel van veiligheid, vertroue en samehorigheid gegee het”.
Die tydskrif Time was nie so vleiend nie. Dit het gesê dat die program “oordadigheid tot ’n wêreldgodsdiens verhef het . . . Dit het kykers aan die hebsugtige tagtigerjare bekend gestel deur van ’n Texas-oliehandelaar ’n afgod te maak.”
Die beeld wat die stad deur sy televisienaamgenoot Dallas gekry het, is nouliks wat die regsgeleerde en handelaar John Bryan in gedagte gehad het toe hy in 1841 ’n handelspos gestig en dit waarskynlik na ’n Amerikaanse visepresident, George Dallas, vernoem het. As ’n finansiële, vervoer- en nywerheidstad—die tuiste van meer oliemaatskappye as enige ander Amerikaanse stad—is “Big D” beslis ryk.
Rykdom word dikwels met geluk gelykgestel; daarom beskou mense Dallas miskien as ’n stad van vreugde. Rykdom verhinder egter nie dat slegte dinge gebeur nie. Dit was hier in Dallas, op 22 November 1963, dat John F. Kennedy, die 35ste president van die Verenigde State, in ’n sluipmoordaanval gesterf het.
Grootskaalse misdaad is een van Dallas se probleme wat mense van hulle geluk beroof. ’n Ander probleem is spanning op die gebied van ras en kultuur. In Dallas, soos in enige stad met verskillende rasse en kulture, is daar altyd die moontlikheid van geweld, soos die rasse-onluste in Los Angeles en die godsdiensonluste in Bombaai bewys.
Hy wurg aan sy voorspoed
Bangkok is vroeër, vanweë sy baie kanale, die “Venesië van die Ooste” genoem. Nou is die meeste kanale deur paaie vervang, en volgens een verslag “bestee die tipiese motoris die ekwivalent van 44 dae per jaar om in die agterste buffer van die motor voor hom vas te kyk”.
Koning Rama I was heeltemal onbewus van sulke probleme toe hy ’n klein dorpie in 1782 in ’n koninklike stad verander het en dit Kroeng Thep, wat “Stad van engele” beteken, hernoem het. Nadat die Groot Paleis gebou is, is die res van die stad rondom die paleis uitgelê ooreenkomstig die Thai-opvatting dat die paleis die middelpunt van die heelal is. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is Bangkok op groot skaal deur bomaanvalle beskadig. Ten spyte van sy naam en luisterryke tempel was daar geen bewys van engelebeskerming nie.
Hoewel die stad sowat 30 kilometer van die Golf van Siam af geleë is, is Bangkok in ’n seehawe omskep vanweë die voortdurende baggerwerk in die Tsjao Phraya-rivier wat deur die stad vloei. Die rivier loop dikwels oor sy walle en oorstroom sekere dele van die stad, waarvan sommige slegs 60 sentimeter bo seevlak geleë is. Maar die vloedwaters word deesdae deur ’n omleidingskanaal verlê, en dit het ’n mate van verligting gebring. Nog ’n probleem is dat die duisende artesiese putte die watervlak laat daal het. Sedert 1984 sink die hele stad teen ’n tempo van tien sentimeter per jaar.
Bangkok se groei tot meer as vyfmiljoen mense, tesame met ’n mate van ekonomiese voorspoed, behoort ’n rede tot geluk te wees. En miljoene toeriste besoek die stad jaarliks en maak sy geldkiste vol. Maar dit is deels ten koste van sy reputasie, want baie besoekers word gelok deur die goedkoop en maklik verkrygbare seks in Bangkok se bordele. Nou is die stad bekend as die Verre-Ooste se hoofstad van wellus.
Selfs nie eens die vreugde van geleenthede soos Bangkok se tweehonderdjarige feesviering—met blommevertonings, geskiedkundige uitstallings, koninklike plegtighede, klassieke danse en vuurwerke—kan die hartseer uitwis wat in hierdie stad gevoel word nie. Newsweek het gesê Bangkok is “besig om aan sy eie ekonomiese voorspoed te wurg”.
Hoe om ware geluk te vind
Wat het toonaangewende vermaaklikheidsentrums werklik om aan te bied, soos die bogenoemde stede toon? Hoogstens kortstondige genot, maar nie blywende geluk nie. Vandag kan blywende geluk slegs in samewerking met God se gees, waarvan blydskap ’n vrug is, verkry word.—Galasiërs 5:22.
Moet dus nie tevergeefs na geluk soek nie, nie in die rolprentateljees van Bombaai, die dobbelhuise van Monte Carlo, die alternatiewe lewenstyle van San Francisco, die skynbare rykdom van Dallas of die bordele van Bangkok nie. In toekomstige nommers sal ons sien waar blywende geluk gevind kan word.
[Prent op bladsy 25]
San Francisco, VSA
[Prent op bladsy 25]
Bombaai, Indië
[Prent op bladsy 26]
Bangkok, Thailand