Ons beskou die wêreld
NUWE KATEGISMUS AANGEVAL
Die Vatikaan hersien sy kategismus vir die eerste keer sedert die 16de eeu. Maar die 434 bladsy lange samevatting van die Rooms-Katolieke leer is deur party biskoppe in die Verenigde State aangeval, wat “die Vatikaan meegedeel het dat die nuwe kategismus verouderde Bybelkennis en seksistiese taal gebruik en die ekumeniese vooruitgang van onlangse dekades te kort doen”, sê U.S.News & World Report. “Die biskoppe het dit gekritiseer omdat dit die skeppingsverslae uit ’n letterlike oogpunt beskou en sommige uittreksels uit die Nuwe Testament as ‘direkte geskiedkundige beriggewing’ behandel.” ’n Verkeerde indruk word geskep, naamlik “dat alle gebiede ewe belangrik is”, het die biskoppe gesê. Hulle het aangevoer dat “wesenlike” kerkleerstellings, soos die opstanding van Jesus, onderskei moet word van oortuiginge wat, na hulle mening, minder vas staan, soos die bestaan van engele en Christus se neerdaling na die hel. Wanneer die nuwe kategismus voltooi is, sal dit “slegs as gids dien vir kerkleiers in elke land wanneer hulle hul eie kategismus saamstel”, sê U.S.News & World Report.
VIGS—DROEWE VOORUITSIG
Wêreldwyd is agt- tot tienmiljoen mense met die Vigs-virus besmet, berig die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie). Hierdie vermeerdering dui daarop dat die virus in toenemende mate deur heteroseksuele omgang oorgedra word. “Dit is nou duidelik dat HIV-besmetting wêreldwyd vinnig meer slagoffers eis, veral in ontwikkelende lande”, sê dr. Michael H. Merson, ’n direkteur van die liggaam. Die WGO voorspel ook dat die toename in besmetting die dood van ten minste driemiljoen vroue en kinders in die negentigerjare sal veroorsaak, meer as ses keer die aantal wat in die tagtigerjare aan Vigs gesterf het. Daar word verwag dat die aantal mans wat gedurende die dekade aan Vigs sal sterf selfs groter sal wees. Miljoene onbesmette kinders sal verwees word wanneer hulle ouers sterf. Volgens die verslag is Vigs alreeds die hoofdoodsoorsaak onder vroue van 20 tot 40 jaar in groot stede in die Amerikas, Wes-Europa en Afrika besuide die Sahara, waar ongeveer 1 uit elke 40 volwasse mans en vroue na bewering besmet is.
KRUIE ’N “GOUDMYN”?
Kan lande soos Brasilië hulle reënwoude winsgewend maak? Heel moontlik, volgens ’n artikel in Scanorama (die Skandinawiese Lugvaartstelsel se vlugtydskrif): “Die WGO doen aan die hand . . . dat kruietuine aangeplant en medisinale plante verkoop word. Die Deense botanis Ole Hamann sê hy beskou sulke projekte as ’n potensiële ‘goudmyn’ vir ontwikkelende lande.” Hoe so? Die oorvloed van plante in die reënwoude, waarvan die medisinale eienskappe in baie gevalle nog nie getoets is nie, is ’n uitdaging vir navorsers. Ongeveer 250 000 plante is reeds geïdentifiseer, maar “botaniste raam dat nog 30 000 plantsoorte, meestal tropiese plante, nog nie aan die wetenskap bekend is nie”. Baie van hierdie plante kan waardevol wees in die bestryding van verskeie siektes, aangesien “ten minste 25 persent, en waarskynlik byna die helfte, van alle voorskrifmedisyne wat in die Weste gebruik word natuurlike bestanddele bevat wat van plante afkomstig is”.
ROOKEPIDEMIE
“Gedurende die afgelope twee dekades het die gebruik van tabak wêreldwyd met byna 75% toegeneem”, berig JAMA (The Journal of the American Medical Association), en “dit is verantwoordelik vir ongeveer 2,5 miljoen oorbodige of vroeë sterftes per jaar—ongeveer 5% van alle sterftes”. Terwyl die aanvraag na tabakprodukte in ekonomies ontwikkelde lande verminder het, was daar ’n toename in die aantal rokers in ontwikkelende lande, veral in Suidoos-Asië, Afrika en Latyns-Amerika. Die Verenigde State bevind hom byvoorbeeld in die pynlike situasie waar hy op eie bodem ’n anti-rookveldtog steun terwyl hy druk uitoefen om nuwe buitelandse markte vir sy tabakprodukte te open om handelstekorte te help verlig. Volgens die verslag sal nagenoeg 200 miljoen kinders wat tans jonger as 20 is uiteindelik weens tabakgebruik sterf, en sterftes weens longkanker sal teen die jaar 2000 wêreldwyd tot tweemiljoen toeneem.
BAMBOESDEURBRAAK
Volgens Asiaweek maak ’n kwart van die wêreld se bevolking op bamboes staat vir voedsel, veevoer, meubels, steierwerk en papierprodukte. Reusepandas floreer daarop. Dit is sterk, bestand teen verrotting en is lig. Maar die meeste bamboessoorte blom en dra net een keer saad, en blykbaar volgens ’n interne horlosie gebeur dit net elke 12 tot 120 jaar, en daarna gaan die hele bos dood. Tot dusver het hierdie eienskap wetenskaplikes se pogings verydel om verbeterde plantlyne te ontwikkel, aangesien die ekonomies belangrikste spesies eers na 30 jaar blom, en gevolglik dikwels langer leef as die betrokke wetenskaplikes. Die tydskrif Nature berig dat botaniste nou sê dat hulle ’n manier ontdek het om die horlosie in twee bamboessoorte te oorwin sodat dit vroeg blom, wat dit moontlik maak om beter plantlyne te produseer en ’n bestendige voorraad sade te hê vir heraanplanting. Deur jong plantjies in ’n spesiale groeimengsel te plaas, is volgroeide blomme binne ’n paar weke geproduseer, en die meeste het sade gedra nadat dit gebloei het.
WANNEER DIE LEWE DIE DOOD VEROORSAAK
“Stel jou voor”, sê verloskundige Malcolm Potts, “dat daar elke ses uur, dag in, dag uit, ’n makrostraler neerstort en dat almal aan boord omkom. Die 250 passasiers is vroue, die meeste in die bloei van die lewe, sommige nog in hulle tienderjare. Hulle is almal swanger of het so pas ’n baba gehad. Die meeste van hulle het groeiende kinders tuis, en gesinne wat op hulle staatmaak.” Die illustrasie beeld die halfmiljoen vroue dwarsoor die wêreld af wat jaarliks gedurende swangerskap of met die bevalling sterf. “Buiten 1 persent is al hierdie moeders wat sterf in die Derde Wêreld”, sê die New Scientist. “Die grootste doders is bloeding, infeksie, bloedvergiftiging, obstruktiewe kraam en onprofessionele aborsie.” Ongewenste swangerskappe lei tot ’n jaarlikse slagting van moeders en fetusse. “Elke jaar wil tussen 40 en 60 miljoen vroue ’n aborsie ondergaan”, sê die tydskrif.
EGIPTE SE KUNSSKATTE BEDREIG
Die bou van die Bo-Aswan-dam in die sestigerjare “het ’n fundamentele verandering in die omgewing van die Nyl-vallei tot stand gebring”, sê The New York Times. “Grondwater onder die monumente het gestyg; die lug is vogtiger omdat die besproeiingskanale nooit leeg raak nie; soute in die grond word dwarsdeur antieke fasades getrek en laat hulle los raak van die rots onder hulle; riool het die grond besoedel.” Gevolglik word Egipte se argeologiese skatte—die omvangrykste ter wêreld—wat soveel millenniums oorleef het, nou ernstig bedreig. Daar is volop getuienis dat skade aangerig is selfs op terreine waar daar geen uitgrawings gedoen is nie, terreine wat vroeër as veilig en beskut beskou is. Die omvang van die probleem slaan deskundiges dronk, en hulle weet nie wat om te doen nie. “Daar is meer as 2000 grafte, ’n hele aantal monumente, piramides, gedenknaalde”, sê Sayed Tawfiq, direkteur van die Organisasie vir Egiptiese Oudhede in Kaïro. “As jy twee jaar daaraan bestee om elke graf te restoureer, sal dit 4000 jaar duur.”
NUWE SPESIES ONTDEK
Elke jaar ontdek wetenskaplikes meer as 10 000 nuwe plant- en diersoorte. ’n Groot aantal hiervan is insekte, met vyf tot tien nuwe soogdiere en net soveel voëls wat elke jaar geïdentifiseer word. Hoe baie dit ook al klink, bioloë moet nog baie leer. Daar is nagenoeg 50 miljoen plant- en diersoorte ter wêreld, en minder as 1,5 miljoen is al gesien en geklassifiseer. Die ontdekking van ’n nuwe primaat, die swartgesig leeu-apie, het onlangs onder die aandag gekom, aangesien dit minder as 320 kilometer van die wêreld se derde grootste stad, langs die dig bevolkte Brasiliaanse kus, ontdek is. Namate tropiese woude verdwyn, word daar gevrees dat spesies vinniger sal verdwyn as wat hulle opgespoor kan word.
UITWERKING VAN GESINSLEWE
“Gesinstruktuur het baie te doen met kinders se gesondheid en ontwikkeling”, sê ’n artikel in The Wall Street Journal. Statistiek van ’n Amerikaanse “regeringsopname van die gesondheid en emosionele gesteldheid van sowat 17 000 kinders tussen die ouderdomme van die kleuterjare tot 17” het aan die lig gebring dat “kinders wat deel is van nie-tradisionele gesinne aansienlik groter probleme gehad het as dié wat by albei natuurlike ouers woon”. Die kanse om ’n ongeluk te hê of ’n besering op te doen in die jaar voor die opname was 20 tot 30 persent groter vir kinders wat by ’n geskeide moeder of een wat weer getrou het, woon. Vergeleke met dié wat by albei hulle biologiese ouers woon, was die kanse dat sulke kinders ’n skoolstanderd sal moet herhaal 40 tot 75 persent groter. Kinders uit gebroke huwelike se kanse was 70 persent groter om geskors of uit die skool gesit te word; en dié wie se moeders nooit getrou het nie se kanse was meer as twee keer so groot om daardie probleme te hê. Kinders in gesinne waar die moeder aan die hoof staan se kanse om asma te hê, was ook 50 persent groter.