Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 5/8 bl. 18-21
  • Die verhoor en teregstelling van ’n “ketter”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die verhoor en teregstelling van ’n “ketter”
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die verhoor en die auto-da-fé
  • Die verhoor van ’n kerkvors
  • Die teregstelling van ’n jong student
  • Nog ’n bron van swaar skuld
  • Die Inkwisisie In Mexiko—Hoe het dit plaasgevind?
    Ontwaak!—1994
  • Geheime argief word oopgestel
    Ontwaak!—1998
  • Instrumente van ondenkbare marteling
    Ontwaak!—1998
  • God se oordeel teen “die wettelose mens”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 5/8 bl. 18-21

Die verhoor en teregstelling van ’n “ketter”

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË

AAN die een kant van die somber hofsaal staan die hoë, indrukwekkende bank van die regters. Oor die voorsitter se sitplek in die middel is daar ’n baldakyn van donker materiaal, waarop ’n groot houtkruis staan wat die hele vertrek oorheers. Voor dit staan die beskuldigdebank.

Dit is hoe hofsale van die skrikwekkende Katolieke Inkwisisie dikwels beskryf is. Die verskriklike aanklag wat teen die ongelukkige beskuldigdes ingebring is, was “kettery”, ’n woord wat beelde van marteling en teregstelling op die brandstapel oproep. Die Inkwisisie (van die Latynse werkwoord inquiro, “om ondersoek in te stel na”) was ’n spesiale kerklike regbank wat ingestel is om kettery, met ander woorde menings of leringe wat strydig was met die ortodokse Rooms-Katolieke leringe, uit te roei.

Katolieke bronne sê dat dit in stadiums ingestel is. Pous Lucius III het die Inkwisisie in 1184 by die Konsilie van Verona gestig, en die organisasie en prosedures daarvan is deur ander pouse vervolmaak—as so ’n woord gebruik kan word om daardie skrikwekkende instelling te beskryf. In die 13de eeu het pous Gregorius IX inkwisitoriale regbanke in verskillende dele van Europa gestig.

Die berugte Spaanse Inkwisisie is in 1478 gestig deur ’n pouslike bul wat deur pous Sixtus IV uitgevaardig is op versoek van die heersende vorste Ferdinand en Isabella. Dit is ingestel vir die bestryding van die Marane, Jode wat voorgegee het dat hulle hulle tot Katolisisme bekeer het om vervolging vry te spring; die Moriske, volgelinge van Islam wat hulle om dieselfde rede tot Katolisisme bekeer het, en Spaanse ketters. Weens sy fanatiese ywer het die eerste grootinkwisiteur in Spanje, Tomás de Torquemada, ’n Dominikaanse monnik, die simbool van die ergste kenmerke van die Inkwisisie geword.

In 1542 het pous Paulus III die Romeinse Inkwisisie ingestel, wat jurisdiksie oor die hele Katolieke wêreld gehad het. Hy het ’n sentrale regbank van ses kardinale aangestel, wat die Gemeente van die Heilige Romeinse en Universele Inkwisisie genoem is, ’n kerklike liggaam wat “’n skrikbewind gevoer het wat die hele Rome met vrees vervul het” (Dizionario Enciclopedico Italiano). Die teregstelling van ketters het daardie lande geterroriseer waar die Katolieke hiërargie regeer het.

Die verhoor en die auto-da-fé

Die geskiedenis toon dat die inkwisiteurs diegene wat van kettery aangekla is, gemartel het om ’n bekentenis af te dwing. In ’n poging om die skuld van die Inkwisisie te verklein, het Katolieke kommentators geskryf dat marteling destyds ook ’n algemene gebruik in sekulêre regbanke was. Maar regverdig dit sulke dade deur geestelikes wat beweer het dat hulle verteenwoordigers van Christus is? Moes hulle nie die medelye getoon het wat Christus vir sy vyande getoon het nie? Om ’n objektiewe beskouing hiervan te kry, kan ons oor een eenvoudige vraag nadink: Sou Christus Jesus diegene gemartel het wat met hom verskil het oor sy leringe? Jesus het gesê: “Hou aan om julle vyande lief te hê, om goed te doen aan dié wat julle haat.”—Lukas 6:27.

Die Inkwisisie het nie die beskuldigde enige geregtigheid gewaarborg nie. Die inkwisiteur het in werklikheid onbeperkte mag gehad. “Agterdog, beskuldigings, selfs hoorsê, was genoeg vir die inkwisiteur om iemand te ontbied om voor hom te verskyn” (Enciclopedia Cattolica). Italo Mereu, ’n regsgeskiedkundige, bevestig dat dit die Katolieke hiërargie self was wat die inkwisitoriale regstelsel uitgedink en aangeneem het en die eertydse akkusatore stelsel wat deur die Romeine tot stand gebring is, verwerp het. Die Romeinse wet het vereis dat ’n beskuldiger sy aantyging bewys. As daar enige twyfel bestaan het, was dit beter om iemand vry te spreek as om die risiko te loop om ’n onskuldige persoon te veroordeel. Die Katolieke hiërargie het hierdie grondbeginsel vervang met die idee dat agterdog skuld veronderstel, en dit was die beskuldigde wat sy onskuld moes bewys. Die name van prosekusie-getuies (verklikkers) is geheim gehou, en die regsgeleerde vir die verdediging, wanneer daar een was, het die risiko geloop dat dit hom tot skande sou strek en hy sy pos sou verloor as hy die vermeende ketter suksesvol verdedig het. Gevolglik, erken die Enciclopedia Cattolica, “was die beskuldigde in werklikheid weerloos. Al wat die regsgeleerde kon doen, was om die skuldige aan te raai om skuld te beken!”

Die verhoor het sy hoogtepunt bereik met die auto-da-fé, ’n Portugese uitdrukking wat “daad van geloof” beteken. Wat was dit? Tekeninge uit daardie tydperk toon dat ongelukkige beskuldigdes wat van kettery aangekla is die slagoffers van ’n afgryslike skouspel geword het. Die Dizionario Ecclesiastico definieer die auto-da-fé as ’n “openbare daad van versoening wat deur veroordeelde en berouvolle ketters verrig is” nadat hulle skuldigbevinding gelees is.

Die veroordeling en die teregstelling van ketters is uitgestel sodat ’n hele paar ketters omtrent twee of meer keer per jaar in een verskriklike skouspel gekombineer kon word. ’n Lang optog van ketters is voor die toeskouers gebring, wat met ’n mengsel van afgryse en sadistiese fassinasie toegekyk het. Die veroordeeldes moes in die middel van ’n groot plein op ’n stellasie klim, en hulle vonnisse is hardop gelees. Diegene wat hulle dwaling erken het, oftewel hulle ketterleringe verwerp het, is begenadig en nie geëkskommunikeer nie en is verskillende strawwe opgelê, onder andere lewenslange gevangenskap. Diegene wat nie hulle dwaling erken het nie, maar dit op die laaste oomblik aan ’n priester bely het, is aan die burgerlike gesag oorgelewer om verwurg, gehang of onthoof en dan verbrand te word. Die onberouvolles is lewendig verbrand. Die teregstelling self is eers later voltrek, ná nog ’n openbare skouspel.

Die bedrywighede van die Romeinse Inkwisisie is streng geheim gehou. Selfs vandag word geleerdes nie toegelaat om sy argiewe te raadpleeg nie. Maar geduldige navorsing het ’n aantal verhoordokumente van die Romeinse regbank aan die lig gebring. Wat openbaar hulle?

Die verhoor van ’n kerkvors

Pietro Carnesecchi, wat aan die begin van die 16de eeu in Florence gebore is, het vinnig vooruitgang gemaak in sy kerkloopbaan aan die hof van pous Klemens VII, wat hom as sy persoonlike sekretaris aangestel het. Carnesecchi se loopbaan het egter skielik geëindig toe die Pous gesterf het. Later het hy bevriend geraak met lede van die adel en met geestelikes wat, soos hy, sommige leringe van die Protestantse Hervorming aanvaar het. As gevolg hiervan is hy drie keer verhoor. Hy is ter dood veroordeel, onthoof en sy liggaam is verbrand.

Carnesecchi se opsluiting in die tronk is deur kommentators as ’n lewende dood beskryf. Om sy weerstand te breek, is hy gemartel en uitgehonger. Op 21 September 1567 is sy plegtige auto-da-fé in die teenwoordigheid van byna al die kardinale in Rome gehou. Carnesecchi se vonnis is aan hom voorgelees op die stellasie voor die skare. Dit is met ’n gebruiklike formulier en gebed afgesluit waarin daar gevra is dat die lede van die burgerhof, aan wie die ketter kort daarna oorgelewer sou word, ‘die vonnis moes versag en hom nie ter dood veroordeel of te erg martel nie’. Was dit nie die toppunt van huigelary nie? Die inkwisiteurs wou ketters uitroei, maar het terselfdertyd voorgegee dat hulle die sekulêre owerheid vra om barmhartig te wees, en sodoende het hulle hulle aansien gered en die las van bloedskuld op iemand anders afgeskuif. Nadat Carnesecchi se vonnis gelees is, is hy gedwing om ’n sambenito aan te trek—’n geel kledingstuk van saklinne waarop rooi kruise geverf is vir die berouvolles óf ’n swarte waarop vlamme en duiwels geverf is vir die onberouvolles. Die vonnis is tien dae later voltrek.

Waarom is hierdie voormalige pouslike sekretaris van kettery aangekla? Die verslae van sy verhoor, wat aan die einde van die vorige eeu ontdek is, toon dat hy skuldig bevind is op 34 aanklagtes wat ooreenkom met die leerstellings wat hy betwis het. Hierdie leringe was onder andere oor die vaevuur, die selibaat van priesters en nonne, transsubstansiasie, aanneming, belydenis, verbod op voedselsoorte, aflate en gebede aan die “heiliges”. Die agtste aanklag is veral interessant. (Sien venster, bladsy 21.) Deur diegene ter dood te veroordeel wat as geloofsgrondslag slegs “die woord van God [aanvaar het] soos dit in die Heilige Skrif gevind word”, het die Inkwisisie duidelik getoon dat die Katolieke Kerk nie die Heilige Bybel as die enigste geïnspireerde bron beskou nie. Dit is dus nie verbasend nie dat baie van die kerk se leerstellings nie op die Skrif gegrond is nie, maar op kerktradisie.

Die teregstelling van ’n jong student

Die kort en roerende lewensverhaal van Pomponio Algieri, wat in 1531 naby Napels gebore is, is nie goed bekend nie, maar dit het uit die newels van tyd te voorskyn gekom, danksy die ywerige geskiedvorsing van ’n aantal geleerdes. Deur sy kontak met onderwysers en studente uit verskillende dele van Europa terwyl hy aan die Universiteit van Padua gestudeer het, is Algieri aan so genoemde ketters en leerstellings van die Protestantse Hervorming blootgestel. Sy belangstelling in die Skrif het toegeneem.

Hy het begin glo dat slegs die Bybel geïnspireer is, en as gevolg hiervan het hy ’n aantal Katolieke leerstellings verwerp, soos belydenis, aanneming, die vaevuur, transsubstansiasie en voorspraak van die “heiliges”, sowel as die lering dat die pous die stedehouer van Christus is.

Algieri is in hegtenis geneem en deur die Inkwisisie in Padua verhoor. Hy het vir sy inkwisiteurs gesê: “Ek gaan gewillig terug tronk toe, miskien selfs na my dood as dit God se wil is. Deur middel van sy heerlikheid sal God elkeen van ons des te meer verlig. Ek sal elke foltering blymoedig verdra omdat Christus, die volmaakte Vertrooster van die geteisterde siele, wat my verligting en ware lig is, alle duisternis kan verdryf.” Daarna is hy aan die Romeinse Inkwisisie uitgelewer en ter dood veroordeel.

Algieri was 25 jaar oud toe hy gesterf het. Die dag toe hy in Rome tereggestel is, het hy geweier om skuld te bely of Nagmaal te ontvang. Sy teregstelling was selfs wreder as gewoonlik. Hy is nie met bondels hout verbrand nie. In plaas daarvan is ’n groot pot vol vlambare stowwe—olie, pik en hars—op die stellasie geplaas waar die skare dit goed kon sien. Die jong man is vasgebind en daarin laat sak, en die inhoud is aan die brand gesteek. Hy is stadig verbrand terwyl hy nog gelewe het.

Nog ’n bron van swaar skuld

Carnesecchi, Algieri en ander wat deur die Inkwisisie tereggestel is, het ’n onvolledige begrip van die Skrif gehad. Kennis moes nog gedurende “die tyd van die einde” van hierdie stelsel van dinge “vermeerder”. Hulle was nietemin bereid om te sterf vir die mate van “[ware, NW] kennis” wat hulle uit God se Woord kon verkry.—Daniël 12:4.

Selfs Protestante, onder andere sommige van hulle Hervormers, het andersdenkendes uit die weg geruim deur hulle op die brandstapel te verbrand of het Katolieke laat doodmaak deur hulle tot die sekulêre owerheid te wend. Calvyn, hoewel hy onthoofding verkies het, het Michael Servetus byvoorbeeld lewendig laat verbrand as ’n anti-Trinitariese ketter.

Die feit dat die vervolging en teregstelling van ketters vir beide Katolieke en Protestante algemeen was, verskoon hoegenaamd nie hierdie dade nie. Maar godsdienshiërargieë dra ’n verdere ernstige verantwoordelikheid—aangesien hulle beweer het dat die Skrif die moorde regverdig en hulle dan opgetree het asof God self sulke optrede beveel het. Bring dit nie oneer op God se naam nie? ’n Aantal geleerdes bevestig dat Augustinus, die bekende Katolieke “Kerkvader”, die eerste was om die beginsel van “godsdiens”-dwang te ondersteun, met ander woorde die gebruik van geweld om kettery te bestry. In ’n poging om die gebruik met behulp van die Bybel te regverdig, het hy die woorde in Jesus se gelykenis in Lukas 14:16-24 aangehaal: “Dwing hulle om in te kom.” Dit is voor die hand liggend dat hierdie woorde, wat Augustinus verdraai het, op milddadige gasvryheid gedui het, nie op wrede dwangmaatreëls nie.

Dit is opmerkenswaardig dat ondersteuners van godsdiensverdraagsaamheid, selfs terwyl die Inkwisisie werksaam was, teen die vervolging van ketters beswaar gemaak het en die gelykenis van die koring en die onkruid aangehaal het (Matteus 13:24-30, 36-43). Een van hulle was Desiderius Erasmus, van Rotterdam, wat gesê het dat God, die Eienaar van die saailand, wou hê dat ketters, die onkruid, verdra moes word. In teenstelling hiermee het Martin Luther geweld teen plattelandse andersdenkendes aangeblaas, en byna 100 000 is doodgemaak.

Wat moet ons beweeg word om te doen, aangesien ons bewus is van die ernstige verantwoordelikheid van die godsdienste van die Christendom wat die vervolging van sogenaamde ketters bevorder het? Ons behoort beslis na die ware kennis van God se Woord te wil soek. Jesus het gesê dat die kenmerk van ’n ware Christen sy liefde vir God en sy naaste sou wees—’n liefde wat geweld beslis sal uitsluit.—Matteus 22:37-40; Johannes 13:34, 35; 17:3.

[Venster op bladsy 21]

Sommige aanklagtes waarop Carnesecchi skuldig bevind is

8. “[Jy het volgehou] dat slegs die woord van God wat in die Heilige Skrif gevind word, geglo moet word.”

12. “[Jy het geglo] dat sakramentele belydenis nie de jure Divino [in ooreenstemming met Goddelike wet] is nie, dat dit nie deur Christus ingestel is of deur die Skrif gestaaf word nie, en dat geen belydenis, behalwe belydenis aan God self, nodig is nie.”

15. “Jy het twyfel gewek oor die vaevuur.”

16. “Jy het die boek Makkabees, wat handel oor gebede vir die dooies, as apokrief beskou.”

[Foto-erkenning op bladsy 18]

The Complete Encyclopedia of Illustration/J. G. Heck

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel