’n Trein met “tande”
Deur Ontwaak!-medewerker in Griekeland
VERBEEL jou jy is in die middel van ’n onherbergsame en nou ravyn vol welige bome, met groot rotse wat gevaarlik oorhang en ’n kronkelende rivier wat onstuimig onder in die ravyn verbyvloei. Net toe jy dink dat jy heeltemal alleen is, hoor jy skielik in die verte ’n geknars en ’n gerammel. In hierdie verlate plek, wat so ontoeganklik en ongeskonde lyk, is ’n moderne vervoermiddel die laaste ding wat jy ooit sou verwag om te sien. Maar die geluid is onmiskenbaar—dis ’n trein wat daar aankom!
Namate die geluid nader kom, kan jy ’n kleinerige trein tussen die hoë bome uitmaak, met net twee waens en ’n dieselenjin in die middel, wat swaar teen die berghang uitklim. Welkom by Dhiakoptón-Kalávrita se Tandratspoorlyn, een van die interessantste en indrukwekkendste spoorlyne in Europa, en geleë in die Peloponnesosdistrik van Griekeland. In Grieks word hierdie spoorlyn odontotós genoem, wat letterlik “getand” beteken, ’n baie gepaste naam, soos jy sal uitvind.
Waarom was dit nodig?
Kalávrita, wat in die noordelike deel van die Peloponnesos geleë is, is die ekonomiese en administratiewe sentrum van die omliggende gebied. Dit is ook van godsdienstige en geskiedkundige belang omdat ’n paar beroemde kloosters daar naby geleë is. Aangesien dit in ’n bergvallei lê, is die dorp ook bekend vir sy natuurskoon, omliggende woude, talle fonteine en gesonde klimaat.
Tydens die hoogtepunt van sy geskiedenis, gedurende die middel van die 19de eeu, het die dorp ’n bevolking van 6000 gehad. Maar dit was deur ongelyke, bergagtige terrein van die kusdorpe en -dorpies afgeskei. Daar was geen geplaveide paaie of enige ander kommunikasiemiddel nie, en vervoer na en van die dorp het ’n lang, uitputtende rit met ’n perde- of donkiekar vereis. Die maklikste manier om die kus te bereik, was deur ’n diep kloof langs, met die Vouraikósrivier wat onder in die kloof vloei en by die dorpie Dhiakoptón uitmond.
Voor die eeuwisseling is daar besluit dat dít die roete van ’n nuttige en bekorende spoorlyn sou wees, ’n noodsaaklike lewenslyn na die kusdorpe toe. Ingenieurstudies het egter aan die lig gebring dat die roete waaroor die spoorlyn moes gaan uiters steil hellings gehad het. ’n Tandratspoorlyn was hier nodig.
Wat is ’n tandrat- of kamratspoorlyn? Dit is ’n spoorlyn wat ontwerp is vir ’n terrein met uiters steil hellings; tussen die gewone spore het dit ’n getande spoor—’n staaltandratspoor—waaraan die dryfwiel van die enjin gekoppel kan word. Dit keer dat die trein agteruitbeweeg wanneer dit opwaarts klim of vorentoe gly wanneer dit afwaarts beweeg.
In die geval van Dhiakoptón-Kalávrita se tandratspoorlyn is die maksimum helling 1 tot 7 (’n vertikale helling van 1 meter vir elke 7 horisontale meter), en dit kom op drie plekke op die roete voor. Die treindrywer moet die trein dus vir hierdie drie dele van die spoorlyn tot stilstand bring, die rat aan die tandstang koppel en teen ’n lae, gekontroleerde spoed voortbeweeg.
’n Moeilike konstruksie
As gevolg van die moeilike terrein waaroor die spoorlyn moes gaan, was die konstruksie daarvan ’n groot ingenieursprestasie. ’n Italiaanse konstruksiefirma het die bouwerk gedoen en het in 1891 daarmee begin. Om die konstruksie te vergemaklik, is daar op ’n smalspoor (75 sentimeter) besluit.
Vyf jaar later, in 1896, was tonne rots reeds verwyder. Nege tonnels is deur die bergrots geboor en ses brûe was reeds gebou. Al die brûe was aanvanklik van die klipboogstyl, maar jare later is party van hulle met staalbrûe vervang. ’n Splinternuwe spoorlyn wat oor ’n afstand van 23 kilometer na ’n hoogte van 720 meter klim, was gereed om in gebruik geneem te word. Sou jy, noudat jy die treinspoor se agtergrond ken, graag op die trein wil klim en jou in sy fassinerende roete verlustig?
’n Asemrowende roete
Kom ons neem die oggendtrein, nr. 1328, van die kusdorp Dhiakoptón af. Ons rit begin stadig en sonder stampe terwyl ons deur die dorp ry. Hoewel ons met geesdrif na die rit uitsien, draai die dorpsmense, wat hierdie trein klaarblyklik al baiekeer gebruik het, nie eens hulle koppe om daarna te kyk nie. Maar ons opgewondenheid kan nie gedemp word nie.
Ná ’n paar minute sien ons die ingang tot ’n ontsaglike ravyn. Dit is ’n asemrowende gesig. Die bruisende rivier is aan ons linkerkant en groot rotse hang gevaarlik oor ons, met dennebome wat onseker daaraan gewortel is. Die kronkelende rivier het sy pad netjies deur die rotse gebaan.
Die plantegroei is dig en welig. Ons trein kruip as ’t ware deur woude van groot plataan- en beukebome, waarvan die takke amper aan ons treinwa raak. Hoewel die spoorlyn nou al bykans meer as ’n eeu lank gebruik word, is sekere dele van hierdie ravyn feitlik ontoeganklik en word die prag daarvan slegs aan die reisiger onthul.
Ons bereik die eerste treinhalte, wat Niámata genoem word, waar ’n paar plaaslike boere afklim om te voet na hulle landerye te stap. Namate ons verder gaan, word die terrein selfs steiler. Dan kom die trein skielik tot stilstand. Daar is natuurlik niks fout nie, maar die drywer moet nou die middelste tandratspoor gebruik om veilig verder te ry. Ons voel hoe die dryfwiel aan die tandratspoor koppel, wat die treinwa stabieler maak. Ondanks die versekering van die ervare passasier langs ons dat alles in die haak is, voel ons ’n bietjie skrikkerig wanneer ons die steil opdraande sien.
Teen die hange van die ravyn waar dit nie so bebos is nie, sien ons groot grotte wat deur die plaaslike mense as skaapstalle gebruik word. Aan die linkerkant is daar kleiner grotte met uiters indrukwekkende stalaktiete en stalagmiete. Daar is watervalle aan weerskante en die geluid daarvan, wat met hulle eggo’s saamsmelt, word deur die vorm van die kloof versterk. Hier, aan die linkerkant, is daar grondverskuiwings wat ’n paar minder permanente watervalle gevorm het wat uiteindelik deur die bruisende rivier weggespoel sal word. Ons ry by ’n paar geharde mense verby wat besluit het om te loop pleks van die trein te gebruik.
Die kloof en die rivier word dieper terwyl ons ’n hoë brug oorsteek. Op een plek is die kloof baie nou—skaars twee meter wyd—en moet die trein deur ’n tonnel gaan wat parallel met die steil helling loop.
Ons het deur nog tonnels en oor nog brûe gegaan, en toe word die kloof geleidelik wyer en word dit uiteindelik ’n nou vallei, en kort voor lank bereik ons die tweede halte, die dorpie Káto Zakhloroú. Die bordjie buite die stasietjie sê dat ons op ’n hoogte van 601 meter is. Die paar huise in hierdie dorpie is aan weerskante van die vallei gebou en lê tussen die groot plataan- en okkerneutbome versteek. ’n Mens kan die swaar humiditeit in die lug voel, en as jy die inwoners van die dorpie vra, sal hulle geredelik saamstem dat hulle in hulle lewe nie baie sonskyn in hierdie donker vallei geniet het nie. As gevolg van die vorm van die vallei en die bome wat so dig groei, is die son net ’n paar uur per dag sigbaar—en selfs minder gedurende die winter.
Nadat ons by Káto Zakhloroú aangedoen het, volg die trein nou ’n normaler roete al langs die plat rivierbedding van die Vouraikósrivier en tussen wilger- en bloekombome deur. Ná ’n skouspelagtige rit van 65 minute kan ons Kalávrita se geboue deur die oggendmis sien. Hoewel hierdie dorpie net sowat 3000 inwoners het, lok dit elke seisoen van die jaar baie toeriste. Party kom om die nabygeleë ski-oord te besoek, terwyl ander die aangename klimaat en die heerlike, plaaslike kookkuns kom geniet.
‘Baie veiliger as in jou eie huis’
Toe ons van die trein afklim, gesels ons met Ioanni, die treindrywer wat ons so veilig en sonder probleme hier na bo gebring het. “Ek geniet hierdie rit altyd”, sê hy met beskeie tevredenheid. Hy frons effens, asof hy aan iets dink, en voeg by: “Maar dinge word moeilik gedurende die winter. Julle sien, die trein is nie altyd vol nie, en dan voel jy maar baie alleen in die middel van hierdie vreeslike ravyn. Dan het jy die grondverskuiwings, die sneeu, die koue en die voortdurende mis. Maar ek sal hierdie roete nie vir enige ‘normale’ roete verruil nie.”
Toe ons oor die veiligheid van die spoorlyn vra, is Ioanni beslis: “Jy is baie veiliger op hierdie trein as in jou eie huis!” Trouens, daar was gedurende die bykans 100 jaar van die spoorlyn se bestaan net een ongelukkie met geen ernstige beserings nie.
Gedurende die veertiger- en vyftigerjare is hierdie unieke trein gebruik om “die goeie nuus” van Jehovah se Koninkryk aan die inwoners van die afgeleë dorp Kalávrita en die moeilik bereikbare, omliggende dorpies te bring (Markus 13:10, NW). Vandag is daar gevolglik ’n klein, maar ywerige gemeente van Jehovah se Getuies in Kalávrita.
As jy Griekeland dus ooit besoek, kan jy gerus die Dhiakoptón-Kalávrita Odontotós, die trein met “tande”, by jou reisprogram insluit. Jy sal ongetwyfeld ’n lonende ondervinding geniet—een wat jy lank sal onthou!
[Venster op bladsy 21]
“Die hofsaal”
Dit is die naam wat die plaaslike mense aan een van die grootste grotte gegee het wat langs die treinroete geleë is. Waarom? Wel, daar is ’n merkwaardige ooreenkoms tussen die stalaktiet- en stalagmietformasies in hierdie grot en ’n hofsaal. In die agtergrond kan jy die “regters” sien wat by die regbank sit—indrukwekkende figure wat van stewige stalagmiete gemaak is. Aan albei kante is daar nog stalagmiete, “getuies” en “prokureurs”, wat die verrigtinge dophou. Dan, by die ingang van die grot, kan ’n mens die lewelose “beskuldigdes” sien, veroordeel en tereggestel, waar hulle van die dak van die grot as twee lang stalaktiete hang.
[Kaarte op bladsy 22]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die roete van die trein met “tande”
GRIEKELAND
Dhiakoptón → Káto Zakhloroú → Kalávrita
[Prent op bladsy 23]
Boonste inlasfoto: Die Mega Spileon-treinstasie
Onder: Die trein met “tande” wat ’n smal rant uitklim