Die Inkwisisie In Mexiko—Hoe het dit plaasgevind?
STEL jou voor dat jy voor ’n godsdienshof is wat jou wil dwing om te glo wat daardie godsdiens leer. Jy weet nie wie jou aankla of waarvan jy aangekla word nie. In plaas daarvan dat jy ingelig word, word jy gedwing om ’n rede vir jou inhegtenisname te gee, om te verduidelik wat jy meen die aanklag teen jou is en om te sê wie die aanklaer is.
Wees versigtig hoe jy antwoord—jy kan iets erken waarvan jy nie aangekla is nie en jou situasie vererger! Jy kan ook mense betrek wat niks te doen het met die aanklag wat teen jou ingebring is nie.
As jy nie ’n bekentenis doen nie, word jy dalk gemartel deurdat ’n klomp water by jou keel afgedwing word. Of jou arms en bene word miskien aan ’n folterbank vasgebind en al hoe stywer getrek totdat die pyn ondraaglik is. Jou eiendom is reeds deur die hof gekonfiskeer en jy sal dit heel moontlik nooit terugkry nie. Dit word alles in die geheim gedoen. As jy skuldig bevind word, kan jy uit jou land verban of selfs lewend verbrand word.
In hierdie 20ste eeu is dit dalk vir jou moeilik om so ’n verskriklike godsdiensdaad te begryp. Maar etlike eeue gelede het sulke wreedhede in Mexiko plaasgevind.
Die inboorlingbevolking word “bekeer”
Toe die Spanjaarde Mexiko, soos dit nou bekend staan, in die 16de eeu verower het, het daar ook ’n godsdiensverowering plaasgevind. Die godsdiensbekering van die inboorlingvolke het eintlik maar net die vervanging van tradisies en ritusse beteken, aangesien min Katolieke priesters hulle oor die onderrigting van die Bybel bekommer het. Hulle het nie die moeite gedoen om die taal van die inboorlinge te leer of om die inboorlinge Latyn, waarin geloofsleer beskikbaar was, te leer nie.
Party het gemeen dat die Indiane volledige godsdiensonderrig moet ontvang. Maar ander was dieselfde mening toegedaan as monnik Domingo de Betanzos wat, volgens Richard E. Greenleaf in sy boek Zumárraga and the Mexican Inquisition, “geglo het dat die Indiane onderrigting in Latyn geweier moet word omdat dit hulle sal laat besef hoe oningelig die geestelikes is”.
Inkwisisie teen die inboorlingvolke
As die gebore Mexikaners nie die nuwe godsdiens aangeneem het nie, is hulle as afgodedienaars beskou en swaar vervolg. Een van hulle het byvoorbeeld eenhonderd houe in die openbaar gekry omdat hy sy heidense afgode aanbid het, wat hy in ’n “Christelike” skynaanbiddingsdaad onder ’n afgod van die Christendom begrawe het.
Daarenteen het don Carlos Ometochtzin, die stamhoof van Texcoco en kleinseun van die koning van die Asteke, Netzahualcóyotl, die kerk met harde woorde aangeval. Richard Greenleaf sê: “Don Carlos het die Kerk veral beledig omdat hy die losbandigheid van die monnike aan die inboorlinge bekend gemaak het.”
Toe monnik Juan de Zumárraga, wat destyds die inkwisiteur was, daarvan te hore gekom het, het hy die inhegtenisname van don Carlos gelas. Don Carlos is daarvan beskuldig dat hy ’n “dogmatiserende ketter” is, en hy het op 30 November 1539 op die brandstapel gesterf. Baie ander inboorlinge is op aanklagte van heksery gestraf.
Inkwisisie teen die buitelanders
Die buitelanders wat in Mexiko gewoon het en geweier het om die Katolieke geloof te aanvaar, is daarvan beskuldig dat hulle ketters, Lutherane of Judaïseerders is. Die Portugese Carvajal-familie was ’n voorbeeld hiervan. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle die Joodse godsdiens beoefen het en is feitlik almal deur die Inkwisisie gemartel. Die volgende vonnis wat oor ’n lid van hierdie familie uitgespreek is, weerspieël die wreedheid: “Die genoemde doña Mariana de Carvajal veroordeel [ek] tot . . . die garrot [’n verwurgingsinstrument] totdat sy natuurlikerwyse sterf, en dat sy daarna in ’n gloeiende vuur verbrand word totdat sy as is en nie eens die herinnering aan haar oorbly nie.” Dit is presies wat gebeur het.
Elke keer wanneer ’n buitelander die geestelikes se mag bedreig het, is hy voor die hof gebring. ’n Man met die naam don Guillén Lombardo de Guzman is daarvan beskuldig dat hy Mexiko wou bevry. Maar die aanklag wat deur die Heilige Offisie vir sy inhegtenisname en verhoor ingedien is, was dat hy ’n sterrewiggelaar en sektariese ketter van Calvyn is. Tydens sy gevangenskap het hy sy verstand verloor. Hy is op die ou end op 6 November 1659 op die brandstapel lewend verbrand.
Die boek Inquisition and Crimes, deur don Artemio de Valle-Arizpe, beskryf daardie geleentheid: “Hulle het die beskuldigdes vasgebind en met ’n ysterband om die keel aan die paal vasgemaak. . . . Die heilige vure van die geloof het in ’n warrelwind van rooi en swart begin brand. Don Guillén . . . het homself skielik laat val en die band om sy nek het hom verwurg, en sy liggaam het daarna in die skrikwekkende prag van die vlamme verdwyn. Hy het hierdie lewe verlaat ná sewentien jaar van langsame en voortdurende lyding in die neerdrukkende tronke van die Heilige Offisie. Die vure het geleidelik begin doodgaan terwyl die dieprooi geruis van die vlamme begin wegsterf het, en toe die vlamme uitgegaan het, het net ’n helder hoop kole al smeulende in die nag oorgebly.”
Die “Heilige Offisie” word ingestel
Soos reeds gemeld is, is baie gebore Mexikaners asook baie buitelanders wat in Mexiko gewoon het, gestraf, en party is doodgemaak omdat hulle die nuwe godsdiens gekritiseer of nie aanvaar het nie. Dit het aanleiding gegee tot ’n inkwisisie wat deur die monnike en later deur die biskoppe in die lewe geroep is. Die eerste hoofinkwisiteur in Mexiko, don Pedro Moya de Contreras, het egter in 1571 van Spanje af gekom om die Tribunaal van die Heilige Offisie van die Inkwisisie amptelik daar te stig. Hierdie hof het in 1820 opgehou funksioneer. Van 1539 af was daar dus sowat driehonderd jaar van teistering, marteling en die dood vir diegene wat nie die Katolieke oortuiging gedeel het nie.
Wanneer iemand aangekla is, is hy gemartel totdat hy ’n bekentenis gedoen het. Die hof het van hom verwag om van sy anti-Katolieke gebruike af te sien en die kerk se oortuiging te aanvaar. Die beskuldigde is slegs vrygelaat indien hy sy onskuld bewys het, indien hy nie skuldig bewys kon word nie of, laastens, indien hy bely het en berouvol was. In laasgenoemde geval is sy verklaring dat hy sy oortreding verafsku en beloof om te vergoed vir wat hy gedoen het in die openbaar gelees. Hy het in elk geval sy eiendom verloor en moes ’n swaar boete betaal. Indien hy skuldig bevind is, is hy aan die wêreldlike mag uitgelewer om gestraf te word. Die uiteinde hiervan was oor die algemeen dat hy op die brandstapel gesterf het, hetsy terwyl hy nog lewend was of nadat hy oomblikke tevore doodgemaak is.
Met ’n openbare voltrekking van vonnisse is ’n groot auto-da-fé gehou. ’n Openbare aankondiging is dwarsdeur die stad gedoen om almal van die dag en die vergaderplek in kennis te stel. Op daardie dag het die veroordeeldes uit die tronke van die Tribunaal van die Heilige Offisie gekom, geklee in ’n sambenito (’n soort mantel sonder moue), en met ’n kers tussen hulle hande, ’n tou om hulle nek en ’n coroza (keëlvormige hoed) op hulle kop. Nadat die misdade teen die Katolieke geloof gelees is, het elke slagoffer die straf ontvang waarop daar besluit is.
Op hierdie manier is baie mense in die naam van godsdiens veroordeel en gestraf. Die wreedheid en die onverdraagsaamheid van die geestelikes was duidelik vir die skares wat die slagoffers op die brandstapel sien sterf het.
Heeltemal in stryd met die Christelike geloof
Christus Jesus het aan sy dissipels opdrag gegee om mense tot die ware Christelike geloof te bekeer. Hy het beveel: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”—Mattheüs 28:19.
Jesus het egter nooit te kenne gegee dat mense met geweld bekeer moes word nie. Jesus het eerder gesê: “As iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af” (Mattheüs 10:14). Die finale oordeel van hierdie mense berus by die almagtige God, Jehovah, sonder fisiese inmenging deur Christene.
Dit is dus duidelik dat ’n Inkwisisie, waar dit ook al in die wêreld ’n gebruik was, heeltemal in stryd met Christelike beginsels uitgevoer is.
Die klimaat van godsdiensverdraagsaamheid wat nou in Mexiko heers, laat mense toe om vryheid te geniet in die manier waarop hulle God aanbid. Maar die eeue van die sogenaamde Heilige Inkwisisie staan steeds as ’n bose bladsy in die geskiedenis van die Mexikaanse Katolieke Kerk.