Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 5/22 bl. 16-17
  • Alligators—seldsaam, wit en met blou oë!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Alligators—seldsaam, wit en met blou oë!
  • Ontwaak!—1994
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2003
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1998
  • Ek het die wêreld probeer verander
    Ontwaak!—1990
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 5/22 bl. 16-17

Alligators—seldsaam, wit en met blou oë!

DIE volgende inligting wat deur Curt Burnette vir die Audubon-instituut opgestel is, vertel die verhaal van die merkwaardige wit alligators.

“Die alligators met hulle wit vel en blou oë is ’n genetiese mutasie van die Amerikaanse alligator en nie ’n ander spesie nie. Hierdie mutasie word leusisme genoem; daarom is hierdie alligators leusistiese alligators. Die albino’s het ’n wit vel en geelpienk oë. Die leusistiese diere het gepigmenteerde oë. Albinisme is seldsaam, maar leusisme is selfs seldsamer. Hoewel leusisme in ’n paar ander dierespesies voorkom, is die wit alligators die eerste leusistiese alligators wat aan ons bekend is.

“Daar is 18 wit alligators, wat almal laat in Augustus 1987 by dieselfde nes gevind is. Drie Cajun-vissermanne het hulle naby Houma, Louisiana, suidwes van New Orleans, gevind. Die eerste alligators was ongeveer 1-2 weke oud toe hulle op 5 September 1987 na die Audubon-dieretuin gebring is. Buiten die 18 wittes is 7 normaalgekleurde kleintjies uit dieselfde nes gevang, en ’n aantal normales het ontsnap. Die nes is aangetref op grond wat aan die Louisiana Land and Exploration Company (LL&E) behoort. Hoewel die nesgebied dopgehou en die eiers versamel en uitgebroei is, is nog geen ander wit alligators ontdek nie.

“Al 18 wit alligators en die 7 normales is manlik. Dit is moontlik omdat die geslag van ’n alligatortjie deur die temperatuur van die nes bepaal word en hulle dus net manlik, net vroulik of ’n mengsel van albei kan wees. Toe hierdie artikel geskryf is, het die alligators geslagsrypheid (5-6 jaar) genader. Die grootte van die 18 wissel van ongeveer 5 voet [1,5 m] en 50-60 pond [22-27 kg] tot meer as 8 voet [2,4 m] en 250 pond [113 kg]. Dit is ’n gevolg van verskillende bestuurstegnieke. Die alligators wat by LL&E se alligatorplaas grootgemaak word, groei vinniger.

“LL&E besit 14 van die wit alligators en het goedgunstiglik 4 aan die Audubon-instituut geskenk. Die Instituut het tans 2 wat by sy Audubon-dieretuin en 2 wat by sy Akwarium van die Amerikas gesien kan word. Twee alligators word om die beurt aan ander dieretuine en akwariums uitgeleen en was reeds by ’n stuk of twaalf in die Verenigde State en een in Japan.

“Die wit alligators het deur die hele wêreld heen bekend en gewild geword. Hulle ontdekking is wêreldwyd deur CNN uitgesaai. Hulle het al verskeie kere op televisie verskyn, onder andere op die Today Show, die Nashville Network, die Tonight Show, CBS Morning News, Late Night with David Letterman, Christian Broadcast Network, MTV en verskeie buitelandse nuus- en oggendprogramme. Wêreldwyd verskyn daar soms koerant- en tydskrifartikels oor hulle. ’n Paar jaar gelede het ’n Franse tydskrif ’n artikel met foto’s van hulle gepubliseer, en die publiek se reaksie was so gunstig dat daar ’n tweede artikel verskyn het.

“Waarom is daar so min wit alligators en het niemand hulle nog voorheen gesien nie? Behalwe dat leusistiese en albinistiese alligators in die eerste plek seldsame mutasies is, het hulle ’n besliste en dodelike nadeel ten opsigte van normale alligators. Wanneer ’n alligatortjie uitbroei, is hy slegs 8-10 duim [20-25 cm] lank. Die ma beskerm die nes ’n rukkie, maar kort voor lank is die alligatortjies op hulle eie. Wanneer normale alligators uitbroei, is hulle geel met swart strepe en kan goed met hulle omgewing saamsmelt. ’n Wit alligatortjie sal maklik deur baie verskillende roofdiere gesien word en hulle ten prooi val.

“Laastens, nog twee interessante en ongewone feite oor die wit alligators: hulle swart strepe en hulle temperament. Baie min van die wit alligators het met swart kolle uitgebroei. Die meeste het glad nie kolle gehad nie. Maar namate hulle gegroei het, het meer van hulle hier en daar swart dele begin ontwikkel. Bykans al die kolle het slegs rondom die kop en nek ontwikkel. Dit het dit makliker gemaak om die alligators uit te ken, hoewel party nooit kolle gekry het nie.

“En ten slotte stem almal wat met die wit alligators werk saam dat hulle prikkelbaarder en buieriger as normale alligators is. Niemand is seker waarom dit so is nie, maar hulle word behandel asof hulle vinnige en kwaai krokodille pleks van betreklik stadiger en inskikliker alligators is. Dít is maar net nog een van die baie raaisels oor hierdie wit wonders van die moerasse!”—Deur Curt Burnette, Audubon-instituut.

[Foto-erkenning op bladsy 16]

Photos: Audubon Zoo, New Orleans

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel