Die fassinerende soektog na nuwe medisyne
Deur Ontwaak!-medewerker in Brittanje
Wat het rubber, kakao, katoen en pynstillers gemeen? Hulle kan almal van plante verkry word. Benewens suiker en suurstof wat deur middel van fotosintese gemaak word, vervaardig groen plante ook ’n buitengewone reeks stowwe uit ander basiese chemiese boustene. Hierdie sekondêre chemikalieë gee aan elke plant sy kenmerkende eienskappe.
DIE prikkeling wat deur ’n netel veroorsaak word, die skerp smaak van ’n appel en die sagte geur van ’n roos is elkeen die gevolg van verskillende samestellings van chemiese stowwe wat deur die plante self vervaardig word. Wat gevolglik na ’n enkele produk lyk, is in werklikheid dikwels ’n baie ingewikkelde samestelling.
Die natuur se chemiese fabrieke
Neem die kenmerkende reuk van kakao. Het jy geweet dat wetenskaplikes tot dusver al 84 verskillende vlugtige chemikalieë ontdek het wat saam hierdie unieke aroma vorm? Die bestanddele van kakaobone is uiters ingewikkeld, en daar is in onlangse jare baie moeite gedoen om hulle te identifiseer. En dit is net een natuurlike produk.
Cholesterol is ’n vetterige stof wat miskien die beste daarvoor bekend is dat dit met hartsiekte in mense verband hou. En tog vorm dit in sommige plante die beginpunt van ’n proses om ’n noodsaaklike groep chemikalieë te maak wat steroïede genoem word. Steroïede sluit vitamien D, hormone (soos kortisoon) en medisyne soos die anti-inflammatoriese betametasoon in. Diosgenien, ’n steroïed wat in die vervaardiging van mondelikse voorbehoedmiddels gebruik word, word deur sekere soorte wilde jams geproduseer. Kortisoon word daarenteen vervaardig van hekogenien, ’n natuurlike steroïed wat ná die vervaardiging van vesel uit sisalblaarpap verkry word. Baie van vandag se nuwe medisyne is aanvanklik uit plantweefsel verkry.
Plante en die mens
Hoewel die mens se gebruik van sintetiese medisyne ’n moderne mediese ontwikkeling is, word plantaftreksels al duisende jare as geneesmiddels vir algemene kwale gebruik. Vroeë Assiriese verslae beskryf die gebruik van die gewone anemoon om pyn te verlig. En Egiptiese mediese papirusse uit die tyd van die Farao’s toon dat die gebruik van medisinale plante algemeen was.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie het wêreldwyd al die gebruik van ongeveer 20 000 medisinale plante opgeteken. In Brittanje alleen word daar na raming 6000 tot 7000 ton kruie jaarliks as bestanddele in nagenoeg 5500 verskillende kruieprodukte gebruik, en in die Verenigde State word daar gereken dat meer as die helfte van die medisyne wat dokters voorskryf van plante afkomstig is.
Die soektog na nuwe medisyne
Met tot 250 000 bekende plantspesies in die wêreld wat elkeen ’n potensieel unieke chemiese samestelling het, soek wetenskaplikes voortdurend na leidrade om nuttige medisyne te vind. Een van die vanselfsprekende maniere is om vas te stel hoe mense siektes behandel deur plante te gebruik wat in hulle omgewing groei.
Kokaïen is ontdek toe daar opgemerk is dat wanneer kokablare gekou word dit hongerpyne verdoof en uitputting verminder. Deur die struktuur van die kokaïenmolekule te isoleer en te wysig, het skeikundiges ’n sintetiese derivaat vervaardig om as ’n plaaslike verdowingsmiddel te gebruik. As jou tandarts jou al ’n inspuiting gegee het om ’n deel van jou kaak te verdoof sodat jy nie pyn ervaar nie, het jy waarskynlik by hierdie navorsing baat gevind.
Baie waardevolle inligting oor die gebruik van plante word steeds in botaniese versamelings bewaar. Wetenskaplikes wat meer as vier jaar lank 2,5 miljoen plante in die Gray-herbarium en die Arnold-arboretum van die Harvard-universiteit bestudeer het, kon meer as 5000 plantspesies wat voorheen misgekyk is positief as potensiële bronne van medisyne identifiseer.
Nog ’n metode is om na die chemiese inhoud van plante te kyk. As een spesie nuttige verbindings bevat, kan verwante spesies ook waardevol wees. Toe navorsing gedoen is op ’n Noord-Australiese boom, die Moreton Bay-kastaiing, en daar vasgestel is dat dit kastanospermien bevat, ’n gifstof met ’n viruswerende werking, het botanici wat na verwante bome op soek was, voorgestel dat daar na die Suid-Amerikaanse Alexa gekyk word.
Navorsing teen kanker
Soms kan leidrade misleidend wees en dan onverwagte resultate oplewer. Daar is byvoorbeeld gesê dat aftreksels van die Malgassiese maagdepalm vir die behandeling van diabetes gebruik kan word. Kanadese navorsers het dit begin toets, maar tot hulle verbasing het die maagdepalm-aftreksel die immuunstelsel onderdruk deur die vervaardiging van wit bloedselle te verminder. Dit het dokters op die idee gebring om die aftreksel teen leukemie, ’n kanker van die wit bloedselle, te toets.
Uiteindelik is ongeveer 90 stowwe geïsoleer, waarvan twee, vinkristien en vinblastien, medies bruikbaar was. Hulle kom in sulke klein hoeveelhede in die plant voor dat ongeveer een ton plantmateriaal nodig is om twee gram vinkristien te lewer. Vandag het hierdie plante en hulle derivate ’n soort chemoterapie moontlik gemaak wat wêreldwyd in die behandeling van leukemie in kinders gebruik word.
In die laat vyftigerjare het die Amerikaanse Nasionale Kankerinstituut ’n 25 jaar lange ontledingsprogram onderneem waartydens 114 000 plantaftreksels van 40 000 spesies vir gewasbestrydende werking op kankerkwekings getoets is. Nagenoeg 4500 van hierdie plantaftreksels het ’n merkbare uitwerking gehad wat verdere studie geregverdig het. Maar dr. W. C. Evans, ’n raadgewende farmakognosis, sê: “Dit is hoogs onwaarskynlik dat kankerbestrydende medisyne met ’n breë spektrum werklik gevind sal word” as ’n direkte gevolg van sulke navorsing, hoe belangrik dit ook al is. Kankers is ontsaglik uiteenlopend, en slegs ’n paar vinnig groeiende kankerselkwekings is in hierdie toetse gebruik.
Nuwe medisyne uit ou plante
Bekende plante gee navorsers meer om oor na te dink. Gemmer word byvoorbeeld nou as ’n braakteenmiddel gebruik wat veral doeltreffend is teen bewegingsiekte.a Dit is selfs betekenisvoller dat gemmer nuttig kan wees om lyers van die tropiese, parasitiese siekte schistosomiase (bilharzia) verligting te gee. Nadat toetse met die gebruik van gemmerpoeier op besmette skoolkinders in Nigerië gedoen is, het daar nie meer bloed in hulle urine voorgekom nie en het die schistosoma-eiertelling verminder.
Navorsers het nog beswaarlik aan die groenteryk geraak in hulle soektog na meer medisyne. Selfs daardie plante wat relatief bekend is, bevat nog baie geheime. Soethout is deesdae gewild, aangesien chemikalieë wat daarin ontdek is doeltreffende anti-inflammatoriese agense is en hulle derivate verligting kan verskaf aan sommige mense wat aan gewrigsontsteking ly. Wetenskaplikes ondersoek ook die gewone ertjie as swambestrydende en kiemwerende middel.
Die onverskillige vernietiging van plantspesies in sekere dele van die wêreld—voordat daardie plante opgeteken is—beteken dat die soektog na nuwe medisyne vinnig moet voortgaan. Die sorgvuldige chemiese ontleding van plante en hulle genetiese bewaring bly ’n belangrike prioriteit, selfs vir bekende plante. Maar daar is een raaisel wat nog opgelos moet word: Van watter nut is baie van hierdie buitengewone chemikalieë vir die plante self? Waarom vervaardig die posteleinplant byvoorbeeld so ’n hoë konsentrasie noradrenalien, ’n hormoon wat onontbeerlik vir die mens se welsyn is?
Ons kennis van die ingewikkeldhede van die plantlewe is steeds uiters beperk. Maar wat ons wel weet, is ’n aanduiding daarvan dat alles ontwerp is en dat die erkenning daarvoor ’n Grootse Ontwerper toekom.
[Voetnoot]
a Sien die Ontwaak! van 8 Desember 1982, bladsy 31.
[Prent op bladsy 24]
Gemmer word as ’n middel teen bewegingsiekte gebruik