Van ons lesers
Bejaarde ouers My skoonpa is bedlêend en ons moet alles vir hom doen. Aangesien ek verstandelik en liggaamlik uitgeput is, het ek al by tye my geduld verloor en dinge gesê waaroor ek later spyt was. Toe ek dus die artikels “Die uitdaging wat die versorging van bejaarde ouers bied” (8 Februarie 1994) gelees het, het my gemoed volgeskiet! Baie dankie dat julle hierdie inligting voorsien het. Die artikels sal my onderskraag terwyl ek voortgaan om my pligte na te kom.
T. H., Japan
Ek is 16 jaar oud, en my ouma het nou 24-uur-versorging nodig. Sy woon omtrent 160 kilometer van ons af. Dit het ons gesin dus aan groot spanning onderwerp. Daarom wil ek julle vir die artikels bedank. Dit was baie opbouend.
M. R., Verenigde State
Ek werk vir ’n agentskap wat maatskaplike dienste verskaf aan diegene wat bejaarde ouers versorg. Gewoonlik wil my medewerkers glad nie enige Bybelse lektuur aanvaar wat ek vir hulle aanbied nie. Maar by ’n onlangse personeelvergadering het ek vir elkeen ’n eksemplaar van daardie nommer gegee. Almal het dit aanvaar! Ek het een van die werkers dit by haar lessenaar sien lees.
B. H., Verenigde State
Julle het voorgestel dat ’n mens jou vleeslike broers en susters reguit moet vra om met die versorging van bejaarde ouers te help. Ek het gedink dat niemand ooit sou weier as hy gevra word nie. Maar ek was verkeerd; nadat ek my ouers langer as tien jaar versorg het, het ek my broers en susters om hulp gevra, en hulle het geweier om te help. Ons lewe in ’n liefdelose wêreld waar mense nie meer vir mekaar omgee nie. Ek wens net mense wil besef dat dit nie ’n las is om ’n mens se ouers te versorg nie—dis ’n voorreg!
M. D., Verenigde State
Die Skrif sê dat die versorging van gesinslede vir Christene ’n verpligting is. “Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën” (1 Timotheüs 5:8).—RED.
Ek het werklik die raad waardeer om tyd vir jou huweliksmaat en jouself in te ruim. Ek het dit in die verlede nie gedoen nie omdat ek van mening was dat die versorging van ons ouers belangriker is as om tyd aan my man—of aan myself—af te staan. Maar ek kan die wysheid van hierdie raad insien, en ek gaan in hierdie opsig meer gebalanseerd probeer wees.
M. O., Verenigde State
Verhuising Ek is 14 en ek wil julle graag bedank vir die artikel “Jongmense vra . . . Waarom moet ons verhuis?” (22 Februarie 1994). Toe ek nege was, is my pa, wat ’n gemeentelike ouere man is, gevra om na ’n naburige gemeente toe te gaan. Ons is nou al vier jaar hier en ek het baie, baie lief vir die gemeente geword. Nou is my pa weer gevra om na ’n ander gemeente toe te gaan. Die dag toe ons gevra is om te gaan, het ons hierdie tydskrif ontvang. Dit het my en my broer gehelp om dit makliker te aanvaar. Dit is ’n voorreg as iemand gevra word om na ’n ander gemeente te gaan, maar dis baie moeilik wanneer jy moet weggaan van almal vir wie jy lief geword het.
L. B., Engeland
Rassisme Ek het nou net die geleentheid gehad om julle nommer van 22 Augustus 1993 te lees met die artikels “Sal alle rasse ooit verenig wees?” Ek was verbaas oor en beïndruk deur julle redelike, insiggewende begrip van hierdie komplekse probleem. Ek het onlangs ’n kollegekursus in geskiedenis voltooi. Maar in net nege bladsye het julle tydskrif ’n beknopte geskiedenis, verduideliking en oplossing gegee! Dit het ’n volle semester van kollegehandboeke en -lesings oortref.
R. J., Verenigde State