Geheime argief word oopgestel
DEUR Ontwaak!-MEDEWERKER IN ITALIË
“Inkwisisie-argief word oopgestel.” Dit is hoe die media berig het oor die feit dat die Vatikaan geleerdes toegang verleen het tot die argief van die Kongregasie vir die Geloofsleer, wat tot 1965 as die Heilige Offisie bekend gestaan het.
DAAR is gesê dat die stap gesien moet word “teen die agtergrond van ’n lang en goed georganiseerde proses van geskiedkundige hersiening wat Johannes-Paulus II voor die jaar 2000 wil voltooi”.a Waarom wek hierdie argief soveel belangstelling? Watter geheime word vermoedelik daarin bevat?
Die Heilige Offisie is in 1542 deur pous Paulus III gestig. Hierdie pouslike agentskap vir die onderdrukking van “kettery” is ook die Roomse Inkwisisie genoem, om dit van die Spaanse Inkwisisie wat in 1478 begin het te onderskei.b Die kongregasie van kardinale wat in 1542 tot stand gekom het, moes hom “toespits op die kwessie van kettery in die hele Christendom”, verduidelik Adriano Prosperi, ’n kenner op die gebied. Van die Inkwisisies wat in die 16de eeu bestaan het, is slegs die Roomse Inkwisisie nog bedrywig, al het dit ’n ander naam en ander pligte.
Verslae van die Inkwisisie is versamel. Mettertyd het dit die geheime argief van die Heilige Offisie gevorm. In 1559 is die argief geplunder deur ’n deel van Rome se bevolking wat in opstand gekom het om die dood van pous Paulus IV te “vier”, wat as die vernaamste voorstander van die Roomse Inkwisisie beskou is. Ná die verowering van Rome in 1810 het Napoleon I die argief na Parys verskuif. Destyds en ook later, toe dit aan die Pous terugbesorg is, is baie materiaal verloor of vernietig.
Wat bevat dit?
Die meer as 4300 dokumente waaruit die argief bestaan, vul twee kamers wat naby die St. Pietersbasiliek is. Volgens kardinaal Joseph Ratzinger—hoof van hierdie Vatikaanse agentskap—het die inhoud van die argief indirek betrekking op geskiedkundige sake, maar dit “is hoofsaaklik van ’n teologiese aard”.
Geskiedkundiges stem saam dat die argief na verwagting nie baie sal oplewer nie. Professor Prosperi verduidelik dat die notules van die Roomse Inkwisisie beskikbaar is, maar dat “die voorleggings, verslae en amper al die verhoorprosedures ontbreek. Die meeste is tussen 1815 en 1817 in Parys vernietig op bevel van monseigneur Marino Marini, wat van Rome gestuur is om die dokumente terug te kry wat deur Napoleon verwyder is.”
Die Vatikaan het geleerdes toegang gegee tot dokumente wat voor die dood van Leo XIII in Julie 1903 versamel is. Om toegang te kry, moet navorsers bekendstellingsbriewe van godsdiens- of akademiese instansies indien.
Kritiek
Hoewel nuus van die argief se oopstelling oor die algemeen verwelkom is, was daar ook kritiek. Die Katolieke teoloog Hans Küng wat wonder waarom slegs dokumente van voor 1903 beskikbaar gestel is, vra: “Kan dit wees dat dit juis 1903 is wanneer dit interessanter begin word, aangesien dit in daardie jaar is dat pous Pius X, wat toe pas die pouslike troon bestyg het, ’n anti-Modernistiese veldtog begin het wat ’n hele aantal teoloë as slagoffers geëis het en vir die biskoppe van Italië, Frankryk en Duitsland probleme veroorsaak het sodat tallose mense van die kerk vervreemd geraak het?”
Ondanks die feit dat hulle die naam verander het en die argief oopgestel het, is “die werk wat [die Kongregasie vir die Geloofsleer] doen”, volgens die regsgeskiedkundige Italo Mereu, “dieselfde as dié van die ou Inkwisisie, met sy ou metodes”, soos om nie diegene waarna ondersoek ingestel word toe te laat om dokumente te sien wat na hulle verwys nie.
‘Daar is geen geheim wat nie blootgelê sal word nie’
Oor die algemeen glo geskiedkundiges nie dat hulle enige sensasionele ontdekkings in die “Inkwisisie-argief” sal doen nie. Nietemin is dit betekenisvol dat die Katolieke Kerk verplig voel om aan die openbare mening toe te gee.
Maar God se mening is baie belangriker. Op die bestemde tyd sal hy sy oordeel voltrek aan ’n godsdiens wat beweer het dat dit Christelik is, maar eeue lank God se gebooie gebreek het en die gees van Jesus se leer deur wrede Inkwisisies geskend het. Hierin is tallose onskuldige mense wreed gemartel en vermoor, bloot omdat hulle nie die leerstellings of gebruike van die kerk wou aanvaar nie.—Matteus 26:52;Johannes 14:15;Romeine 14:12.
Ongeag hoe deeglik geleerdes die argief gaan ontleed, dit sal altyd onvolledig wees. Daarenteen “is [daar] nie ’n skepping wat nie vir [God se] oë sigbaar is nie, maar alles lê naak en oop en bloot voor die oë van hom aan wie ons rekenskap moet gee” (Hebreërs 4:13). Dit is waarom Jesus, toe hy na die godsdiensleiers verwys het wat hom teëgestaan het, vir sy dissipels kon sê: “Moet hulle . . . nie vrees nie; want daar is niks bedek wat nie blootgelê sal word nie, en geheim wat nie bekend sal word nie.”—Matteus 10:26.
[Voetnote]
b Hoewel hulle metodes en resultate min verskil het, was hierdie twee instellings nuut sover dit die Middeleeuse Inkwisisie betref wat in 1231 in Italië en Frankryk begin het.
[Foto-erkennings op bladsy 12]
Paleis van die Heilige Offisie, Rome, Italië
Tekeninge: Uit die boek Bildersaal deutscher Geschichte