Die handige Foerosjiki
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN JAPAN
’n Foerosjiki is ’n Japannese toedraaidoek—’n toedraaidoek met ’n verskil. Dit lyk baie mooi. Dit voel baie lekker. En dit word baie mooi geknoop. Om ’n foerosjiki te kies en te knoop, het ’n kuns geword wat meer as duisend jaar lank van geslag tot geslag oorgedra is.
NIE sommer enige lap is goed genoeg nie. Die kleur, patroon en materiaal moet alles in ag geneem word. Die geleentheid bepaal ook watter foerosjiki gebruik sal word. ’n Geskenk kan byvoorbeeld toegedraai wees in ’n foerosjiki van sy waarop tradisionele motiewe gedruk is, soos kersie- of pruimbloeisels. Soms sal die gewer selfs daarop aandring dat die ontvanger die omhulsel as deel van die geskenk aanvaar.
Toedraaidoeke is natuurlik in verskillende groottes beskikbaar en vir verskillende doeleindes gepas. Ronde waatlemoene, of selfs lang ryswynbottels, kan daarin toegedraai word. Party foerosjiki is so groot dat drie of vier bedrolle daarin toegedraai kan word. Hierdie stoflakens is gewoonlik van katoen en het ’n spesiale bekoring vir kindertjies wat lief is om dit te gebruik om hulle soos grootmense aan te trek. Aan die ander kant is daar party kinders wat klein doekies gebruik. Trouens, ’n kykie na kinders se kosblikke toon dat waslappe en sakdoeke ook as mini-foerosjiki gebruik word. Wanneer die kinders hierdie mini-foerosjiki oopvou om hulle kos te eet, dien die skoon doeke as servette. Maar die meeste foerosjiki is omtrent so groot soos ’n vierkantige kopdoek.
Die gewone manier waarop ’n foerosjiki in Japan gebruik word, is om die voorwerp wat toegedraai moet word skuins op die doek, in die middel, te plaas. As die pakkie langwerpig is, word die ekstra materiaal aan die kante netjies om die pakkie gevou, eers die een kant dan die ander kant, sodat elke kant in ’n ander rigting gevou is. Dit laat twee hoeke van die materiaal by die punte uitsteek. Nou kom die moeilike deel. Hierdie twee hoeke word netjies oor die pakkie bymekaargebring en dubbel geknoop. Ideaal gesien, sal dit ’n strikkie wees wat uiteindelik soos ’n fyn skoenlapper lyk. As gevolg van die pakkie se grootte kan die skoenlapper se “vlerke” egter soms meer na ’n paar slap konynore lyk. Maar dit is nie die ergste nie! Net ’n paar sekondes en dit kan in ’n mooi strik verander word.
Vir ’n vierkantige pakkie word die teenoorgestelde hoeke van die foerosjiki bo-op die pakkie vasgemaak, met die een knoop bo die ander sodat net een knoop sigbaar is. Die Japannese kry dit reg om die hele stuk materiaal styf te trek en dit bo-op met mooi rygplooitjies te versier. Die duidelike vorm daarvan is netjies. Hoewel die pakkie, in die geval van ’n geskenk, aan die knoop gedra kan word, word dit gewoonlik aan die onderkant vasgehou om die vorm te behou.
Die woord foerosjiki beteken letterlik “baddoek”, ’n naam wat gedurende die 17de eeu algemeen bekend geword het. Aangesien mense destyds ’n groot vrees vir brande ontwikkel het, het hulle dit probeer vermy om vuur in hulle huis te maak om badwater warm te maak. Hulle het dus nie ’n ander keuse gehad as om na die openbare baddens te gaan nie. Daar het hulle hulle vierkantige stuk materiaal oopgesprei, ontklee en dit gebruik om hulle klere in toe te draai terwyl hulle gebad het. Openbare baddens het feitlik in onbruik geraak, maar die naam foerosjiki, “baddoek”, het behoue gebly.
In ’n tyd waarin tradisies vinnig aan die verdwyn is, leef die foerosjiki voort. Die meeste gesinne sê dat hulle sowat agt foerosjiki het, en dit wil voorkom of die bagasierakke van Japan se ultrasneltreine hulle bewering steun. Passasiers in Westerse kleredrag meng geriefshalwe die oue en die nuwe, die tradisionele en die moderne.
Verkope het ’n tyd lank afgeneem toe winkels vir hulle klante plastieksakke en groot papiersakke begin gee het. Daar het egter ’n omkeer gekom. Ontwerpersetikette en moderne ontwerpe het die foerosjiki onweerstaanbaar vir Japan se modieuse jong vroue gemaak. ’n Foerosjiki pas by ’n kimono soos ’n leersak nooit sal kan pas nie. Wanneer die kimono dus vir spesiale geleenthede uitgehaal word, kom ook die foerosjiki vir die groot artikels uit.
Daar is inderdaad baie goeie dinge van toedraaidoeke te sê. Foerosjiki wat van natuurlike vesels gemaak word, skend nie die omgewing nie. Hulle kan oor en oor gebruik word. Hulle is klein. Hulle is lig. Hulle is maklik om te dra. Hulle word byna oombliklik ’n sak van enige vorm of grootte. Vir bewonderende buitelandse toeriste wat nie weet wat foerosjiki is nie, word hulle mooi serpe en tafelkleedjies. En die Japannese het onlangs die buitelanders begin nadoen en die foerosjiki op dieselfde manier begin gebruik, asook vir tafelmatjies, lappiesdekens, voorskote, muurbehangsels en enigiets anders waaraan hulle dink. Trouens, mense kom nou agter presies hoe handig ’n foerosjiki is.