Ons beskou die wêreld
Bedelaars in skaapsklere
In China is bedelary nou ’n manier waarop party gewetenlose bedrieërs ryk word, sê die Worker’s Daily. As kinders wat bedel iemand sien wat hulle meen simpatiek lyk, “begin hulle huil en sê ‘oom, tannie—ek is baie honger’. Die moontlike skenker kan niks anders doen as om te gee nie”, sê die Chinese koerant. Ma’s knyp hulle kinders sodat hulle kan huil en sê dan dat “die kinders siek is en dat hulle nie geld het om dokter toe te gaan nie”. Die koerant voeg by dat bejaardes neerkniel, “diep buig en ’n donasie afdwing”. ’n Chinese amptenaar het gesê dat 25 000 bedelaars oor ’n tydperk van drie jaar ondervra is en het gesê dat hierdie opname getoon het dat slegs 8,5 persent van die bedelaars niemand gehad het om na hulle om te sien nie en dat slegs 18,5 persent van diegene wat gelyk het asof hulle liggaamsgebreke het werklik gebreklik is.
Nog slagoffers dagvaar die kerk
Slagoffers van seksuele molestering in Australiese godsdiensinstellings, wat deur Katolieke “broeders” bestuur word, span volgens The Canberra Times saam om een van die grootste gesamentlike aanklagte in die regsgeskiedenis van Australië aanhangig te maak. ’n Organisasie wat gewese kinderslagoffers verteenwoordig, het onlangs aansoek gedoen om meer as 250 dagvaardings vir vergoeding in te dien. Die molestering het na bewering van die veertiger- tot die tagtigerjare plaasgevind, en onder die vernaamste verweerders wat in die dagvaardings aangegee word, is etlike Katolieke aartsbisdomme. Een Maristebroeder is reeds aan seksuele molestering skuldig bevind. Die regsgeleerde wat die slagoffer in hierdie hofsaak verteenwoordig het, het gesê: “Hierdie is net die puntjie van die ysberg. Daar is ’n stortvloed aanklagte wat waarskynlik gedurende die volgende paar jaar ingedien sal word. Alle godsdiensinstellings het rede om besorg te wees.”
Wie het die meeste kinders?
Watter nasie het die hoogste vrugbaarheidsyfer ter wêreld? Volgens die Verenigde Nasies is Rwanda in die eerste plek, want dit is waar vroue van vrugbare leeftyd elk die lewe aan gemiddeld 8,5 kinders skenk. Die volgende op die lys is Malawi met 7,6 kinders, Côte d’Ivoire met 7,4 en Uganda met 7,3 kinders. Die gemiddelde syfer vir die wêreld is 3,3 kinders terwyl dit vir ontwikkelde lande 1,9 is. Dit is verrassend dat die nasie met die laagste vrugbaarheidsyfer ter wêreld, met net 1,3 kinders per vrou van vrugbare leeftyd, die eens vrugbare Italië is. Die dae toe dit vir ’n Italiaanse gesin iets alledaags was om drie, vier of meer kinders te hê, is verby. Die tyd toe Italianers die instruksies van die Katolieke Kerk in verband met geboortebeperking gevolg het, is klaarblyklik ook verby.
Ouerlike kontak voor geboorte
Waarom moet jy met ’n baba praat wat nog in sy moeder se baarmoeder is? In die Brasiliaanse tydskrif Veja sê die Switserse kinderpsigiater Bertrand Cramer: “Hierdie soort geselsery laat die ouers, veral die moeder, toe om voor geboorte die eerste kontak met die kind te hê.” Hoewel dit volgens dr. Cramer nog nie heeltemal bekend is hoe die baba sulke geselsery vertolk nie, “is die enigste sekerheid wat ons het die feit dat die geheue reeds werk, wat buitengewoon is”. Aangesien die baba ná geboorte die ouers se gesigsuitdrukkings met groot aandag dophou, sê dr. Cramer verder dat “alle gebeurtenissies reeds gedurende die eerste paar dae van die baba se lewe uiters belangrik is”. Maar hy waarsku: “Pleks dat ouers hulle daaroor kwel dat hulle volmaakte kinders het, moet hulle eerder ’n swak verhouding met hulle kinders vermy wat aanleiding kan gee tot toekomstige volwassenes wat ’n gesplete persoonlikheid het of depressief is. Dit is genoeg om van normale kinders te droom—en nie van moontlike Nobelpryswenners nie.”
Vigs in Côte d’Ivoire
Van die bykans 13 miljoen inwoners van Côte d’Ivoire, Wes-Afrika, is ten minste 1 uit elke 10 volwassenes met die vigs-virus besmet, wat beteken dat dit een van die streke in die wêreld is wat die ergste getref is. Dokters sê dat vigs reeds die vernaamste oorsaak van sterfgevalle onder jong volwassenes in Abidjan, die hoofstad, is en dat die epidemie hom tot in byna elke deel van die land uitgebrei het. Die Franse regering het gesê dat hulle groter finansiële bystand sal verleen om die vigs-epidemie in Côte d’Ivoire te beveg. Franse dokters en ministers is egter van mening dat die internasionale farmaseutiese bedryf maar baie min gedoen het om ontwikkelende lande in hulle stryd teen vigs te help. Die Franse koerant Le Monde berig dat die geneesmiddelvervaardigers se prysbeleide die viruswerende middels waarmee vigs-slagoffers behandel moet word feitlik buite die bereik van mense in Afrika plaas.
Die kerke in Hongarye is ook skuldig
Daar word beweer dat ongeveer ’n halfmiljoen Jode gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Hongarye vermoor is. Hoe het die Christendom se kerke in daardie land gedurende hierdie afgryslike tydperk gereageer? ’n Verslag wat deur teoloë van die Lutherse, Baptistiese en Rooms-Katolieke gelowe opgestel is, toon dat hierdie kerke “spyt is dat hulle nie kragtiger opgetree het om Joodse medeburgers in hulle land te beskerm nie”. Waarom was die kerke so huiwerig om die vervolging teë te staan? Die onbesliste houding wat hulle ingeneem het, was glo “die gevolg van die anti-Judaïstiese tradisie van die kerke, sowel as die tradisionele, noue verbintenis met die owerheid”, sê Süddeutsche Zeitung.
Sterfgevalle gedurende swangerskap
Die 1992 Report wat deur die Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds uitgegee is, sê dat “swangerskap een van die vernaamste oorsake van sterfgevalle onder vroue van vrugbare leeftyd in ontwikkelende lande is”. Gedurende 1992 het gemiddeld 1359 vroue per dag in die ontwikkelende wêreld gesterf as gevolg van komplikasies wat met swangerskap of die bevalling verband hou. In teenstelling hiermee toon die verslag dat daar gedurende dieselfde jaar 11 sterfgevalle per dag in die ontwikkelde lande weens swangerskapkomplikasies was. Hoewel die gevaar vir ’n vrou om gedurende swangerskap te sterf in party ontwikkelde lande van 1 uit 6000 tot 1 uit 9000 wissel, is die gevaar in die minste ontwikkelde lande 1 uit 20. Volgens UNFPA toon hierdie syfers “’n verstommende verskil tussen die ontwikkelende en ontwikkelde lande”.
Desibelskade
Die Paryse tydskrif Le Point berig dat 1 uit elke 4 jongmense in Frankryk wat gereeld na musiek oor hulle stereo-oorfone luister aan gehoorverlies lei. Hoëdesibel-musiek is die oorsaak hiervan. Meer as twee derdes van die jongmense in Frankryk het hulle eie stereostel. Baie van hierdie stereostelle lewer klanke van 100 tot 110 desibels regstreeks in die oorkanaal. Dokters sê dat jy blywende gehoorskade kan voorkom as jy nie langer as 40 minute na musiek op die 100-desibelvlak en vyf minute op die 110-desibelvlak luister nie! Tog erken baie jongmense dat hulle dikwels meer as vyf uur per dag na musiek oor hulle oorfone luister. Na aanleiding van die aantal jongmense wat in toenemende mate aan vroeë gehoorverlies ly, het die Wêreldgesondheidsorganisasie aanbeveel dat persoonlike stereostelle ’n maksimum leweringsgrens van 90 desibels moet hê.
Die voorkoming van selfmoord
’n Nuwe sentrum om selfmoord en pogings tot selfmoord te voorkom, is in die Karolinska-hospitaal in Stockholm, Swede, gestig. Die hoof van die sentrum, assistent-professor Danuta Wasserman, sê in die Sweedse dagblad Dagens Nyheter dat mense met selfmoordneigings se gebrek aan selfvertroue en vertroue in ander een van die baie faktore is wat tot selfmoord of selfmoordpogings lei. Daarom stel sy voor dat selfmoord tot ’n minimum beperk kan word deur nouer bande met ander te hê en groter meegevoel teenoor ander te betoon. “In Swede is daar ’n toenemende neiging om jou van ander af te sluit en net vir jouself te lewe”, sê sy. Sy stel voor dat jy “selfverloëning en afsondering moet vermy” en “met iemand moet praat” as jy vind dat jy aanhou om aan selfmoord te dink. Langtermynstudies wat op mense gedoen is wat selfmoord probeer pleeg het, het bewys dat 90 persent van hulle uiteindelik weer ’n normale lewe lei ná die krisis verby is.
Bybelse stad opgegrawe
Le Figaro, ’n Franse koerant, berig dat ’n span Japannese argeoloë die oorblyfsels van een van die vyf eertydse Bybelse stede opgegrawe het wat Afek genoem is. Geleerdes probeer al jare lank tevergeefs om die ligging van hierdie eertydse stad in verband te bring met die hedendaagse dorpie Afriq of Fiq, wat vyf kilometer oos van die See van Galilea geleë is. Maar die argeoloog Hiroshi Kanaseki is daarvan oortuig dat die ontdekking van die eertydse muur by ‘En Gev, aan die oewer van die See van Galilea, bewys dat die terrein wel die plek is waar hierdie bepaalde Bybelse stad Afek eens gestaan het. Die Bybel maak in 1 Konings 20:26 daarvan melding as die plek waar die Siriese koning Benhadad II deur die Israelitiese magte onder aanvoering van koning Agab verslaan is.