Meer as 120 jaar om ’n vasteland oor te steek
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
OP 3 Februarie 2004 het ’n trein wat meer as ’n kilometer lank was, stadig by die Darwin-spoorwegstasie in Australië se yl bevolkte Noordelike Gebied ingery. Duisende mense was teenwoordig om sy aankoms te vier. Die trein, wat The Ghan genoem is, het pas sy eerste reis van 2 979 kilometer binne twee dae voltooi, waartydens hy die vasteland van suid na noord oorgesteek het.—Sien die venster “Die legende agter die naam”, op bladsy 25.
Meer as 2 000 kamerabehangde toeskouers het langs die spoorlyn bymekaargekom, en die trein moes dus spoed verminder toe hy die stad Darwin nader. Gevolglik was hy ongeveer 30 minute laat. Maar niemand het gekla nie. Die nasie het reeds meer as ’n eeu lank daarvoor gewag. Dit het 126 jaar geneem om die spoorlyn, wat van Adelaide na Darwin loop en oor een van die droogste, warmste en mees verlate dele van die aarde strek, te voltooi.
Die behoefte aan ’n spoorweg
In die laat 1870’s het die klein kolonie Adelaide, aan die oostelike kant van ’n wye baai wat die Groot Australiese Bog genoem word, drome gekoester om die streek vir ekonomiese ontwikkeling oop te stel en ’n beter handelsroete met die verre noorde tot stand te bring. Die Verenigde State het sy transkontinentale treinspoor in 1869 voltooi. Adelaide se burgers wou iets soortgelyks doen en ’n spoorweg bou wat hulle kolonie sou verbind met Port Darwin, soos Darwin destyds bekend gestaan het. Hierdie staalspoorlyn sou nie net die binneland oopstel nie, maar ook die reistyd na Asië en Europa aansienlik verminder.
Die idee het eenvoudig gelyk, maar die spoorweg sou gebou moes word deur ’n genadelose mosaïek van klipperige koppies en bergreekse, ruigtes en woestyne van sand en klip—waarvan dele ná die reën in moerasse of kolkende strome verander het. Die ontdekkingsreisiger John Stuart het hierdie ruwe terrein uiteindelik met sy derde poging in 1862 oorgesteek. Maar gedurende die reis het hy en sy geselskap byna gesterf weens ’n gebrek aan kos en water.
Skroeiende hitte, sandstorms en blitsvloede
Die burgers van Adelaide het hulle nie deur die hindernisse laat onderkry nie. In 1878 het hulle by Port Augusta aan die spoorlyn begin werk. Met slegs handgereedskap, perde en kamele het die 900 spoorwegwerkers die spoorlyn noordwaarts, met Aborigine-voetpaaie langs, deur die Flinders-bergreeks aangelê. Hierdie roete het verby die enigste watergate in die streek geloop, aangesien stoomtreine water nodig het om aangedryf te word.
Dit het twee en ’n half jaar geneem om die eerste 100 kilometer van die spoorlyn te lê. Somertemperature het soms tot 50 grade Celsius gestyg. In hierdie droë hitte het vingernaels gekraak, ink op penpunte droog geword nog voordat pen op papier gesit is en spoorstawe kromgetrek. Treine het gereeld ontspoor. Ná sandstorms moes werkers sandhope, wat op party plekke tot twee meter diep was, van kilometers spoorlyn verwyder. Dikwels het werkers magteloos toegekyk terwyl nog storms hulle werk ongedaan gemaak het.
Dan was daar die reën. Binne minute het sonverbleikte rivierbeddings kolkende strome geword wat spoorlyne gebuig het, maande se werk weggespoel het en treine met hulle passasiers gestrand gelaat het. Een treindrywer het wilde bokke geskiet om die reisigers van kos te voorsien. Baie jare later is kos met ’n valskerm na ’n gestrande trein afgegooi.
Ná die reën het woestynplante herlewe en swerms sprinkane gelok. Gedurende een plaag het die spoorlyn so vetterig geword weens platgetrapte insekte dat nog ’n lokomotief nodig was om die trein van agter af te stoot. Rotteplae was nog ’n probleem. Die knaagdiere het alles opgevreet wat hulle kon—kampvoorraad, tentseile, tuie van diere en selfs stewels. Langs die spoorlyn is daar ’n eensame begraafplaas—wat herinner aan ’n tifusepidemie en getuig van die onhigiëniese toestande van die kamplewe in die vroeë stadium van die projek.
Vir vermaak het treinpersoneel nie geskroom om mense nou en dan ’n poets te bak nie. Eenkeer, toe die Alice Springs-gebied ’n konynplaag ondervind het, het personeellede konyne aan boord van The Ghan gesmokkel. Die volgende oggend, toe die passasiers vir ontbyt uit hulle kompartemente kom, het die gange “gewemel van verwilderde hasies”, sê die boek The Ghan—From Adelaide to Alice. Op ’n ander rit het iemand ’n joey, ’n jong kangaroe, in die slaapwaens losgelaat.
Aborigines wat in afgeleë dele gewoon het, het kom kyk wanneer die trein verbygery het. Van ’n veilige afstand af het hulle mense binne-in die trein gesien. Dit is te verstane dat die Aborigines aanvanklik lugtig, dalk selfs bang, was. Trouens, party het gedink dat “’n reuse-duiwelslang” die passasiers lewendig ingesluk het!
’n Lang onderbreking
Ná 13 jaar se uitputtende arbeid, toe die spoorwegeindpunt ongeveer 470 kilometer van Alice Springs af was, het die fondse opgedroog. “Die blote omvang van so ’n onderneming . . . het die nedersetting eenvoudig oorweldig”, sê Australian Geographic. In 1911 het die federale regering die projek oorgeneem en die spoorweg tot by Alice Springs verleng. Planne om die spoorlyn te voltooi, 1 420 kilometer verder tot by Darwin, is egter uitgestel.
Toe The Ghan die eerste keer in 1929 in Alice Springs aangekom het, het die hele dorp—sowat 200 mense op daardie stadium—gekom om dit te vier. Die plaaslike inwoners was in vervoering oor die eetwa, maar die elegante badkamer het die grootste belangstelling gewek. Om ’n bad op ’n trein te hê, was destyds ’n nuwigheid en ’n luuksheid. Alice Springs was tot 1997 die spoorweg se noordelike terminus. In daardie jaar het die staat en federale regerings ingestem om die langverwagte spoorlyn tussen Alice Springs en Darwin te voltooi. Die werk het in 2001 begin.
Ontsaglike geoutomatiseerde masjinerie het die spoorlyn, wat 1,3 miljard Australiese dollar (R7,7 miljard) gekos het, teen ’n pas van 1,6 kilometer per dag gelê en in die proses ten minste 90 nuwe vloedbestande brûe oorgesteek. Die 1 420 kilometer lange spoorlyn is beskryf as “die grootste infrastruktuurprojek in Australië”, en is in Oktober 2003 binne die begroting en voor die sperdatum voltooi.
Die aantrekkingskrag van die Agterveld
Vandag is die moderne stad Adelaide steeds die middag-vertrekpunt vir The Ghan se transkontinentale reis. Die twee lokomotiewe en sowat 40 waens verlaat die voorstede en kronkel deur golwende koringlande na Port Augusta, byna 300 kilometer na die noorde. Die landskap ondergaan hier ’n aansienlike verandering en word ’n onherbergsame gebied van sand, brakbos en bossies wat tot op die horison strek.
Anderkant Port Augusta ry The Ghan oor ’n nuwe weervaste spoorlyn sowat 250 kilometer wes van die ou spoorlyn, wat so dikwels weggespoel het. Die nag daal neer oor die woestyn, en die passasiers slaap terwyl die trein verby soutpanne gly wat die grootste deel van die jaar kurkdroog is, maar ná die reën in die maanlig skitter. Tallose sterre vul die wolklose naghemel. Die rikketik van vergange dae is egter nie meer daar nie, want die spoorstawe is naatloos; dit is in een aaneenlopende lengte gesweis om instandhoudingswerk te verminder.
Met dagbreek gloei die woestyn naby Alice Springs rooi en goud onder die opkomende son. “Die toneel is ontsagwekkend”, het een van die passasiers gesê. “Ek was selfs in die trein bewus van die krag van die son. Skielik werp hy sy strale oor ’n eindelose, deinende woestynlandskap wat so wyd, so kleurvol, so ontsettend verlate is dat dit oorweldigend is. Hierdie plek laat ’n mens klein voel.”
Van die Agterveld tot die trope
Nadat The Ghan vir ’n rukkie in die middag in Alice Springs stilgehou het, ry hy verder na die dorp Katherine en dan na sy noordelike terminus, die tropiese Darwin. Beskut binne-in lugversorgde spoorwaens “geniet die passasiers op The Ghan weelde op wiele”, sê Larry Ierace, koördineerder vir The Ghan se eerste transkontinentale reis. Wanneer hulle by hulle vensters uitkyk, kan hulle hulle maar net die gevare en ontberinge indink waarmee die vroeë pioniers te kampe gehad het.
Buiten dat The Ghan handel bevorder en een van die groot treinreise van die wêreld bied, bring dit nog ’n aspek van die moderne wêreld na die hartjie van die Agterveld. ’n Negentienjarige Aborigine-meisie wat die trein tydens sy eerste rit in Februarie 2004 gesien het, het gesê: “Ek het nog nooit in my lewe ’n trein gesien nie. Dit is pragtig.”
[Venster/Prent op bladsy 25]
Die legende agter die naam
The Ghan is ’n verkorting van die bynaam The Afghan Express. Hoe dit gekom het dat die trein na die Afgaanse kameelruiters vernoem is, is nie seker nie. Die benaming laat ’n mens nietemin dink aan daardie geharde immigrante wat die Australiese Agterveld help oopstel het. As ’n groep is hulle Afgane genoem, hoewel baie in werklikheid van sulke uiteenlopende plekke gekom het soos Baloetsjistan, Egipte, Noord-Indië, Pakistan, Persië en Turkye.
Hulle kamele het die vervoermiddel van die Agterveld geword en het gehoorsaam gekniel of opgestaan in reaksie op die opdrag “Hooshta!” Kameelkaravane van tot 70 diere het mense en goedere teen ’n bestendige pas van sowat 6 kilometer per uur karwei. Toe spoor- en padvervoer kameelkaravane vervang het, het die Afgane hulle diere losgelaat. Die afstammelinge van daardie kamele—waarvan daar honderdduisende is—swerf vandag wild in Sentraal-Australië rond.—Sien die Ontwaak! van 8 April 2001, bladsye 16-17.
[Foto-erkenning op bladsy 23]
Northern Territory Archives Service, Joe DAVIS, NTRS 573
[Foto-erkenning op bladsy 25]
Treinfoto’s: Great Southern Railway